Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 9:1, 5.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 25:2
Gebed.
Psalm 91:7
Skriflesing: 2
Korintiërs 5
Teks: Kategismus
Sondag 23; 2
Korinthiërs 5: 20, 21
Ons
tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan.
Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.
Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak,
sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. (2
Korintiërs
5:20-21 AFR53)
Laat julle met God versoen! Dit is baie ernstige
woorde. Besef u dat dit toetsbaar is of ons met God
versoen is of nie?
- Mense kan aan iemand se lewe sien of hy hierdie woorde van die
Here
nakom of nie, want die mens wat skynheilig is, se werke klop nie met
dit wat hy voorgee dat hy bely nie.
- Die diepte van ons geloof kan gesien word in jou lewensstyl.
Kom ons kyk in hierdie preek na ons geloof, soos wat die uit die
volgende twee hoeke belig word:
1. Geloof en lewensstyl
2. Geloof en vryspraak
1. Geloof en lewensstyl
Omdat ons geloof aan ons lewens toetsbaar is, moet elke mens wat die
Here bely aan hierdie saak aandag gee.
- Is ons geloof en ons lewens op een lyn met mekaar? Ons kan
nie oor ons geloof gaan praat, as ons nie self glo en dit wat ons glo,
persoonlik uitleef nie.
- Ons moet sommer dadelik sê dat geloof persoonlik gerig is,
m.a.w. ek en jy moet bely dat ek of jy by alles wat
ons bely, betrokke
is, anders is ons geloof heeltemal leeg.
Geloof gaan inderdaad hand aan hand met bekering.
- Daarom moet iemand wat glo, 'n saak uitmaak of hy/sy regtig met
die
sonde breek.
- Wil ons werklik anders wees, en beter word, en op hierdie manier
'n
gesant van Jesus Christus wees, of wil ons in verkeerde dinge aanhou
lewe, en die Naam van Jesus Christus net as 'n soort beskermingsmiddel
gebruik?
Hier staan in die gedeelte wat ons saam gelees het dat ons as gesante
van Christus moet optree.
- Dit beteken dat ons iets vir ander mense moet gaan sê ‑
m.a.w. ons moet met ons woorde en met ons hele lewe getuienis lewer oor
iets van Christus. Die iets is ons geloof.
- Wat moet ons oorvertel van ons en Christus waaraan ons so
onwrikbaar
glo? Anders gesê: wat glo ek van
Christus? En wat glo ek van myself?
Ons belydenis en ons lewe het 'n bepaalde rigting.
- Ons lewe nie verdwaal en in angs, omdat ons nie weet wat vorentoe
van
ons gaan word nie.
- 2 Korintiërs 5: 15 maak die uitspraak dat ons nie meer vir
onsself lewe nie maar vir Jesus wat vir ons gesterf en opgestaan het.
- Ons almal het in die oordeel voor God gestaan, vanweë ons
sondes, maar nou kan ons bely dat Jesus vir ons gesterf het.
- Ons lewe nou om vir Christus te leef i.p.v. om te sterf.
Maar, hoe gee ons uitdrukking daaraan? Met 'n strak
gesig? Emosieloos? Belangeloos asof dit mos maar
een van die dinge is?
- Ons oë en ons hart moet saampraat, m.a.w. daar moet die
blydskap wat die Heilige Gees werk in ons stem en in ons geloof wees.
- Ons belydenis van ons verlossing moet wees soos die stukkie wat
in
Psalm 28:7 staan:
Die
HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart
vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart, en sal ek Hom
loof met my gesang.
Dawid se belydenis word nie gesê nie, dit word
uitgejubel. Dit is asof die waarheid daarvan te groot is vir
hom! Is dit met ons ook so?
2. Geloof en vryspraak.
In die deel wat ons saam gelees het, staan daar in vers 17 dat iemand
wat in Christus is, 'n nuwe skepsel is, omdat die ou dinge verbygegaan
het, en alles nuut geword het.
- Dit beteken, dat ons sondes ook verbygaan in Jesus Christus se
verdienste, omdat Hy ons heilig maak.
- Daarom beteken dit vanselfsprekend dat ons ook nie deur die Here
veroordeel gaan word as ons in die oordeel kom nie, omdat ons die
vryspraak van Jesus Christus in ons guns het.
Ons bely dieselfde saak, net in ander woorde:
- Ons sê ons word nie deur God veroordeel nie, ons word deur
Hom vrygespreek.
- Ons staan nie voor God as verdoemde sondaars nie ‑ ons
staan
voor hom as mense wat almal sy kinders is.
- Ons staan daar met die kindskap wat ons verwerf het deur die
testament
van ons Here Jesus Christus. Onverdiend ‑ maar ryk in genade.
Kyk net weer na ons teksvers, want dis hoe alles gebeur het:
- Jesus Christus het nooit enige sonde gedoen nie. Maar God
het
Hom sonde gemaak.
- Hy moes doodeenvoudig vir ons sondes gaan sterf. Daarby
moes
dit nog 'n dood wees wat deur God vervloek is.
Toe is God se ontevredenheid stil gemaak, want al die oneer en
onheerlikheid wat ons Hom aangedoen het met ons sondes is gestraf.
- Toe het God ons weer regverdig verklaar. Ons word dus
geregverdig voor God neergesit deur Jesus Christus se dood.
- Dit gaan oor hoe ons hierdie verlossing beleef! Kyk hoe
begin
Psalm 146:
Halleluja!
Loof die HERE, o my siel! Ek wil die HERE prys
solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek nog
daar is. (Psalms 146:1-2 AFR53)
U sien vir die ware gelowige is hierdie belydenis 'n juigkreet wat elke
keer die eerste van alles oor sy lippe bars.
Kom ons kyk nou kortweg na alles wat ons as Christus se getuies bely:
- Ons is verlos, en het dus die vooruitsig dat ons nooit in die hel
of in
God se oordeel gaan wees nie!
- Ek gaan in die oordeel voor God staan, asof ek nooit enige sondes
gedoen het nie.
- Ek gaan van al my sondes regverdig verklaar word, en in die plek
van my
sondes die ewige lewe ontvang.
- God skenk ons die ewige lewe deur Jesus Christus die Here!
Die Heilige Gees woon in my, en Hy lei my, en leer my om te glo en te
bid!
Wat maak dit nou saak, dat ons nou weet ons is verlos? Ons
bid julle om Christus wil: Laat julle met God
versoen. Want Hy het Hom, wat geen sonde geken het nie, sonde
vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in
hom.
Kom ons lees Kategismus Sondag 23 saam, waar al hierdie dinge bely
word.
Vraag 59: Maar wat baat dit jou
nou dat jy dit alles glo?
Antwoord: Dat ek in
Christus voor God geregverdig en 'n
erfgenaam van die ewige lewe is (a).
(a)Hab 2:4; Rom 1:17; Joh
3:36.
Vraag 60: Hoe is jy regverdig
voor God?
Antwoord: Slegs deur 'n
ware geloof in Jesus Christus
(a); so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die
gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b)
en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d)
aan my sonder enige verdienste van my kant (e), uit louter genade (f)
die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid van Christus
skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of
gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat
Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek
deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart (j) aanneem.
(a)Rom 3:21, 22, 24; 5:1,
2; Gal 2:16; Ef
2:8, 9; Fil 3:9. (b) Rom 3:9. (c) Rom
7:23. (d) Rom 4:4; 2 Kor 5:19. (e) Tit
3:5; Deut 9:6; Eseg 36:22. (f) Rom
3:24; Ef 2:8. (g) 1 Joh 2:2. (h) 1 Joh
2:1. (i) 2 Kor 5:21. (j) Rom 3:22; Joh
3:18.
]
Vraag 61: Waarom sê
jy dat jy slegs deur die geloof
regverdig is?
Antwoord: Nie dat ek op
grond van die waarde van my geloof
vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening,
geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is
(a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof
aanneem en my eie maak nie (b).
(a)1 Kor 1:30; 2:2. (b) 1
Joh 5:10.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 33: 1, 3.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr.
M.J. du Plessis
Gereformeerde
Kerk Bellville
Datum:
21 November 2004 (oggend).