Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 27:1, 3
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 16:4
Gebed
Psalm 20:1-4
Skriflesing:
1 Konings 19
Teks:
1 Konings
19:4
. . .
maar self het hy ’n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar
onder ’n besembos gaan sit, en gewens dat hy mag sterwe.
Somtyds is ons so moedeloos dat dit vir ons voel die wêreld het op sy
einde gekom vir ons.
- Die lewe vorentoe is ’n swart kol, waaraan ons nie
eers kan dink nie.
- Dit voel dan vir ons of alles vir ons te veel
geword het.
- Dan begin ons om te twyfel aan ons geloof – aan die
Here – en sommer net alles is teen ons.
In sulke tye voel dit vir ons asof ons gebede opgeraak het. Dit het al
met ons almal gebeur. Waar en wanneer het jy jou laagtepunt beleef? Was
dit na ’n sukses of ’n mislukking?
- Ons kan verstaan dat ons gebedslewe geraak word
wanneer ons moeilike tye beleef‚ maar wat daarvan as dit deur ons
prestasies beïnvloed word?
Geliefdes, dit kom oor alle gelowiges. Selfs oor die “beste” gelowiges
soos Elia!
- Elia is ’n man van God. Toe die Here hom weggeneem
het, het hy nie gesterf nie – God het hom langs die dood verbygeneem
deur hom met ’n wa van vuur te kom haal.
- Maar in ons teksvers is hy ’n hulpelose vlugteling
voor koningin Isebel. Hy lê onder die skaduwee van ’n besembos en wens
dat hy kan sterwe.
Elia se geloof is aan skerwe. Hy is in ’n geweldige sielestryd.
- Waarom het die Here hom in hierdie toestand laat
kom?
- Die Here versterk hom tog deur die engel; waarom
laat God hom eers in hierdie toestand kom voor Hy Elia versterk?
- Die Here kon hom tog al hierdie verdriet gespaar
het.
Die Here het al die dinge oor hom laat kom om hom te leer – selfs in
ons sterkste oomblikke bly ons van die Here afhanklik! Geliefdes, u
moet onthou dat Elia net so ’n mens soos ons was, en dat hy al die
dinge net soos ons belewe het.
- Hy het hom waarskynlik weke lank voorberei vir die
ontmoeting met die Baälprofete op Karmel.
- Die vorige dag was Elia op die berg Karmel. Dit was
vir Elia ’n dag van groot spanning.
Die dag op Karmel self was vir hom ’n dag van gebedsworsteling. Lees
maar
1 Konings 18:36-38 en dan dink u maar self hoe geweldig ’n mens moet
bid dat daar vuur uit die hemel moet neerdaal om jou offer aan die
brand te steek.
Elia kon na hierdie dinge hom maklik begin verbeel het. Hy kon maklik
begin dink dat dit hy self is wat al die dinge vermag het.
- Daarom wil God hom laat besef dat hy maar net ’n
nietige mens is.
- God verkleineer Elia nie, en Hy maak Elia nie klein
nie, want Elia het nie te veel van homself gedink nie.
- God hou hom net ’n mens.
Elia het voor Agab se wa uitgehardloop op pad na Jisreël toe.
- Hy was die oorwinnaar oor die Baälprofete – maar hy
was ook hulle laksman wat die dood oor hulle voltrek het!
- Voor die volk was hy die geëerde profeet van God.
Maar dan gebeur daar iets:
- Meteens het Elia se pad omgedraai en in die
teenoorgestelde rigting begin hardloop – Elia het weggehardloop van
Jisreël af‚ weg van roem en grootheid af‚ en in die kake van depressie
in.
- Hy het meteens in die nederlaag van twyfel en van
vergeet dat God stuur en beskerm ingehardloop!
Dis ’n ongelooflike teenstelling‚ maar Jakobus herinner ons:
Elia
was ’n mens net soos ons . . . (5:17).
Elía
was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes
reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie
gereën nie; (Jakobus 5:17 AFR53)
Elia het soos ons sy hoogtepunte‚ maar ook sy laagtepunte ervaar. Hy
was net soos ons – menslik en bang.
- Ja‚ hy was baie bang (vgl. 1 Konings 19:3).
Letterlik staan daar in die Hebreeus dat sy “siel beleër was”.
- Ons lees in hierdie verse van die Bybel van die
doodgewone sielkundige insinking van ’n mens, wat ’n moeilike tyd agter
die rug het.
U moet onthou dat Elia sekerlik geestelik uitgeput moes wees, maar meer
nog – hy moes liggaamlik net so afgetakel wees.
- Hy was die hele dag besig met die Baälpriesters;
daarna het hy tot bo-op Karmel geklim om te bid vir reën.
- En toe het hy in die reën voor Agab se wa
uitgehardloop tot in Jisreël. Dit was ’n geweldige dag vir Elia.
Nadat Agab by sy huis gekom het‚ het hy aan sy vrou verslag gedoen.
En
Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elía gedoen het, ja, alles –
hoe hy al die profete met die swaard gedood het. (1 Konings
19:1 AFR53)
Die verslag het hierdie meedoënlose vrou glad nie beïndruk nie.
Trouens‚ sy het baie vinnig ’n beknopte boodskap aan Elia gestuur. Soos
die gebruik in daardie tyd was, moes Isebel die man wat sy as haar
boodskapper gestuur het, vroeg in die môre uitgestuur het na Elia toe.
Dit is die dag net na Karmel se gebeure:
Daarop
stuur Isébel ’n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so
doen en so daaraan toedoen – sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel
maak soos die siel van een van hulle. (1 Konings 19:2 AFR53)
Daarna vertel die Bybel eenvoudig en sonder enige kommentaar:
Toe hy
dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe
weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar
daar laat agterbly; (1 Konings 19:3 AFR53)
Elia het bang geword. Ons kan baie goed verstaan waarom Elia dadelik
bang was toe hy Isebel se boodskap gekry het. Hy was uitgeput – sonder
weerstand, en daarom sy vrees.
- Elia het die krag en versterkende genade van die
Here baie nodig gehad.
- Hy vlug dadelik na Berseba toe. Berseba lê buite
die gebied van Israel; dit behoort aan Juda. Met ander woorde, hy sal
daar veilig wees.
Maar hy is nog nie tevrede nie. Hy gaan alleen ’n dagreis ver die
woestyn in.
- Dit put hom nog verder uit om ’n volle dag sonder
kos en water in die woestyn in te loop met sy geweldige hitte en warm
sand wat sy voete brand.
- Dit bring hom tot besinning: Moedeloos moeg val hy
onder ’n besembos neer. Dringend vra hy homself die vraag: “Wat nou?”
Hy sê:
Dit is
genoeg. Neem nou my siel weg, Here.
Hy praat van twee sake: lewe en dood.
- As hy sê: Dit is genoeg, bedoel hy dat hy nou
genoeg gelewe het.
- Dan sê hy: Neem NOU my siel weg. Met ander woorde,
hy wil nou sterwe.
- Hy oorweeg nie selfmoord nie. Hy vra sy dood darem
van die Here.
- Die Here moet sy siel wegneem, sodat hy by God kan
wees.
Is dit nie ironies nie:
- Elia vlug om sy lewe te red, en as hy klaar gevlug
het, en veilig is, dan wil hy sterwe.
- Hy is ook ernstig om dood te gaan, want hy maak hom
gereed. Hy gaan lê onder die besembos – gereed om te gaan.
- Elia, die gelowige kind van God, is heeltemal van
stryk gebring deur Isebel.
Die saak was glad nie eers so erg as wat dit vir Elia gelyk het nie.
- Isebel se hande was self afgekap. Sy het goed
geweet dat die hele volk die vorige dag agter Elia aangeloop het en
gehelp het om haar profete om te bring.
- Sy wou Elia baie graag doodmaak, maar sy kon nie,
want sy was bang vir opstand onder die volk.
- Tog wil sy wraak neem; daarom dreig sy Elia.
- As sy hom kon doodmaak, sou sy hom definitief nie
gewaarsku het sodat hy ’n kans kon kry om te vlug nie.
- As dit in haar mag was om Elia dood te maak, sou
die boodskapper wat hom kom waarsku het, hom om die lewe gebring het.
Sover dit God en Elia in die woestyn aangaan, is die saak nie so
eenvoudig nie.
- God laat Elia nie sterf nie, want sy werk op die
aarde is nog nie klaar nie.
- Hy is nog nie gereed om te sterf nie, want hy het
nog nie alles gedoen waarvoor God hom gestuur het nie.
Terwyl hy lê en slaap en wag om te sterf, kom die engel wat die Here
stuur, maak hom versigtig wakker, en gee aan hom voedsel en water om te
eet en te drink.
- Daarna het Elia weer gaan lê en slaap.
- Die engel het hom weer wakker gemaak en beveel om
te eet en te drink.
In plaas daarvan dat hy sterf uit moedeloosheid, gee die Here hom
soveel krag dat hy daarna vir 40 dae en vir 40 nagte lank nie kos nodig
gehad het nie. ’n Maand en tien dae sonder kos of water – soveel genade
het die Here hom gegee.
- In plaas daarvan dat Elia toe opstaan en teruggaan,
gaan hy verder die woestyn in totdat hy in ’n spelonk in Horeb is.
- Hier vra die Here twee keer vir hom: Wat maak jy
hier, Elia?
- Die Here het hom toe teruggestuur om Hasaèl en Jehu
as konings te gaan salf, en om Elisa as profeet in sy plek te salf.
- God het Elia nie daar onder die besembos laat
sterwe nie, omdat hy nog werk gehad het om te doen.
Elia het gedink dat hy daar in die woestyn onder die besembos heeltemal
alleen was, maar die Here het ’n engel gestuur om hom daar op te soek.
- Net so stuur God vandag nog engele om sy gebroke
kinders weer te versterk.
- Die Here weet waar sy kinders is, en Hy gaan haal
hulle en soek hulle op, al vlug hulle ook.
Geliefdes, beteken dit nie vir u ook iets nie?
- Telkens wanneer ons in moedeloosheid verval –
meestal oor die kleinste nietigheidjies – en die lewe dan meteens net
te veel word, wanneer ons voel dat almal en alles teen ons is, dan laat
God ons maar net onsself sien soos ons is, sodat ons sy genade kan
waardeer.
Moenie dink dat alles verlore is nie.
- Bid net – nie soos Elia om te sterf nie, want God
weet wanneer u werk waarvoor Hy u gestuur het, voltooi is.
- Bid dat God sy Heilige Gees na u toe moet stuur.
- Die Heilige Gees werk mooi met ’n mens soos met
Elia.
- Die Heilige Gees het hom versigtig wakker gemaak,
sodat hy kon eet en drink, en versterk word.
Net so versterk die Heilige Gees u telkens wanneer u geestelik gebreek
is.
- U het die reg om te bid vir die versterking van die
Heilige Gees want dit is een van die gawes wat ons deur Christus se
dood verwerf.
- As die Heilige Gees ons nie op ons gebed sou
versterk nie, dan sou Jesus Christus se kruisdood tevergeefs wees.
- U kan verseker wees dat die Heilige Gees sal
antwoord op u gebede, want Christus het nie sy werk nutteloos kom doen
nie.
As jou gebede opraak‚ kan God jou nog steeds hoor.
- Hoewel jy geen woorde vorm nie‚ kyk God na jou en
lees die woorde van jou groot nood en begeerte na Hom.
- Jy mag dalk wonder hoe lank jy in hierdie toestand
van spanning sal moet wees. Jy sal daar bly so lank as wat dit gaan
neem om jou nuwe krag te gee.
Elia het vrede gemaak met sy menslike aard‚ en dan veral sy gevalle
menslike aard. Hy het geleer dat ’n mens soms op raak.
- Maar wanneer dit gebeur‚ het God nog maar net
begin. In Christus gee Hy vir ons die genade dat ons geduld met ons eie
swakhede kan hê.
- In Christus laat die Here ons soos Elia besef dat
God meer genade‚ meer hulp‚ meer vreugde‚ meer hoop en meer krag aan
ons almal in ons swakheid gee as wat Hy ooit gee wanneer ons sterk is –
want as ons sterk is, besef ons nie ons diepe afhanklikheid van God
nie, en vra ons ook nie sy genade nie.
- Die Heilige Gees maak ons van die Here Jesus bewus.
- Hy weet wat ons ervaar en sy engele omring ons en
help ons deur hierdie diep oomblikke.
- Ons kan maar vorentoe lewe‚ dag vir dag. Die
Onsienlike Lewende God sal ons omvou en staande hou.
Ons moet egter daarteen waak dat ons onsself nie aan selfbejammering
oorgee nie, want dan dien ons onsself en dan gebruik die duiwel ons
teen God die Here.
- Soms is ons neerslagtig as gevolg van humeurigheid.
- Of dalk verwaandheid?
Pasop! Dan maak ons van die werk en versterking van die Heilige
Gees ’n
bespotting.
Geliefdes, leef soos ’n Christen – blymoedig. Die Heilige Gees verkwik
u siel, sodat u ook versterk kan opstaan en aangaan met u werk en lewe,
waarvoor God u gestuur het.
Amen.
Ons dank U, Almagtige en Ewige God, dat ons kan leef in die Naam van
Jesus Christus. En dat U ons telkens weer oprig as ons in die sondes
val. Ons prys U Naam omdat U ons nie vergeet as ons deur ons eie
swakhede deur die duiwel platgeslaan word nie. Here, U is ons Verlosser
wat leef tot in ewigheid.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 89:1
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 15 Februarie 2004 (oggend)