Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm Psalm 107:1, 9
Gebed.
Psalm 41:2
Skriflesing: 1 Korintiërs
1; Lees ook Efesiërs 6:10 -
20 - wapenrusting
Teks: 2 Korintiërs
1:7
En ons
hoop vir julle is vas, omdat ons weet dat net soos julle
deelgenote is aan die lyding, so ook aan die troos.
Kan jy 'n oorwinnaar wees as jy nooit geveg het nie? Kan jy trots wees
op jou geloof as jy opstandig geraak het teen God en oorgegee het toe
jy in die noute was; of jou bande met God gebreek het uit verset teen
Hom?
Die duiwel het hierdie pad geloop en kyk waar vind hy sy einde.
- Dit is omdat
hy tot vandag toe nog steeds so 'n ontevrede en opstandige skepsel is
dat hy alles rondom hom verwoes.
- Dit is op
hierdie stadium vir hom baie belangrik dat hy mense en hulle lewens
moet verwoes, want daardeur probeer hy om die Here skade aan te doen.
In hierdie aanvalle van hom gebruik hy onder andere dinge soos siekte
en spanning. Ons moet nie dink dat die feit dat ons deur die
Her3e Jesus verlos is, beteken dat verlostes die smarte,
siekte en dood en al die swaarkry van die lewe gaan misloop nie.
Ons kyk na drie dinge:
- Is siekte nie dalk straf nie ?
- Wie bewerk siekte ?
- Die doel van siekte en lyding.
- Is siekte nie dalk straf nie ?
Daar is natuurlik gevalle waar siekte die straf van die Here oor mense
se sondes is. Ons het so 'n voorbeeld in Openbaring 2:22:
Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed,
en die wat met haar owerspel
bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer
nie. (Openbaring 2:22 AFR53)
Kyk, Ek gee haar aan 'n siekbed oor,
en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding ‑ as
hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. (83AV)
Hierdie
beeld wat die Here gebruik om die eindoordeel mee uit te beeld,
maak dit duidelik dat die Here mense wat in 'n bepaalde sonde volhard,
sal straf met siekte, maar dan sal hulle dit weet en hulle sal baie
goed verstaan waaroor dit gaan.
Die duiwel wil ons in hierdie toestand indwing waar die Here met ons
ontevrede raak oor ons sondes, maar hy weet dat ons teen hom sal
weerstand bied, want hy weet dat ons voorgesê word deur die
Heilige Gees om op die uitkyk te wees teen sy aanslae.
- Daarom probeer
hy om die bande tussen ons en God deur te sny.
- Die duiwel is
heeltemal onbeheersd en wreed in die manier waarop hy met ons te werk
gaan, want u moet onthou dat hy niks voel vir ons en ons lewens nie.
- Hy wou God se
troon hê en toe hy dit nie kon kry nie, het hy hom gerig op
totale verwoesting van alles wat aan die Here behoort.
Die Here waarsku ons dat die geveg teen die duiwel nie 'n maklike een
is nie. Daarom beveel die Here ons om die volle wapenrusting van God
aan te trek, sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel
(Efesiërs 6:11).
- U moet vir
geen oomblik dink dat die feit dat ons deur die Here Jesus verlos is,
beteken dat verlostes die smarte, siekte en dood en al die swaarkry van
die lewe gaan misloop nie.
- Die Here
waarsku juis dat ons die volle wapenrusting van God moet opneem, sodat
ons weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat ons die stryd
tot die einde toe gevoer het, nog op ons pos kan bly staan
(Efesiërs 6:13).
- Daar kom stryd
en ernstige siekte en uiteindelik die dood.
Dit is waar onder andere siekte in ons lewens inpas:
- Ons kan net na
ons dood in volmaaktheid opstaan nadat siekte ons verwoes het as ons
tydens ons lewe in die Naam van die Here Jesus daarteen gestry het.
Daarom skryf Paulus vir die Korintiërs dat hy weet dat hulle saam
deel het aan lyding.
- Maar die
Heilige Gees laat hom ook iets anders neerskryf: Dit is juis ons
deelname aan lyding wat dit moontlik maak dat ons aan die bemoediging
van die Here Jesus se opstanding kan deelneem.
- Die apostel
Petrus het dieselfde ervaring gehad. Hy skryf dat namate ons gemeenskap
het aan die lyde van Christus, ons moet bly wees, want dan sal ons ook
oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid (1 Petrus 4:13).
Hierdie boodskap word meer as een keer deur die Here herhaal. Hy
sê dit ook vir die kerke wat in die laaste dae sy wederkoms afwag:
Omdat jy die woord van my lydsaamheid
bewaar het, sal Ek jou ook bewaar
in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die
bewoners van die aarde op die proef te stel. (Openbaring 3:10
AFR53)
Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding
vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor
die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die
proef te stel (Openbaring 3:10 83AV).
- Wie bewerk siekte ?
Die Here is nie normaalweg die Bewerker van siekte nie. Hy is altyd 'n
God van liefde en van genade.
- Ons moet egter
onthou dat die Here na die sondeval vir Adam gesê het dat die
aarde vervloek is om sy ontwil omdat hy die hele mensdom wat uit hom
gebore sou word, in
sonde en ellende gedompel het.
- Hierdie vloek van die Here beteken ook
dat die duiwel van daardie oomblik af dinge soos siekte kon gebruik om
die mens te laat voel waartoe hy (die duiwel) in staat is.
Die duiwel is nie 'n koning met 'n heerlike koninkryk nie. Hy is net
tot die
negatiewe in staat. Daarom is die beskrywings van die hel almal
gekoppel aan siekte:
- Dit is 'n plek
wat swanger is van al die pesdampe wat daar is.
- Daar is 'n
geween en 'n gekners van die tande.
- Dit is 'n plek
waar die wurms mense verteer.
Wanneer ons siek word, moet ons dus
ook iets van God se openbaring
daarin ervaar, want in siekte en die manier waarop sommige siektes ons
liggame verwoes en afbreek, ervaar ons die geweld van die satan en van
sy koninkryk. Dit moet ons dus waarsku teen die duiwel en alles wat hy
doen.
Daarom het siekte en lyding 'n baie belangrike plek in die lewe en
perspektief van ons wat aan die Here glo. Dit laat ons verstaan wat die
Here Jesus bedoel toe Hy beloof het dat Hy ons in volmaaktheid sal laat
opstaan uit die dood. Dit teken vir ons die groot afstand wat Hy met
ons aflê om ons uit al die ellendes van siekte en dood te gaan
uithaal.
Dink aan 'n liggaam wat deur byvoorbeeld kanker aangeval en afgetakel
word, en waar die persoon uiteindelik sterf.
- Daardie selfde
persoon gaan met dieselfde liggaam deur die Here opgewek word uit die
graf.
- Terselfdertyd
gaan die Here die liggaam verander dat dit volmaak is en heerlikheid
uitstraal.
- Ons liggame en
siele word in hierdie oomblik ook weer met mekaar verenig.
- Ons blyplek
word dan ook verander, sodat ook dit 'n plek van volmaaktheid word.
Geen mens sou hierdie dinge verstaan het en terselfdertyd ook verstaan
het hoe groot die genade en die wonderwerk is wat die Here Jesus vir
ons doen nie, as ons nie eers afgebreek was en die diepste donkertes
van verwoesting gesien en aan ons eie lywe ervaar het nie.
- Die doel van
siekte en die dood is dus om die heerlikheid van die herskepping deur
die Here Jesus soveel helderder te laat skyn.
Ons is ook nie die eerste gemeente wat baie siekes het en waar mense
doodgaan en nou worstel ons daarmee nie. Dit was maar al die eeue so in
die kerke van die Here.
- Vir die
gemeente wat in Filippi was, het die Here deur Paulus se pen die
volgende laat weet: Ons kan die Here Jesus Christus net ken en die krag
van sy opstanding ondervind as ons deel het aan sy lyding. Ons moet
as't ware aan Hom gelyk word in sy dood (Filippense 3:10).
- Die Here
waarsku ons dat lyding en die aanvalle van die duiwel hand aan hand
gaan met mekaar. Alle mense ly nie ewe swaar en ewe veel nie, maar
lyding kom oor alle mense in hierdie wêreld.
Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet
nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde
soort lyding verduur (1Petrus 5:9).
- Die doel van siekte en lyding.
Die van ons wat siek is, en daarmee saam die wat om sulke siekbeddens
en sterfbeddens staan, moet by die lyding verbykyk na die ewigheid toe.
- Dit is in
sulke oomblikke nodig dat ons met die hulp van die Heilige Gees deur
die aardse lewe in die ewigheid inkyk en Jesus sien, met eer en
heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood.
- Ons moet dan
onthou wat die Bybel te sê het oor sy lyding, naamlik dat Hy 'n
kort tydjie minder gemaak is as die engele, sodat Hy deur die genade
van God vir almal sou sterwe.
- God, ter wille
van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie as sy
kinders tot heerlikheid lei.
- Daarom was dit
reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot
volmaaktheid sou bring (Hebreërs 2:9, 10).
Die Bybel sê: God het ons
Leidsman en Redder deur lyding heen tot volmaaktheid
gebring! Daarom kan dit nie met ons anders gedoen word nie.
- Ons moet Hom
deur sy lyding en sy dood volg om saam met Hom te kan opstaan in
heerlikheid.
- Hou vas aan u
geloof, want as ons siek is of as ons ly, is dit ons tot troos en
redding.
- Dit is om ons
te bemoedig en te versterk, sodat ons met geduld ons lyding kan verduur
(2 Korintiërs 1:6).
- Ons siekte en
lyding leer ons dikwels om die lewe te kan aanvaar. Ons moet ook maar
soos Jeremia uitroep: "Dit is my
lyding, dit sal ek moet dra."(Jeremia
10:19).
Ons moet dit ook altyd in gedagte hou dat die Here dit op ons harte
druk dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die
heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie
(Romeine 8:18).
- Die lewe steek
dus nie by ons huidige siekte of lyding vas nie.
- Dit gaan
daarby verby, en bereik hoogtes wat baie groter en heerliker is as wat
ons met ons beperkte verstand kan besef.
Ons moet net nie soos Asa ons geloof verloor en daarmee saam die Here
uit die oog verloor wanneer ons siek is nie.
- Die Bybel
vertel dat hy tydens sy siekte wel die dokters geraadpleeg het, maar
nie die Here nie.
- Natuurlik moet
ons dokter toe gaan wanneer ons siek is, en ons moet sy medisyne ook
drink, maar ons moet net onthou dat hulle instrumente van die Here is.
- Die
belangrikste Een na wie toe ons moet gaan wanneer ons siek is, is die
Here (2 Kronieke 16:12).
Per slot van sake genees mense en medisyne nie iemand wat siek is nie.
Die Here genees. Hy kan ons selfs genees wanneer dit vir mense lyk asof
dit onmoontlik is om iemand gesond te kry. Dink maar aan Psalm 41: 3
Die
HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek
verander U as hy krank is. (Psalms 41:3/4 AFR53)
Die
Here sal hom bystaan in sy siekte. As hy siek is, sal U hom genees.(Psalms 41:3 AFR83)
Dink aan die mense wat in die bad van Betesda in die water moes inval
wanneer die engel die water geroer het. Ons lees in Johannes 5:4 dat
die een wat dan die eerste ingegaan het ná die roering van die
water, gesond geword het, aan watter siekte hy ook al gely het.
Die Here maak nie altyd die mense wat siek is, gesond nie.
- Soms laat die
Here mense baie lank aan 'n bepaalde siekte ly.
- Ons lees in Johannes 5:5
van 'n sekere man wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het.
- Dit is 'n baie lang tyd om
siek te wees. Tog het die Here dit goed gedink dat dit so sou wees,
want dit was veral vir die wat dit gesien het, iets waaroor hulle
nagedink het.
- Daarom het Johannes hieroor
gedink en dit toe in sy evangelie neergeskryf.
Wanneer mense wat so lank gely het dan uiteindelik gesond word, word
die Here Jesus daardeur verheerlik. Daar is 'n plek waar die Here Jesus
dit self gesê het. Die Bybel vertel dit so:
Toe
Jesus dit hoor, het Hy gesê: Hierdie siekte sal nie op die dood
uitloop nie, maar op die openbaring
van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur
verheerlik kan word. (Johannes 11:4).
Dit onderstreep net weer een baie belangrike saak. As ons siek is, is
ons in die hande van die Here. Al wat ons moet doen, is om te bid en te
glo. Verder loop die Here met ons die pad soos Hy dit bepaal het.
Onthou altyd die woorde van Jakobus, die Here Jesus se broer:
As
hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here
sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word
(Jakobus 5:15).
Dit is waaroor dit gaan:
- Die kruisdood
se eindpunt met ons is nie dat ons tydens ons aardse lewe noodwendig
gesond sal wees en bly nie.
- Wanneer ons
siek was en gesond word, is dit 'n voorspel dat ons sondes ons deur die
bloed van die Here Jesus vergewe is, sodat ons in die ewige lewe
volmaak met God in sy ewige koninkryk kan woon.
- As ons volmaak in die Hiernamaals instap, dan verstaan ons
waarvan die Here Jesus ons bevry het en hoe geweldig groot sy
herskepping is. Dan kan ons hierdie lewe soos 'n lineaal gebruik
om die verskil te kan sien tussen die gebrokenheid hierdie kant van die
graf - teenoor die fantastiese heerlikheid wat die Here Jesus Christus
vir ons skep aan die anderkant van die graf.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 4:3, 4
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 21 November 2004 (aand).