Sing vooraf: Psalm 19:4, 5
Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en
teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 89:1
Gebed
Psalm 1:1
Skriflesing: 2 Petrus 2
Teks
2 Petrus 2:4-22; Kategismus Sondag 2
Een van die grondliggendste dinge wat ons reg van die begin af uit die Bybel leer, is dat die
mens uit homself ’n ellendeling is.
- Dis nie iets waarvan mense altyd baie hou as hulle dit hoor nie.
- Dit raak vir ons tyd toenemend onaanvaarbaar om te wil beweer dat ’n mens buite die Here
Jesus Christus om ’n totale en ellendige verloorder is.
- Van die begin van die mens se geskiedenis af was daar maar altyd mense (selfs sogenaamde
gelowiges!) wat hierdie feit verwerp het.
In die gedeelte waaruit ons gelees het, word daar vermeld van sekere engele wat vir ewig
in ellende is.
- Dis die groep engele wat saam met die duiwel teen die Here in opstand gekom het.
- Hierdie engele weet dat daar vir hulle geen verlossing moontlik is nie.
- Hulle weet uit ervaring hoe dit is om in die hel buite die koninkryk van God te lewe.
Ons is in ’n toestand wat baie soos hulle s’n is, maar gelukkig ook baie anders.
- Ons is ook in ’n toestand van ellende. Hulle veroorsaak dit.
- Satan het gekom en die mens van God af verlei.
- Maar die verskil kom daarin dat ons verlos is, en hulle kan níe gered word
nie.
Die feit van ons verlossing maak egter nie ons toestand minder ernstig nie.
- Daarom is dit so uiters noodsaaklik dat ons moet besef wat ons werklike toestand is.
- Alleen wanneer ons deeglik bewus is van die moeilikhede waarin ons verkeer, sal ons ook
behoorlike dankbaarheid kan betoon wanneer ons uit die verlorenheid van die hel uitgehaal
word.
Ons is almal deeglik bewus daarvan dat dit die Wet van God is wat ons hierdie diepgaande
kennis van ons sondes en ellendes leer.
- Waar kom die Wet vandaan?
- En watter reg het die Wet om aan ons voor te skryf wat van ’n gelowige vereis word, en
wat hom verbied word?
- Is verwerping van die Wet nie dalk juis die rede waarom so baie kerke in ons tyd glad nie
meer die Wet voorlees wanneer hulle die Here aanbid nie?
Die antwoord hierop is dat die Tien Gebooie God self is wat praat. Hy praat nie net
nie:
- Hy kondig af.
- Hy proklameer sy reëls.
Daarom dra die Wet gesag.
- Die Wet se gesag kom van God af, omdat die Wet sy oorsprong by die Here het.
- Die Wet stel vir ons die wil van die Here.
-
- Daarom is die Wet ook onveranderlik – God is onveranderlik.
- Al tien die gebooie sal net so bly tot met die wederkoms van die Here.
Dikwels beskou ons die Wet as onredelik, maar ons moet onthou dat daar sekere voorskrifte
was waarvolgens die Here die mens geskape het in die Paradys.
- Die Wet van die Here is maar net ’n onderstreping van die dinge waaraan die mens moet
voldoen kragtens die reëls waarvoor hy geskape is.
- As ons boer, moet ons boerdery aan sekere vereistes voldoen, en van die dinge wat nie aan
hierdie vereistes voldoen nie, word ontslae geraak. Net so werk die reël van God se reg.
Dis presies wat die werk van die Wet is.
- God het mense gemaak wat in staat was om presies volgens die voorskrifte te lewe wat in
die Tien Gebooie vervat is.
- Daarom was daar nie aan die begin ’n Tien Gebooie nie – die mens was goed genoeg om aan
al die vereistes te voldoen.
Maar mettertyd het die agteruitgang gekom soos wat die sonde al dieper in die skepping en
die mens deurgewerk het.
- Daarom kom die Tien Gebooie.
- Maar die Tien Gebooie het ook al ’n voorloper gehad in die verbond.
-
- Toe God die verbond gesluit het met Abraham, het God onderneem om ’n God vir hom te
wees en vir sy nageslagte solank as wat hulle sy volk is.
- Die eis was duidelik: Solank hulle dus aan hulle skeppingsvereistes voldoen het!
Daarna kom Sinaï. Die Tien Gebooie word gegee: Presies op die voorwaardes van die
verbond.
- Dit was ’n eensydige ooreenkoms. Die Here het al die voorwaardes gestel, en die mens was
die tweede party in die kontrak.
- Die mens was nie in ’n posisie om toestemming vir die Wet en sy voorwaardes te gee nie,
want kragtens die feit dat hy deur God geskape is, is hy gebind aan al die eise wat God stel.
- Almal – letterlik alle mense – word dus ingesluit onder die Wet.
-
- Dit blyk ook baie duidelik uit Romeine 2 waar selfs die heidene onder die Wet is, al
het hulle nie die Wet nie.
Dit is ook nie so dat ons Nuwe-Testamentiese Christene van die wet ontslae is nie, want
Christus het die Wet nooit afgeskaf nie.
- Ons is nog altyd gebind deur die eise van die Wet – al word dit word vandag nogal in
sekere teologiese kringe aangetref dat mense sê dat ons nou in die bedeling van die genade
lewe en nie meer in die bedeling van die Wet nie.
- So ’n stelling is natuurlik onwaar, want Christus het self gesê:
Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek
het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. (Matteus 5:17 AFR53)
- In die gelykenis van Lasarus en die ryk man, sê Jesus ook dat die mense die Wet en die
profete het om na te luister as hulle die saligheid wil beërwe (Lukas 16:29).
Ons is nooit sonder die Wet van die Here nie.
- Ons moet die Wet onder alle omstandighede onthou en daaraan gehoorsaam wees, juis omdat
die Here altyddeur wil hê dat ons nie eiewillig moet lewe nie, maar aan sy lewenseise moet
voldoen.
- Die kwessie van eie wettigheid verval dan ook. Ons kan geen eie wette ontwikkel wat los
staan van die beginsels van God se Wet nie.
- Verder is dit ook so dat die Wet van die Here nooit verjaar nie. Met ander woorde dit
gebeur nie dat daar sekere van die wette van die Tien Gebooie is wat mettertyd, of onder
sekere omstandighede, kan verouder nie.
- Daar is ook nie ’n situasie wat net vir sekere wette geld nie.
- Die wette van die Here se koninkryk is ook nie kultuur of volksgebonde nie – die Here het
nie ’n stel gebooie opgestel wat van volk tot volk, of van land tot land verskil nie. Die
beginsels van God se koninkryk en van sy skepping bly konstant dieselfde.
Die gesag van die Wet is verder ook gegrond in die heiligheid van die Wet.
- As een van die wette as onheilig aangedui kon word, sou hierdie hele wetstruktuur van die
Tien Gebooie verval.
- Maar dit is so dat die heiligheid van God regdeur geopenbaar word in die Tien Gebooie.
Deur die Wet van die Here is Hy altyddeur by ons.
- Met sy goddelike reg beplan Hy ons lewe vir ons goed.
- Dit is ook waarom dit verkeerd is as ons ons verset teen die Wet.
-
- Hierdie verkeerde ding kom ons oor omdat dit baie keer vir ons voel asof die Wet ons
vryheid van ons af wegneem.
- Maar dis juis die sonde in ons wat ons uit verset laat voel dat die Here ons vryheid
beperk. Dit was maar hoe die duiwel destyds ook gedink het toe hy in sonde geval het!
Die Wet beskerm juis my vryheid. As ek die Wet oortree, kom ek in ’n geregsposisie voor
God.
- Dan stel ek my bloot aan vervolging.
- Dan het ek my vryheid verloor.
- Dan is ek aan bande gelê, want die hel is soos die walle van die graf rondom my. Daaruit
kan ek nie kom nie.
- Terwyl ek die vryheid van die hemel het wanneer ek die Wet gehoorsaam.
Die eis van die Wet is liefde. Liefde vir God en liefde vir ons naaste. Dit is in Romeine
13:9, 10 geskryf.
Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel
nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook
al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen
die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet. (Romeine
13:9-10 AFR53)
Die begrip liefde is natuurlik weer debatteerbaar, en daarom moet ons
weer uit die Skrif baie duidelik omlyn wat die Bybel verstaan met liefde.
- Die liefde van die Wet is ’n liefde wat krag het. Dis nie so swak en oppervlakkig soos
wat die liefde is wat ons soms onder ons aantref nie. Die liefde van die Wet is ’n liefde wat
werk.
- Die liefde van God bepaal wie uitverkore is – en daardie mense gaan hemel toe. Jesus
Christus sterf vir hulle omdat Hy hulle liefhet.
- Daar is geen mag in die hemel of op die aarde wat nou kan bewerk dat hulle uit God se
hand weggeneem kan word nie. Hulle bly vir ewig God se eiendom. Dit is hoe sterk God se
liefde is, en hoe dit werk met ons.
Die liefde van God se Wet het ook verandering/vrug in my lewe tot gevolg.
- Die feit dat ek uit die Wet my ellendes besef, en begryp dat my eie krag nooit die
saligheid aan my kan besorg nie, maak dat ek ’n werklike begeerte het om verlos te word.
- Dit laat my die liefde van God in Christus besef. So word my bekering en wedergeboorte
bewerk. Dit is die vrug van God se liefde.
Die donker kant van die Wet is natuurlik dat dit die geestelike armoede onderstreep waarin
ons is, want ons is geskape om spontaan die Wet te kon hou, en nou kan ons dit nie meer doen
nie!
- Deur die Wet sien ons onsself arm aan liefde! Arm aan heiligheid! Arm aan geesteskrag!
- Dit tref ons met ’n krag wat seermaak dat ons deur ons eie skuld so verarm geraak het!
- Ons eie sondes het ons natuur so verander dat al die lelike van die lewe byna by ons al
’n aangebore vanselfsprekendheid geword het.
En wat nou? Is daar redding moontlik met ’n wet wat so heilig is, en wat met God se krag
eis, terwyl so ’n arme ellendeling soos ek dit moet gehoorsaam en ek dit onmoontlik nie kan
doen nie!
- Die Ou Jode het gedink dat die Wet ’n leer is waarmee hulle kon opklim na die hemel toe.
Hulle het gedink dat hulle betaling gaan kry vir elke stukkie van die Wet wat hulle onderhou.
- Nou stel die Here twee dinge duidelik aan ons.
-
- Die eerste een is dat dit onmoontlik is dat ons in ons eie krag die Wet so goed sal
kan onderhou dat ons daarmee kan hemel toe gaan.
- Die tweede is dat die Here sy genade soveel duideliker wil
onderstreep met die Wet. Hoe beter ons besef wat ons nie kan doen nie, soveel meer
dankbaar sal ons wees wanneer iemand anders dit vir ons doen.
As ek eers besef dat my geloofslewe byna ’n misdaadkarakter dra, sal ek besef wat dit
beteken as ek saam met God aan die Nagmaaltafel aansit en ek hoor dat God vir my sê:
- Eet en drink tot vergifnis van jou sondes. My bloed het vir jou betaal. My liggaam is vir
jou verbreek. Eet hierdie brood en drink die wyn, want dit herinner jou daaraan dat jy nou
deur My verdienste die toegang het tot die ewige lewe.
- Of as ons ’n kind ten doop hou en hoor dat God openlik voor ons almal verklaar dat die
gedoopte die uitverkore eiendom van God die Vader is; en dat die gedoopte rein gewas word
deur die bloed van Christus; God die Heilige Gees se inwoning en vaardigheid word ook deur
die doop verseker – Hy sal die gedoopte in en met God se Wet deur sy lewe lei.
Laat ons dan altyd wanneer ons die Wet lees, daaraan dink met absolute eerlikheid hoe swak
dit eintlik met ons gaan.
- Maar moet dan nie toelaat dat die donker mag jou oortuig dat die deure van die hemelse
koninkryk vir jou gesluit is nie.
- Die Wet is klaar vir ons volbring tot verlossing! Wees dankbaar vir die verlossingswerk
van die Here Jesus Christus.
Kom ons lees Kategismus Sondag 2 saam:
Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende?
Antwoord: Uit die wet van God (a).
(a)Rom 3:20.
Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy
moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste
liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (a).
(a)Deut 6:5; Lev 19:18; Mark 12:30; Luk 10:27
Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te
haat (b).
(a)Rom 3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10. (b) Rom 8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21;
Jer 17:9; Rom 7:23.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 103:9
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige
Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 17 Julie 2005 (aand)