Sing
vooraf: Psalm 48:5;
Ons hulp is in die Naam van
die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
36:2
Geloofsbelydenis: Nicea
Na
die wet bely die wil van God met Ps. 9:5, 12
Wet
Psalm
9:5, 12
Gebed
Psalm 46:6
Skriflesing:
1 Petrus 4; Genesis 3:15; Genesis 16:1-9
Teks:
1 Petrus 4:17
Want die tyd is daar dat die
oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin,
wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God
ongehoorsaam is? (1 Petrus 4:17 AFR53)
Daar
is baie mense wat dink dat dit heeltemal genoeg is vir jou saligheid as
jou naam op ’n kerk se lidmateregister staan en as jy gereeld
voor ete bid.
- Hierdie groep mense rond hulle lewe af deur so aan en af kerk toe te
gaan.
- Hulle sê hulle bely die Here.
- Meestal is hulle Bybelkennis baie swak en is hulle redenasies oor dit
wat in die Bybel staan lagwekkend en totaal gerig op hulle eie
oortuiging.
- Van God se siening van sake verstaan hulle min of niks en dan verwerp
hulle dit ook nog.
Dit
is ’n uiters gevaarlike toestand, want sulke mense is
waarskynlik nie gereddes nie. Die gedeelte in die Bybel waarsku baie
sterk dat ons almal duidelik moet verstaan dat die Here se oordeel in
die kerk self begin.
- Die Here se oordeel sif die kerk voortdurend.
- Hy kondig dit onmiddellik na die sondeval aan.
- Daarna loop die volle openbaringsgeskiedenis van die Here op die spoor
dat hierdie valse gelowiges uit sy kerkvolk uitgesny word.
- Hy sien hulle as sondaars.
Wanneer
iemand kwaad doen en sonde doen, word die Here se toorn wakker gemaak.
- As die Here toornig is, verwerp Hy en stoot Hy af.
- Ons lees in Jesaja 1:5 vv. dat die Here die volk straf omdat hulle die
Here verlaat. Sy presiese woorde is:
Waar wil
julle nog geslaan word, dat julle kan voortgaan om af te wyk?
1.
Die begin van die skeiding
In Genesis 3:15 het
die Here ’n baie duidelike skeiding aangekondig wat onder die
mense tot stand sou kom:
- Hy het aangekondig dat iemand uit die vrou se saad gebore sal word wat
die slang se kop sal vermorsel: Hiermee het Hy die eerste keer
aangekondig dat die Here Jesus as die tweede Adam sou kom en dat Hy die
dood en die duiwel se werke sou vernietig. Hy sou dus kom om versoening
te bewerk tussen God en die wat syne is.
- Dieselfde belofte maak dit baie duidelik dat God self ’n
tweedeling onder die mensdom gaan bewerk soos wat die geskiedenis
aangaan:
En Ek sal vyandskap stel tussen jou en
die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop
vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt. (Genesis 3:15 AFR53)
- By implikasie het die Here daarmee uitgespel dat daar onder die mensdom
wat uit Adam en Eva gebore gaan word,
- een groep gaan wees wat die duiwel gaan aanhang
- en ’n ander groep wat God sal bly aanbid.
- So het die vloek van God oor die mensdom waar geword.
Nie
baie lank daarna nie het wat die Here gesê het, fisies waar
geword.
- Kain was die oudste seun van Adam en Eva, en Abel was die tweede seun.
- Kain het sy lewe nie in gehoorsaamheid oorgegee aan God nie, terwyl dit
geblyk het dat Abel ’n gelowige was.
Hulle
het albei vir die Here gaan offer. Om te offer was die eerste vorm van
erediens en aanbidding. Ons sou modern kon sê dat hulle
altwee kerklidmate was.
- Met hulle offers het hulle gewys dat die mens die drang gehad het om
gemeenskap met God te hê.
- Dit is ’n simboliese aanduiding van hoe iemand met alles wat
hy het hom aan die Here toewy.
Maar
die gedeelte van God se openbaring maak iets duidelik van ons eie
binnekant: Om uiterlik die Here te dien, kom nie noodwendig voort uit
’n diep innerlike band met die Here nie.
- Die eerste paar mense se godsdiensgeskiedenis wys dit al! Kain het nie
uit vroomheid gaan offer nie, want hy was nie vroom nie.
- Waarom het hy dan geoffer? Die enigste antwoord is dat dit toe reeds
’n gewoonte was!
- Abel het ook dieselfde gewoonte gehad, maar sy motivering was anders:
Hy het dit uit vroomheid gedoen.
Dit
is belangrik om hierby te lees wat die Here self later oor Kain
openbaar:
Deur die geloof het Abel ’n
beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het
dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en
deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is (Heb. 11:4,
AFR1953).
. . . nie soos Kain wat uit die Bose
was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan?
Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig (1
Joh. 3:12, AFR1953).
Wee hulle, want hulle het
die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van
Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom (Jud.
1:11, AFR1953).
God,
wat die Kenner van die harte is, sien die verskil in die twee manne se
innerlike raak.
- Daarom neem Hy Abel se offer aan en verwerp Hy Kain s’n.
- Tipies van die dinge wat nou in ons tyd in die kerke gebeur waar die
gevegte oor dwaalleer ontstaan, het ons die eerste voorspel daarvan in
die Paradys:
- Kain het toe baie kwaad geword!
- Die verdwaalde het hoe langer hoe meer afgunstig geword op die een wat
getrou bly.
- Uiteindelik het sy emosies oorgegaan in nyd, haat, toorn en uiteindelik
moord.
Dit is
verskriklik dat die eerste mens wat gebore is na die sondeval, hel toe
is! Maar so loop die kerk se geskiedenis – presies soos die
Here dit aankondig.
2.
Die voortgang van die skeiding
Die voortgang van
die tweedeling onder die mensdom wat die Here beloof het, kry ons onder
andere met die gebeure rondom Hagar se seun: Die kind van wellus.
Hoewel
die Here aan Abraham en Sara beloof het dat hulle ’n seun sou
hê, het hierdie belofte nie gou waar geword nie (Genesis
15:2-9 en 16). Hulle was al tien jaar in Kanaän en daar het
nog niks gebeur nie.
- Dit was vir Sara te veel om so ’n lang tyd geduldig te wag.
Sara het besluit om ander maatreëls te tref!
- Twyfel tree in en die mens maak sy eie reëls bo-oor God
s’n – dwaalleer in praktyk.
- Daarom het sy intussen haar slavin, Hagar, aan Abraham gegee sodat hy
by haar ’n kind kon hê.
Volgens
die gebruik van daardie tyd sou die seun dan as Sara se seun beskou
word, en sy sou hom dan self kon opvoed – wat ook nie presies
so gebeur het nie! Die vraag is dus of die gebruike van die tyd sommer
net so oorgeneem kan word deur God se kerk?!
- Die Here het hierdie optrede van Sara en Abraham nie goedgekeur nie
– hoewel Hy dit verdra het.
- Hierdie optrede van Abraham en Sara het getuig van ’n gebrek
aan vertroue op die Here dat Hy sy belofte sou uitvoer.
- Buitendien het dit diep ingegryp in Abraham en Sara se huwelik.
- Die gevolge hiervan was huislike rusies, hartseer en verdriet:
- Toe Hagar swanger word terwyl Sara nog nie ’n kind gehad het
nie, het Hagar haar verbeel sy is die ma van die toekomstige erfgenaam.
In werklikheid het sy volgens die reg van daardie tyd steeds Sara se
slavin gebly!
- Sy het hoogmoedig geword en wou Sara se plek inneem, en daarom wou sy
nie meer slavin wees nie.
- Sara het Abraham hiervoor verwyt, en toe Abraham haar op haar regte as
meesteres van Hagar wys, het sy Hagar sleg begin behandel.
Na
baie spanning en selfs ’n weglooppoging het Hagar
’n seun in die wêreld gebring.
- Abraham het hom Ismael genoem, die naam wat die Engel reeds aan Hagar
in die woestyn bekend gemaak het.
- Die Engel het ook vir Hagar gesê dat haar seun so ontembaar
soos ’n wilde donkie sou wees, en dat hy in vyandskap met sy
bloedverwante sou leef.
Dit
het duidelik geword dat daar nou ’n seun gebore was en dat
die spanning oor die vervulling van God se belofte aan Sara verswak
het. Ismael was nou al dertien jaar oud! Die kerk op die aarde het sy
nuwe reëlings getref en alles het gelyk of dit werk.
By
dié geleentheid het die Here die vierde keer aan Abraham
verskyn. Hy het dit duidelik gemaak dat Ismael nie die beloofde
nageslag was nie. Die Here openbaar dat Hy juis die skeiding van
Genesis 3:15 voltrek in die nuwe sukses wat die
“kerk” vir homself uitgewerk het!
- Ismael het tog ’n seën van die Here ontvang
– ’n seën wat net op die natuurlike gebied
betrekking gehad het.
- Die verbondsbeloftes het nie op Ismael betrekking gehad nie. Dit het
soveel duideliker geword toe Isak gebore is.
- Daarom het die Here Abraham beveel om Ismael weg te stuur.
Altwee
die stukke geskiedenis uit die Ou Testament toon duidelik aan waar
Petrus dit wat hy skryf vandaan kry: Dis hoe God werk. Hy begin met die
oordeel in sy kerk!
3.
Die oordeel van God begin in die kerk
Gaan dit
nou met die kerk van die Nuwe Testament anders wees as wat dit met die
“kerk” (gelowiges) in die Ou Testament was?
- In ons tyd is daar dan vervolging (aktief en passief) en onderdrukking
en al sulke dinge wat oor die kerk kom.
- Die antwoord is duidelik: NEE! Die Here is nog steeds dieselfde en Hy
werk nog steeds dieselfde.
In
die brief van die apostel Petrus dring die Heilige Gees by ons aan
daarop dat ons dinge moet sien vir wat dit is:
- Vervolging op die aarde is nie die skeiding wat God aanbring volgens sy
eerste belofte aan die mensdom nie.
- Daarom dring Petrus by die gelowiges daarop aan dat hulle onder alle
omstandighede moet aanhou om Godvrugtig te lewe – al
veroorsaak dit hulle lyding.
Luister
ook na wat oor hierdie saak in Romeine 8:17 geskryf staan:
.
. . en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en
mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons
ook saam met Hom verheerlik kan word. (Romeine 8:17 AFR53)
Lyding
op die aarde vir Christus en die blydskap in die hemel saam met
Christus is dus onlosmaaklik verbind aan mekaar.
- Maar die feit dat ons ly, beteken nie dat die Here daarmee aantoon dat
Hy ons uitsluit uit sy koninkryk nie.
- Wanneer ons ons lyding omseil en die wêreld volg, soos
Kaïn en Ismael, dan val ons in die gedeelte van die kerk wat
deur God weggesny word dat hulle verlore gaan.
As
mense jou dus verwerp oor jou geloof, of jou laat ly ter wille van jou
geloof, dan beteken dit dat hulle God verwerp.
- Terselfdertyd gebruik die Here ook so ’n toestand om skeiding
tussen die mense te bewerk.
- Die wat die Here nie van harte ken nie, gaan met hulle offers en al,
soos Kaïn, verlore.
- Kerklidmaat wees en saamdoen sê dus nie alles nie. Wat is jou
innerlike verhouding met die Here? Kain offer was om God om die bos te
probeer lei!
- Gedoop wees (besny soos Ismael) verseker ook nie dat jy vir ewig deel
is van die Kerk van God as jy nie die waarheid van God se openbaring
kan uitlewe en daarvoor buig nie.
- Ismael het homself geroem op wie hy is – die eersgeborene.
Daarom spot hy met Isak.
- Daar is ’n baie sterk parallel tussen sy ingesteldheid en
’n baie groot getal moderne Christene wat hulle eie sienings
met spot en minagting handhaaf teenoor God se openbaring.
- Die oordeel begin dus by die kerk – die wat beter moes geweet
het maar, wat presies op die spoor van die duiwel, God se saak nie kon
dien nie. Daarom bou hulle in hulle verwaandheid vir hulle nuwe waardes
wat God s’n moet vervang.
Die
kern van die hele saak van die skeiding wat God van die begin af
voltrek, word in vers 17 saamgevat:
- Die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.
- God suiwer sy kerk op hierdie manier.
- Van die duiwel se kant af dink hy dat hy die kerk vernietig, maar van
God se kant af gesien is dit sy oordeel wat voltrek word tot suiwering
van sy kerk.
Die
ware kerk van die Here onderskei hulle van die ongelowiges en van die
valse kerk daarin dat hulle bereid is om onder alle omstandighede die
eer van God te handhaaf.
- Hulle is selfs bereid om te sterf vir die eer van God.
- Hulle weet dat geen mens op die aarde hulle kan oordeel nie, want die
ware oordeel is voor die regbank van die Here.
- Daar is hulle saak reg, want die ware gelowiges gaan daar verskyn in
die versoening van die Here Jesus Christus.
- Maar die valse gelowiges en die ongelowiges gaan daar verskyn in die
ellendes van hulle ongeregtigheid – ook die wat hulle bedryf
het toe hulle die gelowiges vertrap en verdruk het.
Die
oordeel van die Here begin op ’n eienaardige plek:
- Ons sou dink dat die Here maar eers die ongelowiges in die hel kan gooi
en dan die mense in die kerk kan begin sif om uit te maak wie van hulle
gelowiges en wie ongelowiges is.
- Die Here doen dit egter anders:
- Hy sif eers in die kerk.
- Die oordeel moet begin by die huis van God – skryf die
Heilige Gees deur Petrus se pen.
- Daarom moet ons so skerp aandag gee aan onsself.
Die
einde van die wat hulleself op die aarde reeds onderskei as haters van
God en van sy gelowiges, gaan verskriklik wees.
- Daar is nie ’n taal op ons aarde wat die woorde het om te
beskryf hoe vreeslik dit in die hel gaan wees nie.
- Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En
as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die
evangelie van God ongehoorsaam is?
Wat
kan ons in ons eie toekoms verwag?
- Die waarheid is dat ons in hierdie dae baie geloofswakker moet wees,
sodat die satan ons nie van ’n kant af vang waarvandaan ons
dit nie verwag nie!
- Die Here Jesus se kruisdood laat ons na die uitstorting van die Heilige
Gees oor die kerk met ’n reuse verantwoordelikheid: Ons moet
nougeset gehoorsaam wees aan die wil van God.
- Ons is daarvoor bekwaam gemaak deur die Here Jesus Christus self.
Ons
moet waaksaam wees teen die gees van die wêreld.
- Adam en Eva is so onverhoeds betrap omdat hulle nie waaksaam genoeg was
nie.
- Kaïn het met sy gewoonte-offers sonder ware omgang met God uit
die kerk van die Here weggegaan.
- Ismael het met sy verwronge eiegeregtigheid sy plek in die
verbondsgesin verbeur.
Ons
praat deesdae baie oor die toekoms van ons godsdiens in ons land onder
ons huidige regering.
- Ons praat baie oor godsdiens wat in baie skole verkeerd of glad nie
aangebied word nie en oor alles wat die regering op geloofsvlak
verkeerd doen.
- Maar wat van dit wat in die kerke self gebeur?
Is
dit nie waar die groot fout dalk lê nie?
- Ons maak asof die Here sy oordeel oor die ongelowiges en die regerings
wat buite die kerk is moet voltrek – ons is veilig gekoester
tussen die bladsye van die gemeenteregister waar ons name geskryf staan!
- Kyk ons nie te ver op die horison en soek daar na die Satan nie, terwyl
hy reeds in die kerk self besig is om die evangelie van Jesus Christus
te vermoor?
- Dit terwyl so baie van ons ernstige handlangers van die duiwel is,
onder die vaandel daarvan dat ons die Here Jesus ken en dien?
- Weet dat die wat onder die oordeel van God gaan val – die wat
buite die kerk is en die valses wat in die kerk skuil – dit
baie baie bitter gaan hê wanneer hulle voor God staan
Dis
goed om te ly vir Jesus Christus.
- Broeders en susters, waak en bid.
- En as ons moet ly vir die eer van die Here, weet dat God ons daarvoor
seën met die ewige vreugde van sy koninkryk.
Want
die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as
dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die
evangelie van God ongehoorsaam is? (1 Petrus 4:17 AFR53)
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm
97:1
Die genade van die Here Jesus Christus en
die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u
almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 9 Oktober 2005
(oggend)