Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 31:1, 5
Gebed
Psalm 45:9, 10
Skriflesing: 1
Tessalonisense 4
Teks:
1
Tessalonisense 4:3-5; Kategismus Sondag 41
Want
dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet
onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou
te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid
soos die heidene wat God nie ken nie; (AFR83)
Die sewende gebod is sekerlik ’n gebod van die Here wat baie oortree
word.
- Daar is seker moeilik ’n ander sonde waarmee ons
die beeldskap van God in ons meer vernietig as met die sonde van
seksuele oortreding.
- Ten opsigte van die sewende gebod het dit vir baie
mense speletjie geword om die gebod van God te oortree. En dan probeer
sulke mense altyd om hulle dade te regverdig.
Paulus skryf vir die Grieke in Tessalonika hoe hulle moet lewe as hulle
God wil behaag. Hierdie mense is Grieke uit die heidendom, en daarom is
seksuele oortreding vanselfsprekend een van hulle probleme.
- Die Grieke in hierdie tyd het geglo dat
vrugbaarheid deur die gode as ’n verpligting gestel is. Dit is waarom
hierdie gedeelte in Paulus se brief aan hulle ingesluit is.
Eers gee hy ’n paar algemene voorskrifte aan hulle:
- Julle heiligmaking is die wil van God, so skryf hy.
- Dit beteken maar doodeenvoudig dat die mense
hulleself moet heilig maak deurdat hulle die wil van God moet doen.
- God wil hê dat die mense op die aarde geheilig moet
wees.
Dan is dit vanselfsprekend dat Paulus moet begin by die sondes wat in
die heidenwêreld nie as sondes beskou is nie. Baie reguit stel hy dit:
- Onthou julle van hoerery!
- Ons leef in ’n tyd waar dit die gewoonte is om
selfs ’n blatante sonde nie so skerp te stel soos dit hier is nie, en
daarom tref dit ons hard op die oor.
Die uitspraak tref ons oor des te meer omdat Paulus sy vermaning verder
ook baie kras stel:
- Elkeen van julle moet sy eie vrou hê! Hy weet baie
goed dat daar sekere mans in die gemeente van Tessalonika is wat
getroud is met een vrou, en dan nog ’n paar ander ook aanhou.
- Daarom word dit baie skerp gestel: een man moet een
vrou hê!
- As dit nie die geval is nie, is jy nie heilig voor
God nie.
- Dan doen jy nie die wil van God nie, en dan is dit
vanselfsprekend dat jy nie in die hemel sal kom nie.
- Christus sê mos baie duidelik dat net dié wat die
wil doen van sy Vader wat in die hemel is, in sy koninkryk sal ingaan.
Daar is geweldig baie aspekte van verkeerde liefdesbeoefening wat uit
hierdie teks uit voortvloei.
- Paulus vermaan elke man om sy vrou in heiligheid te
eer.
- Dit veronderstel dat ’n man aan sy vrou se
heiligheid skade aanrig as hy haar deel met ’n ander vrou. Hy doen haar
’n onreg aan.
Hierdie saak sny nogal die sesde gebod ook aan.
- Jy oortree selfs die gebod op doodslag, want as ons
hierdie saak deurtrek, is dit geestelike moord op jou huweliksmaat om
hom of haar so te minag dat jy met ander mense ook verkeer.
- Dan eer jy ook nie jou huweliksgenoot nie, want dit
beteken dat jy geen respek het vir die beeld van God in hom of haar
nie.
- Jy sondig dan met hierdie daad teen God self, omdat
jy God in sy beeld verag en minag en uiteindelik verwerp.
Al spreek die Heilige Gees die mans met hierdie teks aan, is dit nie
net hulle wat hierdie gebod kan oortree nie.
- ’n Vrou kan haar in gelyke mate aan al hierdie
dinge skuldig maak.
- Inderdaad wil die Here alle mense wat hierdie sonde
bedryf in hulle siele raakvat.
- Daarom volg daar die woorde dat egbreek ’n
hartstogtelike begeerlikheid is soos wat die heidene met vroue omgaan.
- Dit is iets wat net voorkom onder mense wat God nie
ken nie.
Die huwelik is vir God heilig. Die huwelik is vir God ’n
verantwoordelike verhouding wat Hy op twee mense lê om mekaar heilig te
hou – nie net liggaamlik nie, maar ook geestelik.
- In die huwelik kry ons ’n beeld van die verhouding
van Christus die Here tot sy kerk. Ons ken almal die beeld van die
bruid wat vir die Bruidegom voorberei word.
- Daarmee word die kerk (ons) bedoel, wat gereed maak
vir die koms van Christus.
God wil ons met die huwelik leer hoe geweldig intiem ons verhouding tot
Hom is.
- Net soos wat ons ons huweliksmaats liefhet, en ten
diepste vir hulle omgee, en onsself ten diepste aan mekaar opoffer ter
wille van die liefde, presies net so verkeer die Here met ons.
- Deur die Heilige Gees woon God selfs heeltemal in
my, want my liggaam is ook die tempel van God.
- Die Here gaan elke oomblik met my deur die lewe. Hy
het my lief. Hy gee vir my om.
- Sy liefde en teenwoordigheid oor ons is so groot
dat ons aardse huwelik maar ’n baie flou afskaduwing is van die
werklikheid.
Dis waar die beeld vandaan kom dat die kerk die bruid is, en Christus
die Bruidegom. En dat God die Vader is, en ons sy kinders is. Alles is
beelde uit die huwelikslewe.
Die Here kwalifiseer die liefde vir ons.
- Dit moet wees soos sy liefde wat tot in ewigheid
getrou is en standvastig.
- Hartstogtelike begeertes waarvan Paulus praat, is
iets wat skielik kom, en net so vinnig weer wegraak.
- Die Here weet dat wanneer ’n persoon egbreuk pleeg,
daar nie noodwendig werklike liefde in die saak betrokke is nie.
- Hy ken ons harte en Hy weet dus dat egbreuk op ’n
leuenliefde gebou is omdat jy jou eerste liefde daarin verraai.
- Die Here weet dat egbreuk ’n verhouding is waarin
Hy en sy wet verag word, en sy beeldskap in ons tot skande gemaak word.
- Egbreuk is die simbool van Godsverlating omdat
sonde telkens uitgebeeld word as “weghoereer van God af”.
Dit is waarom die Here Hom so verskriklik vertoorn oor hierdie saak van
egbreuk. Wanneer ons hierdie sonde bedryf, is ons in die geselskap van
die satan.
- Met die sewende gebod word alle vorme van
onkuisheid vervloek omdat al die dinge God se instelling van die
heilige huwelik verderf.
- Hoeveel huisgesinne het al deur hierdie sonde in
duie gestort. Hoeveel mense het al hulle hele toekoms met hierdie sonde
tot niet gemaak!
- Ons liggame is tempels waarin die Heilige Gees moet
woon. God wil nie in ’n huis bly wat homself verontreinig en homself
aan sonde verkoop nie.
Hierdie sonde bederf ook jou siel. Dit keer jou om die Here werklik te
vind.
- Dit skei jou van Hom, omdat jy met hierdie
oneerlikheid ’n muur tussen jou en die Here bou.
- In die laaste hoofstuk van die Bybel staan daar nog
geskryf dat honde en hoereerders buite die hemelse koninkryk sal bly.
- Die Here se oordeel word hier baie duidelik
uitgespreek.
- Mense wat hulleself ontheilig met egbreuk sal die
ewige heerlikheid nooit smaak nie – tensy hulle tot bekering kom.
Wat word dan van my verwag? Die Here roep elkeen van ons om heilig te
lewe.
- In hierdie heilig lewe lê die klem ongetwyfeld op
die liefde. God is liefde. En Hy skape die mens in liefde.
- Die Here verbind dan ook die man en sy vrou in
liefde aan mekaar.
- Die koninkryk van die Here word in ’n sekere sin op
die huisgesin gebou, want Adam en Eva kry die opdrag om te
vermenigvuldig en die aarde in die Naam van die Here te beheers en sy
koningskap daaroor uit te oefen.
Nou verwag die Here van elkeen van ons om onkuisheid te vermy. Want dit
lyk miskien aantreklik van buite af, maar die wese daarvan is
lewensgevaarlik.
- Dit is presies soos al die ander dinge wat die
duiwel gebruik om ons van die Here te vervreem: dis vol sensasie, maar
geestelik leeg.
- Geen getroude man of vrou mag ooit egskeiding of
owerspel pleeg nie. Want die Here sê: Wees heilig, want Ek is heilig (1
Pet. 1:16). Leef ingetoë, matig, kuis en bedwing alle verkeerde dinge.
- Christus leer ons dat dit nie help as ons net die
daad vermy, maar in die gedagtes die dinge bedink nie.
Bid en waak elke oomblik, want die sonde lê vir elke mens voor die
deur.
- As ons bid vir krag om nie in versoeking te val
nie, sal ons gebede verhoor word, want Christus het juis met sy
kruisdood die simbool van God se liefde vir ons afgerond.
- Die Bruidegom het sy lewe kom gee sodat die bruid
die woning van sy Vader mag betree.
- Die bruid se heiligheid word in sy kruiswerk
gewaarborg – dus die kerk se heiligheid en ons s’n ook, want ons is die
kerk.
Hierdie gebod praat ook met ons jongmense wat nog nie getroud is nie.
- Ook julle word deur die Here beveel om julle
liggame en liefde elke oomblik te beskerm en heilig te hou.
- Ons lewe in ’n tyd waarin die hele wêreld vrye
liefde propageer. Pas julle op, en bly heilig.
- Die Here eis ook van ons ouers om ons kinders
vroegtydig die regte dinge te leer in hierdie opsig.
Dan die slotvraag: Waarom moet ons onsself heilig hou? Die antwoord is:
Ek en my liggaam is deel van God se kerk.
- Ek moet dus my liggaam vir God se koninkryk heilig
hou, want ek moet met liggaam en siel deel wees van die skare wat
rondom God gaan staan in die Nuwe Jerusalem.
- Ek moet onbevlek een van dié in die hemel wees wat
lofliedere vir God gaan sing, en wat voor sy troon gaan jubel tot in
ewigheid.
- Bewaring van my liggaam is nodig, want onkuisheid
sloop ons gees heeltemal plat.
Dit is moontlik dat ons bewaar kan bly van oortreding van hierdie
gebod.
- Die Here is elke oomblik op elke plek. Hy is altyd
waar ons is.
- Ons soek dan ons krag in Jesus Christus. Ons sondes
is in sy bloed afgewas.
- Ook hierdie gebod s’n waar ons berou het, want by
die Here was daar van altyd af vergewing gewees.
Bid. Glo. Volhard in die genade van die Here.
Kom ons lees Kategismus Sondag 41 saam:
Vraag 108: Wat leer die sewende
gebod ons?
Antwoord: Alle onkuisheid is
deur God vervloek (a), en daarom moet ons
dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c)
sowel binne as buite die huwelik (d).
(a) Lev 18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess 4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.
Vraag 109: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en
sulke skandes nie?
Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, ’n tempel van die Heilige
Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied
hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles
wat ’n mens daartoe kan verlei (c).
(a) Ef 5:3, 4; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27, 28. (c)
Ef 5:18; 1 Kor 15:33.
Amen.
Slotgebed:
Wie ver van U sy weg wil gaan, stap op ’n donker afgrond aan. Lei ons
daarom met die gebed terug na U toe. Leer ons vertrou. Leer ons bid.
Ook vir die einde van hierdie tyd en die begin van die heerlikheid van
U rondom ons, Here. Om Christus wil.
Amen.
Slotpsalm 18:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal. Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 7 Maart 2004 (aand)