Sing vooraf: Psalm 16:1
Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en
teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 118:1, 3.
Gebed.
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
-
Dank:
-
Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wȇreld, asook die beroep op die beloftes van God
-
Algemene bede:
-
Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 86:1.
Skriflesing: 2 Korintiërs 13
Teks: Kategismus Sondag
1. 2 Korintiërs 13:13
(12) Al die heiliges groet julle. (13) Die genade van die Here Jesus
Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal!
Amen. (2 Korintiërs 13:13-14 AFR53)
Watter mens lewe daar wat nie troos nodig het nie? Ons het baie keer onder verskillende
omstandighede troos nodig om ons te versterk:
- Soms staan ons by 'n graf waar ons iemand baie naby aan ons aan die aarde toevertrou in
die geloof dat hy/sy weer gaan opstaan.
- Ander kere is daar hartseer oor ons eie sondes en hartseer oor die blywende vuil merke
wat die duiwel en sy werke oor ons lewens gesleep het.
- Ander kere is daar angs oor ernstige siekte.
- Baie kere voel ons op die een of die ander manier bedreig.
Daar is een troos wat so groot is dat dit vir al hierdie dinge verligting gee. Toe u
gedoop is het God al hierdie troos aan u gegee:
- U behoort aan die Drie-Enige vergewende en herskeppende God.
- Hy is die alleensaligmakende God wat U onder alle omstandighede vertroos met wat u ookal
nodig het op enige gegewe oomblik.
Ons deel hierdie preek in drie dele. Ons gaan in elkeen van die verskillende dele kyk na
die manier hoe elke een van die drie Persone van ons Enige God ons tydens ons lewe en in ons
dood versterk en troos.
1. Die Seun het ons verlos.
2. Die Vader het ons uitverkies en bewaar ons.
3. Die Heilige Gees maak ons heilig.
1. Die Seun het ons verlos.
Elke mens wat eerlik met homself en met die Here is, weet dat hy uit homself en uit sy natuur
baie makliker by die duiwel aansluiting kry as met die Here.
- Tog verstoot die Here ons nie. Daar staan geskryf dat God sy eie Seun vir ons in die dood
oorgegee het sodat ons deur hierdie daad al God se genade kan kry
Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal
oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? (Romeine
8:32 AFR53)
Want so lief het God die wȇreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,
sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hȇ.
(Johannes 3:16 AFR53)
- Op hierdie manier het ons kinders van God geword.
Wat is die inhoud daarvan dat ons kinders van God is?
- Jesus Christus die Here het ons liggame en ons siele van die doderyk en van die mag van
die Satan af verlos en vrygemaak.
- Terselfdertyd beteken dit dat Hy ons met God die Vader versoen het.
Nou dat die Here se toorn oor al ons sondes gestraf is, is die verhouding heeltemal anders
tussen ons en Hom.
- Na die sondeval was ons doodgewoon sondaars wat die beeld van God in hulle geskend het,
en wat hulle aan die sondes oorgegee het.
- Nou is daar as gevolg van die versoening deur die bloed van Jesus Christus so 'n teer
verhouding tussen God en ons dat Hy ons sy kinders noem.
- Natuurlik is ons nie bloedkinders van die Here soos wat ons die spesifieke verwantskap
tussen ons onderling op die aarde ken nie. Maar dit is tog waar dat ons die Here se eiendom
is - sy werklike eiendom in tyd en ewigheid.
Die Here Jesus het nog meer met ons gedoen as om ons net kinders van God te maak.
- Jesus het ons van die Satan verlos en Hy het ons ook van onsself verlos.
- Dit is van dinge soos ons willoosheid teen die sonde en ons skuldgevoelens wanneer ons
sonde gedoen het - dit is nou te sȇ as ons eers die punt
verstaan wat ware bekering is! En as ons bereid is om, ongeag wat ookal, tot ware
bekering te kom!
- Die Here Jesus het ons ook vrygemaak van die geweld van die sonde (want alle sondes het
in homself die geweld van die hel) en die daarmee gepaardgaande oorheersing deur die duiwel.
- Ons is verder ook vrygespreek van die skuld waarmee ons as gevolg van al hierdie dinge
voor God staan.
Hierdie verlossing deur die Here Jesus is nie gedeeltelik asof ons ook iets moet bydra
nie. Dit is ook nie voorwaardelik nie. Hy het dit uit vrye wil gedoen in die volle sterkte van
sy almag.
Ons sing dit baie duidelik in Psalm 116:2:
Om my was bande en strikke van die dood
en angste van die hel het my laat bewe
ek was benoud, vol droefheid was my lewe;
maar ek het die Heer gesmeek in al my nood...
Solank as wat ons in hierdie bedeling lewe, sal hierdie verlossing deur ons Here Jesus ons
nodigste troos en hoop bly, want ons is nog nie in die volmaaktheid nie.
- In hierdie lewe is daar baie bande wat ons aan pyn wil vasmaak, soos byvoorbeeld
verleiding in die sonde in - en die oneindige ellendes en wroeging wat dit vir
die res van ons lewens in ons veroorsaak!
- Of smarte wanneer die mense wat die naaste aan ons is doodgaan.
- Baie keer maak ons diep teleurstelling deur wanneer ons verontreg word.
As dit al was wat ons kon oorkom, sou ons dit dalk nog kon hanteer, maar die probleem kom
daarby dat al hoe sterker mens se geloof word, al hoe meer giftige vyande ons bykry.
- Hulle tart ons met dinge soos byvoorbeeld dwaalleer,
- of hulle benadeel ons vooruitgang en promosie by ons werk.
Daarom is dit uiters nodig dat elke gelowige daagliks sal besef dat hy/sy in ons Here
Jesus se beskerming 'n toekoms het wat heeltemal bo hierdie aardse geploeter uitstyg tot in die
volmaakte heerlikheid van God in.
2. Om die troos nog meer volledig te maak, gee ons aandag aan nog 'n saak wat
hiermee saamgaan, naamlik: Die Vader het ons uitverkies en bewaar ons.
Die hele verlossing wat ons in die Here Jesus Christus het, is inderwaarheid bewaring deur die
Vader ook. Ons lees in Efesiërs 1:4 die volgende:
- Die Here het ons voor die skepping al uitverkies.
- Hy het toe al besluit dat ons in Jesus Christus heilig gemaak sal word sodat ons
vlekkeloos voor Hom kan verskyn in die oordeelsdag.
Jesus self sȇ dat Hy en die Vader een is, en dat wie Hom gesien het, die Vader ook gesien
het.
- Daarom is dit so logies dat die Vader se bewaring oor ons in Jesus Christus se versoening
vasgemaak sal wees.
- Ons dink byvoorbeeld aan Jesus se gebed toe Hy gebid het dat van die wat die Vader Hom
gegee het, nie een verlore gegaan het nie.
Ons is dus vir die Here nie net gewone skepsele nie.
- Ons is vir Hom so kosbaar dat Hy sy raadsplan so opstel dat sy Seun 'n vervloekte dood
moet sterf om ons te red.
- Die effek daarvan is dat ons elke dag kan reken op die Here se bewaring.
- As ons swaarmoedig word oor enige iets wat verkeerd loop of nie na wense gaan nie, kan
ons maar weet dat die Here en sy beskerming nog steeds oor ons is.
Dit is juis waarom ons gelowiges weet dat daar nie iets soos toeval is dat dinge maar
gebeur en per ongeluk saamloop nie.
- Elke sekonde van my lewe is sorgvuldig deur my hemelse Vader bepaal.
- So deeglik dat daar nie eers een haar van my kop kan afval sonder dat die Vader daaroor
besluit het nie.
- Ons is dus verseker daarvan dat ons nie aan die noodlot oorgegee is nie - ons
bestaan binne die grense van God se raadsbeplanning.
Dit is nogal nodig dat ons dit moet weet, want nie een van ons is net sterk nie. Ons is
almal uitgelewer aan inherente swakhede op bepaalde punte.
- Almal van ons kan in ons geloof verval as ons nie bewaar bly nie. Nie een van ons se
insigte is so skerp dat ons nȇrens 'n fout maak nie.
- Daarom het almal van ons se lewens modderspore van sonde wat daaroor stap.
Daarom is dit belangrik dat ons weet hoe die Vader ons bewaar:
- Hy bewaar ons fisies sodat ons liggaamlik en materieel gesond en heel kan wees.
- Maar Hy bewaar ons natuurlik ook geestelik.
3. Daarom kyk ons ten slotte na die volgende:Die Heilige Gees maak ons
heilig.
Die Heilige Gees werk in die onsigbare wȇreld. Hy werk in ons hart.
- Hy werk met dinge soos ons gewete en ons verstand en ons insig.
- Hy laat ons verstaan wat die Here wil hȇ en wat nie. Hy lei ons om met wysheid op te
tree.
Wat het dit met troos te doen? Die troos is dat die Heilige Gees ons lewe heilig
maak.
- Hy lei ons nie net om regverdiger te lewe en minder verkeerde dinge te doen nie, Hy lei
ons ook so dat ons innerlik van die sonde afskei.
- Hy lei ons om wedergebore te word en om daagliks 'n lewe van wedergeboorte te lewe.
- Kom ek sȇ dit 'n bietjie anders: Hy verander ons hart en ons gewete so dat ons handewerk
ook meer bekwaam is om die koninkryk van God te bou.
Maar dan moet ons bereid wees om Hom te volg, anders is ons geloof net
lippetaal en so leeg dat ons nooit in die binnekant van die hemel gaan wees nie!
Wat gebeur met 'n mens wat elke dag lewe met die vaste besef van hierdie troos dat die
Drie-Enige God hom beskerm en bewaar?
- So 'n mens raak rustig.
- Sy lewe gee ook geloofsvrugte, want hy lewe met sy hart en verstand verlig deur die Here
self.
- Nog anders gestel: Die Heilige Gees vestig die raadsplan van die Vader en die versoening
deur Jesus Christus in die mense vir wie dit bedoel is.
- Luister na die Here Jesus se eie woorde:
En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle
te bly tot in ewigheid: (Johannes 14:16 AFR53)
...maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy
sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesȇ het.
(Johannes 14:26 AFR53)
Wat doen God die Heilige Gees met en vir ons?
- Deur sy getuienis, sy krag en sy inwoning in ons maak die Heilige Gees ons bereid en
gewillig om aanhoudend teen die sonde te stry - maar dit vereis van ons 'n volle
oorgawe en bereidheid om God te wil dien en gehoorsaam!
- As ons in sonde geval het, laat die Heilige Gees ons weer opstaan uit die kwaad.
- Hy maak ons gewillig om ons onbekwaamhede te beveg en vir die Here te lewe.
- Dit staan mos in Romeine 8:15, 16 dat die Heilige Gees ons lei om te bid en om te weet
dat ons God se kinders is (vgl. ook 1 Korintiërs 2:12).
- Die Heilige Gees lei ons so dat ons deur alle teëspoede, armoede, siekte, smaad onreg of
wat ookal oor ons mag kom, moed bly hou en God van harte bly liefhȇ en dien - om
God Drie-Enig te dien, en om getroos te wees.
Kom ons lees Kategismus Sondag 1 saam.
Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie
aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met
sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel
verlos (e). Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar
van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom
verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig
en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a)Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14:
(d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh
8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt
10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef
1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan
lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge (a): Ten eerste, hoe groot my sonde en
ellende is (b); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (c) en
ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (d).
(a)Matt 11:28-30; Ef 5:8. (b) Joh 9:41; Matt 9:12; Rom
3:10;1 Joh 1:9;10. (c) Joh 17:3; Hand 4:12 10:43. (d) Ef 5:10; Ps
50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15:
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 119:48, 53.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige
Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 10 Julie 2005 (aand)