Sing vooraf:
Psalm 100 (494)
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 92:1 (466)
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet bely ons voor
God ons sondeskuld en bid vir vergewing van ons sondes met Ps. 99:4, 5
(492).
Wet
Psalm 99:4, 5 (492)
Gebed
Psalm 90:1 (454)
Skriflesing:
1 Timoteus 3
Teks:
1 Timoteus 3:13
Want die wat goed gedien het,
verkry vir hulle ’n eervolle plek en veel vrymoedigheid in
die geloof in Christus Jesus. (1 Timoteus 3:13 AFR53)
Die Here het nie een stel eise vir ouderlinge en ’n ander een
vir diakens en ’n derde een vir die lidmate nie.
- Die Here het slegs een stel eise wat elke uitverkorene
raak, maak nie saak of dit ’n man of ’n vrou of
’n lidmaat of ’n ampsdraer of wie ookal is nie.
- Aangesien ons verantwoordelik teenoor die Here moet lewe,
is dit goed dat ons onsself toets aan die eise wat God aan ons stel, om
te toets hoever ons daarteenoor verantwoordelik is.
In vers 1 begin Paulus om te skryf oor die besondere dienste. Die Bybel
ken nie die woord amp in die Nuwe Testament nie.
- ‘n Amp is ’n bepaalde posisie waar die
ampsdraer sekere magte en gesag het.
- Die Bybel gebruik die woord diakonia
– wat beteken dat dit iemand is wat in die Naam van God diens
bewys aan iemand anders.
Ons gebruik in ons praattaal die woorde wat nog uit die tydperk van die
Roomse kerk kom: Ons praat van ampte.
- Dit is so dat die Roomse kerk se mense wat in die kerklike
dienste is, ampte beklee, want hulle glo dat hulle bepaalde gesag in
hulleself het.
- Ons glo dat die Bybel ons iets anders leer.
- Die Here gebruik die woord dienskneg (diakonos/diakonia)
en die woord slaaf
om die mense wat ons ampsdraers noem, te beskryf.
- Nie ’n dienskneg of ’n slaaf het
enige gesag of seggenskap in homself nie.
- Hy kan en mag net doen wat sy baas wat hom besit, hom
beveel om te doen.
So praat ons van die diens van die mense wat die Heilige Gees hier in
die brief deur Paulus beskryf, as die besondere ampte.
- Die besondere dienste is dié van predikant,
ouderlinge en diakens.
- Die algemene amp/diens is die amp van die gelowige
– daarin is elke gelowige in al drie die ampte gelyktydig
– profeet priester en koning.
- Die Here skryf hier hoe die mense wat in die dienste staan
se benadering teenoor die diens moet wees.
Hy begin met die opsieners. Hulle werk is veral die leiding in die
gemeente.
- Dadelik word een saak baie sterk gestel by implikasie, en
dit is naamlik dat die ampsdraers of diensknegte se beeld na buite toe
ook die beeld van die kerk vertoon.
- As die ampsdraers los is en ’n swak lewe lei,
word die standaard van die kerk waarin hulle dien, dadelik daaraan
gekoppel.
Sonder dat dit reguit gesê word, besef elke gelowige wat
hierdie brief lees, dat al is hy nie die dominee nie, dat die Here hier
met elke gelowige praat – al noem Hy net die diens van die
predikant.
- Wat Hy van die dominee sê, is van ons almal waar,
want ons staan almal in die amp van die gelowige.
- Daarom moet elke lidmaat hoë kwaliteite
hê, soos dit vir die verskillende dienste voorgeskryf word.
Elke mens wat deur die Here Jesus Christus gered en verlos is, moet
hierdie goeie getuienis hê omdat ons deur die Here Jesus
verlos en deur God die Heilige Gees gelei word.
- Baie keer hoor ons dat mense sê:
“Verkies so-en-so as diaken of ouderling. Dan sal hy kerk toe
kom en reg lewe.”
- Dis verkeerd. Die Here leer hier ’n ander
beginsel: Iemand word nie eers onberispelik nadat hy verkies is nie
– hy word juis verkies omdat hy onberispelik lewe
vóórdat hy verkies word.
Die eis waarvoor ons hier gestel word, is dus in die eerste plek die
eis dat elke gelowige onberispelik moet wees. Let op hoe prakties praat
die Here van ’n groot saak soos geloofsonberispelikheid. Daar
is ’n taamlike lang lys van alledaagse dinge wat deel uitmaak
van die meeste van ons se samestelling.
- ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees,
- die man van een vrou,
- nugter, ingetoë, fatsoenlik,
- gasvry,
- bekwaam om te onderrig;
- geen drinker, geen vegter,
- geen vuilgewinsoeker nie,
- maar vriendelik; geen strydlustige,
- geen geldgierige nie;
- een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle
waardigheid in onderdanigheid hou.
Die Here gee ook die rede waarom Hy hierdie lang lys vereistes
voorskryf:
Maar as iemand nie weet om sy eie
huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?
(1 Timoteus 3:5 AFR53)
Daarna stel die Here twee uiters belangrike sake waaraan ons normaalweg
bitter min aandag gee.
Die
een raak die geesteswêreld.
- Daar het iets in die hemel skeefgeloop wat ’n
neerslag op die mense op die aarde het.
- Die Here waarsku dat die ding hom nie in die kerk moet
herhaal nie:As daar nuwe mense in die gemeente intrek, mag hulle nie
dadelik tot enige amp verkies word nie:
Hy moet nie ’n nuweling
wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die
duiwel val nie. (1 Timoteus 3:6 AFR53)
Die Here gee die opdrag nie sonder rede dat ’n gemeente nie
’n nuweling tot die besondere dienste moet verkies nie
– want hy kan dalk verwaand word en in dieselfde oordeel as
die duiwel val.
- ’n Nuweling is iemand wat pas uit die heidendom
gekom het, of pas in die gemeente gekom het. Hy mag homself oorskat as
hy in ’n amp geplaas word waar hy toesig moet hou oor mense
wat lankal in daardie gemeente is.
- Hy moet eers deel word van hulle, en hy moet eers
deeglik bewys lewer dat hy bestand is teen die sondes wat ons alledaags
onder ons aantref.
- Anders beland hy in ’n ander sonde, naamlik die
een van verwaandheid wat ook die duiwel destyds in die hemel laat
struikel het.
Weereens word
’n saak gestel wat nie net nuwelinge raak nie, maar almal in
die gemeente, naamlik dat mens nie in ’n situasie mag beland
waar jy God se gawes en genade uit die oog mag verloor nie. Die
belangrike is dat dit nie hoëre eise is wat aan die gelowiges
gestel word nie. Dis eise waaraan ons almal moet voldoen as ons ware
gelowiges is.
Die
tweede saak raak die ongelowige wêreld rondom ons.
Maar hy moet ook goeie getuienis
hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in
die strik van die duiwel val nie. (1 Timoteus 3:7 AFR53)
Die getuienis van die buitemense is vir die Here belangrik.
- Hoe baie keer hoor ons nie verwyte van die kant van die
ongelowiges nie!? “Jy maak so-en-so en dan sê jy jy
is ’n Christen en jy behoort aan daardie kerk!”
- Dan verag hulle die kerk omdat die lidmate van die kerk
veragtelik optree.
Ons kan maklik sê dis maar net die ongelowiges wat daar
praat. Maar nou wil God ons darem ook reghelp:
- Ons
kan nie daardie mense se menings sommer net so afskiet nie!
- Dit
is vir God belangrik watter getuienis hulle oor ons lewer!
- Ook
die buitestanders moet getuig dat ons by ons beginsels staan, en dat
ons die Christelike geloof so uitleef dat hulle verstom staan daaroor!
– al irriteer dit hulle!
- Hulle
moet dus oor ons manier van lewe niks ander as goed kan praat nie.
Kom ons vat al hierdie dinge wat God ons hier voorskryf saam in een sin:
- Die Here eis hier dat geen gelowige hom mag laat benewel
deur dwalinge of enige heersende stroming van sondes nie.
- Ons moet die Evangelie van Jesus Christus beheersd en met
waardigheid uitleef.
- Die heidene was bakleierig, en het mekaar se goed gesteel
en was gierig en het baie kere in dronkenskap verval. Ons mag nie so
wees nie.
’n Mens se genadebesef en sy sondebesef loop hand aan hand.
- Jy kan alleen God se genade raaksien as jy jou eie swakhede
en sondes regtig ken – nie net met jou mond sommer so in die
wydte sê dat jy weet jy doen sondes nie, maar dat jy elkeen
van jou swakhede ken, en weet hoe jy God daarmee onteer.
- Dan sal jy weet wat God vir jóú gee
as Hy jou daarvan verlos.
- Al wat die Satan werklik kon regkry, was om in God se
oordeel te beland.
Kyk nou na die eerste twee woordjies waarmee vers 8 begin:
net so . . .
Die apostel Paulus begin hier skryf oor die diakens. Die diakens is net
sulke gelowiges as die ouderlinge of die predikant.
- Daarom onderstreep die Heilige Gees met hierdie twee
woordjies dat daar nie by die Here dubbele standaarde is nie.
- Dieselfde dinge wat vir die predikant van belang is, geld
ook vir die diakens.
- Daarom: net
so . . . Al hierdie dinge wat van die diaken
gesê word, is dus ook waar van die ouderlinge en die dominee,
en van elke man en vrou in die gemeente.
Wat nou van die vrouens?
In die
Nuwe-Testamentiese gemeentes was dit mans wat ampsdraers was. Dadelik
kom die vraag: Wat dan van die vrouens? Kan die vrouens dan maar lewe
soos wat hulle wil? Hoe belangrik is hulle vir die Here?
- Vrouens is net sulke kinders van God en gereddes as enige
man.
- In die Nuwe Testament is daar voor die Here nie meer
onderskeid tussen mans en vrouens nie. Ons is almal presies gelyk voor
die Here.
Daarom begin vers 11 ook met: net
so moet die vrouens . . .
- Elke lidmaat word aan God se eise onderwerp op ’n
basis van gelykheid.
- Vrouens het dit nie makliker as enigiemand anders nie, en
lidmate het dit ook nie makliker as ampsdraers nie.
- Nee, almal – mans en vrouens – staan
gelyklik onder God se eise.
God maak ook nie hier net ’n lysie van wat ons nie moet wees
nie. Hy sê ook hoe ons moet wees:
Ons moet die verborgenheid van
die geloof in ’n rein gewete hou.
- Niemand sal regkom as hy net hoor wat hy nie moet doen nie.
- Hy moet ook weet wat hy dan wel moet doen.
- Daarom word die daad beskryf in vers 9.
- Jou rein
gewete moet juis getuienis gee daarvan dat jy onberispelik
is in jou lewe.
Die verborgenheid van
die geloof is moeilik om te verklaar.
- Waarskynlik bedoel die Bybel hier dat die geloof ook oor
sulke diep dinge gaan dat ons dit nie altyd met ons verstand kan
uitredeneer nie.
- Dit bly dus verborge.
- Des te meer moet ons gewete getuig dat ons selfs die dinge
wat ons nie altyd kan verstaan nie, ook nog behoorlik nakom!
Ons moet nie God se raad aan ons begrip onderwerp nie.
- Jy kan dus nie met ’n slegte gewete glo nie!
- Nie regtig nie; jy sal self weet dat jy vals is, en dan
moet jy jou bekeer van dit wat jy verkeerd doen.
Dit is ook waarom vers 10 ’n proeftyd voorskryf.
- Nie ’n proeftyd in die amp nie.
- Lees weer: ’n proeftyd voordat jy in die amp mag
wees.
- Jy moet dus in jou geloofslewe die geleentheid kry om
jouself te bewys.
Nou val vers 13 sommer vanself in sy plek:
. . . want die wat goed gedien
het.
Dit is ons almal.
- Almal wat goed gedien het, verkry ’n eervolle
plek in die geloof in Jesus Christus.
- Hulle verkry ook veel vrymoedigheid in die geloofslewe,
want hulle gewete is skoon oor hulle lewens.
Die toepassing van hierdie preek is terselfdertyd ook die
Christusprediking:
- Moet ons nou moedeloos wees omdat ons gewetes nie altyd oor
alles wat ons doen, skoon is nie.
Nee, want die Here Jesus Christus het juis versoening bewerk vir
onvolmaaktes.
- Hy het versoening gedoen vir mense wie se gewetes hulle
aankla dat hulle nie doen wat God eis nie.
- Hy wil juis hê dat sulke mense voortdurend onder
die besef moet wees dat Hy ons swakhede met God versoen het.
- Die genade is dat die Here Jesus Christus ons waardig maak
aan die koninkryk van God, omdat ons dit nie uit onsself is nie.
As ons nougeset op ons lewe let, sal ons een van twee dinge agterkom:
- Óf ons sal agterkom hoeveel ons swak en verkeerd
doen, en met berou en met ’n groot behoefte om vergewe te
word vir ons swakhede na die Here toe kom, waar die Here juis sy genade
aan ons bevestig.
- Óf ons sal agterkom dat ons ons tog nie veel aan
God se eise steur nie, want ons doen in elk geval wat ons wil
– in watter geval ons die swaar oordeel van die Here oor ons
gaan haal met die wederkoms van ons Here Jesus Christus.
Laat ons as ampsdraers dan so leef en werk dat die gemeente met
vrymoedigheid ons lewenswyse kan navolg.
Laat ons as gemeente dit ons taak maak dat die geloof in die Here Jesus
Christus ons hoogste prioriteit is en dat ons sy eise uitleef.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 93:1, 4 (470)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 23 Julie 2006
(oggend)