Sing vooraf: Psalm 116:1, 4.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde
geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 71:1, 2.
Geloofsbelydenis Nicea/Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons
sondeskuld en bid om versoening met
Ps. 86:8.
Wet
Psalm 86:8.
Gebed.
Psalm 61:6
Skriflesing: 2 Samuel
21.
Teks: 2 Samuel
21:10
En Rispa, die dogter van Aja, het ‘n sak geneem en dit vir
haar oopgespan op die rots, van die begin van die oes af totdat daar
water uit die hemel op hulle gegiet het, en sy het die voëls
van die hemel oordag nie toegelaat om op hulle te gaan sit nie, en ook
nie die diere van die veld in die nag nie. (2 Samuel 21:10
AFR53)
Dit was ‘n baie eensame moeder wat daar by die liggame van
haar dooie seuns gesit het.
- Sy het gewaak dat hulle liggame nie
tot skande gemaak word deur roofvoëls en roofdiere nie.
- Sy het dit gedoen sonder opstand in
haar – met volkome berusting in die wil van God.
Ons wonder so dikwels wat word van diè wat dood
is. Word hulle ook versorg daar waar hulle nou is?
- Omdat dit nie moontlik is dat iemand
daarvandaan na ons kan terugkom nie, leer die Here ons in hierdie
gedeelte dat ons in ons dood veilig is.
- Hy leer ons ook dat ons wat gelowig
is, in die hemel is, al was ons sondes hoe groot!
1. Die gevolge daarvan dat Saul hom
nie aan die Here gesteur het nie.
2. Waarvan was die gebeurtenis die
simbool?
1. Die gevolge daarvan dat Saul hom nie aan die Here gesteur het
nie.
Ons lees dat die Here ‘n hongersnood van drie jaar oor die
Israeliete beskik het.
- In diè tyd was Dawid koning
oor die volk.
- Hy gaan soek die aangesig van die Here
op, om vas te stel wat die oorsaak van die ramp was.
Die Here het hom sò geantwoord:
En toe daar in die dae van Dawid ‘n hongersnood was, drie
jaar lank, jaar ná jaar, het Dawid die aangesig van die HERE
gesoek; en die HERE het gesê:
Vanweë Saul en vanweë sy huis waarop bloedskuld rus,
omdat hy die Gibeoniete omgebring het. (2 Samuel 21:1
AFR53)
Ons lees nêrens in die Bybel in die geskiedenis van Saul van
hierdie saak nie. Ons lees net hier dat hy dit gedoen het in
sy ywer vir die kinders van Israel en van Juda.
Hiermee het Saul ‘n dubbele sonde gedoen.
- Eerstens sondig hy teen die heilige
Naam van die Here, want Israel het ‘n verbond gehad met
hierdie Gibeoniete.
- Dit is waar dat die Gibeoniete eintlik Amoriete was, van
wie die Here
Israel beveel het dat hulle almal met die skerpte van die swaard moes
ombring as hulle die land in besit neem.
- Maar nou lees ons ook in Josua 9 dat Josua met hierdie
Gibeoniete
‘n verbond sluit.
- Dit beteken dat hulle in die Naam van die HERE ‘n
eed sweer
vir die Gibeoniete dat hulle hulle nie sal verdelg nie.
- Omdat Saul nou ‘n klomp van hierdie mense doodgemaak
het,
het hy volgens die Here hierdie eed verbreek, en daarvolgens
oortree.
-
Die Here is in die dae van Josua as getuie geroep dat die eed nie
verbreek sou word nie, en nou was die Here ‘n getuie dat die
eed tog deur Saul verbreek is.
- In die tweede plek het Saul nog
bloedskuld ook op hom en sy huis gelaai, omdat hy onskuldige mense
doodgemaak het.
Dit is die uiters ernstige situasie waarvoor koning Dawid nou te staan
kom - en waaronder die volk nou ly.
- Die heiligheid van die Here se Naam,
en die bloed van die onskuldige mense roep om wraak.
- In so ‘n mate is die wraak
van God dat die toekoms van die volk bedreig word met
hongersnood.
Dit is die posisie waarin elke mens en elke volk voor God staan in ons
sondes.
- Die erns kom nou daarin uit dat die
skuld nie met geld weggeneem kan word nie.
- Sewe manne uit Saul se huis
– sewe van sy seuns – so eis die Gibeoniete, moet
gehang word.
Hierdie manne moes die skandelikste dood sterf wat daar in daardie tyd
was. Die Ou Testament dui die skandelikste dood aan as om aan
’n paal of ’n hout opgehang te word.
…dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maar jy moet
hom sekerlik dié dag nog begrawe; want een wat opgehang is,
is deur God vervloek. En jy mag jou land wat die HERE jou God jou as
erfenis sal gee, nie verontreinig nie. (Deuteronomium 21:23
AFR53)
- Die manne word doodgemaak en opgehang
aan pale.
- Nie noodwendig aan ‘n kruis nie.
- Die pale word in hulle mae ingedruk en dan ingeplant.
- Die bedoeling was dan dat die roofvoëls en die
roofdiere die
mense se vleis van hulle gebeente moes afeet.
- Die simbool hiervan was dan dat daardie mense ook waar
hulle na die
dood is, vernietig word.
Dawid voldoen aan hierdie wrede eis, om daarmee te verseker dat die
Gibeoniete weer die erfdeel van die Here seën.
- Ons lei uit die woorde af dat die
Gibeoniete ‘n vloek uitgespreek het oor Israel omdat hulle
onskuldig doodgemaak is.
- Dawid sê vir die
Gibeoniete: Ek sal hulle gee.
- Hy het ook nie juis ‘n keuse nie, want die wraak van
die
Here is onverbiddellik.
- Twee van Saul se eie seuns word gegee: Die seuns van
Rispa. Die ander vyf is Saul se kleinseuns.
Hiermee saam breek die Paasfees aan. Dit is die begin van die
oestyd.
- Die sewe manne hang dood aan die pale.
- Normaalweg sou die roofdiere en roofvoëls hulle nou
opeet.
- Dit is die mees oneervolle manier van begrawe wees, want
daar is
eintlik geen begrafnis nie, en die mense se beendere lê die
wêreld vol soos wat die diere dit rondgedra het.
Maar met hierdie sewe manne gaan dinge nie volgens die normale patroon
nie. Hulle geval is anders.
- Hulle moeder waak oor hulle liggame.
- Met ongelooflike volharding keer sy
die diere weg.
- Na hulle dood, verhoed sy dat die skande van hulle dood
oor hulle
voltrek word.
- Hierin is sy ‘n tipe van Jesus Christus wat ons na
ons dood
met eer versorg.
- Van Aprilmaand af tot Oktobermaand het
Rispa die sewe manne bewaak.
Rispa slaag ook in haar roeping, want die uiteinde van die saak is dat
Dawid aan hierdie mense ‘n eervolle begrafnis gee.
Baie jare later gebeur daar in dieselfde land, in dieselfde tyd van
die
jaar, oor dieselfde saak, weer ‘n saak wat die aandag
verdien.
- Die Here Jesus Christus word dieselfde
tyd gekruisig.
- Hy sterf ook ’n vloekdood
soos hierdie manne in die tyd van Dawid.
- Hy sterf ook vir dieselfde volk
– en vir alle uitverkorenes uit ander volke ook –
om die vloek van God oor hulle tot niet te maak.
Die kruisdood wat die Here Jesus Christus gesterf het, was vir die
wraak van God oor ons sondige onverantwoordelikheid, omdat ons so
dikwels die eer van God in oneer verander.
- Net soos wat die dood van die sewe
seuns van Saul die vloek oor Israel afgekeer het, en die Here weer
reën aan hulle gegee het, net so wend die dood van Christus
die oordeel van God van ons af.
- Ons word letterlik uit die vloek van
die hel uitgeruk in die ewige lewe in die hemel in.
In hierdie betekenis is Rispa ‘n tipe van Christus:
- Dan juis daarin dat sy hierdie dooies
bewaar dat die skande van vernietiging deur roofdiere nie na hulle
dood
aan hulle voltrek word nie.
- Sy versorg hulle en bewaar hulle eer.
Die simboliek daarvan is dat ons nie na ons dood in die skandwoning
van
die satan is nie.
- Ons word eervol in die woning van God
ingeneem.
- Soos wat sy die liggame van die
roofdiere beskerm, so beskerm die Here Jesus Christus ons van die
gretige hande van die satan.
2. Waarvan was die gebeurtenis die
simbool?
Lank na Rispa het daar weer ‘n moeder voor haar sterwende
seun gestaan.
- Hy het aan ‘n kruispaal
gehang.
- Maria het voor hierdie kruis gestaan,
en sy het gesien hoe die lewe uit haar Seun uitbloei. Haar
moederoë het gesien hoe sy oë breek soos wat die dood
naderkom.
- Sy was ‘n eensame figuur
– soos Rispa.
En dan het hierdie eerste dinge meteens verbygegaan.
- Jesus is meteens nie meer die Seun van
‘n aardse vrou nie.
- Hy is die God wat almagtig teen die
dood stry, en selfs hier aan die kruis die satan se werk verbreek.
- Hy versorg hierdie eensame vrou: hy sê Johannes
aan haar toe.
- Maria kry Johannes om verder vir haar te sorg.
- Die dieper
betekenis is dat ons almal so versorg word deur die
kruisdood.
Die gebeurtenis met Saul se seuns kon net die helfte preek.
- Hulle dood het gepreek dat ons na die
dood versorg word.
- Die Here Jesus Christus is egter
oneindig meer as hulle, daarom preek Hy dat Hy ons in hierdie lewe en
die een hierna versorg.
Elke dag van ons lewe ervaar ons die beskerming van die Here.
- Baie selde dink ons daaraan dat dit
‘n baie groot genade is.
- So ‘n groot genade dat die
Vader ons net seën omdat die Here Jesus se dood dit ons laat
toekom.
In die getal sewe by die wraak oor die huis van Saul sien ons al
simbolies dat die menslike verdienste onvoldoende is, en dat daar
verder voorsien sal word.
- Sewe is die getal van God.
- Dis die getal van volmaaktheid.
- Daarom kan die Here Jesus Christus in
hierdie en die ewige lewe voorsiening tref vir ons. Vir
Maria:
- Vrou, daar is u seun. Iemand om u te versorg.
- Aan die kruis verbreek Hy die mag van die satan oor
ons.
- Na sy hemelvaart berei Hy plek in die hemel voor vir
ons.
Wat maak ons?
- Meestal aanvaar ons hierdie dinge as
vanselfsprekend, en as dit nie goed gaan nie, dan is ons opstandig.
- Ander van ons begin twyfel:
weet die Here van my? Waarom moet juis ek so
swaarkry? Wat is tog die doel van ons beproewings?
Daarom is daar by baie die verskriklike vrees vir die dood.
Dit is vir baie van ons ‘n dag wat liewer nooit moet aanbreek
nie – as dit moontlik is!
Nou leer die Here u hier dat daar geen rede tot vrees is nie
- die Here Jesus Christus versorg ons in hierdie lewe en
hierna.
- Ons moet natuurlik in hierdie aardse
lewe die verantwoordelikheid teenoor die Here nakom dat ons teen alle
werke van die duiwel stry.
- Ons moet ons baie sterk verset teen alle vorme van
ongeregtighede.
- Maar ons verset teen die duiwel moet ook wees tot eer van
God.
- Dit is tog ook waarom die sewe seuns van Saul en die Here
Jesus
Christus gesterf het.
Die seën wat ons in die lewe na die dood ontvang, is so groot,
dat ons beste oomblikke in hierdie lewe maar ‘n flou
afskaduwing is van hoe dit daar sal wees.
- Hier buig ons nog onder die aanslae
van die satan, maar daar is daar geen werk of teenwoordigheid van die
duiwel nie.
Ons moet nie bang wees dat ons ons oë in die hel oopmaak as
ons ons asem hier uitblaas nie. Daarom moet ons uit hierdie
gedeelte twee dinge besef:
- Die eerste is dat die Here Jesus ons
lewe in die hemel waarborg.
- Maar dan moet ons, tweedens, ons
verantwoordelikheid teenoor die Here nakom.
Moenie soos Saul ooreenkomste wat die Here met ons gemaak het skend
nie.
Ons moenie sê dat ons glo, en dit dan so doen, dat ons deur
die wraak van God gestraf moet word, omdat ons dinge tot sy oneer doen
nie.
Amen.
Onse Vader wat in die hemele woon, ons pleit dat U Naam oor ons
geheilig word. Laat U koninkryk kom. Laat U
koninkryk in die lewe reeds in ons werke kom, en ook in ons
kerk. Maak ons aan U gehoorsaam soos die engele in die hemel
aan U gehoorsaam is. Ons bid vir daaglikse versorging, en vir
beskerming teen alle kwaad. Ons smeek dit om Christus wil,
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 119 : 53
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 16
Julie 2006 (oggend).