Vooraf: Skrifberyming 1-1:3
(24); 2-4:1 (33).
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 29:1
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Wet
Psalm 30:7
Gebed.
Psalm 4:4
Skriflesing:
1Korintiërs 5.
Teks: 1 Korintiërs
5:8
Laat
ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van
ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en
waarheid. * Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die
suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde
brood van reinheid en waarheid.
In hierdie gedeelte verwys Paulus na 'n voorval in die
Korintiër-gemeente:
- Daar was 'n man wat
buite-egtelik by sy pa se vrou gebly het. Die twee mense het
volhard in hierdie sonde en wou nie tot bekering kom nie.
- Hierdie sonde was so
ernstig, sê Paulus dat dit nie eers by die heidene voorgekom het
nie. Al was die heidene nie gelowiges nie, het hulle besef dat dit
eties verkeerd is as 'n man saamleef met sy pa se vrou.
Paulus gebruik nou hierdie gebeurtenis om die gemeente tot
verootmoediging te bring.
- 'n Gemeente moet in
sy geheel so naby aan die Here leef dat daar nie sulke sondes kan
voorkom nie.
- Hy wys daarop dat
dit in die geloofslewe nie net daaroor gaan dat elke gelowige tot
bekering moet kom nie.
- Die gemeente moet in
sy geheel sy geestelike laksheid laat vaar en tot bekering kom.
Die Here toon hier aan wat van mense word wat aan die sonde gewoond
raak: hulle word so hoogmoedig dat hulle hulleself bo die tug verhef.
- Die Korintiërs
het so verval in verdraagsaamheid teenoor sonde, dat die eer van die
Here in hulle gemeente skade gely het.
- Daarom word ddie
Korintiërgemeente aangesê om 'n vergadering in die Naam van
die Here Jesus te hou om oor hierdie man te besluit. Die gemeente en
die Here moet saam besluit, want die Majesteit van die Here Jesus wat
gesterf het vir die sondes en wat met krag uit die dood opgestaan het,
is teenwoordig waar die gemeente wettig vergadering hou (Matteus 18:
20).
Die beginsel wat die Here hier stel is dat die kerk met die Here
gemeenskap moet hou. Wanneer die kerk en die Here gemeenskap hou met
mekaar, lei die Here die kerk om teen veragterliking in die geloof te
kan veg. So 'n kerk kan duidelik onderskei
- wat die beginsels
van ware aanbidding is
- en wat sonde is en
wat nie.
Dit wat die Here hier stel, gryp natuurlik terug na Matteus 16:19 toe,
waar die Here Jesus gesê het dat alles wat die kerk op die aarde
bind, in die hemel gebonde sal wees, en dat dit wat hulle op die aarde
ontbind, in die hemel ontbind sal wees.
- Uit die aard van die
saak sal net die dinge uit die hemel uitgeban word wat die eer van die
Here skend, of dit wat gemeenskap met die Here verbreek,.
- Hierdie man wat in
Korinte die verkeerde ding gedoen het, moet in so 'n vergadering saam
met die Here liggaamlik aan die satan oorgegee word, sodat sy gees
gered kan word. Die bedoeling is duidelik: Hierdie man moet met die tug
hanteer word, sodat hy tot bekering kan kom - sy "gees"
moet "gered" word wanneer die Here kom.
Die punt van groot belang is dat die
getrouheid van die gemeente in
hulle meelewing met die Here, 'n sondaar tot bekering en redding kan
lei.
Dit is merkwaardig dat die gedeelte van die brief nie in die eerste
plek oor die sondaar handel nie, maar oor die gemeente.
- Die gemeente van
Korinte het met oogklappe rondgeloop en gedink dat hulle baie op
standaard is, terwyl hulle dit nie was nie (v.2.).
- Daarom is die
waarskuwing duidelik:
- ‘n gemeente wat nie streng bly by
die dinge wat die Here van hulle verwag nie, verloor nie net hulle
karakter as kerk van die Here nie.
- Hulle is ook nie in staat om
gemeentelede wat sonde doen, terug te bring op die pad van bekering nie.
- Hulle verloor dus die diepgang
van hulle gemeenskap met God en met mekaar.
In vers 6 sê die Here:
Julle
roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die
hele deeg suur maak nie?
- Dit beteken dat die
manier waarop hulle verwaand was, uiteindelik die hele gemeente laat
ondergaan het.
- Hulle omgang met die
Here was van so 'n aard dat hulle die sonde staanplek gee in hulleself.
- Daarom het dit hulle
lam gemaak sodat hulle nie teen die verkeede dinge (sonde) in hulle
gemeente kan optree nie.
Ons kan dalk dink dat die ding wat hier geskryf staan mos net ‘n ding
was wat die Korintiërs geraak het, maar dis nie so nie. Die
saak staan opgeteken, omdat die Here wil hê dat ons daaruit moet
leer dat enige mens en enige kerk traag kan raak teenoor sonde, en dan
in verval gaan raak! Hy wil hê dat dit met ons anders moet
wees.
- In plaas van hierdie
sondige lamheid moet daar 'n opgewonde geloofskrag in die kerk wees:
Laat ons feesvier!
- Hierdie woorde van
die Here is 'n sinspeling op die hiernamaals, maar dit betrek sowel die
tydperk waarin ons nou lewe as die toekomstige tye. Die Here toon aan
dat hierdie gemeenskapsverhouding altyd een van ewige blydskap was en
is en sal wees.
Tog is daar iets wat altyddeur eie is aan hierdie vreugde en
feesvieringe saam met die Here:
- Dit is selfondersoek
en bekering van die kerk (dus al die gelowiges wat aan die
gemeekte/kerk behoort) se kant af.
- Die gemeente moet
soos in die tyd van die ou verbond die sonde uit hulleself uitroei.
Daarom is die woorde hier dat die ou suurdeeg uitgesuiwer moet word.
Tydens die Pasga het hulle 'n week lank ongesuurde brode geëet.
Suurdeeg was die simbool van sonde. Die betekenis van die ongesuurde
brode tydens die Pasga was:
- In die eerste plek
om te sê dat hulle ontslae is van die besmetting van Egipte.
- Terselfdertyd was
dit ook die simbool van uitsuiwering van sonde uit die een wat die
ongesuurde brood eet
Hierby sluit Paulus aan:
- Die kerk van die
Here moet nie gerus raak oor hulle geloofsbekwaamheid nie, want dan
sypel die sonde in hulle in.
- Hulle moet sorg dat
hulle 'n nuwe deeg is wat nog nie ingesuur is met die sonde nie. Hy wys
daarop dat dit presies is wat hulle is; hulle is ongesuurde deeg. Dit
is hoe mense lyk wat deur Jesus rein gemaak is. Ons is deur Jesus
Christus verlos en van al ons sondes vrygemaak.
- Paulus wys daarop
dat die gemeente nie moet twyfel oor hulle saligheid nie, want die
Paaslam wat geslag is, is niemand anders nie as Jesus Christus. Hy is
die Offer wat vir eens en vir altyd gebring is, en in Hom staan die
vreugde van sy kerk vas.
- Daarom moet die kerk
ook altyd vashou aan die suiwerheid van liggaam en siel waarmee Hy
hulle beklee het.
Die Here Jesus werk nog steeds op ‘n daaglikse basis soos suurdeeg in
ons: Hy is eerstens alomteenwoordig by ons deur die werk van sy
Heilige Gees.
- Deur die inwerking
van sy Heilige Gees werk Hy soos suurdeeg deur ons gedagtes en ons
manier van dink, sodat ons met onderskeiding kan dink en besluit.
- Die inwerking van
die Heilige Gees laat ons ook altyd op ons pad teruggaan en ons
lewensstyl hersien, sodat ons voortdurend aanpassings kan maak
- aanpassings na die eise van God toe (daaglikse bekering!).
- Wanneer hierdie
dinge met ons gebeur, raak ons al hoe meer vry van die dwang en
slawerny van die sonde en die druk wat verkeerde dinge op ons
uitoefen. Die effek daarvan is dat dit maak dat ons met al hoe
meer blydskap kan lewe, dat al hoe meer die ellendes van die verkeerde
uit ons lewe uitgestoot word.
Die kerk moet besield wees in die manier aarop hulle glo. Ons kan nie
maar net aandrentel tot die Here kom nie. Enige kerk wat hierdie dinge
besef, is 'n kerk wat sal feesvier. 'n Kerk wat sal stry teen die
sonde, en 'n kerk wat aan elke medegelowige sal aandag gee. Luister hoe
ons dit moet doen. Die Here sê:
- eers negatief:
Suiwer die ou suurdeeg van boosheid en ondeug onder julle uit.
- dan positief: Vier
fees in reinheid en waarheid.
Baie prakties:
- Ons moet suiwer wees
in ons karakter en in ons aanslag op die lewe.
- Ons moet reguit
dink. Alle vorme van boosheid, haat en agterbaksheid moet voorkom word.
- Ons moet dinamies
wees.
Dink daaroor dat kerkbesoek en kerklike meelewing nie 'n straf is nie.
Die Here het oor baie eeue duidelik gemaak dat gemeenskap met Hom van
begin tot einde vreugde moet wees. Dink aan Levitikus 23:40
Op die
eerste dag moet julle sitrusvrugte neem saam met palmblare en
takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet julle sewe dae lank
met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle God.
Somtyds kla lidmate dat ons net uit gewoonte moet kerk toe gaan en dat
dit betekenisloos is as mens dit so doen. Die antwoord vir so 'n
stelling kry ons in Psalm 42:4
Hieraan
wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om
voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met
die stem van jubel en lof - 'n feesvierende menigte!
Die Here het hierdie gewoonte laat opteken, sodat hierdie man die goeie
gewoontes kon onthou, en dat hy daarna moes terugverlang: As ek my lewe
voor my laat verbygaan, dink ek daaraan hoe ek opgetrek het na die
woonplek van God, voor 'n skare uit na sy huis toe geloop het met
gejuig en lofsang ─ 'n skare wat feesvier. As dit anders is met ons, is
daar groot fout.
Daarom is ons altyd saam in die erediens om die Here met blydskap te
dien. Die skrywer van Psalm 35:9 het dit so belewe:
Maar
ek sal juig in die Here, ek sal jubel oor die redding wat Hy bring.
Ons lewe in tye wat baie skerp en vinnig verander. Tye wat ons
eie optrede en beginsels toets. Maar ook tye wat van almal die
wat die Here werklik ken, bekeerdes en heersers in die Naam van die
Here maak.
- Laat ons jubel en
bly wees omdat die Here 'n behae het in ons aanbidding.
- Ons moet altyd
sê: Groot is die HERE wat 'n welbehae het in die vrede van sy
kneg!
- In sy krag oorwin
ons die wêreld, die dood en selfs die magte van die hel.
- Die Here sorg dat
ons deur die Here Jesus Christus se kruisiging vrygespreek word. Daarom
moet ons juig en bly wees en altyd weer sê:
Die Here is groot. Hy sorg dat sy dienaar vrede het (Psalm 35:27).
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 122:1.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 17 September 2004
(oggend)