Sing vooraf: Psalm 9:5, 12; Psalm 19:5; Psalm 34:7, 8

Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en teenoor God te verklaar:

Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.

Lofpsalm 33:1

Gebed
Ons dank U, Here, dat ons die troos het van u heilige evangelie en dat u Woord dit daagliks aan ons leer. Ons dank U ook vir die versterking van u Heilige Gees wat ons in hierdie hoop op verlossing onderskraag.

Ons dank U ook vir die voorreg om weer hier bymekaar te wees rondom u sakrament van die Heilige Nagmaal. Ons dank U dat ons as ’n kerk U weer mag loof en prys. Here, ons gebed is dat U hierdie gemeente van U waardig sal maak aan u heiligheid.

Sterk ons in ons geloof en help ons om u eer te soek en te vind. Wees met almal wat nie in al die geloofsvoorregte deel soos ons nie: hulle wat verdruk word ter wille van hulle geloof. Hulle wat elke dag honger deurbring. Betoon ook u genade aan elkeen wat in spanning en druk is. U alleen kan blywende oplossings verskaf aan dit wat kwel. Mag sulkes hulle geloof behou en bo alles die beloftes van u evangelie belewe.

Seën ons in ons daaglikse arbeid. Laat ons die vreugde ervaar uit u hand dat ons werk ryklik geseën word. Mag ons ook die insig ontvang om in ons daaglikse arbeid u koninkryk te bou sodat u eer ook deur ons dagtaak verkondig word. Ons bid ook veral vir ons geestelike lewe. Here, so dikwels kan ons onsself in ons onverantwoordelikheid ken – hoeveel te meer dan nie U nie. So dikwels is ons voorneme om U met reg te dien, so goed, maar elke keer dan neem die kwaad ons aan die hand. Ons smeek van U vergewing vir hierdie sondes van ons. As U ons nie hierin genade bewys nie, Here, dan het ons geen hoop op verlossing nie. Oordeel ons tog in die genade van die Here Jesus Christus, en in sy soenverdienste.

Help ons ook sodat ons positief lewe ten opsigte van ons kerklike lewe. Soveel van ons se geloofsmeelewing laat soveel te wense oor. Ons bely dit in alle eerlikheid, maar juis daarom pleit ons ook vir hulle. Here, U het nog altyd eerste liefgehad, en eers die redding van die sondaar gesoek. Bekeer hulle ook, eerder as om hulle met u oordeel te besoek. Om Christus ontwil.
Amen.

Psalm 130:2

Skriflesing:  2 Petrus 2
Teks:            2 Petrus 2:7

. . . en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense; (2 Petrus 2:7 AFR53)

Ons lees dikwels iets in die Bybel wat aanvanklik regtig nie vir ons reg lyk nie. Soos hier. En dan is dit ook meestal wanneer daar verwys word na die Ou Testament op ’n ander manier as wat ons eerste indrukke van die saak is.
So kry ons Abraham waar hy gewillig in die geloof op pad is na die land wat die Here hom sal aanwys. En saam met hom gaan Lot.
MAAR hy is ook die een wat heeltemal breek met die gewoontes van sy volk.
Later in die geskiedenis leer ons Lot ken as volwasse man. Hy woon in Sodom.
Abraham hoor van die saak en hy maak uit sy veewagters ’n leër bymekaar en val die agterhoede van die vyandelike leër aan:
En Lot gaan woon werklik weer in Sodom!
Lot wil nie vir die Here luister nie! Die Bybel stel dit so treffend: Lot het bly talm.
Petrus sien die ooreenkoms tussen Lot en Noag raak:
Ons het vandag al die bewyse van Sodom en Gomorra se vernietiging.
Teen hierdie agtergrond tref dit ons dat die Bybel so breedvoerig uitwei oor Lot se regverdigheid. Veral dat daar staan dat hy sy regverdige siel gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense.
Dan sien ons Lot heeltemal anders.
Maar dit neem nie die feit weg dat Lot sekere dinge verkeerd gedoen het nie. Foute waaruit ons ’n geloofsvoorbeeld moet neem.
Dit is nie reg om soos Lot hom net te vererg oor die sonde van sy stad nie. Hy was erg ontevrede met hulle sondes.
Lot het hom magteloos gekwel oor die sonde van die stad, maar hy het nie daarmee gebreek nie. Daarom het hy geen vrede geken nie en was daar altyd so ’n gebrek aan blydskap in sy lewe.

Dit baat ons niks om ons te bekommer oor die sondes van ons stad en ons breek nie met hierdie dinge nie – in Lot se geval: trek nie daaruit weg nie.
Kyk net watter skade het Lot se geduld met die sonde hom berokken!
Maar God se raad het ook ruim plek vir genade!
Elkeen van ons pas presies in hierdie man se skoene!
Dan die troos. Dit beteken nie dat ek daardeur bestempel word as ’n verlorene nie.
Dit is die betekenis van die Here Jesus Christus se kruisdood in hierdie saak.
Maar dan moet ons net onthou dat die kruisverdienste van ons Here Jesus ons met meer verantwoordelikheid belas as wat Lot gehad het.
Laat ons na hierdie diep selfondersoek en met hierdie waaragtige voorneme om regverdig te wees in die Naam van ons Verlosser Jesus Christus ons Here volgende week aan sy Nagmaaltafel kom aansit.
Amen.

Slotgebed

Onse hemelse Vader, heilig u Naam onder ons daarin dat ons u wil uitvoer en aan al u gebooie gehoorsaam is. Laat u koninkryk ook kom deur ons gehoorsaamheid en diens aan u majesteit. Versorg ons met daaglikse voedsel en kleding. En vergewe ons ons sondes, en leer ons ook om ons naaste hulle oortredinge teenoor ons te vergewe. Om Christus ontwil.
Amen.

Slotpsalm 46:1

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Voorbereiding 20 Februarie 2005 (aand)