Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het. Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here
Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 34:2.
Gebed.
Psalm 84:4
Skriflesing: 1 Tessalonisense
5.
Teks: Kategismus Sondag 46; 1
Tessalonicense 5: 24
Hy wat
julle roep is getrou; Hy sal dit ook doen.
In hierdie kort versie is daar baie troos opgesluit. Daar is geweldig
baie genade by God. Die apostel wil hê dat die gemeente se aandag
gevestig moet wees op God se genade. In vers 17 word die gemeente
beveel om onophoudelik te bid. Die Here sal hulle gebed verhoor omdat
Hy getrou is.
In hierdie preek word aandag gegee aan die volgende sake:
1. Hierdie woorde wek vertroue by ons
op
2. Wat openbaar hierdie woorde aan
ons?
3. Hierdie woorde leer ons om God te
ken.
1. Hierdie woorde wek vertroue by ons
op.
Dink mooi oor die gevoel wat in jou ontstaan as jy hierdie woorde
gelowig lees. Wat wek hierdie woorde by ons op? Die antwoord is:
- Kinderlike vertroue.
- God die Almagtige bly getrou.
- Hy bly ook altyd naby my.
Met hierdie woorde openbaar die Here dat daar 'n band tussen Hom en my
is wat Hy nooit sal laat tot niet gaan nie.
- Dit is omdat God deur Jesus Christus werklik ons Vader geword
het.
- Daarom begin ons ook ons gebed met die woorde: Onse Vader.
- Toe die Here Jesus ons geleer het om ons gebed met die woorde "OnseVader" te begin, het Hy daarin
te kenne gegee dat die Here aan ons dieselfde soort liefde bewys wat 'n
vader vir sy kinders het.
Die grond van ons gebed is dat God die Almagtige ons versorg, en dat
ons by die begin van ons gebed al bewys dat ons op Hom vertrou vir die
verhoring van ons gebed.
Aan gebedsverhoring hoef u nie te twyfel nie, want in Psalm 145: 18 en
19 belowe die Here dat Hy die wat Hom vrees en wat Hom opreg en in
waarheid aanroep, se gebede verhoor.
2. Wat openbaar hierdie woorde aan ons?
God sal sal ons gebed verhoor, en Hy sal ons bewaar in die geloof, en
teen alles wat skadelik is. Dit is so omdat God oor alles in die hemel
en die aarde regeer. Dink daaroor:
- Hy regeer die sterrehemel (Ps. 33: 6),
- die seisoene;
- die kom en gaan van die winde;
- reën en droogte; alles. Daarom het Hy die mag om te beskik
oor die verhoring van ons gebede.
Die woorde openbaar verder aan ons dat ons nie aards van die Here moet
dink nie.
- Deesdae raak dit 'n probleem, want daar loop baie godsdienste
rond wat in 'n poging om God se teerheid en liefde te leer, van die
Here 'n vennoot, of 'n naby vriend maak.
- Die almag van God en die vrees wat daar vir Hom moet wees ly dan
skade.
- Dit is dus nie sonder rede dat mense met so 'n soort geloof ook
weer maklik van die Here afvallig word nie.
Al is daar afstand tussen ons en God omdat ons nietige mense is, en Hy
die ewige en almagtige God, is daar ook die nabyheid dat Hy ons beskerm
en toevou in sy ewige raad.
- Hy sorg vir ons kos en klere elke dag;
- Hy sorg vir die behoud en groei van ons geloof;
- Hy skenk aan ons die verlossing deur die Here Jesus Christus.
3. Hierdie woorde leer jou om God te
ken.
Waarvoor bid ons alles? Ons bid vir alles wat ons liggaamlik en
geestelik nodig het. Maar elke smeekgebed is ook gekoppel aan die
belofte dat jy verhoor sou word - anders is daar geen sin en geen nut
in om te bid nie!
- Gaan bid dus met volle vrymoedigheid.
- Gaan met elkeen van u gebede na God toe, want u heilige Vader sal
u seën.
Ons moet natuurlik waak dat ons nie ligsinnig bid nie, want dikwels bid
mens vir dinge waaroor nie gebid behoort te word nie.
- As ons dink aan die "Onse Vader"
dan begin ons spesifiek die gebed met die woorde: Ons Vader "wat in die hemele is".
- Die woorde "wat in die hemele
is", laat tog 'n sekere gevoel van heiligheid en gewydheid by ons
bestaan.
- Dis ook reg: heiligheid en erns moet deur elke gebed van ons
vloei. Selfs wanneer ons God met blydskap loof en dank vir sy sen, doen
ons dit nog met 'n heilige erns.
Waar pas al hierdie dinge waaroor ons gepraat het in ons gebede in?
- As God veranderlik was sou u gebede vrugteloos wees.
- En as God nie sy beloftes gehou het nie, sou dit niks gehelp het
as u gaan bid het nie.
- Maar nou kan u weet:
- God bly getrou.
- Al sy beloftes staan: Hy verbreek nie een van hulle nie.
- Hy het in die Bybel openbaar dat Hy ons Vader is deur Jesus
Christus.
- Hy is dit steeds,
- en sal dit ook altyd bly.
Bid van u hemelse Vader wat u nodig het, en Hy sal u gebede verhoor,
omdat Hy u deur sy Seun tot sy kind gemaak het, en omdat Hy u deur sy
Gees roep om in die gebed voor sy troon te staan.
Kom ons lees Kategismus Sondag 46.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 90: 2, 8.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 24 Februarie 2002.