Sing vooraf:
Skrifberyming 19-1:1 (xx);
Skrifberyming 5-3:2 (xx)
Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en
teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 146:1, 8.
Gebed.
Psalm 16:5
Skriflesing: 1
Korintiërs 5
Teks: Kategismus
Sondag 28. 1
Korintiërs 5: 7, 8
...
want ook ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.
Laat ons feesvier. Die Pasga is geslag ‑ naamlik
Christus. Dit klink vir u vreemd dat 'n Nuwe Testamentiese
gemeente so‑iets kan sê. Ons kan, want God skryf
dit self hier neer in sy Woord.
Ons gee vandag in hierdie preek aandag aan die volgende sake:
1. Die Pasga en die Nagmaal.
2. Die versekering en vermaning
van die Here in die Nagmaal.
3. Die verkwikking van die Here
deur die Nagmaal
1. Die Pasga en die Nagmaal.
Dit gaan daaroor dat die Pasga 'n verlossingsfees was.
- Dit was 'n fees wat die Jode daaraan moes herinner dat hulle
slawe was,
wat magteloos in die greep van 'n ander volk vasgevang gesit het.
- Daar was vir hulle geen ander toekoms of vooruitsig as om slawe
te bly
vir solank as wat hulle as volk sou bestaan nie.
Toe verlos die Here hulle. Nie net sommer 'n gewone
verlossing nie.
- Met wonders en plae het die Here ingegryp in die geskiedenis en
hierdie
slawevolk vrygemaak.
- Hy het hulle daarna in 'n eie land, wat Hy toe al eeue lank aan
hulle
beloof het, gaan vestig. Hier het hulle as Godsvolk gewoon.
Hierdie gebeurtenis waar hulle uit slawerny vrygeraak het tot 'n eie
volk onder God se heerskappy, word met die Pasga gevier.
- Dit was 'n groot Godsdiensfees, en dit was ook 'n volksfees.
- Die was 'n verlossingsfees van blydskap en vreugde.
- U kan nou net dink hoe belangrik dit vir hulle was, en met
hoeveel
entoesiasme hulle ook elke keer hierdie fees gevier het.
Die belangrike is dat hierdie Paasfees (Pasga) profeties gewys het na
die komende verlossing deur Jesus Christus.
- Die Nuwe Testament openbaar in hierdie gedeelte dat die Pasga
oorgegaan
het in die kruisiging van die Here Jesus Christus.
- En, belangrik, dat ons die vervulling van die Pasga met dieselfde
vreugde en entoesiasme moet benader as wat die Jode die Pasga benader
het.
Die Nuwe Testamentiese Kerk is dus niks armer as wat die Ou
Testamentiese Godsvolk was nie.
- Ons vier die Nagmaal waardeur God ons weer verseker dat Hy sy
Seun
gegee het as die Enige Offerlam wat geslag is vir ons sondes.
- Daarom het die Nagmaal dieselfde boodskap as die Pasga:
- Deur die Nagmaal vermaan en verseker die Here ons.
- Deur die Nagmaal voed en verkwik die Here ons.
- Deur die Nagmaal word ons verlig en gelei.
2. Die versekering en vermaning
van die Here in die Nagmaal.
Kom ons kyk na wat die Here ons verseker.
- Die aand toe die Nagmaal ingestel is, Het die Here ons verseker
dat sy
liggaam vir elke ware gelowige gebreek word, en dat sy bloed vir ons
gevloei het, sodat ons met God versoen kan word ‑ tot volkome vergifnis
van al ons sondes.
- Daarmee het die Here openbaar dat in sy kruisiging, net soos met
die
Pasga, 'n baie groot verlossingsdaad werklikheid word.
- Dit is 'n verlossingsdaad wat so groot is dat nie een van ons dit
werklik kan begryp nie.
- In daardie opsig oortref dit die Pasga baie ver.
- Die ooreenkoms is wel dat, soos wat die Here tydens die
instelling van
die Pasga 'n volk verlos het, Hy deur die kruisiging van Jesus Christus
'n uitverkore mensdom verlos het.
Die vermaning wat hiermee saamgaan,
is dat ‑ omdat die Here ons
verseker dat ons nou sy eiendom is tot in ewigheid ‑ ons moet leef as
dienaars van God die Allerhoogste. Ons moet leef in die teken
van mense wat anders gemaak is ‑ ons is nie meer mense van die sonde
nie, maar Christene wat nuut gemaak is, en wedergebore is tot 'n
heilige lewe.
3. Die verkwikking van die Here
deur die Nagmaal.
Dis moeilik om met iets te werk waarvan jy nie sigbare bewyse het
nie. Ons weet ons is uitverkies en verlos, maar ons is nog
steeds in hierdie lewe.
- Ons kan die Here nie sien nie, want Hy is Gees.
- Ons sien hierdie wêreld wat vol sondes is, terwyl ons van
die
volmaakte hiernamaals niks fisies kan sien nie.
Hoe kan ons die ander dinge sien en verstaan?
Dit is waar die Nagmaal inpas. Die Here voed met die Nagmaal
weer ons geloof.
- Die Nagmaal bied aan ons die tekens van brood en wyn waarmee die
volheid van Christus se liggaam en bloed aan ons voorgehou word.
- Daarmee wil die Here sê dat jy niks van Christus mis wat
vir
jou saligheid nodig is nie.
- Die volle kruisverdienste van Jesus Christus is tot jou volkome
verlossing.
Brood en wyn was in die Nuwe Testamentiese tydperk 'n hele maaltyd.
- Daarom is die bedoeling van die Nagmaal dat die Here Jesus
Christus ons
aan 'n tafel met 'n volledige maaltyd voed ‑ maar nie ons liggame nie:
Ons siele.
- Hy voed ons sodat ons die swakheid van ongeloof kan beveg,
omdat ons
weer innerlik nuwe krag gevind het.
- Die bedoeling van die maaltyd is dat ons moet besef dat wanneer
ons
eet, die kos wat ons eet ons liggame sterk maak.
- Net so maak die verlossing in Christus ons geloof sterk.
- Die verlossing van die Here Jesus Christus is deel van my hele
bestaan
as mens.
- Dit word in die maaltyd uitgebeeld.
Daar staan baie plekke in die Bybel dat ons een is met Christus.
- Ons is bv. in Christus uitverkies.
- Ons is in Christus verlos.
- Ons is in Christus geheilig.
- Die Nagmaal vat al hierdie dinge saam en leer dat ons volkome in
die
verlossing van Christus inbegrepe is. So seker as wat ons eet
en drink aan die tafel, so seker is ons verlos.
Die Nagmaal leer ook dat ons deur een Gees geregeer word.
- Die Gasheer, Jesus, is in sy Gees saam met ons, al sien ons Hom
nie.
- Die Nagmaal leer dat ons een saligheid met mekaar deel.
- Dis hoe ons getroos word deur hierdie sakrament waar ons almal
deelneem
aan iets sigbaars in die kerk.
Weet u waarom die Here ons altyd weer Nagmaal laat vier (Trouens dis 'n
opdrag!)?
- Enersyds is dit om ons geloof weer op te skerp.
- Maar dis ook om ons op te skerp om hierdie kosbare geloof en
verlossing
reg te gaan toepas in ons lewens.
Nagmaal behoort die gemeente in sy geheel so onder die indruk te bring
van ons verlossing en ons heiligheid in die Here, dat ons oor mekaar
waak:
- Waar ons sien dat een van ons medegelowiges uitsak, behoort ons
hom
dadelik te bemoedig en aan te help om nie in sy geloof te
verslap nie.
- Die vernuwing van ons geloof behoort ook weer 'n nuwe
aggressie teen die sonde by ons wakker te maak. 'n Mens
behoort nie met die sonde geduld te hê nie.
As ons weer Nagmaal vier, vier ons dit as verlossingsfees, met
dieselfde vreugde as wat ou Israel die Pasga gevier het. En
ons ontvang weer van nuuts af die vrede van God in die wete dat ons
deur Christus van al ons sondes vrygespreek word, en tot volmaaktheid
vernuut word in Christus.
Kom ons lees kategismus Sondag 28 saam.
Vraag 75: Hoe word jy in die
heilige nagmaal daarop gewys en
daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die
kruis en aan al sy weldade deel het?.
Antwoord: Christus het my
en alle gelowiges beveel om tot sy
gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te
drink. Daarby het Hy beloof (a), Ten eerste, dat sy liggaam
so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my
gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die
Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten
tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte
bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die
brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se
liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die
mond geniet.
(a)Matt 26:26-28; Mark
14:22-24; Luk 22:19,
20; 1 Kor 10:16, 17; 11:23-25; 12:13.
Vraag 76: Wat beteken dit om die
gekruisigde liggaam van
Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?
Antwoord: Dit beteken nie
slegs om met 'n gelowige hart die
hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing
van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken
boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons
woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word
(b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is
(c); al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die
aarde. Dit wil se dat ons deur een Gees - soos die ledemate
van die liggaam deur een siel - ewig lewe en geregeer word (e).
(a)Joh 6:35, 40, 47, 48, 50, 51, 53,
54. (b) Joh 6:55,
56. (c) Ef 5:29, 30; 3:16; 1 Kor
6:15; 1 Joh 3:24; 4:13. (d) Kol
3:1; Hand 3:21; 1 Kor 11:26. (e) Joh
6:57; 15:1-6; Ef 4:l5, l6.
Vraag 77: Waar het Christus
beloof dat Hy die gelowiges so
seker met sy liggaam en bloed sal voed en verkwik as wat hulle van
hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?
Antwoord: By die
instelling van die nagmaal wat soos volg lui
(a): "In die nag waarin Hy verraai is, het die Here Jesus
brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en
gesê: `Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle
gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die
beker ná die ete met die woorde: Hierdie beker is
die nuwe vtestament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit
drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle van
hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van
die Here totdat Hy kom" (1 Kor 11:23-26). Hierdie belofte
word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: "Die beker
van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die
gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons
breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus
nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want
ons het almal deel aan die een brood" (1 Kor 10:16, 17).
(a)Matt 26:26-28; Mark
14:22-24; Luk 22:19, 20.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 51: 1.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr.
M.J. du Plessis
Gereformeerde
Kerk Bellville
Datum:
16 Januarie 2005 (aand)