Sing vooraf: Psalm 31:15; Psalm 67:1, 3; Psalm 68:9; .
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 118:12, 13.
Geloofsbelydenis Apostolicum
Wet
Skrifberyming 19-1:1
Gebed.
Skrifberyming 12-3:1, 2.
Skriflesing: 1 Korintiërs 2
Teks: 1 Korintiërs 2: 5,
9
sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar
in die krag van God. (1 Korintiërs 2:5 AFR53)
maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie
gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom
liefhet. (1 Korintiërs 2:9 AFR53)
Met die gebruik van die Nagmaal het ons op 'n baie besondere manier gemeenskap met die Here.
- Die ware gelowige belewe die gemeenskap met die Here, terwyl die ongelowige of die valse
gelowige dit nie ervaar nie.
- Van sy kant af gebruik die Here verskillende middele om Hom voortdurend aan die ware gelowiges
te openbaar, sodat hulle Hom werklik kan ken.
- Een van die dinge wat die Here aan hulle openbaar is dat hulle tot hulle troos mag weet dat Hy
hulle geskik maak vir sy koninkryk.
Ons let op die volgende drie sake:
1. Getuienis deur die prediking
2. Wat gebeur met die gelowige onder die prediking
3. Hoe pas hierdie dinge by die Nagmaal
1. Getuienis deur die prediking
Die hoofgedagte van die vers is dat Paulus die getuienis van God kom verkondig het. Baie mense
onderskat soms die krag wat daarin sit dat jy kerk toe gaan en gaan luister na 'n preek.
- Letterlik staan daar Paulus aan hulle die misterië van God kom
verkondig het. Die 1983AF vertaal dit met die woorde: "geheimnisvolle waarheid."
- Dit is waaroor dit in hierdie hele gedeelte gaan:
-
- Die Here se wêreld is te groot en te diep vir 'n mens om te verstaan. Dis ook 'n wêreld
wat menslik buite ons bereik lê, want ons lewe in 'n skepping waar jy alles kan sien, en aan alles
kan vat, terwyl God Gees is.
- Maar nou laat die Here ons nie in hierdie toestand nie. Hy openbaar Hom aan ons. As ons net
vinnig kyk na al die verskillende dinge wat die Here van Homself in Jesus Christus openbaar deur
Paulus se briewe, kry ons die volgende:
-
- Jesus tree profeties op in woord en in daad.
- Jesus het absolute mag oor demone.
- Jesus regeer oor dood en lewe, en bevestig dit met sy opstanding.
- Hy is verhoog tot Kurios (gebeure-woord wat Jesus in sy koningsheerskappy beskryf).
- Dan openbaar die Here Jesus Homself ook nog in sy glorieryke wederkoms.
Die een saak wat die hart van al hierdie dinge saamvat - dus: die hart van die
evangelie - is die kruisiging van Jesus Christus. Dit is wat al die eeue deur
gepreek is. Lees maar net hoe die Hebreërbrief begin:
- Die Here het eers deur profete gepreek en nou in die laaste dae deur sy eie Seun.
- Daarna handel dit oor die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.
- Presies dit openbaar die Here ook in die geleesde gedeelte.
Waarom?
- Omdat die unieke aard van die Goddelike genadebewind in die lyde en sterwe van die Here Jesus
'n sigbare werklikheid is.
- Jesus het in die dieptes van vernedering en pyn afgedaal en daarmee aangetoon hoe groot Hy as
Koning van Genade is.
- Aan die kruis het die Here Jesus geopenbaar dat Hy niks vir Homself vra nie, en dat Hy vir sy
onderdane sy lewe gee, sodat hulle vir ewig kan lewe.
- Hier het die Here Jesus arm geword om ons ryk te maak. (2 Korintiërs 8:9)
-
- Die Here Jesus Christus het deur al hierdie verskriklikhede gegaan om sy uitverkorenes vir ewig
daarvan vry te maak.
- Hy het dit nie iewers in die geheim of in die wêreld van die onsienlike gaan doen nie. Hy het
dit op ons aarde en voor ons oë gedoen.
Die Gees van God is 'n almagtige werkende Krag wat in die gelowiges werk.
- Hy gaan ook van die gekruisigde uit.
- Die kragtige werking van God die Heilige Gees laat die gelowiges hierdie dinge hoor, verstaan
en sien.
- So regeer en leer die Here Jesus sy gemeente deur die Heilige Gees.
2. Wat gebeur met die gelowige onder die prediking
Die apostel Paulus het gepreek dat die Here Jesus God is wat groot liefdeswerke oor die gelowiges
verrig.
- Hy het al die beslissende handelinge aan die kruis verrig, maar Hy voltooi dit die dag met sy
wederkoms.
- Hy is die ewigregerende Koning Jesus Christus.
Die een wat preek (in ons geval die dominee) is nie die een wat die verandering in die harte bewerk
nie.
- Die Here doen dit deur sy Gees en met sy krag. Die Here gryp deur die prediking van die
evangelie in die harte van die mense wat daarna luister.
- In 1 Tessalonisense 1:5 leer die Here ons dat die evangelie nie net in woorde na ons toe kom
nie, maar ook in krag, en in die Heilige Gees en in groot versekerdheid.
- As ons dit saam met 1 Korintiërs 2 lees, kan ons dit nie anders verstaan nie: die Gees en krag,
is die Gees en krag van God.
Die Here self gryp ons met krag, en dit doen Hy deur die werk wat die Heilige Gees doen. Die Here
laat sy openbaring inval in die diepte van ons siel, waar bekering gebore word, sodat ons uit ons
sondes kan opstaan in 'n nuwe lewe.
Vers 5, ons teksvers, is dus 'n slotsom waartoe die Here ons lei. Ons geloof bestaan nie in mense
nie, maar in die krag van God.
- Dit wat hier geskryf staan, beteken dat ons lewe voortdurend gevoed word, en dat dit elke dag
groei uit die krag van die Here.
- Dis 'n proses wat nooit ophou nie! God gryp self in jou lewe in met die prediking, en Hy
verander jou daagliks in jou bekering en in die groei van jou geloof. Dis wat met jou gebeur
wanneer jy in die kerk sit en 'n preek aanhoor. Kan die genade helderder gepreek word?
3. Hoe pas hierdie dinge by die Nagmaal
In vers 6 staan daar "Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes."
Die nuwe vertaling maak daarvan: "Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir
die die wat daarvoor ryp is,.."
Die woord wat die Here gebruik, beteken normaalweg "die wat vir die einde geskik
is" met verwysing na die wederkoms.
- As ons alles bymekaar sit, dan kom ons agter dat die Here in 1 Korintiërs 2:6 dus praat van
mense wat vir die Here geskik is vir sy koninkryk.
- Natuurlik word hierdie mense deur Jesus Christus geskik gemaak. Maar dis ook presies waaroor
hierdie preek gaan.
By die Nagmaal gebeur daar groot dinge wat nie gesien word nie, en wat 'n buitestaander ook nie
sien of voel nie. Die Here openbaar dit net aan die gelowiges.
- Omdat die Here meer as dit aan ons openbaar beleef ons die teenwoordigheid van die Drie-Enige
God self saam met ons.
- Ons beleef dit dat die brood en die wyn elemente is wat 'n geweldige onsienlike wêreld vir ons
oopmaak om voor ons geestesoog te sien.
- Ons verstaan dit hoe die Here Jesus ons sondestraf gedra het voor God die Vader om ons met sy
toorn te versoen.
- Daarby verstaan ons hoe die Here Jesus die magte van die hel vernietig het om ons van die ewige
dood vry te maak.
- Dan staan die woorde van 1 Korintiërs 2:9 voor ons oë en ons verstaan wat die Here daar bedoel
as Hy sê: "Wat God berei het vir die wat Hom liefhet!"
Broeders en susters, ons vier Nagmaal en kry weereens bevestiging van die troos wat die Here hier
leer in 1 Korintiërs 2:5: Ons geloof bestaan nie in die wysheid van mense nie, maar in
die krag van God.
- Daarom kan ons aan die Nagmaaltafel sit en dinge ervaar wat ander mense niks van weet nie. Soos
die Here dit stel: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie
opgekom het nie, het God berei vir die wat Hom liefhet.
- Wees dan diep dankbaar en weet dat die Here ons liefhet, en ons deur die krag van sy Woord en
Gees vernuut om in sy ewige koninkryk te bestaan, omdat Hy ons in Jesus Christus daarvoor uitgekies
het.
- Ons word beheers deur die ewigregerende Koning Jesus Christus. Kom sit aan sy tafel en dien Hom
daarom voluit met alles wat ons het.
Amen.
Gebed
Psalm 9:1, 7, 10.
Formulier.
Skrifberyming 1-1:1, 3.
Af tafel toe:
Tydens Nagmaal: Psalm 116 en Psalm 118
Slotpsalm 128:1, 4.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees
gaan met u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Nagmaal 27 Februarie 2005
Naskrif:
Wanneer ons met hierdie soort saak werk, moet ons altyd gaan kyk na wat die Bybel
op ander plekke hieroor sê. In 1 Kor. 2: 4 staan bv. net dat die prediking na ons toe kom in die
betoning van Gees en krag. Nou is daar Skrifverklaarders wat beweer dat dit beteken dat Paulus
soveel geestelike krag gehad het dat die Bybel hier van hom praat. Die nuwe vertaling vertaal dit
heeltemal teenoorgesteld van hierdie standpunt, want dit praat van "die kragtige werking van die
Gees."