Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 68:13
Geloofsbelydenis: Nicea
Wet
Psalm 86:2
Gebed
Psalm 71:9 14
Skriflesing:
1 Korintiërs 14
Teks:
1 Korintiërs 14:15
Hoe
staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met
die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met
die verstand psalmsing (AFR53).
Hoe
moet dit dan wees? Só, dat ek met die gees moet bid, maar
ook met die verstand. Ek moet met die gees die lof van die Here sing,
maar ook met die verstand (AFR83).
Daar is twee dinge van elke mens wat in volle funksie moet wees wanneer
ons die Here aanbid: Dit is ons hart en ons verstand.
- Ons emosies moet
voluit aan die werk wees, maar dit moet gevestig wees in dit wat ons
weet.
- My verstand moet
presies net so hard soos my emosies praat wanneer ek die Here aanbid.
Merkwaardig genoeg leer die Bybel dat
ware geloof ook hierdie twee bene
het: Ons hart – dit is ’n vaste vertroue in die Here; maar ook ons
verstand – dit is ’n volledige kennis van God se woord.
In die gedeelte wat ons gelees het, is dit duidelik dat die dinge wat
hier beskryf word, oor die erediens gaan waar God aanbid en verheerlik
word.
- In die proses van
aanbidding moet een mens nie sy eie ding doen sonder dat die ander
hulle volledig met hom identifiseer en saamdoen in die aanbidding nie.
<>Daarom is daar een
ding wat ’n paar keer gesê word. Dit is dat alles wat ons tydens
die erediens doen, die gemeente moet stig, troos en bemoedig (v. 3; 4;
5; 12). Die drie woorde wat gebruik word, beteken die
volgende:>
- Stig beteken letterlik dat die
gemeente as een huisgesin saamgesnoer en opgebou moet word.
- Troos beteken dat daar aan hulle
hartseer aandag gegee moet word.
- Bemoedig beteken dat die moed wat
hulle verloor het, weer opgeknap en versterk moet word.
In hierdie gedeelte word verskillende dinge opgenoem wat in die
gemeente gebruik word vir hierdie doel.
- Die een is
verskillende tale wat gepraat is om aan die verskillende taalgroepe die
evangelie te verkondig. Hierdie verskynsel het in die apostels se tyd
net in een gemeente voorgekom, naamlik in die Korintiërgemeente.
- Omdat die mens in ’n
sondegevalle staat is, is hy altyd geneig om verkeerd te loop, selfs
met die uitnemendste gawes wat God in die kerk gebruik.
So het dit gebeur dat dit vir hierdie gemeente so belangrik geword het
om in ’n ander taal as jou geboortetaal te praat, dat hulle die hele
aangeleentheid veruiterlik het en verander het in ’n “vertoonbesigheid”
van hoe groot of uitsonderlik jou geloof dan sou wees.
- Sekere persone het
in die gemeente opgestaan en allerhande klanke gemaak – met die
bewering dat hulle besig is om in die een of ander taal te praat. Die
res van die gemeente het maar net die klanke gehoor, terwyl hulle niks
verstaan het van wat gesê is nie.
- Uiteraard het dit
daartoe gelei dat ’n deel van die gemeente nie lekker gevoel het
hieroor nie. Daarom het Paulus die gemeente dadelik gewaarsku dat daar
’n voorwaarde aan die gebruik van ’n taal is: Die res van die gemeente
moet kan verstaan wat aangaan, want hulle moet opgebou en vertroos
word, en hulle moet moed skep om die lewe met blydskap te kan hanteer.
In hierdie proses moet daar ’n balans wees tussen emosie en verstand.
Die Heilige Gees noem saam met die Woordverkondiging in ander tale ook
nog gebede
en gesamentlike
sang. Vir hierdie twee liturgiese handelinge
geld presies dieselfde beginsels as vir die praat van onbekende tale.
In hierdie erediens gee ons aandag aan die sang tydens die erediens.
Dat ons moet sing, is duidelik. Die Bybel is vol daarvan dat die
kerkvolk die Here moet loof met hulle sang wanneer hulle in aanbidding
saamkom.
Kom ons kyk na enkele dinge wat die Bybel aan ons openbaar wat alles
met die sang van die gemeente saamhang:
Watter
musiekinstrumente mag ons gebruik om ons te begelei?
- Ons mag verseker
dieselfde soort musiekinstrumente gebruik wat die Here nog al die eeue
laat gebruik het:
- Ons lees in 2 Kronieke 23:13 van
trompetblasers en sangers met musiekinstrumente wat die lof aan die
Here sing.
- Job (21:12) vertel dat hulle in
sy tyd saam met tamboeryne, siters en fluitbegeleiding gesing het.
- Psalm 150 noem letterlik elke
musiekinstrument wat destyds bestaan het, naamlik trompette, harpe,
luit, tromme, fluit en simbale.
Wat moet ons sing?
- Ons sang moet die
Here se eer verheerlik. Om dit te kan doen, moet ons sing van
dinge
waarvan ons weet, sodat ons die Here bewustelik kan dien.
- Dink hier byvoorbeeld aan die
Israeliete net nadat hulle deur die Rooi See is:
Toe
het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here
gesing: “Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is.
Perd en strydwa het Hy in die see geslinger” (Eksodus 15:1).
- Ons lof aan die Here
wanneer ons die Here loof, moet alle mense bereik.
<>Dink aan die woorde van Debora se
lied wat in Rigters 5:3 opgeteken is:
Daar is ’n voorbeeld van ’n
jubellied wat ook deur die kerkvolk aangeleer moes word. Die Here
beskryf in 1 Kronieke 16:7 dat Dawid die eerste dag toe hy die Psalm
met die naam “Loof die HERE” klaar geskryf het, aan Asaf en sy broers
opdrag gegee het om dit om te sing.>
- Ons moet sing oor
die regverdige dade van die Here. Ons moet sing oor hoe Hy die
kerk lei.
- Ons moet dit veral doen wanneer
ons in die moeilikheid is. Ons lees dat die boogskutters tussen die
drinkplekke, die regverdige dade van die HERE besing het, die
regverdige dade van sy leiding in Israel. Daarna het die volk van die
HERE afgetrek na die poorte toe (Rigters 5:11).
- Daar staan in 1 Kronieke 16:9, 23:
Sing
tot eer van die Here, almal op aarde! Verkondig elke dag sy
reddingsdade!
- Job het sang vir die
Here gebruik om sy skuld te bely (Job 33:27):
Hy sing voor die mense en
sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na
verdienste vergeld nie.
- Ons moet ook sing
van die goedertierenheid van die Here waarop ons vertrou. Ons
moet juig
oor sy verlossing.
- Ons moet in ons aanbiddingsang
vashou aan die Here se troue liefde, oor die uitkoms wat Hy gee (Psalm
13:6).
- Wanneer ons
depressief raak, moet ons ons onrus omsing in hoop op die Here
(Psalm
42:5, 6; Psalm 43:5)
Vertrou
op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my
helper.
- Die apostels het in
die nag psalms gesing wanneer hulle koorsig en siek met hulle stukkend
geslaande liggame in boeie in die tronk gelê het.
- Hierdeur het hulle die evangelie
aan die ander gevangenes verkondig. (Handelinge 16:25).
- Paulus en Silas het eenkeer tot
middernag gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes
het na hulle geluister.
- Ons kan mekaar ook
troos en bemoedig met ons gewyde sang.
- Die Here beveel ons in
Efesiërs 5:19 om onder mekaar psalms, lofgesange en ander
geestelike liedere te sing. Hy beveel ons om met ons hele hart tot eer
van die Here te sing.
Hoe moet ons sing?
Daar is in die Bybel ’n verskeidenheid van maniere waarop ons kan sing.
- Soms het almal saam
gesing.
- Soms het die mans en
die vrouens beurtsange gesing.
- Soms was die
beurtsang tussen die priesters en die volk.
- Net na die deurtog
deur die Rooi See het Mirjam voorgesing en die volk het gevolg.
(Eksodus 15:21).
- Ons moet met
waardigheid sing.
- Die gemeente mag dit interessant
vind om te weet dat ons Nasionale Sinode oor Psalmwysies hom teen
populêre liedjiewysies uitgespreek het, omdat die Sinode
geoordeel het dat vervlakking in die musiek lei tot vervlakking van die
inhoud van dit wat gesing word.
- Waarom het die kerke wat in die
Sinode bymekaar was, so sterk oor die soort musiek gevoel? Omdat daar
’n bepaalde styl in ons sang moet wees. Uit die klank en soort musiek
moet dit duidelik hoorbaar wees dat ons die Here dien. Ons kan
nie
sommer enige woorde en enige wysie sing nie.
- Ons lees van so iets die keer toe
Moses met die twee kliptafels waarop die Tien Gebooie geskryf is, van
die berg af gekom het. Hy kon aan die tipe musiek wat die volk gemaak
het hoor dat hulle nie besig was om die Here te loof nie.
- Trouens, Josua het gedink die
volk was besig om oorlog te maak. Moses het weer gedink dat hulle besig
was om fees te vier. Toe hulle by die volk kom, kry hulle hulle waar
hulle om die goue kalf dans.
- Dit is een van die redes waarom
ons op ons kerklike vergaderings besluit het dat ons kerkmusiek nie
soos wêreldse musiek, of soos oorlogsmusiek moet klink nie.
Onthou maar gerus Moses se woorde:
Maar
Moses het gesê: Dit klink nie na oorwinning nie, dit klink
nie na neerlaag nie, wat ek hoor, klink na feesviering (Eksodus
32:18).
- Ons kerksang moet
ook lerend/onderrigtend wees
- Net voor Moses dood is, het die
Here vir hom vertel dat die volk Hom eendag gaan verlaat. Hulle gaan
dan allerhande onsedelike dinge doen en afgode dien. Toe het die Here
vir Moses die woorde van ’n lied voorgesê wat die Here jare later
wou gebruik om die volk te veroordeel. Die Here het vir Moses
gesê:
- Teken hierdie lied vir julle op
en leer dit vir die Israeliete. Laat
hulle dit sing sodat die lied my getuie teen hulle kan wees
(Deuteronomium 31:19).
- Die opdrag is: Leer dit vir
hulle! Sorg dat hulle dit bly sing! Die boodskap van Christus moet in
sy volle rykdom in ons bly. Ons moet mekaar met alle wysheid leer en
onderrig. Die Here sê ook hoe dit moet gebeur: Met dankbaarheid
in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike
liedere tot eer van God sing (Kolossense 3:16).
Jesus was altyd deur sang omring:
- Met sy geboorte het
die engele die verlossing van die Allerhoogste oor die mensdom
uitgesing.
- Die week van sy dood
het die skare Hom ook juigend met hulle sang in Jerusalem ingelei. Dit
is nie sonder rede dat dit so is nie.
Ons kan die Here met ons gebede aanbid sonder om te sing, maar ons kan
nooit sing sonder om te bid nie, want óf ons dank Hom met ons
sang, óf ons jubel sy lof uit met ons sang, óf ons smeek
Hom biddend vir wat ons nodig het met ons sang.
- Enige mens wat besef
wat die kruisdood van die Here Jesus beteken, sal nie anders kan nie as
om die Here met lofsange te loof en te dank vir al sy genade nie.
- Mens dink
onwillekeurig aan die woorde van Psalm 104:33 wat sê:
Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing
tot eer van my God solank as ek daar is.
“Solank as wat ek daar is” is natuurlik meer as net hierdie lewe, want
in die hiernamaals is ek nog steeds daar. Selfs in die hemel sal ons
nog steeds met ons sang die Here loof vir al sy genade. Ons lees van
drie keer wat mense in die hemel sing.
- Ons lees in
Openbaring 5:9 dat die mense wat in die hemel is ’n nuwe lied sing en
sê:
U is waardig om die boek te neem en sy
seëls oop te maak, want U
is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal
en volk en nasie (Openbaring 5:9 AFR53).
- Ons lees die tweede
keer daarvan waar Johannes mense gesien het wat ’n nuwe lied voor die
troon van God en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge gesing
het. Maar wat baie merkwaardig was, was dat niemand die lied kon leer
nie, behalwe die honderd vier en veertig duisend wat van die aarde
vrygekoop is deur die bloed van die Here Jesus Christus (Openbaring
14:3).
- Die derde keer lees
ons dat ons ’n baie ou lied gaan sing, naamlik die lied van Moses:
En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die
lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here
God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die
heiliges! (Openbaring 15:3 AFR53)
Ons sang tydens die erediens is ’n voorspel van ons sang in die
hiernamaals. Daarom is daar iets van ’n oordeel in vir die wat nie
probeer saamsing nie, of wat kerksang as minderwaardig beskou.
- Die waarskuwing kom
uit in iets wat die apostel Johannes waargeneem het toe hy weggeruk was
tot in die hemel: Die wat nie die lied kan leer nie, is nie vrygekoop
deur die bloed van Jesus Christus nie! Ons weet mos uit die hele res
van die Bybel dat dit die is wat die Here nie reg en opreg wou dien nie.
Mag ons deel wees van die skare wat hierdie lied van Moses gaan sing
waarin ons God en die Lam verheerlik omdat ons Hom werklik ken in sy
grootheid en in die wonderbaarlikheid van sy werke. Totdat ons daar is,
moet ons ook nou al die almag en reg en betroubaarheid van ons God en
Koning besing.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 40:2, 5
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 31 Oktober 2004 (oggend)