Sing vooraf:
Psalm 31:17; Psalm 62:2; Skrifberyming 9-1:8 (26:8)
Kom ons begin hierdie
ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en teenoor God te
verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 18:1
Gebed
Psalm 133:1, 2
Skriflesing:
1 Johannes 3
Teks:
1 Johannes 3:12, 15; Kategismus Sondag 40
. . . nie soos Kain wat uit die
Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom
doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer
regverdig. (1 Johannes 3:12 AFR53)
Elkeen wat sy broeder haat, is
’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige
lewe as iets blywends in hom het nie. (1 Johannes 3:15
AFR53)
’n Vyand van die Here lewe nie in vrede met goeie dinge in
hierdie lewe nie. Daarom ruk sy slegtigheid ook so hande uit dat hy die
lewe van ’n ander mens neem.
Ten diepste gaan dit oor die liefdesgebod. Jesus self het dit ook so
aangekondig:
En Jesus antwoord hom: Jy moet
die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele
siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die
tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos
jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
(Matteus 22:37-40 AFR53)
Die basis van die praktiese uitoefening van ons geloof berus dus op die
fondament van die liefde.
Hoe hanteer ons die liefdesgebod wanneer daar spanninge ontstaan? Ons
ken die antwoorde goed, maar dit gaan nie hier oor die regte antwoorde
nie, dit gaan oor hoe ons optree.
- Dikwels loop ons gedagtes nie die regte pad nie, en ons verwens mense
wat ons te na kom.
- Soms haat ons hulle.
- As ons nie van iemand hou nie en ons bots met hom/haar, wys ons dit
openlik.
- Dit gebeur selfs dat sogenaamde gelowiges soms die kans aangryp om
iemand met wie hulle konflik opgetel het, te benadeel as hulle die
geleentheid kry. Dink maar aan hoeveel keer in die geskiedenis was daar
al uit wraak moord gepleeg.
Dit laat ons besin: Is my aanvanklike openlike afkeer teenoor
’n ander mens, of my openlike onverdraagsaamheid ’n
minder growwe sonde as moord? Die antwoord is: Nee!
Die apostel Johannes stel die saak nogal sterk, want hy skryf dat
iemand wat sonde doen uit die duiwel is. Vers 8:
Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van
die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die
werke van die duiwel te verbreek. (1 Johannes 3:8 AFR53)
Moord, haat of onverdraagsaamheid is almal sonde. Vir sonde gee die
Bybel ’n gelykwaardige kwalifikasie vir alle mense wat dit
doen.
Die saak waaroor dit gaan, is liefde. As ons die liefdesgebod oortree,
dan staan ons op die erf van moord. Dit word baie duidelik in vers 15
gesê:
Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet
dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. (1
Johannes 3:15 AFR53)
Die voorbeeld wat die Bybel noem, is Kaïn.
- Die oomblik toe sy liefde vir God knak, toe knak dit ook teenoor sy
broer.
- Daarom het sy optrede die kleur van verderf.
- Hy gaan pleeg toe die eerste moord.
Die bedoeling van hierdie vers in die Bybel is om ons te waarsku oor
hoe ons NIE moet wees NIE.
- Daar moet ’n skerp teëstelling wees tussen ons en
hierdie man, Kaïn.
- Ons hele lewe en ons lewensbenadering moet ontken dat ons
liefdeservaring (die gebrek daaraan!) en syne ooreenkom.
Liefde het nie elemente soos wreedheid en wraak en vergelding in sy
sisteem nie.
- Daarom skryf die Here hier dat Kaïn boos was. Hy het sy
emosies verbind aan die duiwel s’n.
- Die gevolg was dat hy die duiwel se dinge gedoen het op die duiwel se
styl.
Om in liefde met ander mense te kan lewe, is ’n groot kuns
wat heeltemal uit jou geloof gebore moet wees. Dit is waarna vers 11
verwys:
Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons
mekaar moet liefhê; (1 Johannes 3:11 AFR53)
- Dit is ook waarna vers 15 verwys met die woorde dat ’n
moordenaar geen tekens van die ewige lewe in hom het nie.
- Vers 14 leer ook dat die liefdelose in die dood bly. Met
ander woorde hy het nog nooit die ewige lewe besit nie.
Die Christusprediking by hierdie teks is dat die Here juis onder
hierdie swakheid van ons deurgeloop het toe Hy op die aarde was.
- Dit was juis hierdie streep van Kaïn wat ook deur die
gelowiges loop, wat veroorsaak het dat hulle Jesus aan die kruis wou
hê om te sterf.
- Jesus het toe vrywillig aan die kruis beland,
- want met
daardie daad het Hy die straf van God gedra oor ons onverdraagsaamheid,
- maar ook
met krag vir ons ’n bekering en herskepping moontlik gemaak
dat ons nou in sy krag in staat is om nie meer hierdie sonde te doen
nie.
Jesus Christus is juis aan ons geopenbaar om die liefde van God aan ons
te bewys.
- Daarom behoort die skok wat deur ons moet gaan as ons besef wat die
mensdom gedoen het toe ons die Seun van God gekruisig het, ons te
genees van enige vorm van haatdraendheid en gebrek aan liefde.
- Die Here Jesus Christus kom leer liefde.
- Hy gee ook liefde en daarmee saam die ewige lewe en versoening met God.
Nou eis Hy liefde.
- Daarom kan ons nie as Christen gaan staan en sê dat ons vir
onsself die reg voorbehou om net met sekere mense klaar te kom nie.
- Die Here eis iets anders:
- Die
eienaardige is dat die Here geen kompromie iewers tussen liefde aan die
een kant en haat of enige van sy vorms aan die ander kant aangaan nie.
- Hy eis in
ons lewens dat ons die mees duursame van alle dinge – naamlik
liefde – moet beoefen.
As ons dus ’n mens haat – enige mens –
mis ons die lewe en die ewigheid wat uit God is.
- Dan gaan ons verwerp word deur die Here. Eenvoudig beteken dit dat ons
die ewigheid sal slyt in ’n plek waar geen liefde is nie.
- Die hel is ’n plek waar haat en pyn die hoofbestanddeel van
die voortbestaan daar is.
Ons kry die hoofgedagtes van hierdie preek opgesom in die Heidelbergse
Kategismus Sondag 40:
Vraag 105: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste
onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes,
woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle
wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of
moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die
swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt
5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14;
Matt 26:52; Rom 13:4.
Vraag 106: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel
daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku..
Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d)
1 Joh 3:15.
Vraag 107: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste
doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat
ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor
hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees
(b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en
selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom
12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8;
Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 91:7
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 20 Maart 2005
(aand)
Oorgepreek in opdrag van
die Kerkraad op 1 Oktober 2006