Sing vooraf:
Psalm 100:1-4 (494)
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 36:3 (179)
Gebed
Psalm 16:1 (60)
Skriflesing:
2 Petrus 1
Teks:
2 Petrus 1:19
En ons het die profetiese woord
wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp
wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die
môrester opgaan in julle harte; (2 Petrus 1:19
AFR53)
Hierdie is ’n oproep om tot bekering te kom.
Dit is ’n oproep om die Here Jesus as God en Verlosser aan te
neem.
Let op dat Petrus in die aanhef van sy brief al sê dat Hy wil
preek (skryf) oor ons God en Saligmaker, Jesus Christus. Onmiddellik
daarna skryf hy dat ons ook
kennis moet hê van God en Jesus ons Here.
- Hierdie hoofstuk handel daaroor dat ons God alleen suiwer
kan aanbid as ons dit doen deur Jesus Christus die Here.
- Daarom moet ons verstaan Wie Jesus Christus is, en watter
genadevoorregte Hy aan ons gee.
Hierdie oproep is vandag sekerlik die belangrikste wat dit nog was: Gee
ag op die profetiese woord! Veral in die tye van geloofs- en
beginselverwarring wat ons deesdae wêreldwyd beleef.
- Daar is net een plek waar die Lig vir ons kan skyn, en dit
is in die genade van Jesus Christus.
- Dit is waarom Petrus skryf dat dit is soos die
môrester wat in ons harte skyn as ons tot bekering kom en
Jesus Christus ken as die enigste God en Verlosser.
Ons kyk vanaand na die volgende dinge:
1.
Kom tot bekering en deel in die genadevoorregte wat die Here Jesus
Christus gee.
2.
Hoe werk ons geloof in ons lewens?
3.
Geloof en volharding in die beloftes van die Bybel.
1.
Kom tot bekering en deel in die genadevoorregte wat die Here Jesus
Christus gee.
Die apostel Petrus begin onmiddellik na die aanhef van sy brief om ons
te wys watter groot genadevoorregte ons van die Here af ontvang.
- Die rede waarom hy dit doen, is omdat hy wil aantoon dat ons
’n baie standvastige en godvrugtige geloofslewe kan
hê, as dit rus op hierdie genadevoorregte.
- Die teenoorgestelde is ook waar: As ons nie besef wat die
genadevoorregte alles inhou en beteken nie, mis ons die genade van die
Here, want dan sal dit vanselfsprekend ook nie in ons lewens voorkom
nie.
- God het in sy onbeperkte almag vir ons alle middele geskenk wat ons
nodig het om Hom met ’n vrugbare lewe te kan dien.
- Letterlik
beteken die Griekse woord – wat in die OAV vertaal word met
Godvrugtig – vroomheid.
Al die middele word in hoofsaak saamgevat met die een woord: geloof.
- Geloof is mos ’n samevoeging van vertroue en kennis.
- Daarom
word die kennisgedeelte dadelik baie skerp aangesny.
- Hier is
onmiddellik ’n appèl op ons: Hoe goed is ons
Bybelkennis?
- Die bedoeling is dat die gelowiges moet sien dat die Here
- die
middele reeds vir ons gegee het,
- sodat ons
kan weet
- dat ons
al klaar gered is
- en reeds
lewend gemaak is deur Jesus.
- Ons moet nou net hierdie dinge vir onsself toeëien en aanwend.
Die oomblik wanneer ons dit doen, verheerlik ons God met die styl
waarmee ons lewe.
Die Bybel leer hier dat ons kennis moet hê van God wat ons
roep.
- Dit beteken dat ons ook kennis moet hê van die volle
verlossingsraad van ons Here soos Hy dit werklikheid gemaak het in
Jesus Christus.
- Want God het juis sy verlossingswerk in Jesus geopenbaar.
- Dit het
gebeur toe almal gesien het hoe Jesus gebore is in Nasaret, opgegroei,
gepreek, wonders gedoen het.
- Dit het
gebeur toe die Here Jesus Christus gesterf en opgestaan het uit die
dood.
- Dis ook
die betekenis daarvan toe die dissipels Hom sien wegvaar het.
Dit het alles betrekking op ons, want God het daarmee sy almag bewys in
ons redding, en ook in die feit dat Hy ons deur sy Gees lewend maak in
ons geloof.
- Daarby moet ons natuurlik ook al Jesus se wonderwerke onthou wat Hy
gedoen het toe Hy op die aarde was.
- Petrus
onthou dit, en juis daarom verwys hy in vers 17 na die gebeurtenis op
die berg toe die stem met hulle gepraat het.
- ’n Verdere openbaring van God se heerlikheid is die feit dat
die brief ons laat begryp dat dit net ’n almagtige God kan
wees wat ’n mens uit sy ellendige sondetoestand sal kan
uitkry.
Dit is waarom die Here baie duidelik aantoon dat ons eie werk en
waardigheid uitgesluit word as reddingsmiddele, al is ons geroepenes,
want ons ontvang al hierdie dinge as ’n geskenk van God af.
Verlossing is loutere genadewerking van God Drie-Enig.
- Die beloftes van God is nie net woorde nie – dit is dade wat
redding en seën oor ons bewerk (reddende en seënende
werkinge).
- Dit gee ons deel aan die Goddelike natuur: reinheid, sondeloosheid,
heiligheid en heerlikheid.
Dink hier aan wat die Bybel openbaar in Filippense 3:
wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te
word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook
alles aan Homself kan onderwerp. (Filippense 3:21 AFR53)
Ook in Matteus 13:43:
Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle
Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. (Matteus 13:43 AFR53)
- Dit plaas dadelik die eis en verpligting op ons om in ons hele lewe te
vertoon dat ons hierdie dinge in ons het. Wie van ons onthou dit as ons
sonde doen?
Hier word nie gepraat van die omskakeling van die mens in God in nie.
Dit is onmoontlik.
- Wat hier bedoel word, is dat daar in elkeen van ons ’n
weggroeiproses moet wees om die teenoorgestelde te wees as sonde en
onreinheid.
- Ons kry die genade om ons ontluistering en gebreekte krag teen die
sonde te oorwin, sodat die hartseer gevolge van die sonde hokgeslaan
kan word.
Die punt is net dat die Here ons reeds so verander het omdat ons die
grootste en kosbare beloftes van Jesus Christus ontvang het. Ons lewe
kan al meer en meer beantwoord aan die eise wat die heiligheid van
Jesus Christus aan ons stel.
2. Hoe werk ons geloof in ons lewens?
Die Here maak dit baie duidelik (v. 5-7) dat hierdie grootste en
kosbare beloftes wat Jesus vir ons gegee het, nie dinge moet wees wat
op papier staan nie.
- Ons moet dit ons eie maak en ons lewenstyl daarvolgens inrig.
- Die Bybel gee ’n lysie van sake wat moet aandag kry. U moet
net oplet dat ons nie hierdie dinge moet hê en moet doen om
tot bekering te kom nie. Ons moet dit vertoon omdat ons reeds bekeerdes
is.
Die lysie wat die Heilige Gees gee van dinge wat verander moet word, is
die volgende:
- Eerste noem die Bybel geloof:
- Dit is
wat die Here Jesus Christus vir ons gee en wat Hy ook deur die Heilige
Gees in ons vestig.
- Daarna noem die Bybel deug:
- Dit is
krag en voortreflikheid.
- Dit is
die heilige dapperheid en standvastigheid wat ons aan die dag moet
lê sodat ons nie rondgegooi word deur allerhande dwalinge en
verleidinge wat met ons paaie kruis nie.
Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want
dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel
nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie.
(Hebreërs 13:9 AFR53)
. . . sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger
en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die
bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling
te bring; (Efesiërs 4:14 AFR53)
- Verder op die lysie verskyn kennis:
- Dit is om
alles te weet wat ons moet weet van God self, en van sy raad, en waar
onsself in sy verlossingsplan inpas.
- Kennis is
noodsaaklik sodat ons kragaanwending (inwerkingstelling van ons geloof)
nie in verspilling ontaard nie.
- Met die
regte kennis kan ons die regte plek en die regte tyd op die regte
manier benut om die Here Jesus Christus te dien en te verheerlik.
- Elkeen van die dinge wat die Bybel in hierdie lysie noem, is belangrik,
want ’n bekeerde mens is ’n mens met selfbeheersing:
- Ons moet
onsself kan beteuel.
- Ons moet
ons kan terughou van verkeerde dinge.
- Ons moet
met beheersdheid ons kan verset teen die sonde en om deel te neem aan
die verloëning van Christus.
- Maar ons
moet ook beheersd kan deelneem aan die dinge wat deel is van die
goddelike natuur – ware kennis, geregtigheid en heiligheid.
Dan is daar dieper dinge wat in ons teenwoordig moet wees.
- Die Bybel noem Godsvrug: Dit is ware vroomheid.
- Dit is
eerbied en vrees vir die Here.
- Vroomheid
beteken ook dat ons alle vorme van eiewaan moet aflê, sodat
ons onsself neerlê voor die troon en die wil van die Here.
- Dit
beteken liefde vir die Here en volharding in aanbidding volgens sy
Woord.
- Die neerslag wat die Godsvrug in ons het, moet dan sigbaar word in die
manier waarop ons broederliefde bewys:
- Dit is
toegeneëntheid vir ander mense.
- Om goed
te doen aan almal, nie net aan medegelowiges nie
Vergelyk hiervoor Bybelgedeeltes soos:
Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die
duisternis tot nou toe. (1 Johannes 2:9 AFR53)
As iemand sê: Ek het God lief – en sy broeder haat,
is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie
liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder
moet liefhê. (1 Johannes 4:20-21 AFR53)
- Dit moet ’n liefde wees wat ooreenkom met die liefde van God
wat Hy het vir die wat aan Hom behoort.
Let net daarop dat die geloof die wortel is waaruit al hierdie deugde
groei.
- Hierdie opsomming gee ook nie alle Christelike deugde nie.
- As ons gaan kyk na Galasiërs 5:22 en 2 Korintiërs 6:6
sal u sien dat daar heelwat meer Christelike deugde is as net hierdie
paar.
Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid,
vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
(Galasiërs 5:22 AFR53)
in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die
Heilige Gees, in ongeveinsde liefde; (2 Korintiërs 6:6 AFR53)
Wanneer ons so gegroei het dat al hierdie dinge by ons aanwesig is, dan
vind daar verdieping in ons geloof plaas.
- Daarom kry ons die opdrag om baie ywerig te wees in ons geloofsake
sodat ons vir die Here mooi vrugte kan dra.
- Diegene wat die dinge nie doen nie,
- se geloof
is nie op die kerf nie,
- en dien
die Drie-Enige God nie reg nie.
Ons praat so baie van die uitverkiesing, en hier praat die Here ook
daarvan. Die feit dat ons deur die Here geroep en uitverkies is, kom
inderdaad uit in die wyse waarop ons hierdie geloofsake alles beoefen.
- Dit is waarom vers 11 sê dat hierdie pad die pad is na die
troon van die Here toe.
- Dit is terselfdertyd ’n pad waarop die genade van die Here
altyd oor ons oopgesluit bly.
3. Geloof en volharding in die beloftes van die
Bybel.
Dan kom die apostel Petrus met sy motivering. Hy was self een van die
mense wat al hierdie openbaringe van Christus se heerlikheid en
goddelikheid met sy eie oë gesien het.
- Hulle het nie hulle evangelie opgeklits uit allerhande stories en
fabels nie.
- Hy sê byvoorbeeld hier dat hy self op die berg was toe die
stem met hulle gepraat het. Ons lees daarvan in Matteus 17.
Terwyl hy nog spreek, oordek ’n helderligte wolk hulle
meteens en daar sê ’n stem uit die wolk: Dit is my
geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom!
(Matteus 17:5 AFR53)
- Die Heilige Gees het die Bybelskrywers hierdie dinge alles in hulle
evangelies laat opskryf.
Dit is waarom hier staan dat die evangelie baie vas is.
- Die dinge wat in die evangelie staan, is elke keer bevestig deur mense
wat dit as ooggetuies gesien het.
- Net so is die profete in die Ou Testament se getuienis ook vas omdat
dit deur dieselfde God gegee is.
Daarom word ons (as deel van die Nuwe-Testamentiese kerk van die Here)
baie sterk aangespreek om te bly by die evangelie van God.
- Die evangelie is ’n lig. Dit skyn ’n pad oop sodat
die gelowige kan sien hoe hy uit ’n rowwe en verwarde
wêreld uit in die koninkryk van God kan inbeweeg.
- Die apostel wys daarop dat die oordeelsdag aan die kom is. Hy verwys
daarna as die dag wat breek.
- As daardie dag aanbreek en ons geloof wys nie dat die verlossing van
die Here Jesus Christus ten volle deel is van ons lewe nie, het ons die
volle moeilikheid van die hel op ons.
Die apostel gebruik die uitdrukking blink môrester om twee
gebeurtenisse uit te beeld:
- Eerste word die voortdurende bekering wat in die mens se hart gebeur
onder die leiding van die Heilige Gees hiermee uitgebeeld.
- Verder word die koms van Jesus Christus self uitgebeeld met die blink
môrester wat opkom.
Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die
gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die
blink môrester. (Openbaring 22:16 AFR53)
Saamgevat sou ons kon sê dat die Woord van die Here hier
’n dringende beroep op ons doen om vas te klou aan die
evangelie en alles wat daarin belowe word – solank as wat ons
wag dat die daglig van die koninkryk van die hemele moet kom.
En dan kom die belangrike saak: Hierdie evangelie sal net ’n
lig wees as ons biddend daarmee omgaan.
- Ons kan die Bybel net verstaan as die Heilige Gees ons verstand oopmaak.
- Die Heilige Gees laat ons die Woord reg verstaan, want anders kan die
mens wat die Bybel lees, enige verdwaalde leer in die Skrif indra.
- Die Heilige Gees het in die verlede deur mense gepraat, en Hy het hulle
ook bygestaan, sodat die profesieë te boek gestel kon word.
Daarom is dit vanselfsprekend dat hierdie profesieë deur
niemand anders verklaar kan word nie, as net deur die Heilige Gees self.
Hoofstuk 2:1 stel dit baie duidelik wat die toestand gaan wees wanneer
ons nie hierdie werkmetode met die Bybel volg nie.
- Daar staan dat daar al valse leraars was, en dat daar weer sal wees.
- En hierdie mense dink verderflike ketterye uit – en die
motivering daarvoor is dat daar nie reg gewerk word met die Woord van
die Here nie.
Broeders en susters, die punt wat die Bybel hier maak, is dat ons op
geen manier ons geloof in Jesus Christus met iets anders kan versoen
nie.
- Ons mag nie ons geloof in die Bybel as die Woord van die Here prysgee
nie.
- En al staan daar dinge in die Bybel wat ons nie dadelik verstaan nie,
of dalk glad nie verstaan nie, moenie jou vertroue in die waarheid van
die Bybel verloor nie.
- As ons biddend aanhou studeer deur die Bybel, sal God die Heilige Gees
self mettertyd die inhoud aan ons openbaar.
Glo in Jesus Christus, en dien die Drie-Enige God met u geloof.
Kom ons oefen ons almal daarin om elke dag tot bekering te kom.
Kom ons leef in die geloof, en wend ons geloof ook aan as ’n
middel om ons kerk en ons medegelowiges te laat groei na Christus toe.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 66:1 (320)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: Nabetragting 28
Mei 2006 (aand)