Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 31:1, 2, 6
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Wet
Psalm 38:17
Gebed
Psalm 27:3
Skriflesing:
1 Petrus 5
Teks:
1 Petrus
5:8
Wees
nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond
soos ’n brullende leeu en hy soek wie hy kan verslind.
Hier het ons te doen met een van die moeilikste dinge in ons hele lewe:
die Satan en sy aanvalle op ons. Hy slaan orals toe en op baie
verskillende maniere.
- Ek kan in ’n beeld vir u sê dat die Satan soveel
gesigte het as wat daar geleenthede in elke mens se lewe is. Soms val
hy ons persoonlik aan.
- Ander kere is hy baie meer slu en dan gebruik hy
ook mense en omstandighede en allerhande dinge soos siekte, of spanning
en wat nog daar ook al mag wees om ’n mens se geloof te probeer
seermaak.
Ons kyk in hierdie preek na die volgende dinge:
1. Wie het die duiwel sleg gemaak?
2. Die duiwel se teikens
3. Die duiwel en ons geloofslewe
1. Wie het die duiwel sleg gemaak?
Daar is mense wat dink dat die duiwel van ewigheid af bestaan, maar dis
nie waar nie. Die duiwel is ook ’n skepsel net soos ons – die Here het
hom ook gemaak. Die enigste Wese wat van ewigheid af bestaan, is net
die Here alleen.
Die duiwel is ’n engel wat baie hoog (met baie groot vermoëns) geskape
is. Hy het egter op die een of ander manier sleg geword en hom teen God
verset.
- Die duiwel is ’n baie ingewikkelde en magtige
skepsel wat baie skade doen onder die mense, die diere en die natuur.
- Hy is iemand vir wie ons baie versigtig moet wees,
want hy verlei ons nie net om sonde te doen sodat ons die Here daarmee
moet onteer en kwaadmaak nie.
- Hy vernietig ons ook, want hy het nie tyd vir ons
nie. Hy is ’n soort persoon wat alles wat daar is in sy mag wil kry, en
dan maak hy dit tot niet.
Kom ons kyk na enkele gedeeltes in die Bybel wat uitsprake maak oor die
duiwel, want as ons die duiwel sien soos wat die Here hom sien, sal ons
die werke van die duiwel van ons af wegstoot, omdat ons deur die
openbaring van God sal kan sien dat daar geen heerlikheid in die werke
van die duiwel is nie.
Ons lees die eerste keer van die duiwel in die Bybel toe die duiwel in
die begin van ons geskiedenis by Adam en Eva in die Paradys gekom het.
Hy het die twee mense aangeval met die versoeking om aan God
ongehoorsaam te wees.
- Daar was dus op die stadium toe die duiwel by Adam
en Eva uitgekom het, reeds moeilikheid tussen hom en die Here.
- Die Bybel vertel nooit werklik wat die moeilikheid
tussen die duiwel en die Here was nie. Daar is ook ’n goeie rede
daarvoor.
- Die doel van die Bybel is nie om ons te leer waar
al die ellendes hulle ontstaan het nie, want die Bybel is nie ’n boek
oor sonde nie.
- Die Bybel is ’n openbaring van die heerlikheid van
God en van sy verlossing oor die mensdom. Die Bybel leer dat God ons
verlos in Christus, en dat Hy almagtig is en die kwaad aan die einde
van die tyd tot niet gaan maak.
Ons het egter ’n goeie idee waaroor die sondeval in die hemel gegaan
het, want ons lees in Johannes 8:44 dat die duiwel ’n mensemoordenaar
is, en dat hy van die begin af leuens vertel. Hy praat nooit die
waarheid nie. Hy is ook die vader van alle leuens. Hy staan dus direk
teenoor God. Daar staan ook nog in 1 Johannes 3:8 dat die duiwel van
die begin af sondig.
- Op sterkte van hierdie gedeeltes in die Bybel sê
Calvyn dat die slegte dinge wat in die duiwel is, deur homself op sy
hals gehaal is omdat hy van God afvallig geword het.
- Die Here het hom nie van die begin af sleg gemaak
nie. Hy het self sleg geword. Omdat hier in die Bybel staan dat die
duiwel uit homself praat wanneer hy lieg, beteken dit dat hy nie die
Here vir sy slegtigheid verantwoordelik kan hou nie.
- Ons moet baie fyn luister na hierdie uitspraak van
die Here, want dit is ook waar van ons. As ons sonde doen, kan ons nie
die Here daarvoor verantwoordelik hou nie. Jy kan nie verkeerde dinge
gaan aanvang en dan sê dat dit die wil van die Here was omdat Hy alles
beplan het nie.
- In sy beplanning roep die Here jou op tot
gehoorsaamheid en beveel Hy jou om nie verkeerde dinge te doen nie.
Die duiwel het self van die waarheid af weggebreek, en daarom is hy
sleg.
- Hy sit nou in die benarde posisie dat hy nie weer
die waarheid kan terugwen nie. Ons moet dus oppas dat ons nie ook
hierdie pad loop nie!
- Dit is so dat ’n mens wat werklik gelowig is, die
geaardheid van die duiwel uiters afskuwelik vind. Vanself sal dit ons
aanmoedig om die Here in sy heerlikheid te dien, en sal dit ons help om
beter gelowiges te wees.
2. Die duiwel se teikens
- Die duiwel se teiken is baie breed. Hy rig hom op alles wat die
Here
geskape het om dit te vernietig. Hy is soos ’n virus wat die hele
liggaam wil inneem en doodmaak.
- Daarom het hy nie alleen gesondig nie. Die eerste
groep skepsele op wie hy sy visier gestel het, was die engele. Hy het
’n klomp engele met hom saamgeneem in sy sondeval.
- Petrus en Judas (2 Petrus 2:4 en Judas :6) verwys
hierna en leer dat daar engele is wat hulle eie beginsel, waarin God
hulle geskape het, verlaat het. Hulle word nie gespaar nie. Hulle het
ook hulle woonplek verlaat. Daarom is hulle ook vir ewig deur God
verwerp, en kan hulle nie weer gered word nie.
Dit is belangrik om te kyk na al die verskillende name waarmee die
Bybel die Satan noem. Op twee plekke in die Bybel word die Satan die
god en owerste van hierdie wêreld genoem.
- Die een keer kom dit voor in Johannes 12:31 waar
die duiwel die owerste van hierdie wêreld genoem word. Die gedeelte
leer ook dat die Here Jesus die Satan sal uitgooi buitentoe as die
wêreld geoordeel word.
- Op die ander plek word die duiwel die god van
hierdie wêreld genoem. Ek lees vir u 2 Korinthiërs 4:3, 4 voor:
Maar
as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek vir die wat
verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld
die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die
heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou
skyn nie.
- Hier staan geskryf dat die duiwel – die god van
hierdie wêreld – dit sy saak maak om mense se verstand toe te druk,
sodat hulle nie die evangelie kan verstaan nie, sodat hulle dan
ongelowiges bly. Hy keer dat hulle die heerlikheid van God sien.
- Dieselfde ding staan ook in Efesiërs 2:2 geskryf.
Daar staan net by dat die duiwel ook die owerste van die mag van die
lug is, en dat hy die gees van ongehoorsaamheid wat in die ongelowiges
werk, beheer. Die duiwel beskik dus oor ’n bepaalde geestesmag waarmee
hy mense kan aanval en maak dat hulle ongehoorsaam word as hulle nie
versigtig is nie.
- Daarom skryf Petrus dat die duiwel op die aarde
rondloop soos ’n briesende leeu wat alles wat in sy pad kom, verslind
en verskeur.
U moet weet dat hierdie aanvaller baie listig is. Dat hy uiters magtig
en intelligent is, en baie geslepe. Hy vervals alle openbaring van God,
sodat die swak gelowiges en die ongelowiges dit nie van die ware
openbaring kan onderskei nie!
- Al sy optrede op die aarde is daarop gemik om die
kerk en sy lidmate dood te maak.
- Die duiwel is teen alle vorme van geregtigheid. Hy
besoedel menseverhoudinge. Hy veroorsaak huwelikspanning en egskeiding.
Hy breek ons ouers se opvoedingswerk af. Hy verlei ons en ons kinders.
Hy wakker wellustighede aan. Hy maak ons eerlikheidsbesef kruppel.
Hy werk verder ook met ons geloof. Hy is die een wat ons verhouding met
God besoedel.
- Hy maak ons ongelowig, en maak ons lui in ons
aanbidding. Hy verdraai ons verstand, sodat daar dinge in God se Woord
is wat ons nie wil aanvaar nie.
- Hy maak ons ook geestelik dom, sodat ons nie die
openbaring van God altyd kan en wil verstaan nie, en dat ons ook dan in
verset raak teen die Here.
Dit klink miskien vir u na ’n baie ingewikkelde proses wat hier aan die
gang is, maar die duiwel is eintlik baie eenvoudig.
- Al wat hy doen, is om ons in sondes te laat
volhard. Hy maak ’n mens gewoond aan verkeerde dinge, en laat jou
allerhande redenasies uitdink waarom jy maar die verkeerde ding kan
aanhou doen. Hy weet dat die Here op die lang duur met so ’n mens
ontevrede sal raak.
- Die duiwel gebruik ook die sosiale omstandighede
waarbinne ons lewe: hy laat mense so opstandig raak teen bepaalde
gebeurtenisse dat hulle hulle verstand verloor en uiters dwase dinge
doen. Ons sien dit nou in ons land gebeur.
- Die duiwel laat mense in sulke vrees verval dat
hulle uit wanhoop die raad van God in hulle eie hande probeer gryp. Hy
maak dat ons later op die spoor van die duiwel begin glo dat haat en
geweld die evangelie van verlossing is, en dat moord en oorlog die
enigste middele is wat ons toekoms kan verseker. Die duiwel maak dat
mense mekaar begin wantrou. Hy maak ook dat mense so sleg word dat
hulle nie betroubaar is nie.
Dit is die dinge waarvoor elkeen van ons baie fyn en versigtig sal moet
trap.
- Die duiwel wil hê dat alle gelowiges uitmekaar moet
spat. Hy wil hê dat die kerk van die Here aan skerwe moet raak. Hy doen
alles met haat en uit haat. Hy kan God nie verdra nie, en hy kan ons
ook nie verdra nie. Daarom probeer hy om ons luste en ons gedagtes en
ons optredes – letterlik alles – te beïnvloed sodat ons slegte dinge
moet doen.
Broeders en susters deur die bloed van Jesus Christus, ons moet waak!
- As ons sonde doen, skend ons die Here se wil en sy
eer daarmee. Dit is die eie werke van die duiwel, en as ons in sondes
volhard, verruil ons die beeld van God se heerlikheid vir die beeld van
die duiwel.
- Die duiwel se beeld is gedrogtelik, daarom haal
sonde ons op die lang duur ook in – al lyk die sonde soms op die kort
termyn voordelig. Uiteindelik is die einde van sonde nie baie gunstig
nie!
3. Die duiwel en ons geloofslewe
Dan is daar die ander groot saak waarteen ek u moet waarsku. Dis die
politiek en die magte wat daarin lê.
- Die boek Openbaring waarsku dat die politieke gees
een van die magtigste wapens is wat die antichris gebruik in die
eindtyd. Ons het voorbeelde in die Bybel waar die Here beskryf hoe die
Satan ook in die politiek werk. Moenie julle politieke oortuigings in
die kerk van die Here probeer staan maak nie.
- Die voorbeeld waarna ek u graag verwys, is 1
Konings 22. Ons lees in 1 Konings 22:20 van so ’n politieke kwessie
waar daar sekere besluite
oor oorlog geneem moes word. Die Here het toe besluit dat daar ’n
sekere veldslag sal wees waar Agab daardie dag moes sterf. Die Here het
ook gesê dat Agab bedrieg moes word sodat dit kon gebeur.
- Toe het die duiwel ’n leuengees geword in die mond
van al die profete wat die Here uitgestuur het.
Kyk mooi na die betekenis van dit wat daar staan: Die profete het die
koning gaan mislei.
- Hulle het gesê dat daardie veldslag soort van
geheilig sal wees en dat dit die seën van die Here wegdra – terwyl die
Here die geleentheid wou gebruik om hulle te straf oor hulle sondes.
- In ons tyd sou ons sê geloofsleiers (profete) het
die Bybel verkeerd gaan verklaar en nie aan die regering van die dag
(koning Agab) geleer wat die Here wil sê nie.
Daar was toe groot moeilikheid wat alles begin het by ’n verkeerde
verhouding met die Here.
Die duiwel werk nie nou vir die eerste keer nie.
- Hy was in die Ou Testament al bedrywig – hy was die
bose gees wat Saul bemeester het.
- Psalm 78:43-49 leer ook dat die Here die plae van
Egipte uitgevoer het deur die slegte engele. Hulle word “ongeluksbodes”
genoem. ’n Bode is juis ’n engel! Die duiwel en sy engele word dus deur
die Here gebruik om selfs ’n hele ongelowige volk te teister wat hulle
teen Hom verset. Hulle besoedel alles met hulle slegtigheid!
Die Satan stel homself direk teenoor Christus.
- Soos wat Christus die Hoof van die kerk is, so is
die Satan die hoof van die magte van die hel.
- In 1 Johannes 3:8 staan dit mooi geskryf dat
hierdie twee teenoor mekaar staan. Die duiwel sondig van die begin af,
en daarom het die Seun van God verskyn, sodat Hy die werke van die
duiwel kan afbreek.
Die Satan kom ook in die kerk! En hy stel homself voor as Jesus
Christus.
- Hy gebruik die Here Jesus se naam vir homself en hy
gebruik die Bybel om mense in dwaalleer te laat verval, sodat God vir
hulle kan kwaad word en hulle straf.
- As bewys hiervoor gebruik ek Jesus Christus se eie
woorde in Markus 13. Hy waarsku ons daar dat die dinge aan die kom is
en dat ons op ons hoede moet wees daarvoor.
In ons teksvers staan dit geskryf dat die duiwel ons soos ’n brullende
leeu jag, maar dadelik is die waarskuwing daarby: wees nugter! en wees
waaksaam!
Die Here herhaal die oeroue opdrag aan ons wat Hy aan Adam ook gegee
het: Bewaak (bewaar)! Pas op! Adam kon nie.
- Nou openbaar die Here aan ons wie die duiwel is, en
hoe hy werk. En dan sê die Here vir ons dat ons nugter moet wees.
- Dit beteken dat ons moet dink, en moet onderskei.
Ons moet nie sommer blindweg dinge doen nie.
Die duiwel se opstand teen God was ten diepste gegrond in sy eie
verwaandheid. Hy het van homself en van sy eie standpunte meer gedink
as van die wil en bevele van die Here.
- Die uiteinde daarvan is die hel met al die
verskrikking wat daarin vasgevang is.
- Daarom skryf die Here vir ons in Efesiërs 6:12 dat
ons stryd nie teen vlees en bloed
is nie, maar teen die owerhede, teen
die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu,
teen die bose geeste in die lug.
Ons moet ook nooit gerus wees en dink dat die duiwel verslaan is en nou
is hy vir goed uit die pad nie.
- Die duiwel is verskriklik skelm, en daarom gebruik
hy elke oomblik om jou te bekruip.
- Daar is geen geleentheid wat hy te gering ag nie.
Elke kans wat daar is, sal hy voluit aanwend om jou te beweeg om vir
verkeerde dinge lus te voel en sonde te doen.
Nou hoef u nie in paniek te verval nie, want u is toegerus om die
duiwel te kan hanteer.
- Ons Here Jesus se geboorte, lewe en dood, sy
kruisiging en opstanding en hemelvaart was alles om die duiwel op sy
eie werf aan te pak, en te oorwin. Die Here Jesus het ’n hele lewe van
stryd teen die duiwel geleef, sodat Hy in ons plek die duiwel kon
verslaan.
- Hy het tydens die versoeking in die woestyn onder
geen omstandighede aan die duiwel se versoekinge en drogredenasies
toegegee nie. Hy het die mag van die dood gebreek, omdat Hy met sy
Goddelike almag uit die dood opgestaan het met sy liggaam.
- Die dood was die duiwel se grootste wapen wat hy
gehad het. Na Jesus se opstanding het die duiwel nie meer hierdie wapen
gehad nie, want met die Here Jesus se opstanding is die wapen tot niet
gemaak.
Na die hemelvaart het die Here sy Heilige Gees aan ons teruggestuur,
sodat die Heilige Gees ons kan waarsku om nie na die duiwel te luister
nie.
- Die Heilige Gees se werk is heeltemal teenoor dié
van die duiwel. Die duiwel wil ons vernietig met sy haat.
- Die Heilige Gees wil ons red met sy liefde.
- Die Heilige Gees hou ons waaksaam. Hy ondersteun
ons onderskeidingsvermoë sodat ons die werk van die duiwel kan herken.
Hy gee aan ons insig sodat ons kan sien waar die duiwel God se
openbaring vervals. En dan bevestig Hy weereens die genade van die Here
Jesus Christus en die krag van God aan ons, sodat ons oor die aanslae
van die duiwel mag seëvier.
Broeders en susters, wees elke oomblik bedag op die dinge wat die
duiwel op u pad bring. Ons leef nou in die tyd waarvan die Here sê dat
die duiwel rondgaan soos ’n brullende leeu om alles te verskeur wat hy
in die hande kan kry.
- Onthou dan ook net dat sy grootste mikpunt die kerk
– die gelowiges – van die Here is. Dis ons wat hy in die hande wil kry.
- Al lyk sonde vir ons hoe aantreklik – weet dat die
duiwel ons dood soek daarmee. Weet dat elke oënskynlike voordeel wat
die sonde ons op hierdie aarde bied, deel is van ons vernietiging – nou
en in die hiernamaals.
Maar weet ook dat u as Christene oorwinnaars is in Jesus Christus die
Here. Leef dan ook soos oorwinnaars, want julle is nie verloorders teen
die hel en sy leier nie! U dra die naam van u Here: eiendom van die
Vader die Seun en God die Heilige Gees.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 71:13
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 20 Junie 2004 (oggend)