Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 105:1, 2
Geloofsbelydenis: Nicea
Wet
Psalm 32:3
Gebed.
Skrifberyming 2-4:3
Skriflesing: 1
Korintiërs 14
Teks: 1 Korintiërs
14:12
So
moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om
uit te munt tot stigting van die gemeente. (1 Korintiërs
14:12
AFR53)
Sommige gelowiges besef nie dat hulle self die kerk van die Here is nie.
- By hulle
bestaan die idee dat die kerk iets is soos die ouderlinge en die
dominee - iets buite hulleself.
- Daarom besef
daardie gemeentelede dikwels ook nie wat hulle verantwoordelikheid en
deelname in die kerk is nie.
- Miskien dra
ons manier van praat daartoe by, want ons sê ons "gaan kerk toe"
- so asof dit iets is waaraan ons net kan deelneem as ons na 'n
bepaalde plek toe gaan, en as ons weggaan, dan bly die kerk daar agter.
Dit is nie waar nie.
Ons gee aandag aan:
1.
Wie is die kerk?
2.
Wat leer die Nuwe Testament?
3.
Uitreiking in die kerk.
1. Wie is die kerk?
Wie is die kerk? Ons is die kerk. Ons is elke dag die kerk. Ons bly die
kerk van die Here selfs wanneer ons by die werk is, of skool toe gaan,
of sport beoefen. Die dinge wat in die kerk gebeur, m.a.w. wat ons elke
dag en elke oomblik van ons lewens doen, is altyd ons antwoord op die
wil van die Here.
Dit bring ons by die stelling wat baie keer gemaak word dat die kerk
"moet voorsien aan my behoeftes." As ons hierdie stelling wil
beredeneer, moet ons die volgende dinge onthou:
- Die eerste is
dat ons behoeftes nie noodwendig reg sal wees nie, omdat ons sondige
mense is met 'n skewe wil.
- Die tweede is
dat die kerk die liggaam van die Here is, en daarom moet doen wat die
Here gedoen wil hê.
- Ons is ook nie
kerk omdat ons besluit het om dit te wees nie. God het ons sy kerk
gemaak. Met dit in gedagte moet ons altyd besef dat die inisiatief in
die kerk aan die Here behoort, maar dat ek as deel van die kerk 'n
spontane verantwoordelikheid het wat ek moet nakom om God daarmee
te verheerlik.
Om dit te kan verstaan, moet ons teruggaan na die begin van die
geskiedenis van die kerk: ons gaan kyk hoe Israel verbondsvolk gemaak
is, sonder dat hulle 'n keuse gehad het.
- Wat die saak
op ons van toepassing maak, is die feit dat die Here hierdie volk sy
gemeente noem.
- Dit is presies
dieselfde woord as wat in die Nuwe Testament gebruik word vir gemeente.
- Daarin het ons
'n baie duidelike openbaring dat die Here in die geskiedenis van Israel
die geskiedenis van sy kerk beskryf.
- Die beginsels
wat toe al op die verhouding tussen God en Israel van toepassing was,
is vandag nog steeds op ons ook van toepassing.
Luister net weer hoe die Psalmdigter dit beskryf:
Dink
aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos
het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Sion waar U op
gewoon het. (Psalms 74:2 AFR53)
Die volk het dus nie 'n keuse gehad of hulle die gemeente van die Here
wou wees of nie.
- Die feit is
dat hulle dit is, en toe aan die Here gehoorsaam moes wees.
- Hulle het oor
alles, tot in die fynste besonderhede voorskrifte gekry.
- As hulle nie
wou luister nie, moes hulle sterf. So streng was die Here.
Dink as 'n voorbeeld aan die geskiedenis van Eksodus 12 waar die Here
vir die hele gemeente van Israel bevele gee rondom die offerlam.
- Die Here se
opdrag raak die dag waarop die lam geslag moet word en ook selfs dat
daar geen suurdeeg in hulle huise mag wees nie.
- Diegene wat
oortree, sal van die gemeente van Israel afgesny word. Die hele
gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. (v. 3, 6, 19, 47).
Wat is die beginsels wat hier neergelê word?
- Dit dat die
Here sekere dinge van die kerkvolk verwag wat deur hulle nagekom moet
word.
- Natuurlik
offer ons nie meer nie, want op daardie stadium in God se raadsplan was
dit nog die tyd hoe die komende offer van die Here simbolies uitgebeeld
was.
- Nou is sy
offer 'n werklikheid, en het die offers nie meer plek in die erediens
nie.
Ander dinge het gebly, soos die opdrag van die Here dat Hy sy gemeente
op sekere tye bymekaar wil hê.
- Dit was van
die begin af so dat daar samekomste was tussen God en die gemeente.
Daar is 'n hele aantal voorbeelde waar die Here gesê het :
Verder
het Moses met Aäron gespreek: Sê aan die hele
vergadering van die kinders van Israel: Kom nader voor die aangesig van
die HERE, want Hy het julle murmureringe gehoor. (Eksodus 16:9
AFR53)
Beveel
die hele gemeente van Israel om voor die Here te kom staan,..
(Eksodus 16:9 AFR 83).
In hierdie
samekomste (eredienste) was nie net manne, of net vrouens,
of net kinders nie. Lees maar noukeurig dat die Here elke keer beveel
dat die hele gemeente bymekaargeroep moes word: groot en klein
(Eksodus
16:9; 35:1; Levitikus 8:3, 4).
- Die Here is
baie duidelik daaroor dat daar 'n groot verskil is tussen hierdie soort
samekoms en 'n gewone volksvergadering.
- In hierdie
vergadering is die Here besonderlik teenwoordig: "...die hele gemeente
het saamgekom en in die teenwoordigheid van die Here kom staan."
(Levitikus 9:5).
Waarom moes die volk voor die Here verskyn?
- Omdat Hy hulle
aanbidding wou hê en hulle wou toespreek.
- Soms wou Hy sy
wil aan hulle bekendmaak. Lees hiervoor Eksodus 35:1
Toe
het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar
laat kom en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat die HERE beveel
het, om dit te doen: (Eksodus 35:1 AFR53)
Moses
het die hele gemeente van Israel bymekaargeroep en vir hulle
gesê: Dit is die gebod wat die Here julle beveel het om te
gehoorsaam:.. (AFR 83)
(vgl. Eksodus 35:4: Moses het ook vir die hele gemeente Israel
gesê: Dit is die opdrag van die Here:..).
2.
Wat leer die Nuwe Testament?
Dit was ook nie net in die Ou Testament die geval dat die Woord van die
Here in die eredienste afgekondig is nie.
- In die Nuwe
Testament was dit nog steeds so, en het die Here die kerke beveel om
oor mekaar toesig te hou dat alle kerke dit doen.
- Ons lees dat daar 'n opdrag
aan die gemeente in Kolossense gegee word dat wanneer die brief wat
Paulus aan hulle geskryf het, klaar by hulle voorgelees is,
hulle reëlings moet tref dat dit ook in die gemeente van die
Laodisense voorgelees kan word.
- Hulle moet verder sorg dat
die brief wat van Laodisea af sal kom, ook by hulle voorgelees moet
word (4:16).
- Die kerk is
ook die plek waar die voorgangers moet bid vir die sondes wat in die
gemeente begaan is, en die Here moet smeek vir vergifnis. Ons lees hoe
Moses en Aäron op hulle knieë neergeval en gebid het:
Maar
hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die
geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering
toornig word? (Numeri 16:22 AFR53)
O
God, God wat aan alle mense die lewe gee, sal u toorn teen die hele
gemeente ontvlam as net een mens gesondig het? (Numeri 16:22 AFR
83).
- Daar gebeur
baie meer in 'n erediens as net dat die gemeente saam bid.
- Hulle moet die Here ook
saam loof met hulle sang en met musiek.
- Ons lees in die Bybel dat
terwyl die sang weerklink het en die trompette geskal het, het die hele
gemeente in aanbidding gebuig (2 Kronieke 29:28).
- Op 'n ander plek word
vertel dat die voorganger (Esra) die Here, die grote God, geprys het en
dat die hele gemeente met die hande omhoog geantwoord het: Amen, amen.
Toe het hulle gekniel en diep voor die Here gebuig (Nehemia 8:7).
Die Bybel is baie duidelik daaroor dat elke gelowige die plig het om
deel te neem aan die eredienste en daardeur tot eer van die Here se
Naam te getuig in die gemeente, en om die Here in die volle vergadering
van die gemeente te prys (Psalm 22:22; vgl.Psalm 26:12; Psalm 35:18;
Psalm 40:9, 10; Psalms 111:1)
<>>- <>In die Nuwe
Testament is dit nog steeds so. Ons lees dat die gemeente saam was en
God geprys het.>
<>terwyl hulle God geprys het en in
guns was by die hele volk. En die
Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.
(Handelinge
2:47 AFR53)>
.. En
die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente
gevoeg (Handelinge 2:47 AFR 83).
- Hierdie
samekomste van die Here en sy gemeente was nie maar willekeurige
gebeurtenisse, m.a.w. enige een kon dit bywoon of wegbly soos wat hy
lus het nie.
- Die Here het aan die
kerkleiers opdrag gegee om 'n vasdag te bepaal.
- Die gemeente moes bymekaar
geroep word en die leiers en al die inwoners van die land moes na die
huis van die Here julle God toe kom.
- Hulle moes die Here
aanroep! (Joël 1:14).
Daar was dus 'n baie sterk verpligting dat letterlik almal, groot en
klein, hierdie byeenkomste moes bywoon.
- Die wat dit
versuim het, het hulle in die oordeel van die Here vasgeloop. Dink hier
aan wat gebeur het by die byeenkoms by Mispa:
En die
kinders van Israel het gesê: Wie is daar van al die stamme
van Israel wat nie opgegaan het na die vergadering, na die HERE toe
nie? Want daar was ‘n plegtige eed teen die een wat nie opgaan na die
HERE in Mispa nie - hy moet sekerlik gedood word. (Rigters 21:5
AFR53)
Toe
sê die Israeliete: "Wie van al die stamme van Israel het nie
hier na die gemeente, na die Here toe, opgekom nie?" Daar is
vroeër 'n eed afgelê dat elkeen wat nie na die Here toe kom
in Mispa nie, doodgemaak sal word (Rigters 21:5 AFR83).
- Weereens was
dit nie net in die Ou Testament die opdrag van die Here nie. In die
Nuwe Testament het die Here hierdie bevel herhaal.
- In die gedeelte in
die Hebreërbrief waar die Here die opdrag gee, is dit baie
duidelik dat die Here swak kerkbesoek as 'n ernstige sonde beskou:
en
laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die
gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer
namate julle die dag sien nader kom. (Hebreërs 10:25 AFR53)
Ons moenie van die samekomste van die
gemeente af wegbly soos party se
gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en
dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom
(10:25 AFR 83).
Hierdie gemeenskap wat God opeis tussen Hom en sy gemeente, moet nie 'n
gedwonge omgang met mekaar wees nie.
- Dit moet juis
'n gemeenskap in blydskap en vreugde wees, omdat dit 'n verlossende
gemeenskap is.
- Dit is omgang
met die Here omdat Hy ons uit ons bande met die hel verlos en bevry het.
- Die Here wil
hê dat hierdie gemeenskapsverhouding ook tussen die gemeentelede
onderling onderhou word.
- Die samekomste
van die gemeente is ook die geleenthede waar die Here die volk vermaan
om heilig te wees, en hulle troos dat hulle moet onthou dat Hy hulle
heilige God is (Levitikus 19:2).
3.
Uitreiking in die kerk.
Daar is ook kere wat die Here sy volk toegespreek en van hulle
geëis om sy gemeente heilig te hou deur die sondaars onder hulle
uit te verwyder:
Vat
die man wat gelaster het, uit die kamp uit. Laat almal wat hom hoor
laster het, hulle hande op sy kop sit, en laat die hele gemeente hom
daarna met klippe doodgooi (Levitikus 24:14, 16; Numeri 15:15,
33; 19:
20 AFR 83).
Die beginsel wat hier gegee word, is natuurlik die tug.
- Onder die
eerste verbond was dit baie fisies: die oortreder moes doodgemaak word
as teken van die ewige dood.
- In die Nuwe
Testament was die beginsel steeds gehandhaaf, maar nou is dit geestelik
en nie meer fisies nie. Daarom word iemand wat nie wil luister nie deur
die gemeente uitgeban:
En as
hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy
ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n
tollenaar behandel (Matteus 18:17 AFR 53).
Die hele gemeente is veronderstel om mekaar te ken en om mekaar se
belange op die hart te dra. Hulle moet vir mekaar omgee.
- As iemand
byvoorbeeld siek is, moet almal vir daardie lidmaat bid, en help waar
hulle kan.
- Die beginsel
is dat ons mekaar se laste moet dra, dan is dit nie so swaar vir een
mens wanneer hy/sy in beproewing beland nie.
- Ons het o.a.
so 'n voorbeeld in Handelinge 12:5 waar verhaal word dat Petrus in die
tronk bewaak is, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid.
Die gemeente is nie net veronderstel om mekaar se swaarkry te deel nie.
Hulle moet ook mekaar se vreugdes deel. Ons lees hoe Paulus-hulle by
hulle terugkeer in Jerusalem die hele gemeente ingelig het oor al die
voorspoed wat hulle gehad het om gemeentes onder die heidene te stig:
By
hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle
vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene
die deur van die geloof oopgemaak het (Handelinge 14:27;
Handelinge
15:4 AFR 83).
Die kerk is ook die plek waar mense geskille met mekaar oplos. Deesdae
is daar baie Christene wat mekaar dagvaar. Dit is verkeerd, dit hoort
nie so nie.
- Ons lees dat
daar eenkeer 'n groot verskil tussen Paulus en Barnabas aan die een
kant en van die ander Christene aan die ander kant ontstaan het oor 'n
saak. Die Bybel beskryf hoe hulle toe besluit het om die hulp van ander
kerke in te roep. Ons lees dit in Handelinge 15:2 AFR 83:
Toe
Paulus en Barnabas hulle daarteen verset en in 'n heftige
meningsverskil met hulle betrokke geraak het, is daar besluit dat hulle
twee en nog 'n paar ander van die gemeente na die apostels en
ouderlinge in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie vraagstuk.
Kom ons som alles op: Die Here het ons sy kerk gemaak. Daarin het ons
nie 'n keuse gehad nie. Nou is ons sy kerk, en staan ons onder sy bevel.
- Hy verwag van
ons om Hom te aanbid, en om met alle halstarrigheid en verset wat eie
is aan die duiwel te breek.
- Hy verwag van
ons om in die eerste plek sy kerk te wees wat sy wil uitleef en om van
daardie basis af te leef.
- M.a.w. ons dagtaak, ons
huwelik, die opvoeding van ons kinders, ons vriendekring - letterlik
alles moet rus op die basis dat ek deel is van God se kerk en in
letterlik alles wat ek doen, die wil van God uitvoer.
Hierdie dinge kan net tot volle reg groei in mense wat in 'n lewende
gemeenskap met God is, m.a.w. wat voluit en warm deel uitmaak van die
kerk van die Here. Dit is waar ons teksvers inpas waar die Here vir ons
sê dat die dinge ook op ons van toepassing is.
- Ons moet ons
toelê op die gawes van die Gees, en streef na dié gawes
wat tot opbou van die gemeente dien, sodat elkeen van ons daarin kan
uitmunt (1 Korintiërs 14:12).
- Ons het 'n
spreekwoord wat sê dat woorde wek, maar dat voorbeelde trek. Dit
is in hierdie geval ook waar van die koninkryk van die Here.
- Ons sal net 'n voorbeeld
kan wees vir mense wat buite die kerk is as ons met wysheid optree
teenoor die mense wat nog buite die gemeente is.
- Dit is tog opvallend dat
die Here die saak 'n bevel maak en dan nog 'n keer sê "Maak die
beste gebruik van elke geleentheid" (Kolossense 4:5 AFR 83).
Die saak is ernstig. Geeneen van ons kan die waarborg gee dat die Here
Jesus nie enige oomblik op die wolke kan verskyn nie.
- Die oomblik
wanneer dit gebeur, word sy verlossingswerk volmaak geopenbaar en kom
sy ewige koninkryk tot stand.
- Onthou net dat
daar geen mag in die hemel of op die aarde is wat Hom sal kan keer nie,
want die Here sê die volgende van Jesus na sy hemelvaart:
Ja,
aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom
aangestel as hoof van die kerk (Efesiërs 1:22 AFR 83).
Jesus Christus is ons enigste Hoof. Die Bybel leer ons dat die kerk sy
liggaam is, die volheid van Hom wat
alles in almal vervul
(Efesiërs 1:23 AFR 53).
- Kom ons
gehoorsaam Hom alleen, want in gehoorsaamheid aan Hom is daar vir ons
'n groot toekoms. Onthou die Here se belofte:
...sodat
Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek
of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik
(Efesiërs
5:27 AFR 53).
Ons is die draers van hierdie waarheid, en hierin moet ons volhard.
Paulus het hierdie dinge al vir Timoteus ook geskryf. In sy brief is
dit baie belangrik dat almal moet weet hoe iemand hom moet gedra in die
huisgesin van God.
- Hy beklemtoon
dat die huisgesin van God die gemeente van die lewende God is. Die
gemeente is die draer en beskermer van die waarheid (1 Timoteus 3:15).
- Deur die
kruisdood van die Here Jesus is die Heilige Gees op ons uitgestort om
ons by te staan in die bewaring van die waarheid. Baie vroeg in ons
moderne geloofsgeskiedenis het die gelowiges al getuig dat die Heilige
Gees hulle bystaan. Daar staan in Handelinge 9:31 dat die kerk in die
hele Judea, Galilea en Samaria 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het
gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is
deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.
- Die Heilige
Gees hef ons op, omdat Hy die werk van Jesus Christus in ons bevestig
en afrond. Uiteindelik word dit in die laaste dae tot voltooiing
bring. Ons bely dit ook dat die Here Jesus vir Hom 'n gemeente
verkies het en dat Hy hulle deur sy Woord en Gees beskerm en onderhou
van die skepping af tot by die wederkoms.
Dit is presies wat met ons ook gebeur.
- Die Heilige
Gees roep die uitverkorenes bymekaar in kerke.
- Hulle
bestudeer die woord van die Here en dan lei die Heilige Gees hulle deur
die Woord van die Here in die geloofsfeite in.
- Die Heilige
Gees maak vir ons die Woord verstaanbaar en gee ons begrip van hoe om
die Here te aanbid. Hy leer ons wat die doel van ons lewe is.
- Die Heilige
Gees lei die kerk om in die naam van die Here die
wêreldgeskiedenis te beheers.
- Die Heilige
Gees werk ook in elke lidmaat/gelowige afsonderlik. Dit doen Hy
wanneer ons ons aan onsself ontdek, en besef wanneer ons teen die Here
verkeerd doen. Dit is Hy wat ons berou laat kry en ons tot
bekering lei in 'n beter lewe in. So kry ons deel in die gawes
van Jesus Christus se kruis.
Dit is presies wat Jesaja sê:
Laat
ons optrek .... na die huis van God .... dat Hy ons sy weë
kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet
uitgaan en die Woord van die Here uit Jerusalem. (Jesaja 2:3 AFR
53)
Ons weet ons is sondaars, maar die troos is hier dat die Here nooit sy
kerk (sy gelowiges) sal verwerp nie.
- Die Here sal
ons straf wanneer ons sondig, maar dan is dit sodat ons ons moet
bekeer.
- Die Here
vergewe ons al ons sondes wanneer ons berou het.
- Sy liefde bly
by ons tot in ewigheid.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 68:8.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 17 Oktober 2004 (oggend)