Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 145:1, 12

Geloofsbelydenis
Wet

Psalm 143:8

Gebed.

Psalm 138:1

Skriflesing:  1 Tessalonissense 4.
Teks:  Kategismus Sondag 41.  1 Tessalonisense 4:7

Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.

Tydens die afgelope Sinode het die deputaat van die Gereformeerde Kerke in Nieu Zealand gerapproteer dat daar deesdae baie min jongemse is wat nog trou.  Hulle woon net saam.  Om hulleself te beveilig gaan stel hulle by ‘n prokureur ‘n saambly ooreenkoms op.  

Dieselfde neiging begin in ons land posvat en daarom moet ons van tyd tot tyd in die prediking gaan kyk na onsedelikheid en die gevolge daarvan by die Here. 

In die gedeelte wat ons saam gelees het, is dit duidelik dat God alle onkuisheid vervloek.
Die sewende gebod leer ons dat die Here ontsteld is oor enige vorm van onkuisheid.
Hierdie saak van kuisheid weeg geweldig swaar by die Here.  In Levitikus 18 en 20 is daar ‘n lang lys van oortredinge op die gebied van onkuisheid.  En by almal gebied die Here die doodstraf. Luister byvoorbeeld na Levitikus 20:10
En as iemand owerspel doen met 'n man se vrou, owerspel doen met sy naaste se vrou, moet hy en sy wat owerspel doen, sekerlik gedood word. (Levitikus 20:10 AFR1953)

In ‘n ander teks word bepaal dat mense wat bepaalde onkuise oortredings begaan, almal verbrand moet word. 

Onkuisheid  -  oftewel egbreuk -  is deur God vervloek.
As ons besin waarom die Here so ernstig is met sy vervloeking van hierdie sonde, leer ons die volgende:
Egbreuk skei die mens se siel van God af, want die onreinheid van hierdie oortreding beteken verbreking met God.
Uit al die dinge is dit duidelik dat onkuisheid die mens so besmet dat hy sy beeldskap van God  -  sy hoogste mooi  -  nie kan vertoon nie.  Dit is waarom die Here ook mettertyd sy genade van hierdie mense af terugtrek  -  so dat in die laaste verse van die Bybel staan dat die hoereerders buite die koninkryk van God staan.

Die eerste twee mense skepping en dus ook hulle opdrag dien as voorbeeld. 
Hierdie sonde het natuurlik ook ‘n verborge kant.  Soms dink ons dat ons nie sonde doen nie as ons nie die verkeerde daad letterlik doen nie.  Om die saak reg te stel  -  en dit raak alle sondes  -  het die Here Jesus eenkeer die volgende uitspraak gemaak:
Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie.  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. (Matteus 5:27-28 AFR1953)

Dis maar net verkeerde gedagtes.  Net jy en die Here weet daarvan. Tog beslis die Here dat dit egbreuk is.  Ons moet dus maar ons gedagtes in toom hou!

Die sewende gebod is nie net negatief nie. 
Onthou dat die soendood van die Here Jesus Christus dit vir ons moontlik maak om baie teer met die teenoorgestelde geslag om te gaan sonder om sonde te doen. 
Onthou ook dat hierdie sonde nie ‘n doodsonde is nie:  Daar is ‘n terugdraai kans as sulke mense tot bekering kom.  Voorbeelde is volop in die Bybel  -  dink maar aan Ragab!

Die beeld wat ons moet uitdra is dat ons as kerk  -  en daarom is elke individu van ons daarby ingesluit  -  die Bruid van Jesus Christus is.  Hy soek ons maagdelik rein vir sy wederkoms (huwelik).

Laat ons dan so leef dat die Heilige Gees Hom verlustig om in ons liggame te woon.
Kom ons lees Kategismus Sondag 41 saam.
Amen.

Slotgebed.

Slotpsalm  136:1, 2.

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 26 Januarie 2003.