Sing vooraf: Psalm 89:11
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 25:7
Geloofsbelydenis: Nicea
Na die wet bely ons voor God hoop op
verlossing met Ps. 71:9.
Wet
Psalm 71:9
Gebed
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
Dank:
-
God:
-
Algemene
bede:
-
Verligting van die
Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 81:1, 12
Skriflesing: 2
Korintiërs 3
Teks:
2 Korintiërs 3:5, 6
Nie dat ons uit onsself bekwaam is om
iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God,wat
ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ’n nuwe testament, nie van die
letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees
maak lewend. (2 Korintiërs 3:5,6 AFR1953)
Om ’n verbond met die Here te hê, is om baie intieme omgang met die Here te
hê.
- Hierdie omgang en saamlewe met die Here is niks anders nie as ’n
loutere vreugde. Vir die wat dit reg verstaan en doen, is dit die
grootste genot.
- Ons moet omgang met die Here geniet soos wat ons wyn geniet wanneer
ons wyn drink (instelling van die Nagmaal).
Ons gee vanoggend in hierdie preek aandag aan die volgende sake:
1. Waar kom die verbond
vandaan?
2. My verbondslewe moet vertoon
word.
1. Waar kom die verbond
vandaan?
Ons lees in die Bybel baie van die verbond. Ons lees byvoorbeeld dat die
Here vir Noag sê dat Hy met hom ’n verbond sal sluit. Die verbond was baie
intiem, want die Here sê vir hom reguit dat die Here die verbond oprig
tussen Homself en Noag persoonlik en sy seuns met hulle almal se
vrouens.
Maar met jou sal Ek my verbond oprig; jy
moet in die ark gaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou
seuns saam met jou. (Genesis 6:18 AFR1953)
- Nadat die watervloed verby is, het die Here weer na Noag toe gegaan
en die verbond met hom opgerig.
- In hierdie verbond val sekere dinge ons sterk op: Die Here herhaal al
die dinge wat Hy vir Adam gesê het:
- Hulle moet vrugbaar wees en die aarde vul.
- Hulle moet oor die diere heers.
- Hulle moet in ’n baie noue gemeenskap met die Here lewe.
- As bewys van die Here se trou en sy gemeenskap met die mens, gee die
Here vir die geslagte na Noag die reënboog as ’n teken (Genesis 9:9–17).
Daarna lees ons weer van die verbond.
- Die keer rig die Here die verbond met Abraham op.
- Wat baie opvallend is, is dat dieselfde dinge wat die Here vir
Adam en Noag gesê het, weer gesê word.
- Daar word nog steeds gepraat van mense wat moet vermeerder – God
gaan Abraham se nasate so baie maak soos die sterre aan die hemel en
die sand wat op die seestrande lê.
- Daar word ook weer gepraat van ’n teken: Nie weer ’n reënboog wat
buite die mens is nie – hierdie keer ’n teken wat die mens aan sy lyf
moet ronddra as bewys van sy verbintenis met die Here, naamlik die
besnydenis.
Baie belangrik is
dat die Here vir hom sê dat God vir hom en sy nageslagte ’n God sal wees en
hulle sal vir hom ’n volk wees. Die Here het ook baie duidelik gesê dat
hierdie verbond net sal geld solank as wat die nasate die verbond
onderhou.
Dit beteken dat daar ’n baie noue wisselwerking tussen hulle en die Here
moet wees.
- Om hulle daaraan te herinner dat hulle vir die Here en uit die Here
lewe, moes hulle besny word, sodat hierdie teken hulle altyd weer in
hulle omgang met die Here kon opvars (Genesis 15:18; Genesis 17:2 -21;
Genesis 31:44).
- Hierdie omgang met die Here raak letterlik alles in die lewe.
- Dit maak selfs voorsiening vir jou blyplek.
- Die Here het Abraham belowe dat Hy Kanaän vir sy nasate sou gee –
wat die Here toe ook gedoen het.
Later jare het die nasate van Abraham in Egipte beland. Daar was hulle
swaar verdruk. In hulle pyn en ellendes het hulle sterk na die Here geroep
en gebid dat Hy hulle moet help. Die Here het hulle verhoor. Hy het Moses
gebruik om hulle te verlos.
Maar wat baie belangrik is, is die rede wat die Here gee waarom Hy hulle
verhoor het: Hy het hulle verhoor omdat Hy ’n verbond met hulle gehad
het (Exodus 2:24; Exodus 6:3-5).
Die Here is ’n seënende en ’n reddende God vir die wat met Hom omgaan – met
ander woorde die wat gemeenskap met Hom onderhou. Dit is die mense:
- wat daarin glo dat die verbond ’n krag van God is; en
- wat verstaan wat die verbond van die Here met hulle beteken; en
- wat van gemeenskap met die Here ’n saak maak.
Die Here herhaal hierdie selfde
beginsels toe Hy die Wet op Horeb gegee het. Hy het presies dieselfde
opdrag en belofte gegee: Ek sal vir julle
’n God wees en julle sal my volk wees. En daarby: Julle moet my verbond onderhou (Eksodus
19:5, 6).
Om die verbond met die Here te onderhou beteken nie dat ons net die hele
dag op ons knieë moet staan en bid nie.
- Die verbond oorspan ons volle lewe. Dit raak tot dinge soos ons
blyplek. Toe die Here die verbond met Abraham gesluit het, het die Here
as deel van die verbond belowe dat Hy Kanaän as ’n vaderland vir die
nasate sal gee.
- Ons lees in Eksodus 23:32 dat die verbond wat die Here met ons het,
in ons privaatlewens insny, want die verbond bepaal selfs met wie ek
ooreenkomste mag aangaan en met wie nie.
Dit is nie die geval dat die Here ons met die verbond wil boelie
nie.
- Die feit is dat ons onsself al klaar in die sonde ingeboelie het, en
dat die Here ons met die nuwe verbond in Christus daaruit verlos het.
- Daarom kan Hy die reëls vir die verlossing maak, en ek moet dit volg
of verlore gaan.
- Die Here gee sy redes waarom ons nie met verkeerde mense mag omgaan
nie.
- Hy sê dat hierdie mense ons gaan beïnvloed en dan gaan ons die
regte spoor verloor (Eksodus 34:15, 37, 38).
- Die Here het so ’n voorbeeld laat opteken in die Bybel: Bileam
het vir Balak raad gegee dat hy die vrouens met sy volk moet laat
vriende maak met die Israeliete, dan sal die Here self vir die
Israeliete kwaad word en hulle doodmaak. Dit het toe so gebeur
(Deuteronomium 31:15, 16, 20; Rigters 2:1, 2; Openbaring 2:14).
2. My verbondslewe moet vertoon
word.
Dit is waarom Paulus vir die Korintiërgemeente skryf dat hulle ’n
aanbevelingsbrief is.
- ’n Aanbevelingsbrief is dieselfde as ’n attestaat.
- Die gemeente se lewe moet kan getuig van hulle roeping in die
verbond.
Die saak raak ons gemeente ook.
- Ons moet ook ’n brief wees.
- Die brief oor ons is ook nie met gewone ink geskryf nie – dit is ’n
geestelike brief wat deur die Heilige Gees geskryf is.
Dit is eintlik baie appellerend gestel, want die Korintiërs het
dadelik verstaan dat die Heilige Gees wat
in hulle werk, nie ’n middel is nie, maar die werkende Oorsaak van hulle
geloof.
- Dit wat die Heilige Gees in ’n mens se hart skryf, is blywend en
lewend, want Hy is God.
- Die Heilige Gees skryf die verbond, en alles wat daarmee saamhang, in
ons harte en verstande in.
Daarom moet sy skryfwerk ’n bepaalde heerlikheid in ons lewens
vertoon.
- Die bekwaamheid wat elke kerk en elke lidmaat moet hê, word direk
deur die Here veroorsaak.
- Hy skryf dat ons vertroue deur Christus kom, en dat ons bekwaamheid
uit God is.
Elke gelowige se bekwaamheid moet uitkom in die manier waarop hy/sy
die Nuwe Testament of die nuwe verbond in sy lewe hanteer.
- Paulus verwys na drie gedeeltes in die Ou Testament waar die Here
belowe het dat Hy ’n nuwe verbond/testament aan die volk sal gee.
- Al drie kere het die Here gesê dat hy die harte van klip sal verwyder
en dat Hy aan die gelowiges ’n hart van vlees sal gee.
Die hart van klip sien op ons
sondige verhardheid, maar die woorde wat die Here gekies het, wys daarop
dat dit ook gaan oor die Tien Gebooie – die twee kliptafels (Jeremia
31:33; Esegiël 11:19; Esegiël 36:26). Dit
is eintlik vanselfsprekend, want die verbond en die Tien Gebooie kan nie
van mekaar af losgemaak word nie.
Hierdie tydperk van die nuwe verbond het nou aangebreek in die versoening
deur Jesus Christus – en vanselfsprekend dan ook in die nawerking van God
die Heilige Gees. Dit staan met spesifieke verwysing na Esegiël 31:31 in
Hebreërs 8:10.
Die Here stel die eerste verbond
en die nuwe verbond teenoor
mekaar.
- Hy beklemtoon veral die heerlikheid van die Nuwe-Testamentiese
bedeling.
- Die Here Jesus Christus is die hoogste bron van bekwaamheid.
- Ons moet dit besef in sake soos ons geloofsbelewing en die prediking
in die kerk van die Here.
Ons moet besef dat die Heilige Gees van die lewende God die
geloofslewe van elke gelowige in stand hou.
- Dit beteken dat die wet van die Here in ons harte moet lewe.
- Ons moet nie met die verbond van die Here maak asof dit is soos die
twee kliptafels wat Moses by die volk aangedra het, en dit daar laat
vassteek nie.
Daarmee word die verskil tussen die eerste verbond en die nuwe verbond
gestel.
- Ons moet die gemeenskap met die Here Jesus voluit ervaar.
- Ons moet sy nabyheid en sy seëninge oor ons belewe.
Ons ken die nuwe verbond al uit die ou tyd uit toe Jeremia dit
voorspel het (Jeremia 31:31).
- Uit Jeremia leer ons dat die nuwe verbond nie allerhande uitwendige
seremonies vereis nie, omdat Jesus Christus van die uitwendige doen van
allerhande dinge af na die binnekant van die gelowige se lewe toe gaan.
In 1 Korintiërs 11:25 gebruik die Here Jesus ook die term
“nuwe verbond”. Dit verwys nou na
Jesus se woorde toe Hy die Nagmaal ingestel het. Jesus het gesê:
Net so ook die beker ná die ete, met die
woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so
dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. (1 Korintiërs
11:25 AFR1953)
Die Nagmaal dui dus ook aan dat die nuwe verbond met Christus begin
het.
- Die ou bedeling het sy hoogtepunt gehad in die verbond wat die Here
in Abraham en al die gelowige geslagte gesluit het.
- Dit het later sy neerslag gehad in die Tien Gebooie wat deur die Here
se eie vinger geskryf is.
Ons lewe nie meer onder daardie verbond nie. Ons lewe onder die nuwe
verbond wat die Here met ons in Christus opgerig het.
- Die nuwe verbond vind sy hoogtepunt in ons omgang met God die Heilige
Gees – deur Jesus Christus, natuurlik.
- Ons dink hier aan Pinksterdag toe die Heilige Gees in die midde van
die gemeente kom woon het.
- Daarmee het ons bedienaars geword van hierdie beter verbond – soos
wat dit in ons teksvers beskryf word.
Ons het soveel meer heerlikheid as die mense van die eerste verbond,
want ons is beklee met die heerlikheid van die Heilige Gees.
- Hoeveel meer moet ons dan nie na die Heilige Gees luister en in
gemeenskap met Hom lewe nie, want Hy laat die gelowiges begryp hoe die
verbondsgemeenskap van die Here in ons lewe werklikheid word.
- Om voortdurend met Hom in ’n biddende en gehoorsame gemeenskap te
wees, is inderdaad verbondsgemeenskap.
- So kry ons gemeenskap met die bloed van Christus as ons deur die
Heilige Gees se leiding as oorwinnaars oor die sonde lewe.
Die Heilige Gees laat ons verstaan hoe ons deur Jesus Christus toegang
tot die hemel kry.
- Dit laat ons die heerlikheid van God se inwoning en heerlikheid
beleef.
- Dit is waarom Paulus dit in die gedeelte wat ons gelees het ’n
nuwe testament noem.
- Dis ’n nuwe bedeling waarin die verheerliking van die gelowiges deur
die soendood van Jesus die hoofklem dra.
Nou moet ons as ’n Nuwe-Testamentiese gemeente vir onsself duidelik
uitmaak waar ons met hierdie saak staan.
- Omdat die Here se verbond in ons moet lewe, moet ons hierdie vermoë
om met die Here te kan omgaan ook op ons kinders oordra.
- Dit is wat ons belowe wanneer ons ons kinders laat doop. Ons moet
hulle leer hoe om die nabyheid van die Here te ken, en vir God se Heilige
Gees te kan luister.
Volgens hierdie gedeelte sal die
ongelowige die verbond van die Here sien as iets geweldig neerdrukkends.
Dit sal vir hom ’n klomp letters wees wat hom wil versmoor. Daarom sal hy
ook altyd daarvan wil loskom.
- Sulke mense sal bly vassteek by die uiterlike letter van die verbond
van die Here en sodoende sal die werking van die Heilige Gees in hulle
ontbreek.
- Daarom aanbid hulle die Here ook nie lewend nie.
- Uiteindelik is dit so dat die ware Christenskap by hulle ontbreek.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 2-4:2 (33:2)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 4 Maart 2007 (oggend)