Sing vooraf: Psalm 46:3; Psalm 68:15.  

Ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 36:2, 3.
Gebed.
Amen.

Psalm 9:1, 5, 12.
Skriflesing:  1 Petrus 4.
Teks:            1 Petrus 4:17       

Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

Wanneer iemand kwaad doen en sonde doen, word die Here se toorn wakker gemaak.
Maar dis nie wat ons hier het nie. Hier het ons presies iets anders: Benoudheid ter wille van die geloof!

Die teksgedeelte gee aandag aan die volgende sake:
  1. Die sinvolheid van ons lyding ter wille van die eer van die Here lê in ons hoop op die toekoms by die Here.
  2. Die verskil tussen beproewing en versoeking.
  3. Die oordeel van God begin in die kerk.
1. Die sinvolheid van ons lyding ter wille van die eer van die Here lê in ons hoop op die toekoms by die Here.

Wanneer iemand doen wat reg is en wat vir die HERE goed is, en so 'n persoon beland dan in lyding, dan neem die Here hierdie mens wat in lyding is se saak vir Homself.
Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly  -  dit is genade by God. (1 Petrus 2:20 AFR53)

Die apostel Petrus gee in hierdie brief (1 Petrus 4:14 vv.) spesifiek aandag aan lyding en druk wat oor mense kom. Maar hy kwalifiseer hierdie lyding baie goed: dit is lyding en spanning as gevolg van die ware geloof in die Here.

Vooraf (1:3 vv.) het Petrus heel eerste gewys op die heerlikheid wat die gelowiges gaan erf. Hy het daarop gewys dat ons 'n lewende hoop het dat ons die dag wanneer Jesus op die wolke verskyn, in die genade van God gaan deel.

Van hoofstuk 1:13 af begin Petrus die inhoud van sy brief verander. Hy wil uitkom by 'n ander saak:
Daarom stel Petrus in die gedeelte wat ons gegees het, mishandeling en lyding wat gelowiges oorkom, in die lig van die lyding van ons Here Jesus Christus.
Hy het 'n hele aanloop na die saak toe gehad dat mense verdruk word ter wille van hulle geloof.
Op 'n manier het Petrus die owerheid ook by hierdie saak betrek.
In vers 12 verwys Petrus na 'n vuurgloed van vervolging wat onder die gelowiges vir wie hy skryf, uitgebreek het.
Waarom laat die Here sulke dinge oor hulle kom? Dit is om die krag van hulle geloof te beproef.
2. Die verskil tussen beproewing en versoeking.

Ons moet net duidelikheid kry oor die verskil tussen 'n beproewing en 'n versoeking as ons hierdie Bybelgedeelte goed wil verstaan.
Net so is daar ook 'n groot verskil in die lyding wat oor jou kom wanneer jy in 'n versoeking geval het, en die lyding wat oor jou kom wanneer jy beproef word.
Voorbeelde van lyding as gevolg van beproewing is:
Petrus verwag by hierdie lesers van hom 'n bepaalde kennis wat ons ook moet hê as ons hierdie gedeelte in die Bybel wil verklaar.
Hier het ons 'n baie duidelike voorbeeld daarvan dat die Here die werke van die duiwel gebruik in diens van sy eie eer, want hierdie vervolgings begin werklik by die haat van die duiwel teen die mense wat hy nie van die Here vervreem kry nie.
Luister ook na wat oor hierdie saak in Romeine 8:17 geskryf staan:

en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. (Romeine 8:17 AFR53)

Lyding op die aarde vir Christus en die blydskap in die hemel saam met Christus is dus onlosmaaklik verbind aan mekaar.

3. Die oordeel van God begin in die kerk.

Verse 14 - 16 onderstreep weer een saak baie duidleik:
Ons beleef dit as 'n vernedering wanneer mense ons smaad oor ons geloof. Maar God ervaar dit anders!
As mense jou dus verwerp oor jou geloof, of jou laat ly ter wille van jou geloof, dan beteken dit dat hulle God verwerp. Terselfdertyd gebruik die Here ook so 'n toestand om skeiding tussen die mense te bewerk.

Tot die heidene ervaar hierdie skeiding tussen mense, omdat hulle self sien dat daar 'n band is tussen die gelowiges en die Here, terwyl hulle nie hierdie band het nie - soos wat in die geval van Stephanus ook mooi beskryf word.

Hierdie soort van lyding soos wat Stephanus oorgekom het, is dus in 'n sekere sin 'n genadebeskikking omdat jy daarin die geleentheid kry om ter wille van Christus te ly. Dis 'n voorreg om dit te kan doen.

Die kern van die hele saak van onregverdige lyding wat oor die gelowiges kom, word in vers 17 saamgevat:
Die ware kerk van die Here onderskei hulle van die ongelowiges en van die valse kerk daarin dat hulle bereid is om onder alle omstandighede die eer van God te handhaaf.
Die oordeel van die Here begin op 'n eienaardige plek:
Die einde van die wat hulleself op die aarde reeds onderkei as haters van God en van sy gelowiges, gaan verskriklik wees. Daar is nie 'n taal op ons aarde wat die woorde het om te beskryf hoe vreeslik dit in die hel gaan wees nie.

Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

Wat kan ons in ons eie toekoms verwag?
Ons praat deesdae baie oor die toekoms van ons godsdiens in ons land onder die huidige regering met sy godsdiensvreemde leerplanne.
Dis goed om te ly vir Jesus Christus. Maar dan moet dit 'n lyding wees wat oor ons kom omdat betyds ons veg vir die eer van God.
Amen.

Slotgebed.
Slotpsalm 66:4

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 22 Mei 2005 (aand).