Sing vooraf: Psalm 19:1; 66:1;
Skrifberyming 1-1:6; 18-1:4, 5 (9).
Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en
teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 33:1, 2
Gebed
Psalm 8:1, 4, 5
Skriflesing:
2 Petrus 1:1-15
Teks:
2 Petrus 1:10; Kategismus Sondag 32
Daarom,
broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en
verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit
struikel nie. (2 Petrus 1:10 AFR53)
Daar is drie dinge in elke mens se lewe wat onlosmaaklik saamgaan.
Hulle is:
- Ellende
- Ons sal
net die Here wil dien en smag na ’n godsalige lewe as ons glo
en verstaan dat ons elke dag sonde doen en in groot ellendes is as
gevolg van al ons sondes – en wat die werklike gevolge van
sondes is.
- Verlossing
- Ons sal
net godsalig kan lewe omdat die Here Jesus ons van ons ellendes vrymaak.
- Verder
kan dit ook net gebeur as ons Hom aanvaar en bely as ons God en
Verlosser.
- ’n Godsalige lewe sal dan alleen gebore word uit diepe
dankbaarheid vir ons verlossing in ons Here Jesus Christus.
- Dankbaarheid.
- Dankbaarheid is weer slegs moontlik as ons besef hoe ryk God se
genade
is, want ons is diep in die ellendes.
Dit is hoe dit gebeur dat ’n mens wat sy ellendes diep
beleef, goeie werke doen.
- Hy probeer nie om die hemel daarmee te verdien nie. Christus het
dit
klaar vir hom verdien.
- Hy probeer net dankbaar wees. Daarom doen Hy goeie werke. Daarom
probeer hy om God se gebooie so nougeset as moontlik te gehoorsaam en
uit te leef.
- Ons doen dus goeie werke ter wille van die bloed van die Here
Jesus
Christus wat vergiet is.
Dink net waarvan het Christus ons verlos. Dit is nou baie maklik om te
sê: Hy het ons van al ons sondes verlos. Maar kom ons dink
weer:
- Dit is nie net sommer van sondes verlos nie.
- Ons is absoluut verwerplik voor God. Ons kruip in die sondes, en
as
enigeen van ons kry wat ons verdien, behoort ons met reg in die hel te
beland op grond van die dinge wat ons aanvang.
Daar is nie een van ons wat hoegenaamd werd is om in die hemel
toegelaat te word nie.
. . .
soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een
nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God
soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is
niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. (Romeine
3:10-12
AFR53)
Waarom sal God ons in die hemel toelaat?
- Net Hy weet dit, want Hy het besluit om ons lief te hê.
- Daarom laat Hy sy Seun vir ons sondes sterf, sodat ons as ons die
dag
voor God se regterstoel staan, vrygespreek kan word.
Waarom het Christus dan vir ons kom sterf? Daar is drie redes.
- Die eerste is God se liefde vir ons. Ons kan dit nie verklaar
nie. God
het net in sy alwysheid besluit dat Hy ons liefhet, en daarom sterf
Jesus vir ons.
- Die tweede rede is omdat God ons wil behou. Die Here wil ons vir
ewig
bewaar. Hy wil nie hê dat die Satan ons uiteindelik sal besit
nie, al verdien ons dit ook.
- Die derde rede vir ons verlossing is omdat God wil hê dat
ons
Hom moet prys.
- Ons word
verlos sodat ons gehoorsaam kan wees. Dus: om uit dankbaarheid te lewe
tot eer van God.
- Dink ook
net hoe het Jesus ons verlos. Hy het arm geword om ons ryk te maak.
- Die Vors
wat mag het oor die lewe en die dood, kom sterf om ons te red.
- God wat
in die hemel woon, daal neer om hierdie vernedering deur te gaan. Dit
is ondenkbaar, want nie een van ons sou so iets doen nie.
Ons hou nie eers daarvan dat iemand ons slegsê nie, en Jesus
het self ’n vloek geword, sodat Hy ons kon heilig!
- Ons behoort elke oomblik te jubel van blydskap, soos wat die
slawe in
die ou tyd gejubel het as hulle vrygelaat is. Want ons was slawe van
die Satan, en is vrygekoop deur Jesus Christus!
- Dit kan tog nie anders nie, daar moet iets roer in ons. Iewers
moet
daar ’n groot dankbaarheid bly vassteek, sodat dit nooit weer
kan wegraak nie. En dan moet ons mos ’n dankbaarheidslewe lei.
Ons gaan ’n bietjie dieper in op hierdie saak:
- Christus het nie net iets VIR ons gedoen nie; Hy het ook iets IN
ons
gedoen.
- Hy het ons ’n nuwe hart en ’n nuwe lewe gegee
– ’n nuwe lewe in Christus!
- Die Heilige Gees van God woon in ons, en werk in ons.
- Hy
verander ons gesindheid.
- Hy bou
ons geloof.
- Hy praat
ons aan as ons oortree.
- Dit
beteken nou maar net dat God die Heilige Gees ons leer om dankbaar te
lewe, en om berou te hê as ons sondig.
- Die Gees van God vernuut ons tot die ewebeeld van God.
- Hy skenk
aan ons die insig en geregtigheid om die werk van Christus te kan
beleef, en prakties toe te pas.
- Dit
beteken dat ons geestelik ’n heeltemal nuwe gestalte kry.
- Die Heilige Gees verander ons dat ons nou nie meer lyk soos mense
wat
aan die Satan behoort en op pad is na die hel toe nie. Ons lyk en leef
soos hemelinge:
- Mense wat
met vreugde en met blydskap lewe.
- Mense wat
God ken, en daarom in hulle daaglikse lewe dinge doen wat by God pas.
Dit is ’n nuwe lewe en
’n nuwe dankbaarheid.
Vanselfsprekend wil ons Hemelse Vader alleen in rein harte bly, en
onbesproke gelowiges as eiendom hê.
Teen hierdie agtergrond weet ons mos verseker dat as dit van ons
afhang, óns liewer nie voor die regterstoel van die Here sou
wou staan nie.
- Maar dit beteken dit nie dat ons ons hele lewe lank moet twyfel
en
wonder wat van ons gaan word nie.
- ’n Bekeerde mens het die vaste sekerheid dat hy in die
koninkryk van God kan ingaan op sterkte van Christus se versoening.
- Dit is ’n vaste kennis: Christus het klaar vir my die
hemelpoorte oopgemaak. Hy het my binnekant die hemel toegesluit.
Niemand en niks kan my uit die verlossing wat bewerk is uithaal nie!
Dit is geloofsekerheid.
Maar dan moet jou lewe hierdie geloofsekerheid bewys!
- Enige mens wat sê hy is uitverkies en met God versoen in
Jesus Christus, maar hy lewe soos ’n engel van die Satan, het
baie rede tot kommer.
- Hy moet hom bekeer. Want sy lewe bewys dat hy nie ’n
verloste
is nie.
- ’n Verloste mens sê nie net dat hy verlos is nie.
- Hy kan
nie genoeg doen om God te loof en te dank vir die feit dat hy uit die
mag van die Satan en die hel bevry is nie.
- Daarom
doen hy goeie werke. Sy hele lewe is ’n jubellied van
dankbaarheid.
Daarom het goeie werke vir ’n gelowige ’n totaal
ander betekenis as vir ’n valse gelowige of ongelowige.
- Die waarde wat die Roomse Kerk en sekere charismatiese kerke aan
goeie
werke heg, naamlik dat dit is om jou saligheid te verdien, verval nou
heeltemal.
- Dankbaarheid staan juis lynreg teenoor verdienste!
- Ons is dan nou dankbaar omdat ons van Christus verlossing en die
ewige
lewe ontvang. Ons is dankbaar omdat ons uit die hel uitgeruk is. Daarom
goeie werke!
Goeie werke is nie ’n middel waardeur ons nou ons saligheid
verdien of kan verdien nie, maar dit neem nie alle verantwoordelikheid
van ons af weg nie.
- Dankbaarheid is ook ’n verantwoordelikheid! Dankbaarheid is
nie ’n soort van ’n etiket wat jy net kan gebruik
as dit jou pas of wanneer jy wil nie.
- Dankbaarheid is ’n plig waarmee jy iets moet bewys!
- In ons alledaagse lewe bewys ’n mooi lewe dat ons
’n goeie opvoeding het. In ons godsdiens bewys dit dat ons
verlostes is, en dat ons ware kinders van God is.
Ons moet waak teen die volgende redenasie: Ons kan nie roem op ons
swakheid in dié sin dat ons ons daarop beroep vir ons sondes
nie.
- Met ander woorde ons kan nie sê dat ons buitendien nie
opgewasse is teen die Satan en sy aanslae nie, en daarom sondig ons nou
maar nie! Ons kan ons nie met so ’n redenasie beroep op ons
verlossing in Jesus Christus nie!
- Die verlossing in Christus plaas juis ’n groter
verantwoordelikheid op ons om goeie werke te doen.
- Baie eenvoudig gestel kan ons dan sê dat ’n persoon
wat in sonde voortploeter, nie ’n uitverkorene is nie. Hy
dien die duiwel met sy laksheid om teen die kwaad te stry. En onteer
terselfdertyd die Here Jesus Christus.
Ons moet liewer soos Christus alle wêreldse plesier prysgee,
en ons bepaal by die lewenswyse wat deur God as volmaak en goed beskou
word.
- Ons moet met ons goeie werke ons verlossing en dankbaarheid aan
God
’n getuienis teenoor die mense rondom ons laat uitgaan.
- Ons moet dit op só ’n manier doen dat ons rigting
aan die lewe gee! Dat ons as ’t ware op elke terrein waar ons
beweeg, geloofsleiding neem.
- Gee moed
aan die wat verswak raak dat hulle weer kan hoop.
Laat jou goeie werke ’n roepstem wees wat almal rondom jou
lok en roep na Christus toe. Dan stig jou lewe almal; bemoedig al die
gelowiges, en beskaam terselfdertyd die ongelowiges. Dan is jy
’n trots vir Christus en ’n trots vir God se kerk.
Kom ons lees Kategismus Sondag 32 saam.
Vraag 86: Waarom moet ons nog goeie
werke doen, terwyl ons tog sonder
enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons
ellende verlos is?
Antwoord: Omdat Christus ons,
nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook
deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele
lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons
geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons
geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons
naaste ook vir Christus kan wen (d).
(a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9;
1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet
2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17;
Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom
14:19.
Vraag 87: Kan die mense dan nie salig
word wat in hulle goddelose,
ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Want
die Skrif sê dat geen onkuise,
afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower
en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).
(a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6; 1 Joh
3:14.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 96:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr
MJ du Plessis
Gereformeerde
Kerk Bellville
Datum:
23 Januarie 2005 (aand)