Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het. Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here
Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 145:1, 12.
Gebed.
Psalm 146:1, 3.
Skriflesing: 2 Tessalonisense 2
Teks: 2 Tessalonisense 2: 7
Want
die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat
hy wat teëhou, uit die weg geruim is.
Ons lewe in 'n tyd waarin daar heelwat komplekse dinge gebeur wat die
Here beplan het. Alles dinge wat die wederkoms van die Here voorafgaan.
Ons kan sekerlik sê dat dit alles dinge is wat die wederkoms van
die Here Jesus voorberei. Dit is dinge waaraan ons in die nuwe jaar
moet aandag gee!
Ons weet almal dat die antichris eers tot volle openbaring moet kom
voordat die Here Jesus kom. Maar die antichris kan nie kom wanneer hy
wil nie, hy word ook eers teruggehou sodat die verkondiging van die
evangelie tot volle ontplooiing kan kom. Dit is die kern van hierdie
Bybelgedeelte.
Kom ons kyk saam na die volgende aspekte romdom hierdie aangeleentheid:
- Agtergrond.
- Ons stryd teen dwaalleer.
- Wat is ons troos?
1. Agtergrond.
Die eerste Christelike gemeentes het nie almal eenders op die apostel
Paulus se prediking gereageer nie.
- Die Korintiërgemeente was so tuis in die wêreld dat
die Here Jesus - sover dit hulle aangegaan het - nie nodig gehad het om
weer te kom nie.
- Hulle het baie gemaak van hulle huwelik - en van hulle
besigheidslewe.
- Hulle het aan allerhande strukture in die wêreld gewerk,
en selfs hulle geskiedenis losgemaak van die wederkomsverwagting.
- Prakties het hulle die band tussen hierdie wêreld en die
toekomstige een deurgesny.
Maar in Tessalonika was die toestand heeltemal anders.
- Hulle het gedink dat die wederkoms van die Here so naby is dat
hulle heeltemal opgehou met om te werk.
- Hulle het gedink dat die tyd geen sin en betekenis meer het
nie, want die wederkoms is dan nou voor die deur!
- Daarom het hulle omtrent letterlik net gaan sit en wag vir die
wederkoms en niks verder gedoen nie.
Daarom het die Here deur Paulus se prediking ingegryp in hierdie
gemeente se geloofslewe en vir hulle geskryf dat die wederkoms nie so
naby is dat hulle maar net agteroor kan gaan sit en met gevoude arms
kan sit en wag nie.
Die Here laat weet vir ons dat die wederkoms van die Here Jesus eers
kom wanneer die antichris tot openbaring gekom het - en soos die
gemeente van Tessalonika kan sien, is daar iets wat hom teëhou.
- In vers 1 begin die apostel Paulus om die dinge wat die wederkoms
raak, uiteen te sit. Die dag van die Here is inderdaad naby, en dit sal
so gebeur dat ons (die gelowiges) op daardie dag met die Here verenig
sal word.
- In vers 2 waarsku die Here dat ons nie perspektief moet verloor
of in vrees moet verval nie. Oor sulke ingewikkelde sake kan enige mens
dinge begin verkeerd verstaan, want ons almal se verstande is maar
beperk, en ons insigte is baie krom as gevolg van die sonde.
- Daarom korrigeer die Here in sy genade die valse verwagtinge
wat ons het.
- Die Here wil nie hê dat sy kerk onjuiste voorstellings
oor hierdie dag, en ook oor die tyd wat hierdie dag voorafgaan, moet
hê nie.
- Daarom staan hier letterlik dat die kerk nie sy nugterheid moet
verloor nie!
- Vers 3 begin met 'n uiteensetting van die dinge wat die dag van
die Here sal voorafgaan.
- Daar gaan inderdaad mense wees wat die dag van die Here, en ook
die koms van die dag van die Here so gaan propageer dat daar allerhande
misleidinge en bedrog in die saak ingebou gaan wees.
- Die gemeente moet waak dat iemand hulle nie dalk mislei nie.
2. Ons stryd teen dwaalleer.
Die groot vraag vir die Tessalonikers was: Wanneer kom die Here? Almal
weet dat hierdie dag met groot spoed naderkom, maar wanneer is die dag?
Kyk wat sê die Here hier! Hy bring dit aan die verstand van die
gemeente van Tessalonika dat daar vir hulle nog baie werk en stryd voor
is, voordat die dag van die Here kom.
- Hulle kan nie so met gevoude hande sit nie.
- Hulle moet hulle staal vir die geloofstryd wat nog voorlê!
Die Bybel motiveer die aanslag van misleidinge en verkeerde
voorstellinge op ons (v.3.):
want
eers moet die afval kom en die mens van die sonde geopenbaar word, die
seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God
genoem word, of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van
God sal sit as God, en voorgee dat hy God is.
Die aanhaling stel dit baie duidelik dat jy heeltemal aan die verkeerde
kant van die draad staan as die Here kom en Hy kry jou ledig!
- Daar gaan 'n groot afval plaasvind voordat die Here kom. Wat is
jou aandeel daaraan - of hoe beveg jy dit?
- Die goddelose mens moet geopenbaar word. Ken jy jou Bybel goed
genoeg om enige goddelose mens met 'n verkeerde leer behoorlik te kan
onderskei?
Dit is die dinge wat binne die gesigsveld van hierdie Bybeldeel val.
Die Here leer dus dat daar 'n atmosfeer van geloofspanning en kerklike
onrus is wat die wederkoms voorafgaan. Die kerk het dus 'n duidelike
opdrag dat sy moet waak!
- Daar is 'n geestelike mag aan die werk. Dis 'n krag wat die Satan
se werke tot ontplooiing dryf.
- Hierdie Satan werk in die kerk - net soos die Here.
- Maar hy bewerk presies die teenoorgestelde as die Here.
- Daar staan dat hy die mens van die sonde is.
- Letterlik staan daar dat hy 'n mens van wetteloosheid is!
Hierdie wetteloosheid word in die kerk aangebied asof dit presies die
ding is wat die Here Jesus van sy kerk verwag. Dwaalleer gaan so in die
kerk indring dat die lidmate van die kerk die Antichris aanbid, terwyl
hulle onder die indruk is dat hulle die Here aanbid. Die Antichris gaan
God se plek in die kerk heeltemal oorneem!
- Die Bybel leer op 'n ander plek ook dat die Antichris homself as
Jesus Christus kom aanbied (Markus 13).
- Jesus Christus was daar self aan die woord toe Hy gesê het
dat daar valse christusse sal opstaan, en dat daar gesê sal word:
Hier is die Christus, en daar!
- Die beginsel is in elk geval baie duidelik: Daar kom in die kerk
'n bewustelike verset teen alles wat waar en reg is by die Here.
- Dit is in sy wese niks anders nie as 'n loëning van God Self
en van sy hoogheid en majesteit.
Die antichris se verset gaan sy hoogtepunt bereik wanneer hy hom teen
God self gaan verset.
Hy gaan in God se tempel sit en hy gaan voorgee dat hy God is.
Prakties beteken dit maar net dat hy die godsdiens so gaan verdraai dat
hy al die eer en aanbidding wat aan God toekom, vir homself gaan opeis.
Ons sal swaarkry om te kan onderskei tussen dinge wat waar en vals is
as ons kennis van God en sy Woord nie baie fyn is nie, want die Here
waarsku dat die antichris kragte en tekens sal doen om sogenaamd te
bewys dat hy God is.
Net voor die wederkoms sal die antichris baie demonstrasies doen, maar
voorlopig word hy teruggehou, sodat hy nie in die tyd toe hierdie brief
geskryf is , verwoesting in die kerk kon saai nie - maar intussen het
die tyd al aangestap!
3. Ons troos?
Die vraag kom nou by mens op: Wie is dit wat die antichris teëhou?
En waarom word hy teëgehou? Waarvoor moet daar nog gewag word?
Die woorde wat hier in die Bybel staan, dra, sonder dat dit geskryf
staan, die feit aan ons oor dat die duiwel nie kan doen wat hy wil nie.
Hy kan die antichris ook nie laat kom wanneer hy wil nie, en allermins
laat doen wat hy wil! Daar is 'n groter Krag as hyself wat hom
vertraag. Hier staan nie in die Bybel wie die Krag is nie.
Paulus skryf net dat die gemeente van Tessalonika mos weet wie dit is!
- Dit is die Here, maar omdat dit so vanselfsprekend is, word dit
sterker beklemtoon deur dit nie te sê nie.
- Die gemeente weet mos dat God in sy raad alleen beskik oor alle
tye en geleenthede, waarom moet die apostel dit nou weer vir hulle
skryf?
Mens moet hier altyd die Here Jesus se eie uitsprake oor die eindtyd in
gedagte hou.
Die Here het gesê dat daar verskriklike dinge is wat die laaste
dae sal voorafgaan: oorloë, aardbewings en hongersnode.
Maar dan die belangrike woorde: En die evangelie moet eers aan al die
nasies verkondig word. (Markus 13: 10). Die prediking van die evangelie
is die middel wat God gebruik om die antichris terug te hou in sy koms,
en Jesus Christus is die Persoon wat sy vertraging veroorsaak.
Al kom die einde met hoeveel haas, die evangelie moet eers deur die
prediking verkondig word totdat God se raad daarmee voltooi is.
Die Bybel verkondig dus hier groot troos: Hierdie totale wetteloosheid
word deur Jesus Christus beteuel totdat die evangelie sy loop voltooi
het.
MAAR daar kom 'n tyd wanneer die Here Jesus die antichris nie meer gaan
terughou nie. Nie omdat Hy nie kan nie. Omdat Hy dan aan die duiwel die
geleentheid wil gee om sy boosheid voluit te bedryf.
- U moet dus weet dat daar 'n tyd gaan aanbreek dat die antichris
baie kragte en tekens gaan doen om mense te verlei.
- Hy gaan die sonde en wetteloosheid so aantreklik (en Bybels!)
voorstel dat groot dele van die mensdom hom gaan volg.
- Hy gaan ook nie die lewe afbreek nie - dit moet u weet! Dit sal
vir die mense lyk asof hy die lewe volmaak maak!
- Met hierdie voorstellings van hom gaan die antichris dit so
voorstel asof hy die afskrikwekkende van die sonde verwyder het.
- Omdat die Here Jesus die antichris die volle geleentheid gaan
gee om sy kwaad te bedryf, gaan dit wat die mense tans van die sonde
afskrik ook verdwyn: dit gaan maklik word om allerhande verkeerde dinge
te doen en die antichris te volg – terwyl jy duidelik onder die indruk
mag wees dat jy die Here dien!
Dit is 'n geweldige gevaarlike tyd waarteen die Here ons hier waarsku.
U moet net nie dink dat die mense hom teen hulle sin gaan volg nie. Dit
sal net die ware gelowiges wees wat teen hulle sin verdruk en gemartel
gaan word juis omdat hulle die antichris kan uitken vir wat hy werklik
is, en hom daarom nie volg nie.
Dit sal 'n tyd wees wanneer die mense afskuwelik bedrieg gaan word.
Hulle sal heeltemal vasgevang sit in die greep van die leuen, sonder
dat hulle dit sal agterkom.
Die ware gelowige hoef nie hom nie oor hierdie verskriklike tyd te
bekommer nie, want die Here sê baie duidelik wie die mense is wat
agter die antichris sal aanloop.
Lees maar weer vers 10:
... en
met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan
omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te
word nie.
Dit gaan hulle ook werlik oorkom dat hulle die antichris sal volg want
vers 11 sê dat God vir hulle die krag van dwaling stuur, om die
leuen te glo.
- Maar let net fyn op: dit geld nie alle mense nie - dit geld net
die wat verlore gaan.
- Vers 13 is baie duidelik daaroor dat daar mense is vir wie die
Here lief is, en dat die Here hierdie mense verkies het tot saligheid.
- Dis ook ter wille van hulle dat die antichris teruggehou is.
U moet ook onthou dat alle magte in die hemel en op die aarde aan die
Here onderwerp is en dat hulle net kan doen wat die Here wil hê
dat hulle moet doen - ook die duiwel en die antichris.
Daarom is die antichris in hierdie optrede van hom 'n dienskneg van God.
Dit staan in hierdie gedeelte geskryf dat die antichris se werk is
sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie glo nie, maar 'n
behae gehad het in ongeregtigheid.
Die toepassing van hierdie gedeelte op ons is dat ons moet onthou dat
ons later lewe as die Tessalonisensers.
- Ons lewe iewers in hierdie tyd waarin die Satan en sy
touleiertjie die antichris, stelselmatig losgelaat word om van kwaad na
erger te gaan.
- Daarom moet u baie dringend besin: Waar staan ek en jy in ons
verhouding tot die antichris? Kan ons die mens van die sonde uitken as
ons met hom te doen kry.
- Is ons geloof sterk genoeg om ons te kan verset teen
geloofsverleidinge?
Dis baie maklik om te sê dat jy 'n ware gelowige is, maar dis nie
te sê dat jy die waarheid praat nie. Jy kan al lankal met die
leuen heuel saam met die Satan - soos hy dit doen in die Naam van Jesus
Christus.
Dit is tog duidelik, geliefde broeders en susters, dat daar terreine
van oneerlikheid in ons geloofslewe voorkom.
Dwaalleer is nie net om byvoorbeeld die uitverkiesing te ontken, of om
die Here Jesus se verlossing te koppel aan allerhande menslike gebruike
nie.
Dwaalleer is ook om allerhande uitvindinge van sondige aard te hê
waarmee jy die ware aanbidding omseil.
Die vraag is of sulke mense enige aanspraak op genade gaan hê
wanneer die Here kom.
Onthou dat die kruisdood van u Verlosser Jesus Christus was sodat u ook
in sy Naam ware en reguit verantwoordleikheid teenoor Hom aan die dag
kan lê.
Hy het gesterf en opgestaan sodat u as oorwinnaar oor die duiwel en sy
trawante - soos die antichris - kan heers.
Verder het Hy die Heilige Gees gestuur om u te lei in die dinge wat vir
die Here waar en reg is.
Maar - en dis waaroor dit gaan - u kan Hom net volg, indien u ook
voluit verantwoordelik is in alles wat die eer van God en die ware
geloof in die verlossing van die Here Jesus raak.
Die troos is dat u uitverkies is, soos dit hier staan, en dat u voluit
in die genade van die Here staan.
Maar die verantwoordelikheid bly dat u die teëstander moet ken, en
nie deur hom verlei word nie.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 147:1, 2.
Die Here sal jou seën en jou behoed. Die Here sal sy aangesig oor
jou laat skyn en jou genadig wees. Die HERE sal sy aangesig oor jou
verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Die Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Atteljeediens 5 Desember 2001
(vir uitsending 27 Januarie 2002).