Sing vooraf: Skrifberyming
7-1:1, 3 (31:1, 3)
Ons hulp is in die Naam van
die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
9:1, 7
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na
die wet bevestig ons ons voorneme om die Here opreg te dien met Psalm
2:6
Wet
Psalm 2:6
Gebed
Doop:
Jaco en Yvonne Louw se seuntjie
Psalm 128:4
Psalm
139:12
Skriflesing:
1 Korintiërs 3
Teks:
1 Korintiërs 3:13
. . . elkeen se werk
sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur
openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel,
hoedanig dit is. (1 Korintiërs 3:13 AFR53)
God
gaan ons lewens met vuur toets. God toets met vuur. Sy oordeel is dus
’n geweldige toets, en enige ding wat die toets van vuur wil
weerstaan, moet iets van goeie kwaliteit wees. Hoe dikwels vertoon ons
lewens die beeld dat ons die Heilige Gees glad nie ken nie? So
’n lewe stuur direk op hierdie vernietigende toorn van God af.
Kom
ons kyk na ons gemeente van die volgende kante af:
1.
Geestelike en vleeslike lidmate
2. Hulle huis
word getoets
3. Ons is die tempel van God
1.
Geestelike en vleeslike lidmate
Paulus was
geweldig ontsteld oor die gemeente in Korinte, want die gelowiges daar
het nie reg gelewe nie. Hy onderskei twee soorte lidmate in die
gemeente:
- geestelike lidmate
- en vleeslike lidmate.
Geestelike
lidmate is die ware bekeerdes.
- Hulle word geestelik genoem omdat hulle met hulle bekering die Heilige
Gees ontvang het, en die Heilige Gees lei hulle nou in die waarheid van
God se verlossing.
- Die Here skryf van hulle:
Maar die geestelike
mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand
beoordeel nie. (1 Korintiërs 2:15 AFR53)
Geestelike
mense beoordeel wel alle dinge, maar self word hulle deur niemand
beoordeel nie. (1 Korintiërs 2:15 NAV)
- Dit is mense wat onder die leiding van die Heilige Gees sterk standpunt
inneem teen die verkeerde, en daarom so onberispelik lewe dat niemand
in die geleentheid is om hulle te veroordeel nie.
- Hulle was lidmate wat die eer van God en die kerk baie sterk op die
hart gedra het, en wat hulle met hulle hele lewe hiervoor beywer het.
Ongelukkig
was daar nie baie van hierdie lidmate in die gemeente van Korinte nie.
Die meeste daar was mense van die vlees – mense wat hulle
deur allerhande aardse dinge laat beheers het, en dan hulle lewens
daarvolgens ingerig het.
Kyk
net vir ’n oomblik na die agtergrond van hierdie preek van
Paulus.
- Toe hy in Korinte gekom het, het hy daar Jode en heidene gekry aan wie
hy die Evangelie verkondig het.
- Deur die werk van die Heilige Gees het baie van hierdie mense tot
bekering gekom.
Ongelukkig
is dit so dat baie van hierdie mense nie die geloofspas kon volhou nie,
en hulle het toe mettertyd die leiding van die Heilige Gees in hulle
lewens prysgegee.
- Dit het spoedig so swak gegaan met die geestelike vertoon van die
lidmate van daardie gemeente, dat daar geen verskille tussen die
gelowiges en die heidene se lewensopset op te merk was nie!
- Hulle het ewe diep deur die sonde en allerhande begeertes
voortgeploeter.
Paulus
het baie moeite met hierdie mense gedoen, en nadat hy daar weg is, het
ander predikante hulle ook bearbei.
- Dit het nie veel gehelp nie, omdat die gemeente grootliks deur
vleeslike dinge beheers was.
- Hy herinner hulle byvoorbeeld aan die twiste en rusies onder hulle, en
hieruit trek hy sy gevolgtrekking dat die mense vleeslik is.
- Die betekenis van sy uitspraak is dus dat mense wat die Gees van die
Here ontvang het, nie lewe soos die lidmate van daardie gemeente nie.
2.
Hulle huis word getoets
Paulus preek nou verder
met ’n beeld waarin hy aantoon dat daar iets in jou lewe is
wat jy nie in jou hand het nie, maar dat dit ook so is dat die Here jou
met verantwoordelikhede belaai, en dat baie afhang van wat jy daarvan
maak.
- Paulus sê dat hy die evangelie onder die Korintiërs
geplant het.
- Apollos het dit kom natmaak – hy het opvolgwerk gedoen nadat
Paulus weg is.
- Maar nie een van die twee kon groei bewerk nie. God het laat groei.
- Dit doen die Here deur die werking van God die Heilige Gees!
Die
groei wat tot stand kom in elke mens en in die gemeente is God se werk,
maar God koppel dit aan ons verantwoordelikheid.
- Dit is binne ons verantwoordelikheid om te plant en nat te maak: Dit is
die versorging van ons geloofslewe en ons geesteslewe.
Dit
is presies waarom daar in vers 8 geskryf is dat hy wat plant en hy wat
natmaak een is, maar dat elkeen sy eie loon ontvang volgens sy eie
arbeid!
Daarna
preek Paulus verder met ’n nuwe beeld.
- Hy praat van ’n huis wat gebou moet word.
- Weer skets hy die verantwoordelikheid: Daar moet gebou word volgens die
fondament.
- Die fondament is die evangelie van Jesus Christus.
Hiermee
waarsku die apostel dat daar nie ’n vreemde leer onder hulle
mag posvat nie.
- Hy waarsku hulle teen die wêreldse opvattinge wat Christene
soms in die lewe het – dit is mos waaroor sy preek gaan.
- Hy wil dus hê dat hulle skerp die gevaar daarvan moet insien
om oor die geestelike dinge vleeslik te oordeel.
Hierdie
verantwoordelikheid dat ons ons geloof moet opbou, en dat ons ook
’n geestelike lewe moet bou, gaan nie sommer net so verby
nie. Nee!
- God kom jou werk beproef! Met vuur!
- Hy gaan die huis wat jy gebou het aan die brand steek.
- Sy oordeel gaan vasstel of jy met goud, silwer, kosbare stene, hooi of
stoppels gebou het!
Kyk
na die gevaar. Mens kan die wysheid van die wêreld so
bewonder dat jy verkeerd bou en werk aan jou lewe – en aan
ander rondom jou se lewens – dat jy die komende toets van God
miskyk en mislewe!
- Al kan ander nie inkyk in jou lewe nie, kan God, en Hy gaan dit oopvlek
en ten toon stel!
- Want die dag van die Here openbaar hom in vuur – vuur van die
gerig. Die gerig is niks anders nie as die oordeel van God wat suiwer
nie.
En let
asseblief op: Die suiweringsproses gaan nie hier oor die mense wat die
bekeringswerk gedoen het nie.
- Dit gaan nie daaroor of die dominee of die ouderling/diaken sy werk
goed of sleg gedoen het nie!
- Dit gaan oor die mense wat die prediking hoor.
- God wil weet wat het u gedoen met al die preke wat u al u lewe lank
gehoor het, en wat het geword van alle aansprake wat Hy tot u gerig het
wanneer u die Bybel gelees en gehoor het.
Jesus
preek deur sy diensknegte. Hy werk deur hulle. Hy lei sy uitverkorenes
deur die Heilige Gees. Maar luister ons daarna, en wat gaan doen en
besluit ons wanneer ons die evangelie gehoor en aanvaar het?
3.Ons
is die tempel van God
Ons is gedoop met die
Heilige Gees en met vuur! Onthou u dit elke dag? Dink maar aan Johannes
die Doper se woorde:
Ek doop julle wel met water
tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie
se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met
die Heilige Gees en met vuur. (Matteus 3:11 AFR53)
.
. . antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met
water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie
waardig is om los te maak nie – Hy sal julle doop met die
Heilige Gees en met vuur. (Lukas 3:16 AFR53)
Die
doop met die Heilige Gees het as inhoud dat ons met vuur ook gedoop is.
- Die vuur is die innerlike werking van God die Heilige Gees wat die
onderskeiding tussen reg en verkeerd in ons inbrand.
- Die doop met vuur sien dus op die eindoordeel oor die wêreld
wat sy afsluiting vind met die wederkoms van die Here Jesus.
Kyk
na die Christusprediking in hierdie gedeelte:
- Jesus is deur God se oordeel. Hy is deur die vuur en die toets, en Hy
het dit deurstaan.
- Hy het die volle oordeel van God in sy doodsoomblikke en in sy lyde
gedra, en deur sy hele lewe het Hy die stryd gestry om volmaak en
foutloos te wees.
- Hy deurstaan die toets en red daarmee ’n hele mensgeslag.
Dit
is waarna vers 15 verwys: As iemand se werk verbrand word, sal hy skade
ly, alhoewel hy self gered sal word, maar deur die vuur heen.
- Ons word gered omdat die vuur van ons oordeel ook oor Christus gebrand
het, en Hy het vir ons die toets deurstaan sodat ons vrygespreek kan
word.
Dadelik
is die aanspraak op ons eie verantwoordelikheid daar!
Vers
16: Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees
in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom
skend, want die tempel van God is heilig, en julle is heilig.
Kyk
mooi hoe las die gedeelte in by die punt waar Paulus begin het:
- Ons moet geestelik lewe, en die lewe geestelik bou.
- Ons hoef nie te wonder of ons dit sal kan doen of behoort te doen nie.
- Christus het klaar daaroor besluit, en klaar die feit daarvan verwerf.
- Ons is nou geestelike mense.
Dit
is waarom die gemeente van Korinte moet hoor dat die toorn van God oor
hulle is – hulle wou nie so leef nie.
- Hulle wysheid, waarmee hulle allerhande drogredenasies aan die gang
gesit het om nie heilig te lewe nie, is dwaasheid by God.
- God gebruik die dwase mense om hulleself te laat vang. Dit lees ons in
vers 19 en in Job 5:13.
Ons
ken mos ons eie lewens. Daarom weet ons dat daar geleenthede is wanneer
ons die Heilige Gees letterlik van ons af wegsmoor, omdat Hy ons lastig
val wanneer ons verkeerde dinge wil doen.
Ons
behoort ’n geestelike – met ander woorde
’n eerlike – aanslag te hê op die
volgende dinge (om net enkele dinge te noem):
- Ons eerlikheid teenoor ons naastes, wat na vore sal kom in die
beskerming van hulle eer en eiendom.
- Eerlikheid teenoor die waarheid self. En dan is die waarheid al die
dinge wat deur God self bepaal, voorgeskryf en ge-eis word.
- Eerlikheid teenoor bedrog.
- Nederigheid om my eie swakhede te erken.
- Die bereidheid om dit te probeer verbeter.
Alles
tot eer van God!
Dit
is vir elkeen van ons wat Paulus skryf: Jou werke sal deur die vuur van
die dag van die Here aan die lig gebring word. Maar dieselfde ding
staan op meer plekke in die Bybel:
Net soos die
onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees
in die voleinding van hierdie wêreld: (Matteus 13:40 AFR53)
Maar
wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en
moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die
leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit
is die tweede dood. (Openbaring 21:8 AFR53)
Ons
kom almal voor die regbank van God.
- Elkeen word geoordeel en beloon na sy lewe.
- Ons word beproef of ons geestelike bou goed is, want ons geloof moet
die toets van die vuur deurstaan.
- Dan word die van ons wat die Here Jesus as God en Verlosser aanbid het
deur God vrygespreek van al ons verkeerdhede, en met heerlikheid in sy
heiligdom ingelaat.
Let
op die genade:
- Ons bou; en
- ons maak nat.
- God laat groei. Hy laat ons toeneem in die genade van Jesus Christus
totdat ons in sy koninkryk ingaan.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm
118:1, 11
Die genade van die Here Jesus Christus
en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u
almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 27 November 2005 (oggend)