Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 119:7, 26
Gebed
Psalm 52:3
Skriflesing:
1 Timoteus
Teks:
1
Timoteus 6:6-9; Kategismus Sondag 42
. . . maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie
dwase en skandelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf
en ondergang . . .
Dit gaan oor oneerlike maniere om ryk te word. Daar is mense wat
ontevrede is met dit wat hulle het, en dan probeer hulle op oneerlike
wyse om in die besit te kom van geld of enige middel wat hulle meen vir
hulle tot voordeel mag wees. Kortweg gaan dit dus oor diefstal.
Ons kyk in hierdie preek uit die volgende twee hoeke na diefstal:
1. Die gesindheid van iemand wat steel
2. Wat is die eis van die gebod
dat ons nie mag steel nie?
1. Die gesindheid
van iemand wat steel
Voordat enige mens enige sonde doen, moet daar eers in sy hart
iets fout gaan.
- Iets in sy gesindheid teenoor God en sy medemens
moet padgee, voordat hy verkeerde dinge gaan dink of doen.
- Daarby moet ons ook in gedagte hou dat dit uiters
moeilik is om net een gebod op ’n keer te oortree, want al die gebooie
skakel aan mekaar.
- Dis gewoonlik so dat as die een gebod oortree word,
een of meer van die ander daarmee saam oortree word.
Met die steler is dit inderdaad die geval.
- Iemand sal net steel as daar by hom die begeerte
ontstaan om iets te besit wat hom nie toekom nie.
- So ’n persoon oortree dus nie net die agste gebod
alleen nie, want hy kom eers by die agste gebod uit nadat hy die tiende
gebod oortree het – naamlik om dinge te begeer wat hy nie moes begeer
nie.
Voordat iemand tot diefstal oorgaan, is daar meer verkeerdhede wat by
so ’n mens sal voorkom.
- Dink maar aan iets soos ontevredenheid met wat God
oor hom beskik in die lewe;
- of iets soos ondankbaarheid oor die seën of besit
wat die Here aan hom toeken.
- Dit is waarom die apostel Paulus spesifiek skryf
dat ons vergenoegd moet wees met die kos en klere wat die Here vir ons
gee (v. 8).
Dit maak dan dadelik die deure oop vir twee gevare in so ’n persoon se
lewe.
- Die een is dat hy verborge sondes doen, en die
ander een is dat hy in openbare growwe sondes verval.
- Om die openbare deel daarvan te verstaan is maklik.
Dis wanneer iemand gaan steel en die owerheid vang so ’n persoon en
straf hom daarvoor.
- Maar daar is nog ’n kant. Dis wanneer iemand met
lis en bedrog beplan om dinge in die hande te kry wat nie syne is nie.
- Ons moet onthou dat die Here ons gedagtes ook lees,
en dat Hy presies weet wat in ons harte aangaan. Dit kan so wees dat
ons deur middel van bedrog, of dalk selfs in die geheim, dinge in die
hande kan kry wat ons wil hê.
- En dit mag wees dat ons in hierdie lewe nie daarmee
uitgevang word nie, maar daar kom ’n dag wanneer ons voor die Hoogste
Regter staan, en dan sal Hy rekenskap vra daaroor.
- U moet weet dat mens nie vir ewig met gedagtesondes
wegkom nie.
Steel kan baie keer weggesteek wees agter ander dinge.
- Mens kan byvoorbeeld steel deur nie jou regmatige
dankoffer vir die Here te gee nie.
- Die kerk bepaal nie jou kerklike bydrae nie – die
Here bepaal dit in sy Woord, en as jy daaraan nie laat reg geskied nie,
hou jy van die Here terug wat Hy as syne beskou.
As mens oor diefstal praat, is daar ander dinge ook wat in die
gesigsveld kom, byvoorbeeld iets soos gierigheid.
- Gierigheid is nie diefstal nie, maar dit skakel tog
met diefstal in die sin dat dit ’n verkeerde manier is om met
besittings te werk.
- Verder is dit ook so dat die gierigaard en die dief
se waardering van besittings ongesond is – albei heg ’n hoër waarde
daaraan as wat dit behoort te hê.
- In baie kras gevalle kan dit by sommige mense grens
aan afgodediens.
Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar:
- As mens nie mag gierig wees nie, mag jy ook nie
verkwis nie.
- Die Here se verbod op diefstal eis van jou
verantwoordelikheid in die wyse waarop jy met besittings omgaan.
- Verkwisting is ’n onverantwoordelike manier van
hantering van geld, en dit is dus ook sonde.
2. Wat is die eis van die gebod dat
ons nie mag steel nie?
Hierdie gebod is bedoel om die verhouding tussen ons en die Here
reg te hou.
- Die Here wil hê dat elke mens tevrede moet wees met
die wyse waarop God sy lewe bestuur, met ander woorde met dankbaarheid
alles wat die Here ons laat kry, uit sy hand ontvang.
- Verder is die doel van hierdie gebod ook om
tussenmenslike verhoudinge goed te hou.
- As elkeen enigiets van iemand anders mag afneem
soos hy lus het, sal daar chaos en doodslag ontstaan onder die mense.
- Waarskynlik sal hulle mekaar uitwis.
- Die mikpunt van die gebod is dus dat elke mens
ootmoedig moet lewe, in totale afhanklikheid aan wat God beskik. Dit is
waarvan Paulus praat in 1 Timoteus 6:7:
.
. . want ons het niks in die wêreld ingebring nie; en dis duidelik
dat ons ook niks daaruit sal wegdra nie.
- Verder eis die gebod tevredenheid by elke mens ten
opsigte van al die gawes wat God hom skenk. Dit staan in vers 8:
.
. . Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.
- Dan vereis hierdie gebod ook versigtigheid.
Geloofsversigtigheid. Luister weer na wat daar in vers 9 geskryf staan:
Maar
die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase
en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en
ondergang.
- Die Bybel het by hierdie gedeelte ’n regstelling omdat die Here
weet
dat ons waarde-bepaling dikwels te vas is aan ons aardse bestaan.
- Daarom sê die Here hier dat aardse besittings tog
nie ’n mens se grootste wins kan wees nie.
- Daar is ’n ander rykdom wat die heel meeste waarde
het – godsaligheid.
- Dis ’n skat in die hemel, want dit hou jou siel
skoon, en dit hou jou verhouding met die Here reg.
- Dit beskerm jou teen hoogmoedigheid, en om jou
naaste te beroof van tydelike dinge.
Ons kan die verbod op diefstal anders stel deur te sê dat die Here vra
dat ons met besinning sal lewe sodat ons ware vreugde put uit dit wat
ons het (min of baie), en dat ons in druk of armoede vrede sal hê met
dit wat God ons gee.
Die dood van Jesus Christus was nie sodat ons in die eerste plek aardse
rykdom sou besit nie.
- Sy oorwinning oor die dood was dat ons die rykdom
van ’n ewige lewe sal ontvang, waarin ons elke oomblik in die volmaakte
rykdom van God se alomteenwoordigheid sal lewe.
- Dis ook waarom die Heilige Gees aan ons geskenk is
– sodat Hy ons van hierdie rykdom sal leer, sodat ons nie ons oë en ons
hande sal vasslaan op tydelike dinge waarvan ander mense meer mag hê as
ons nie.
Kom ons lees Kategismus Sondag 42 saam.
Vraag 110: Wat verbied God in
die agste gebod?
Antwoord: God verbied nie slegs
die diefstal (a) en roof (b) wat die
owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke
en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande
te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of ’n skyn van reg, soos deur die
vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, (d), geld,
deur woeker (e) of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle
gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy gawes (g).
(a) 1 Kor 6:10. (b) 1 Kor 5:10; Jes 33:1. (c) Luk 3:14; 1 Tess 4:6. (d)
Spr 11:1; 16:11; Eseg 45:9, 10; Deut 25:13. (e) Ps 15:5; Luk 6:35. (f)
1 Kor 6:10. (g) Spr 23:20, 21; 21:20.
Vraag 111: Maar wat gebied God
jou in hierdie gebod?
Antwoord: Ek moet die belange
van my naaste, waar ek kan en mag,
bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel (a).
Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in
hulle nood kan help (b).
(a) Matt 7:12. (b) Ef 4:28.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 8:4, 5
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 14 Maart 2004 (aand)