Sing vooraf: Psalm
25:1, 2.
Ons hulp is in die Naam van die Here
wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
34 : 1.
Geloofsbelydenis:
Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons
sondeskuld en bid vir vergewing van ons sondes met Ps. 99 :
4, 5.
Wet
Psalm 99 : 4, 5.
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes
van God
- Algemene bede:
- Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm
130 : 1, 2.
Skriflesing:
1 Korintiërs 10
Teks: 1
Korintiërs 10:20c
Nee, maar dat die
heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil
nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. (1
Korintiërs 10:20 AFR53)
'n
Mens hoor nogal dikwels dat sonde net sonde is wanneer ek/ons besluit
dat dit sonde is.
- Dis 'n saak van my/ons gewete om uit te maak wat reg en verkeerd is, en
as ek/ons dan besluit dat ek/ons sekere dinge kan doen, dan is dit nie
sonde nie.
In
hierdie gedeelte staan 'n beginsel neergepen wat presies die
teenoorgestelde leer.
- God bepaal wat reg en verkeerd is.
- Van alles wat verkeerd is, moet ons wegbly.
- Ons gesindheid en ons benadering van die saak is vir die Here glad nie
van belang nie.
- Ons kan nie gaan offervleis eet met die beste bedoelinge
- en dan is die saak reg nie.
- Ons besondig ons elke keer wanneer ons as Christene op 'n plek of in
geselskap is waar ons nie hoort nie.
Die
saak wat die Apostel stel, gaan uiterlik oor die eet van offervleis,
maar innerlik gaan dit oor 'n bepaalde lewenshouding. Dit
gaan oor die spesifieke beginsel dat daar sekere dinge is waarvan ons
ons net moet losmaak en los hou.
Paulus
rig hom hier bepaaldelik tot die swakker lidmate in die gemeente van
Korinte.
- Hulle was juis swak omdat hulle nie hulle swakheid besef het nie.
- Hulle het met hulle redenasies alles reggepraat -
iets wat vandag ook baie keer gebeur dat iemand met die minste insig sy
saak die beste wil motiveer, maar dan met uiterlikhede wat nie die wil
van God insluit nie.
Die
probleem was dat juis die vroeë christene wat nie mooi kon
onderskei waaroor dinge gaan nie, saam met hulle heidense familie en
vriende die heidense offermaaltye gaan bywoon het.
- Hulle wou die Christelike wêreld met die een hand vashou,
- en met die ander hand nog alles wat hulle in die tyd van hulle heidense
lewe gehad het, ook vashou.
- Hulle het toe geredeneer dat hulle mos nie aan die afgode glo nie, en
dan kan hulle maar die diere se vleis eet.
In
hierdie brief wat aan die gemeente in Korinte geskryf word, word sulke
mense kras, maar tog baie liefdevol vermaan om hulle gesindheid te
verander en weg te bly van hierdie plekke af.
- Uit besorgdheid spreek die Here hulle aan tot hulle behoud.
- Al doen hulle hierdie gruwelike sonde, word hulle nie verwerp nie.
- Hulle word vermaan om hulle te bekeer.
Die
beginsel wat in vers 14 gestel word, is dat enige swakke mens wat
enigiets doen teen die wil van God, afgodediens beoefen.
Daarom,
wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen
versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar
God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek
word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee,
sodat julle dit sal kan verdra. Daarom, my geliefdes, vlug
vir die afgodediens. (1 Korintiërs 10:12-14 AFR53)
Die
afleiding is dat enige iets wat ons doen wat nie met die wil van God
ooreenkom nie, afgodery is. Afgodery is godsverlating (ook
omgekeerd).
Die
waarheid rondom die etery van offervleis is ook dat sommige van die
gelowiges destyds teen hulle sin aan die offermaaltye deelgeneem het,
want hulle was soms soort van verplig deur hulle vriende en familie.
- Hulle het nie lus gehad om hulle regtig met erns te verset teen die
mense se aandrang nie.
- Wanneer hulle dan uiteindelik swig voor die aandrang van die mense, dan
maak hulle hulle skuldig aan die beginsel van afgodery.
In
vers 15 beroep Paulus hom op die verstandigheid van die lidmate in die
gemeente van Korinte - bepaaldelik dan die wat vir hulle 'n regverdige
saak gaan uitmaak het om van die heidense feeste te gaan bywoon.
- Hulle het beweer dat daar nie fout kan wees met hulle optrede nie,
omdat hulle geglo het dat dit maar net 'n sosiale aangeleentheid was as
hulle na die offerfeeste toe gegaan het.
Vir
die Here is die saak nie so eenvoudig nie.
- Ons sosiale lewe is nie losmaakbaar van ons godsdienslewe nie.
- Dieselfde beginsels beheers altwee.
In
die volgende vers praat Paulus oor die Nagmaal.
- Nie om iets van die Nagmaal te leer wat hulle dalk nie tot nou toe
geweet het nie.
- Maar juis om in die gemeente se gesindheid die onderskeiding wakker te
maak wat hulle nie met oppervlakkige verstandsredenasies kon betwis nie.
- Hulle moet besef wat die godsdienstige konsekwensies is van hulle
sosiale lewe, want dit sal 'n maatstaf wees waarmee hulle kan bepaal of
die onderskeid wat hulle gemaak het, werklik die waarheid bevat.
Hulle
optrede is onverenigbaar met die viering van die heilige Nagmaal.
- By die Nagmaal is dit duidelik dat deelname aan die Nagmaal gemeenskap
met Christus beteken.
- Dieselfde beginsel geld dan ook enige lewenshouding waar ons deelneem
aan enigiets wat die Here nie tot eer is nie.
- Ons bedryf dan afgodsdiens.
Gemeenskap
hê beteken hier die volgende:
- Dit beteken dat ons onlosmaaklik deel het aan die saak waaraan ons
deelneem;
- Dit beteken dat ons daarmee verbonde is, en saamgaan met alles wat
hierdie saak raak.
Pas
nou hierdie beginsel toe op ons daaglikse lewe.
- Hoe dikwels is ons op verkeerde plekke/geleenthede/funksies –
plekke wat ons verseker weet dat die Here nie met vreugde by sulke
plekke is nie, omdat dit wat daar gebeur nie die volle eer van God dien
nie.
- Die hartseer is dat ons so baie kere juis die verkeerde dinge wat ons
doen, met die slimste redenasies dat ons geen sonde hoegenaamd daar
bedryf nie, verdedig.
Die
waarheid is dat ons in al sulke gevalle voor die Here skuldig staan
omdat ons gemeenskap gehad het met 'n saak wat God nie aanstaan nie -
al was ons gesindheid wat ookal gewees.
Hierin
is 'n soort beeldspraak vasgevat.
- Ons lewensgemeenskap is 'n vertoon van ons gemeenskap met God.
- Net soos wat ons deur ons gebruik van die Sakramente aantoon dat ons
gemeenskap met God het, net so moet ons styl van lewe dit ook bewys.
- Die beginsel is dat ons hele lewe in die teken moet staan van
gemeenskap met die dood en versoening deur Jesus Christus.
Vers
17 herinner die gemeente daaraan dat hulle 'n eenheid is.
- Ons het saam deel aan die verlossing in Christus, en daarom moet elke
lidmaat van die gemeente hiervan bewys lewer.
- As sekere lidmate dan dinge doen wat ongerymd is, dan word die
heiligheid van die hele gemeente daardeur geskend.
Dan
kom Paulus terug op sy hooftema : afgodediens.
- Wanneer 'n Christen by die heidene se offermaaltye was, dan kan dit
alleen dien tot bevlekking van sy persoon, en dié van die
gemeente - want gelowiges hoort nie waar die Here
nie is nie.
- Dit maak dus nie saak wat hy verkeerd gaan doen nie, en ook nie van sy
persoonlike beskouïng van die saak nie -
dit gaan oor die aard van die byeenkoms.
- Dit gaan daaroor dat sekere plekke en handelinge met die smet van die
Satan gekleurd is, en dat ons dit nie kan regmaak nie.
In
die oë van die wêreld dra elke lidmaat in elk geval
die smet van die soort geselskap waarmee hy hom
ophou. Die spreekwoord: “Meng
jou met die semels, dan vreet die varke jou op!” is duidelike
bewys van hoe die wêreld oordeel oor groepe en byeenkomste
waarmee mense assosieer!
Daardie
saak word in vers 19 en 20 skrikwekkend skerp gestel.
- 'n Afgodsoffer is niks, en 'n afgod ook nie.
- Dis ook nie waaroor dit gaan nie - dit gaan oor die
duiwels wat by die saak betrokke is.
- As ’n christen meedoen aan dinge wat die duiwels voed, plaas
hulle hul op een lyn met die heidene.
- Sulke optrede plaas hulle ook in die geselskap van die bose magte.
- Ons gesindheid word dus in hierdie opsig bepaal deur die geselskap
waarin ons is.
Dan
kom die keerpunt. Vers 21 :
Julle kan nie die
beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie.
- Ons as Christene moet kies tussen die vreugde van verlos wees en die
vreugde van die wêreld.
- Ons kan nie altwee geniet nie.
- Ons staan dus in 'n groot verantwoordelikheid voor God.
- As ons Jesus Christus as ons Verlosser aanvaar, dan moet ons absoluut
breek met die wêreld, of ons verbeur die genade van God.
Ons
moet wegbreek van mensvrees.
- Ons val dikwels omdat ons te bang is vir wat die mense sal sê.
- Dan laat ons ons deur mense in 'n ding inpraat.
- Dikwels doen ons sonde ter wille van gewildheid.
- Soms selfs uit gemaksug.
Christus
het ook hierdie stryd gehad om die kwaad teen te staan.
- Net nadat Hy gedoop is; teen die Satan.
- Dikwels teen mense: Teen sy eie familie, teen kerkleiers,
teen die mense van sy geboortedorp.
- Uiteindelik moes die Here Jesus staan teen almal saam; die magte van
die hel wat Hom gekruisig wou hê en die dood self.
- Op daardie oomblik het die toorn van Gom ook op Hom gebrand oor ons
almal se sondes.
Maar
nooit was Jesus se optrede Godonterend nie.
- Hy leef elke oomblik 'n lewe van gemeenskap met God die Vader.
- Hy kom nooit vir sy plesier en sosiale lewe’ op twyfelagtige
plekke nie.
- Hy sterf 'n dood van gemeenskap vir die wat aan Hom behoort –
só dat ons doopformulier dit sê dat ons saam met
Hom in die dood begrawe word deur die doop.
Ons
Here Jesus het opgestaan uit die graf en uit die dood, omdat dit nie
die geselskap is waarin Hy hoort nie.
Hy het
hemel toe gevaar om vir ons blyplek te gaan regmaak in die koninkryk
van God - waar ons hoort.
Om
geleenthede by te woon waar die Gees van die Here nie regeer nie soos
om offervleis van die afgode te eet, is 'n Godsonterende
lewenshouding. Die Here noem dit gemeenskap hê met
duiwels.
Die
sêding dat ons kan beslis oor wat sonde is en wat nie, of dat
ons sekere geleenthede kan bywoon omdat ons optrede onskuldig is, is
dus nie waar nie.
- Van wat verkeerd is, moet ons wegbly.
- Deur Christus het ons die krag om van daardie valse plesier afstand te
kan doen.
- Hy het daarom ook die reg om van ons te eis om nie die duiwel te aanbid
nie.
Die Here
Jesus verwag van ons wat Hom bely as ons Verlosser, om met die gawe van
onderskeiding te lewe.
- Ons mag nie op geleenthede wees waar daar met die duiwels omgegaan word
nie.
- Daarom het die Here ook die Heilige Gees na ons toe teruggestuur om aan
ons die verskil tussen die waarheid en die leuen te leer, en wat ons
dan só lei dat ons in die waarheid kan bly.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm
122:1.
Die
genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 18 Desember 2005 (oggend)