Dr MJ (Thinus) en mev
Carin du Plessis is sedert 1999 verbonde aan die
Gereformeerde Kerk Bellville.
Benewens predikant, is dr Thinus ook digter en verskeie
bundels het al uit sy pen verskyn. Twee van sy gedigte wat
deur Dr Philip van
Heerden getoonset is word deur die komponis self
gesing. Om daarna te luister, druk net op "Luister" aan die
onderkant van elke gedig.
In die eerste gedig "Ontplek" vertel die digter van sy
verlange na sy geboortegrond. Die woorde is effens gewysig
in sy getoonsette vorm en dra dan die titel van
"Hardekoolspore". Die tweede gedig, "Sononder oor
Bloubergstrand", is geskryf kort na hulle aankoms in die
Kaap. Dit vertel van 'n wandeling langs Bloubergstrand teen
sononder.
Twee totaal verskillende wêrelde, maar tog dieselfde
boodskap. Die grootsheid van God en die sonde-verskeurdheid
van ons aardse bestaan. Hierdie kontras word ook in die
natuur gelees. Aan die een kant die almag van die Skepper
teenoor die vlakvark wat in modder rol of die stukkende
skulpies op Bloubergstrand. In hierdie skouspel is die mens
nie 'n onbetrokke toeskouer nie, maar 'n integrale deel van
hierdie gebroke werlikheid. Daarom is ons ook, soos die
rooibokke, op die stofpaaie van die lewe op soek na water
(Psalm 42).
|
Ontplek
My sool trap hardekoolspore
op stofpaadjies waar rooibokke gaan water soek
en vlakvarke in modder rol.
Doringbome verblaar in my biografie
maar ek stap ver op 'n ander Weg -
voel my pad deur figure wat sterker is as ek.
Ek is kwalik ooit profeet wat van tye rondvertel
en die Groot Komeet se koms noukeurig kan dateer
dat selfs rykes die Verlosser profeteer.
Saans roep my gebed saam met ghecko's
na blink sterre toe wat stil afkyk
-soos verwaandes swyg oor my klein nietigheid.
My gedagtes drentel al om God se Troon
sonder om 'n woord te sê.
Ek is maar net 'n Swarthaakdoring
'n Geelhaaktak wat oor 'n voetpad hang
en bid vir God se reën.
Verstaan jy my verlang wat kaalvoet loop?
Luister
|
Sononder oor
Bloubergstrand
See toe sleep my son
sy skeefgang uit die dag
sy val kleur blinkwit
dan geel tot amber
sleepsels wolke groet
vaal verskrik
In krom verledes
trap ek strandlangs spore
waar ek wegdraai
uit skuim wat voor my tone
flenters skulpies saai
Eensaam hobbelperd my kop
my gedagtes amper ongeskik
skommel onbelynde vrae
deur my eie vae
deurmekaar verhaal
Skryf ek dieselfde afdraend baan
deur God se Boek
of is ek net ongeletterd
te dom om op te soek
deur sy blaaie silofaan?
Luister
|
|