Sing vooraf: Psalm 118:2, 3
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 91:1, 2
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet bid ons voor God vir ’n nuwe
lewe en vir versoening met Psalm 40:4.
Wet
Psalm 40:4
Gebed
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
Vergifnis:
-
Dank:
-
Smeking vir die
nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige
wêreld, asook die beroep op die beloftes van God:
-
Algemene
bede:
-
Verligting van die
Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 18:14
Skriflesing: Timoteus
6
Teks:
1 Timoteus 6:6-9; Kategismus Sondag 42
Maar die godsaligheid saam met
vergenoegdheid is ’n groot wins. Want ons het niks in die wêreld
ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.
Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar
die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en
skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en
ondergang. (1 Timoteus 6:6-9 AFR53)
Dit gaan oor oneerlike maniere om ryk te word. Daar is mense wat ontevrede
is met dit wat hulle het, en dan probeer hulle op oneerlike wyse om in die
besit kom van geld of enige middel wat hulle meen vir hulle tot voordeel
mag wees. Kortweg gaan dit dus oor diefstal.
Ons gee in hierdie preek aandag aan die volgende sake van belang:
1. Die gesindheid van iemand wat
steel
2. Wat beteken die eis van die gebod dat
ons nie mag steel nie?
1. Die gesindheid van iemand wat
steel
Voordat ’n mens enige sonde doen, moet daar eers in sy hart iets fout
gaan.
- Iets in sy gesindheid teenoor God en sy medemens moet padgee voordat
hy verkeerde dinge gaan dink of doen.
- Daarby moet ons ook in gedagte hou dat dit uiters moeilik is om net
een gebod op ’n keer te oortree, want al die gebooie skakel aan mekaar.
- Dis gewoonlik so dat as die een gebod oortree word, een of meer
van die ander daarmee saam oortree word.
Met die steler is dit inderdaad die geval dat hy meer as een gebod
oortree.
- Iemand sal net steel as daar by hom die begeerte ontstaan om iets te
besit wat hom nie toekom nie.
- So ’n persoon oortree dus nie net die agste gebod nie, want hy kom
eers by die agste gebod uit nadat hy die tiende gebod oortree het,
naamlik om dinge te begeer wat hy nie moes begeer nie.
Voordat iemand tot diefstal oorgaan, is daar meer verkeerdhede wat by
so ’n mens sal voorkom.
- Hy is ontevrede met wat God oor hom beskik in die lewe.
- Of hy is ondankbaar oor die seën of besittings wat die Here aan hom
toeken.
- Dit is waarom die apostel Paulus spesifiek skryf dat ons
vergenoegd moet wees met die kos en klere wat die Here vir ons gee
(v. 8).
Ontevredenheid maak dadelik die deure oop vir twee gevare in ’n
persoon se lewe.
- Die een is dat hy in openbare growwe sondes verval.
- Om die openbare deel daarvan te verstaan is maklik – dis wanneer
iemand gaan steel en die owerheid vang so ’n persoon en straf hom
daarvoor met boete of tronkstraf.
- Die ander een is dat hy verborge sondes doen.
- Dis wanneer iemand met lis en bedrog beplan om dinge in die hande
te kry wat nie syne is nie.
- Ons moet onthou dat die Here ons gedagtes ook lees, en dat Hy
presies weet wat in ons harte aangaan – dit kan so wees dat ons deur
middel van bedrog, of dalk selfs in die geheim, dinge in die hande
kan kry wat ons wil hê.
- Dit mag wees dat ons in hierdie lewe nie daarmee uitgevang word
nie, maar daar kom ’n dag wanneer ons voor die Hoogste Regter staan,
en dan sal Hy rekenskap vra daaroor.
- Ons moet weet dat mens nie vir ewig met geheime sondes kan wegkom
nie.
Steel kan baie keer weggesteek wees agter ander dinge.
- Mens kan byvoorbeeld steel deur nie jou regmatige dankoffer vir die
Here te gee nie.
- Die kerk bepaal nie jou kerklike bydrae nie – die Here bepaal dit
in sy Woord, en as jy nie daaraan laat reg geskied nie, hou jy dit
van die Here terug wat Hy as syne beskou.
As mens oor diefstal praat, is daar ander dinge ook wat in die
gesigsveld kom, bv. iets soos gierigheid.
- Gierigheid is nie diefstal nie, maar dit skakel tog met diefstal in
die sin dat dit ’n verkeerde manier is om met besittings te werk.
- Verder is dit ook so dat die gierigaard en die dief se waardering van
besittings ongesond is – albei heg ’n hoër waarde daaraan as wat dit
behoort te hê.
- In baie kras gevalle kan dit by sommige mense grens aan afgodediens,
omdat besittings en geld vir hulle meer kan tel as opregte geloof.
Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar: As mens nie mag gierig wees
nie, mag jy ook nie verkwis nie.
- Die Here se verbod op diefstal eis van jou verantwoordelikheid in die
wyse waarop jy met besittings omgaan.
- Verkwisting is ’n onverantwoordelike manier van hantering van geld,
en dit is dus ook sonde.
2. Wat beteken die eis van die gebod
dat ons nie mag steel nie?
Hierdie gebod is bedoel om die verhouding tussen ons en die Here reg te
hou.
- Die Here wil hê dat elke mens tevrede moet wees met die wyse waarop
God sy lewe bestuur.
- Met ander woorde ons moet met dankbaarheid alles wat die Here ons
laat kry, uit sy hand ontvang.
Verder is die doel van hierdie gebod ook om verhoudings tussen mense
goed te hou.
- As elkeen enigiets van iemand anders mag afneem soos hy lus het, sal
daar chaos en doodslag ontstaan onder die mense.
- Waarskynlik sal hulle mekaar uitwis.
- Ons ervaar reeds in ons samelewing ’n sterk smaak hiervan.
Die mikpunt van die gebod is dus dat elke mens ootmoedig moet lewe, in
totale afhanklikheid van wat God beskik. Dit is waarvan Paulus praat in 1
Timoteus 6:7:
Want ons het niks in die wêreld
ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra
nie. (1 Timoteus 6:7 AFR53)
Verder eis die gebod tevredenheid by elke mens ten opsigte van al die gawes
wat God hom skenk. Dit staan in vers 8:
Maar as ons voedsel en klere het, moet
ons daarmee vergenoeg wees. (1 Timoteus 6:8 AFR53)
Dan vereis hierdie gebod ook versigtigheid – geloofsversigtigheid. Luister
weer na wat daar in vers 9 geskryf staan:
Maar die wat ryk wil word, val in
versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die
mense laat wegsink in verderf en ondergang. (1 Timoteus 6:9 AFR53)
Die Bybel het by hierdie gedeelte ’n regstelling – omdat die Here weet dat
ons waardebepaling dikwels te vas is aan ons aardse bestaan.
- Daarom sê die Here hier dat aardse besittings tog nie ’n mens se
grootste wins kan wees nie.
- Daar is ’n ander rykdom wat die heel meeste waarde het –
Godsaligheid.
- Dis ’n skat in die hemel, want dit hou jou siel skoon, en dit hou
jou verhouding met die Here reg.
- Dit beskerm jou teen hoogmoedigheid, en dit beskerm jou daarvan
dat jy jou naaste beroof van sy eiendom.
Ons kan die verbod op diefstal
anders stel deur te sê dat die Here vra dat ons met besinning sal lewe
sodat ons ware vreugde put uit dit wat ons het (min of baie), en dat ons in
druk of armoede vrede sal hê met dit wat God ons gee.
Daar is ’n geneigdheid by party mense om die hiernamaals heeltemal uit die
oog te verloor wanneer dit by ons beursie kom.
- Daarom sê die Here dat ons nie moet bymekaarmaak waar die mot en die
roes verteer nie.
- Dit beteken ook dat ons nie net die soort van goedere moet
bymekaarmaak wat kan oproes en waardeloos word nie.
- Ons moet veral met die oog op die hiernamaals ons geestelike
besittings uitbou.
Ons moenie dink dat die dood van Jesus Christus was sodat ons in die
eerste plek aardse rykdom sou besit nie.
- Sy oorwinning oor die dood sluit verseker in dat die Here ons tydens
ons aardse lewe ook materieel sal versorg.
- Maar sy oorwinning was veral dat ons die rykdom van ’n ewige lewe sal
ontvang.
- Daar sal ons elke oomblik in die volmaakte rykdom van God se
alomteenwoordigheid lewe.
- Dis ook waarom die Heilige Gees aan ons geskenk is – sodat Hy ons
van hierdie rykdom sal leer sodat ons nie ons oë en ons hande sal
vasslaan op tydelike dinge waarvan ander mense meer mag hê as ons
nie.
Kom ons lees Kategismus Sondag 42 saam.
Vraag 110: Wat verbied God in die agste
gebod?
Antwoord: God verbied nie slegs die
diefstal (a) en roof (b) wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as
diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se
besittings in die hande te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of ’n skyn
van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat,
goedere, (d), geld, deur woeker (e) of enige middel wat God verbied. Hy
verbied ook alle gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy
gawes (g).
(a) 1 Kor 6:10. (b) 1 Kor 5:10; Jes 33:1.
(c) Luk 3:14; 1 Tess 4:6. (d) Spr 11:1; 16:11; Eseg 45:9, 10; Deut 25:13.
(e) Ps 15:5; Luk 6:35. (f) 1 Kor 6:10. (g) Spr 23:20, 21;
21:20.
Vraag 111: Maar wat gebied God jou in
hierdie gebod?
Antwoord: Ek moet die belange van
my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil he
dat hy my moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat
ek die behoeftiges in hulle nood kan help (b).
(a) Matt 7:12. (b) Ef
4:28.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 119:26
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 22 Oktober 2006 (oggend)