Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 84:1, 5
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Wet
Psalm 51:6
Gebed.
Psalm 89:12
Skriflesing:
2 Timoteus 3.
Teks:
2 Timoteus 3:5b
. . .
Keer jou van hierdie mense af . . .
Ons wêreld het altyd baie mense wat heeltemal gelukkig is met die
lewe soos wat dit is, en wat tevrede lewe – maar verkeerd lewe. Die
gedeelte wat ons saam gelees het, openbaar hierdie mense aan ons.
Ons gee in hierdie preek aandag aan die volgende sake:
1. Die karakter van die mens van die
eindtyd
2. Die mens van die eindtyd en die
kerk van die Here
1. Die karakter van die mens van die
eindtyd
Hierdie Bybelgedeelte openbaar aan ons hoe daardie mense wat direk voor
die wederkoms lewe, se ingesteldheid en beginsels lyk. Die Here wil ons
teen hierdie mense waarsku – terwyl ons in ’n tyd lewe waarin sy Woord
nog gebruik word.
Die Here beskryf die tyd self as ’n tyd van afval en verloëning.
Vir die ongelowiges sal dit ’n paradys wees, maar vir die gelowiges sal
dit skrikwekkend wees, want die mense gaan van twee dinge af wegbreek:
- Hulle sal totaal
breek met die liefdesgebod
- Hulle sal totaal
wegbreek van God se Woord af (vgl. 1 Timoteus 1:6, 7; 1 Timoteus
4:1e.v.).
[Die gedeelte wat ons gelees het, staan in ’n sekere sin teenoor 1
Timoteus 4:1e.v. omdat daar vertel word van dinge wat in die voortgang
van die geskiedenis voorkom, terwyl hierdie gedeelte hom toespits op
die laaste dae. (Vgl. Jesaja 2:2; Handelinge 2:17; 2 Petrus 3:3). Dit
is dus twee verskillende tydperke van die geskiedenis wat hier deur die
Here openbaar word.]
Dit is noodwendig so dat daar onder die mense van die eindbedeling
allerhande gruwelike sondes gaan begin posvat.
- Dit is veral die
tweede tafel van die Tien Gebooie wat by hierdie mense in die slag bly.
- Die Here openbaar
dat daar ’n algemene onwettigheid onder hierdie mense sal heers. Hulle
sal alle eise van die Here uit hulle lewens uitban, en alle sedes, soos
wat ons dit vandag ken uit God se Woord, sal verwerp word (vgl. Matteus
24:12, 38, 39; Daniël 7:25; 2 Tessalonisense 2:3, 4, 8).
Uitsonderings sal daar altyd wees, want die ware gelowiges sal altyd
anders wees as hierdie mense wat in algemene geloofsboewery verval.
- Daarom openbaar die
Here sy besorgdheid en sy leiding oor die gelowiges.
- Dit is waarom die
gedeelte begin met ’n bevel: “Maar
weet dit . . .”
- Hierdie bevel beklemtoon die
atmosfeer tydens die eindtoestand asook die erns van die eindtoestand.
- Hierdie bevel berei die gelowiges
wat hierdie tyd gaan deurmaak daarop voor dat hulle goed moet begryp
wat alles aan die gang is.
Die algemene karaktertrekke van die mense van die eindtyd word met ’n
rede aan ons geopenbaar.
- Om die werklike
agteruitgang van hierdie mense se sielelewe te kan verstaan, moet ons
teruggaan na die skepping toe en gaan kyk hoe die mens was toe die Here
hulle gemaak het.
- Eerste het die Here
gesê: “Laat Ons mense maak na
Ons beeld en Ons gelykenis.” Die
Here het dit toe inderdaad ook so gedoen. Adam en Eva was volmaakte
beelddraers van God.
- Maar Adam en Eva het
hierdie beeld van die Here in hulle geskend toe hulle in sonde geval
het. Die Here het hulle toe gestraf en die aarde vervloek omdat Adam
ongehoorsaam was.
- Na daardie
gebeurtenis het Adam en sy vrou, en veral hulle nageslagte, al hoe meer
en meer verander. Hulle het slegter geword omdat die sonde al hoe meer
die beeld van God in hulle geknou het.
Hierdie gedeelte in 2 Timoteus 3 is een van die gedeeltes wat aan ons
openbaar waarheen die sondeval van die mens hom uiteindelik geneem het:
- Die mense van die
eindtyd is so vervorm deur die sonde dat hulle eerder die beeld van die
Satan as die beeld van die Here vertoon.
- Adam en Eva was baie
goed geskape, maar soos wat die sondeval deur die eeue op die mens
ingewerk het, is die eindproduk ’n mens wat in volslae etiese
ontaarding lewe.
Sedelike verderf sal nie meer net plek-plek of kol-kol voorkom nie; dit
sal die algemene tydsgees wees.
- U moet net in
gedagte hou dat in die tyd wanneer hierdie mense lewe, die
dier/antichris die regeerder sal wees op die aarde.
- As ons dit in
gedagte het, sal ons besef dat Openbaring 13:8 van dieselfde mense
praat as ons teksgedeelte. Daar is die invalshoek net effens anders:
Daar openbaar die Here dat almal op die aarde wie se name nie in die
Boek van die Lewe geskryf staan nie, die dier aanbid.
In 2 Timoteus 3 word die omvang van hierdie verdorwenheid geteken met
’n beskrywing wat uit baie woorde bestaan.
- Die oorheersende
dinge word eerste genoem, naamlik die karikatuur van liefde wat onder
die mense sal ontwikkel. Dit sal uiteindelik net gaan oor hulleself
(Romeine 13:10). Liefde vir God en die naaste sal heeltemal verdwyn.
Die neerslag van so ’n liefde het ’n paar noodwendighede, naamlik
selfsugtigheid en hebsugtigheid:
- Geldgierigheid. ’n
Verkeerde liefde vir jouself loop uit op ’n liefde vir stoflike dinge
wat jy aan jouself kan vasplak. Ons het in ons tyd ’n ander naam
daarvoor as wat Paulus daarvoor geken het. Ons noem dit materialisme,
maar dit is die ding waarteen Paulus ons waarsku.
- Die verkeerde liefde
openbaar hom in sy verderflikheid nog verder. Sulke mense praat groot.
Daar is onder hulle ’n gepronk en hoogmoedigheid. Hulle misbruik die
geestesgawes wat God gegee het.
- Waar daar nie ware
liefde is nie, bly haat teenoor
ander mense nie uitgesluit nie. Daarom
kom laster voor tussen die mense, want hulle onteer en smaad mekaar.
Selfs natuurlike liefdesbande, soos gesinsbande, kom in gedrang, want
die kinders sal opstandig wees teenoor hulle ouers.
- In die algemeen sal
mense ondankbaar wees teenoor God en mense vir enige weldaad wat aan
hulle gedoen word.
- Die konsekwensies daarvan is dat
die mense van die eindtyd elke ding
wat hulle wil hê, as hulle
reg sal beskou.
- Hulle sal dit opeis asof hulle
dit moet hê. En dan sal hulle glo dat hulle die prestasie self
bereik/verwerf het.
- Ons kan al hierdie dinge goed
verstaan, want dit is dinge wat elke dag in ons samelewing voorkom.
Die waarskuwing van die Here is baie ernstig, want Hy openbaar hoe die
liefdeloosheid hierdie mense uiteindelik heeltemal verrot maak. Alle
liefde wat hulle in hulle behoort te hê, sal geblus wees.
- Dit is waarom hulle
onversoenlik sal wees. Is
dit nie so dat mense in ons tyd al al hoe
meer onklaarkomstig is nie? Die beeld van die duiwel kom al hoe sterker
na vore: rusiemakery, kwaadpratery en beskindering van mense teken die
volstrekte mag wat die duiwel mettertyd oor mense kry.
- Daar is nog meer
eienskappe wat onder die eindtydmense voorkom. By alles wat reeds
genoem is, sal hulle ook nog bandeloos
wees.
- Sonder selfbeheersing
(bandeloos)
beteken baie dinge: Hierdie mense sal ’n willoosheid en stuurloosheid
in hulle omdra – omdat die duiwel hulle beheers.
- Dit beteken ook dat hulle hulle
eie denke en temperament nie meer kan regeer nie. Hulle het totaal
slawe van die mag van die hel geword.
- Kyk maar net in ons tyd na die
mag wat vakbonde oor hulle lede het, en na die geweldige houvas wat
groepsdruk op ons kinders het.
- Daarby kom
wreedheid: Die woord
beteken eintlik iets soos om verwilderd, sonder
beskawing en ongemanierd te wees. Iets soos wat ons terugkry in die
geaardheid van ’n roofdier.
Dit is alles dinge waarteen die Here ons waarsku, want die mense wat
hierdie punt bereik, het reeds alle liefde uit hulle sisteem uitgeskud.
Daarteenoor vra die Here van ons trou en betroubaarheid. Dit kom ook
nie by hierdie eindmens voor nie.
- Die Here openbaar
aan ons dat die oomblik wanneer die woeste en die dierlike te voorskyn
tree, alle bande gebreek is.
- Daarom is dit glad
nie verbasend dat die mense verraaiers is en roekeloos raak nie, want
hulle stort hulleself berekend in die kwaad in – wat uiteindelik in die
hel eindig.
- Alle nadenke en
goeie verstand het uitgedryf geraak. Die oorsaak is natuurlik hulle
verwaandheid en selfliefde wat hulle benewel (1 Timoteus 3:6; 6:4).
2. Die mens van die eindtyd en die
kerk van die Here
Hierdie soort van mense is nie so moeilik uitkenbaar as jou eie
beginsels skerp geslyp is nie.
- Jy sal gou kan sien
dat hulle in alles gedryf word deur verkeerde hartstogte en fisiese
begeertes om sonde te doen.
- Hulle het hulle
liefde vir die Here uitgeskud en vervang met ’n liefde vir genot.
Die probleem met hierdie mense is dat hulle nie net buite die kerk
voorkom nie. Daar is talle van hulle wat lidmate van die kerk is.
- Dit is waarom daar
in vers 5 staan dat hulle ’n skyn van godsvrug het (Romeine 2:19-21).
- Hulle is nog steeds
lidmate van ’n kerk, maar hulle verloën die krag van die ware
geloof omdat hulle deurmekaar is met allerhande gruwelike dinge.
- Die probleem is
verder dat hulle die lidmate besoedel met hulle slegte invloed wat
hulle in die kerk uitdra.
Kyk net hoe ernstig is hierdie waarskuwing – veral aan die ouderlinge,
want u moet die kerk van die Here regeer en in sy Naam suiwer hou.
- Die tydsgees van die
antichris dring in die kerk in onder die skyn van geloof en maak daar
vir hom slagoffers.
- Daarom is die opdrag
van die Here skerp: Gee pad van sulke mense af!
- As ons hierdie woorde kan
oorsê met ’n kerkreg-inslag, beteken dit dat die Here aan sy
kerkraad opdrag gee om te sorg dat daar ’n duidelike grens tussen sy
kerk en hierdie mense gehandhaaf bly.
- Die kerkraad moet ook keer dat
hierdie wêreldse gesindheid nie eers in die kerk insluip nie.
Die Here waarsku ons ook as lidmate teen hierdie mense.
- Hulle doen van huis
tot huis evangelisasiewerk. Hier word beskryf hoe hulle huisbesoek doen
en vrouens wat nog nie lank Christene was nie, weer teruggesluk het in
die heidendom.
- Die sinnetjie staan
maar eenvoudig geskryf, maar die konsekwensies daarvan is baie ernstig.
As die vrouens terugval in die heidendom, dan is daar vanselfsprekend
huwelikspanning en gesinsprobleme.
Iets wat die Bybel hier sê, is eintlik waar van alle mense: Almal
kan dit net nie ewe goed hanteer nie. Die begeerte wat in ons lê
om sonde te doen, laat ons soms in sondes verval.
- In die geval van die
vrouens waarvan die Bybel hier vertel, het hulle as gevolg van hulle
sondige begeertes weer teruggeval in die heidendom toe die sogenaamde
gelowiges met hulle verkeerde lewensinstelling hulle verlei het.
- In enige kerk is
daar maar altyd mense wat nie baie stewig staan in die geloof en in die
hantering van hulle begeertes nie.
- As die gemeente nie sorg dat
hierdie mense wat veragter het in hulle beeldskap van die Here
uitgeskuif word uit die kring van die gelowiges nie, gaan hulle
mettertyd hulle invloed in die kerk vergroot, en daarmee saam sal die
kerk in sy geheel allerhande vorms van verval ondergaan.
Ons is natuurlik nie magteloos teen sulke mense nie, want die Here
Jesus sorg dat ons die onderskeidingsvermoë het om sulke mense te
kan uitken.
- Dit is waarvoor die
Heilige Gees oor die kerk op die aarde uitgestort is.
- Maar verder is dit
ook so dat die Heilige Gees ons juis keer om nie ook in hierdie
veragtering van ons beeldskap van die Here te verval nie.
’n Mens wat leef in die liefde en versoening van die gekruisigde Jesus
word nie ’n liefhebber van homself nie.
- Hy word nie iemand
wat as gevolg van sy verkoelde liefde vir God en sy naaste so sleg word
dat hy ’n wêreldmens is nie.
- Hy raak nie so dood
dat hy die beeld van die duiwel vertoon omdat hy God se beeld afgesterf
het nie.
Jesus het met sy
kruisdood die band tussen ons en die sonde deurgesny,
sodat ons vrygemaak is van die las van die sonde. Dit beteken tog dat
ons begeertes in ons het wat hoër is as net natuurlike begeertes
van genot en sonde.
- ’n Wedergebore mens
– en ons behoort almal wedergeborenes te wees – is nie so vas in sy
begeertes dat hy soos Farao se twee hooftowenaars, Jannes en Jambres,
hulle teen God bly verset nie.
- Die ware gelowige
weet dat daar ’n dag van afrekening kom, en dat almal op daardie dag
gaan sien hoe beperk en dwaas jy was toe jy jou teen God verset het.
Hulle verstaan dat dit is wat Jannes en Jambres oorgekom het.
Ons het nie so ’n waardelose geloof nie. Ons het ’n kragtige geloof as
gevolg van die inwerking van God die Heilige Gees. Ons lewens moet dit
altyd weerspieël.
- Ons kan dit ook doen
as ons aan die Here gehoorsaam is.
- Dit is waar hierdie
openbaring van die mens van die eindtyd inpas.
- Enersyds is dit genade van die
Here dat ons kan weet wat in daardie oomblikke voorlê.
- Maar dit is ook om dit vir ons
moontlik te maak om van sulke verkeerde mense af weg te bly.
- Daarom is dit so belangrik dat
ons selfondersoek doen voor elke Nagmaal – en ook dat ons daadwerklik
tot bekering kom waar ons aan sondes van een of ander aard vashaak.
Die feit is: Ons wat waarlik glo, sal tot op die oomblik wanneer Jesus
op die wolke verskyn, die lof en die heerlikheid van God bly verkondig,
want ons lewe daarin.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 144:1, 6 (halwe vers)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 7 November 2004 (oggend)