Geloofsatlete vir Christus
 
Lees : 1 Korintiërs 9:19 - 27
Teks:  1 Korintiërs 9:24
"Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop , maar dat net een die prys ontvang nie ? Hardloop dan so dat julle die prys kan wen. "
Sing: Psalm 89: 6,7;   65:2  ;  Skb. 43:2,5   Skb. 30:1, 4-6 (Melodie: Ps 134)

Broeders en Susters, ons kom elke Sondag kerk-toe om na die Woord van die Here te luister. Ons wil elke keer opnuut hoor en verseker word dat ons uit genade in Christus verlos is.

Ons wil hoor: "Die Here noem ons  Sy kinders en daarom is ons dit ook." Ons glo dit van harte. Daarom bely ons ook elke Sondag ons geloof in  God Drie-enig. En dan stap ons hier uit .... Om wat te doen?

Kom ons vergelyk dit met 'n beeld uit die daaglikse lewe.

'n Atletiekafrigter soek 'n klompie jongmense uit wat atleties goed gebou is. Hy wil van hulle  wenner-atlete  maak;  sê maar vir die Olimpiese spele.

Hierdie jongmense was egter nog nooit op 'n atletiekbaan nie. En wat doen die afrigter toe ?  Hy bring hulle bymekaar. Hy leer hulle uit boeke en met videos al die tegnieke wat betrekking het op naellope en langafstande.

So hou hy aan van die een Saterdag tot die volgende, vir 'n jaar, twee jaar. En toe breek die Olimpiese spele aan. En hy sê vir hulle : "Gaan hardloop nou presies soos ek julle geleer het. Dan sal julle verseker wees van goue medaljes en groot pryse."

Ons sal sê : Dit is belaglik. Hulle sal nie eens tot die Olimpiese spele toegelaat word nie.

Dieselfde geld ook vir ons as gelowiges as ons wat ons geloofslewe betref net by Sondae se eredienste bly vassteek.

'n Ware geloof beteken mos nie net om in Jesus Christus as ons enigste Saligmaker en Verlosser te glo nie. Hierdie geloof hou ook in dat ons onsself moet inspan om ook elke dag soos verlostes  te lewe.

Dit bring ons by die opdrag van die Here volgens 1 Korinthiërs 9:24 :
"Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop , maar dat net een die prys ontvang nie ? Hardloop dan so dat julle die prys kan wen. "
In hierdie vers verwys Paulus na die Istmiese spele. Dit was 'n groot sportbyeenkoms wat elke twee jaar in Korinthe gehou is.  Ons kan dit  met die huidige statebondspele vergelyk.

As ons hierdie opdrag : "Hardloop dan so dat julle die prys kan wen ," reg wil verstaan, moet ons eerstens weet op wie dit van toepassing is.

Natuurlik praat Paulus nie net met uitstaande gelowige Christen-atlete van daardie tyd nie.

Nee, hy gee hierdie opdrag aan die gelowiges in Korinte van wie die meeste seker nog nooit eens aan 'n atletiekbyeenkoms deelgeneem het nie. Ons het hier te doen met mense wat tevore heidene was. Op 'n dag het Paulus in Korinte aangekom. Hy het die evangelie van Jesus Christus daar verkondig. Hy het eers by die Jode in Korinte begin, maar hulle wou niks van Jesus  weet nie .

Toe het Paulus die Evangelie vir 'n jaar en ses maande aan die Grieke verkondig. Deur die krag van die Woord en die Gees het 'n aantal mense ware gelowiges geword.

Met 'n beeld wat vir daardie mense baie bekend was, 'n beeld uit die atletiekwêreld,  kan hierdie gelowiges by wyse van beeldspraak gesien word as geloofsatlete in die Here se atletiekspan.

Hierdie atletiekspan verskil egter heeltemal van atlete wat vir 'n wêreldsportbyeenkoms gekies word.

Om aan 'n wêreldsportbyeenkoms te kan deelneem, word atlete op grond van hulle prestasies gekies. Net die bestes word gekies om deel te neem. Van hulle is daar ook net een wat wen om die goue medalje te ontvang.

Paulus verwys hierna in vers 24:
"Atlete wat aan 'n wedloop deelneem, hardloop wel almal, maar  net een ontvang die prys."
Met ons as gelowiges is dit anders. Sonder enige prestasie of verdienste van ons kant, is ons uit genade uitverkies en ingeskakel om deel te wees van die Here se atletiekspan.

In 1 Korintiers 1:2 word die brief gerig , en ek haal aan :
"Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus  Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal , waar hulle ook mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here."
Die brief is  dus ook aan ons gerig. Ons is die "almal  , waar hulle ook mag wees."

Net soos die gelowiges in Korinte is ons ook deur die Here geroep en vir Hom afgesonder.

In die oorspronklike staan daar  " geheiligdes in Jesus Christus ".  Dit beteken dat ons in Jesus Christus rein gewas is. Deur Christus se offer aan die kruis is ons skoon gewas van al ons sondes. En om daardie rede is ons afgesonder om  Sy eiendom, Sy atlete in Sy atletiekspan te wees.

In hoofstuk 1:9 word dit verder beklemtoon.
"God is getrou. Hy het julle geroep om in gemeenskap met Sy Seun , Jesus Christus te lewe."
God is getrou. Hy het Sy verbond van genade met ons gesluit om óns God te wees, en dat ons sy kinders sal wees. Ons doop getuig daarvan.

Hy het ons deur Jesus Christus, ons Here , met Hom verenig. Ons is aan Jesus verbind met 'n band, die geloofsband wat nie verbreek kan word nie.

 Paulus wys in 1 Korintiërs 12:27  hoe  innig hierdie band met Christus en daarom met mekaar is.
"Julle is die liggaam van Christus en afsonderlik is elkeen 'n lid van die liggaam."
Hierdie band tussen Hom en ons het Hy verseël toe Hy deur Sy lyde en  sterwe en opstanding ons weer met God versoen het.

En dit staan vas. Alleen deur geloof in Jesus Christus,  op grond van die Here se liefde en genade,  sonder enige verdienste van ons kant af, is ons uitverkies om Sy gemeenskaplike geloofsatletiekspan te wees.

Maar atlete is mos nie toeskouers  wat op die pawiljoen bly sit net om te kyk hoe ander atlete aan die resies deelneem nie.

Of anders gestel. As geloofsatlete  kan ons mos nie nou net op die pawiljoen van die Here se verlossende genade en liefde bly sit nie. Ons moet deelneem aan die geloofswedloop om in die geloof fiks te word.

Ons teksvers handel juis oor hierdie geloofswedloop waaraan ons moet deelneem. As geloofsatlete neem ons deel aan 'n belangrike geloofswedloop.

Dit is nie maar net 'n uitmergelende geloofsmarathon nie. Dit is 'n geloofswedloop wat lewenslank duur. Dit bring ons by die  rede waarom die opdrag: "Hardloop so dat julle die prys kan wen",  aan die gemeente in Korinte gegee is.

Paulus het vir een-en-'n-half jaar intensief daar gewerk. Deur die Woordverkondiging het hulle gelowig geword. Maar die meenste lidmate het gou  daarna in die geloof verslap.

Hierdie eerste brief is vol voorbeelde hoe hulle in die geloof veragter het. Hulle het opgehou om in die geloof gemeenskaplik een span te wees - die een liggaam van Christus waarvan elkeen 'n lid is.

Daar was baie wanpraktyke in die gemeente. Hulle het nie meer saamgewerk, of dan saamgehardloop, om mekaar in hulle geloof te bemoedig nie. Hulle was besig om die liggaam van Christus uitmekaar te skeur.

Paulus verwys in 1 Korintiërs  3  na verdeeltheid en groepvorming in die gemeente.
"Daar kom jaloesie en twis onder julle voor," sê hy .
"Die een sê : ' Ek is vir Paulus, en die ander , Ek is vir Apollos' ".  Hulle geloof is nog baie wêreldsgerig.

Broeders en Susters, dit is met pyn  en hartseer wat ons vandag ook moet erken dat daar verdeeldheid in ons Gereformeerde Kerke gekom het.

En dit is verdeeldheid in geloofsaktiwiteite wat baie sensitief is. Ons verwys na die groot hartseer in ons gemeenskaplike deelname aan die Nagmaal van die Here.

Ons is hierdeur nie net in kerkverband verdeeld  in die sin van "beker-kerke"en "kelkie-kerke" nie, maar amper nog erger:  binne die gemeente ook verdeeldheid waar sommige die beker verkies en ander die kelkies.

Ons moet onsself maar die vraag afvra: Kan soiets die goedkeuring van die Here ontvang? Doen ons dit tot Sy eer?

Verder was daar in Korinthe ook lidmate wat geestelik hoogmoedig was. Ons lees hiervan in hoofstuk 14. Hulle het hulleself beskou as supergelowiges bo ander lidmate. Hulle kon immers in tale  praat.

Hierteenoor stel Paulus in vers 22 dat die verkondiging van die Woord in die gemeente sentraal moet staan, en nie ander aktiwiteite nie.

Verder was daar ook wanpraktyke onder gelowiges. Dit was dinge soos dronkenskap en ontug en 'n getwis oor nietige dinge.

Dit is vir ons ook nie vreemde verskynsels nie. Ons dra nie meer mekaar se belange op die hart om die eenheid van die liggaam van Christus te bewaar nie. Ons wil mekaar nie in die liefde van Christus vermaan nie. Die tug word nie meer gehandhaaf nie.

Die tragiese gevolge van al hierdie afwykende gebeure was dat die gemeente in Korinthe nie meer in die volle gemeenskap met Christus gelewe het nie.

Daarom was hierdie opdrag, "Hardloop so dat julle die prys kan wen," so dringend noodsaaklik vir hulle , en ook vir ons vandag.

Laat ons nou derdens vasstel wat hierdie opdrag presies beteken.

As hier staan; "Hardloop só ", dan word  hiermee 'n vergelyking gemaak met die wyse waarop die heidense atlete destyds hulle atletiek beoefen het.

Volgens vers 25 het daardie atlete hulle weerhou van alles wat vir hulle skadelik kon wees. Hulle was gedissiplineerd. 'n Atleet het byvoorbeeld gelet op wat hy eet en drink.

Verder het hulle kaal gehardloop. Niks, nie eens klere nie, moes vir hulle 'n hindernis in die wedloop wees nie.

Vir daardie atlete om moontlik te kon wen, was daar twee baie belangrike voorskrifte wat nagekom moes word.

Dit was WAT HULLE MOES DOEN , naamlik volgehoue en volhardende oefening volgens die reëls
                                                     en
Dit wat hulle MOES NALAAT naamlik om alles te vermy wat in die pad kan staan om die wedloop te wen.

Hierdie beginsels is vir ons geloofswedloop nog meer belangrik.

Eerstens moet ons die voorskrifte navolg. Maar watter voorskrifte?

Die Here het in Sy Woord vir ons al die voorskrifte gegee. Ons kan hierdie geloofswedloop nie met oorgawe hardloop as ons nie voluit en intensief met die Woord besig is nie.

Die Here gee vir ons in Sy Woord duidelike riglyne hiervoor, nie net tydens eredienste nie, maar ook in groeps-en persoonlike Bybelstudie.

Verder moet ons besef dat ons ook nie ons eie afrigters kan wees nie. Ek kan nie die Woord interpreteer soos dit my pas nie. - iets wat deesdae al hoe meer gebeur  en goedgepraat word - selfs deur teoloë . Dit lei tot dwaalleringe.

Die Here het vir ons 'n afrigter gegee, nl. God die Heilige Gees. Daarom moet ons voortdurend bid vir leiding deur die Heilige Gees om God se Woord reg uit te lê en te verklaar. In Galasiërs 6:25 lees ons:
 "Ons lewe deur die Gees. Laat die Gees ook nou ons gedrag bepaal."
Ons kan nie in eie krag en eie insig  van die Woord hierdie wedloop hardloop nie. Ons sal op dwaalweë beland. Daarom sê die Here ook in Galasiërs 5:16: 
" Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word  , dan sal julle nooit swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie."
En ook in Filippense 2:13 :
"Dit is God wat julle gewillig maak en in staat stel om te doen wat Hy wil."
Maar wat moet ons vermy?  Dit staan in Galasiërs 5:16,  naamlik "die begeertes van ons sondige natuur."

Dit kan baie dinge beteken. Daar is die versoekinge deur die sondige wêreld. Dink maar net aan die gevolge hiervan : drankmisbruik, dwelms en seksuele perversiteit onder tienduisende van die jeug in ons land.

Dan is Satan baie slim. Hy kom deur teoloë met halwe waarhede uit die Woord om ons op dwaalweë te lei. Ons kan so maklik sê dat ons nog leke is vir sover dit die Woord van die Here betref.

Ons hoef nie leke te wees nie. Die Here het vir ons almal sy Woord gegee sodat ons,  volgens Efesiërs 4:15, in die liefde by die waarheid kan bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.

Die neigings deesdae om tydgerigte uitsprake in die Bybel te verander tot tydgebonde uitsprake, moet vir ons 'n waarskuwing wees.

Tydgerigte uitsprake is uitsprake wat vir alle tye gehandhaaf moet word.

Tydgebonde uitsprake is dan om sulke uitsprake net van toepassing te maak op die sg. primitiewe mense van daardie tyd toe die Bybelboeke  geskryf is.

Ons mag nie toelaat dat al hierdie dinge vir ons hindernisse word in ons geloofswedloop nie.

Broeders en Susters, as ons ons lewens deur die Heilige Gees laat lei en in liefde vashou aan die Woord, dit is die Woord van God, dan hoef ons nooit onseker te wees nie.

Onder leiding van die Gees en in die lig van die Woord kan ons onsself met oorgawe inspan om hierdie wedloop voluit te hardloop.

Dan sal ons, selfs onder uiterste vervolging nooit onseker  wees oor die toekoms en die prys by die wenstreep nie.

Jesus self het in ons plek die wedloop geloop. Hy het vir ons die oorwinning behaal toe Hy as Oorwinnaar oor Satan en die dood uit die graf opgestaan het.

Hy het vir ons die baan  oopgemaak waarop ons moet hardloop. Ons moet op hierdie geloofspad Sy voorbeeld navolg. Dit beteken dat ons onsself moet verloën , ons kruis moet optel en Hom moet volg. En soos ons reeds gehoor het, is dit die Heilige Gees wat ons hiervoor gewillig en bekwaam maak om te doen wat God wil.

As ons dit doen kan ons ook soos Paulus in vers 26 sê:
"Ek hardloop dan soos iemand wat nie van sy doel onseker is nie. "
Broeders en Susters, ons hoef nooit oor ons toekoms onseker te wees nie. Ons het die sekerheid in Christus deur die Heilige Gees om by die wenstreep te kom.

Maar dan moet ons ons nie aan die atletiekspan van die Here onttrek en op die pawiljoen as toeskouers gaan sit om te kyk hoe ander die wedloop hardloop nie. Vir pawiljoensitters is daar geen oorwinningsprys nie.

Ons moet die geloofswedloop voluit hardloop en mekaar hierin in die geloof ondersteun. Die Here wag vir ons by die wenstreep om aan ons die kroon van oorwinning te gee.

Paulus het aan die einde van sy lewe van sy geloofswedloop vir Timoteüs geskryf in 2 Timoteüs 4:7 :
"Ek het die goeie wedloop afgelê. Ek het die wenstreep bereik. Ek het gelowig enduit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.  Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here dit vir my gee. En nie net vir my nie, maar ook almal wat met verlange uitsien na Sy koms."
Ja, ook vir ons. Laat ons dan só hardloop dat ons die prys kan wen!

AMEN

Ds H.P.Prinsloo (emeritus)
Bellville
04/08/2002