Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 89:1, 18
Gebed
Psalm 119:15
Skriflesing:
2 Timoteus 4
Teks:
2
Timoteus 4 :18; Kategismus Sondag 52
En die
Here sal my verlos van elke bose werk, en my red om in sy
hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.
’n Eensame man het daar in die hof gestaan. Heeltemal alleen, want
almal wat naby aan hom was, het hom verlaat. Hy moes ook sy eie
verdediging in die hof waarneem: Paulus.
Dit is die agtergrond van die woorde wat hy hier skryf:
In my
eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het
my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie!
Dit was ’n verskriklike ervaring wat Paulus hier gehad het. Wanneer jy
in die nood is, en jou lewe op die spel, dan staan jy meteens alleen.
Die wat jou moet onderskraag, is skoon weg.
Daar moes hy weer van nuuts af besef het dat ’n mens jou nooit op ’n
mens kan verlaat nie. En dan die vraag: Op wie dan? Waar moet ek heen
in my nood?
Paulus het dit ervaar. Die Here het my bygestaan.
- Hy was toe tog nie alleen in die hof nie. Hy en die
Here was saam daar.
- Hy sê ook wat die Here gedoen het. Hy sê:
. . .
en ek is uit die bek van die leeu verlos.
Dit is ’n idioom wat in gebruik was, wat beteken dat hy verlos is uit
gevaar.
Die mooie in Paulus se woorde is dat hy glad nie bitter is teenoor die
gemeente van Rome nie.
- Daar is geen verwyt omdat hulle hom in die steek
gelaat het nie.
- Paulus se geloofsoog kyk in elk geval nie na hulle
nie, want sy oë is op die hemel gerig. Want om na die aarde te kyk,
beteken om na sonde en kwaad te kyk en daarin is geen heil nie.
Dis hoe Paulus uiteindelik vers 18 skryf:
En die
Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse
koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid.
Amen.
Dis byna woordeliks die slot van die Onse Vader:
Lei
ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose, want aan U
behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.
Paulus is nie meer bekommerd oor die aardse tronk en gevangenskap nie.
- Hy vrees nie die gevangenskap nie waar die dood die vonnis
is, daarom weet hy dat hy bepaaldelik na die Here se koninkryk toe gaan
wanneer die Here hom verlos.
- Dadelik voeg hy by waarom dit so sal wees – God sal
dit kan doen omdat hy die mag daarvoor het. Hy het dit tot in alle
ewigheid.
Die feit dat Paulus dit ook nog beseël met die woordjie “Amen”, is ’n
baie duidelike aanduiding dat ons hier met ’n gebed te doen het. ’n
Gebed waarin die Here geloof en gedank word.
- Dis ook presies wat die laaste gedeelte van die
Onse Vader leer: Die Here word geloof en gedank vir sy krag en sterkte
en heerlikheid. En ook vir sy koninkryk wat tot in alle ewigheid sal
bestaan, want dis juis waarheen ons op pad is.
- Ons leer iets baie belangriks hier. Die afsluiting
van ons gebede moet lofprysinge wees. Alles wat ons ontvang het, en al
die bewaring behoort uit te loop op lof en dank.
Ons bid baie keer onrustig en in vrees, soms selfs in ongeloof. Soms
voel dit asof ons gebed wil vassit, en nie kan verder gaan nie. Dan kan
ons doen wat Paulus doen – die Here loof en prys omdat Hy magtig is tot
in ewigheid.
- Ons gebed moet getuig van blydskap.
- Is dit moontlik een van die mankemente in baie van
ons gebede – dat die vreugde en die blydskap dikwels ontbreek omdat ons
vasgevang word in die donkere stryd van ons lewe.
So was Paulus ook in ’n geweldige krisis, soos wat ons dikwels is.
Alleen in die hof en hy verwag die doodsvonnis. Alleen en sonder
advokaat en ondersteuning.
- Hy het rede gehad om baie morbied te wees.
- Maar tog dank hy die Here met blydskap omdat die
Here saam met hom deur die sware hofspanning gegaan het.
- En hy loof die Here met blydskap omdat hy weet dat
hy eendag deur die Here se toedoen in die Here se koninkryk sal wees.
- Daar is by hom geen twyfel hieroor nie! Hy weet dit
sal so wees! Want die Here het die mag om dit te kan doen tot in alle
ewigheid.
Dit bring ons by die volgende uiters belangrike saak. Ons gebed moet
gegrond wees in die vertroue dat dit verhoor word. Anders is daar nie
’n rede om te bid nie.
- Daar is geen grond of rede om vir onsself te bid of
onsself te verheerlik nie. Dit is alles dinge wat alleen aan God die
Vader toekom.
- Sy koninkryk bewys al klaar die oorsaak van ons
gebed. Dis ’n koninkryk van genade en van heerlikheid. Dis ’n koninkryk
wat alles insluit, want daar is absoluut niks wat nie deur God geregeer
word nie.
Kyk na die geskiedenis. In die Ou Testament word die koninkryk al
voorberei.
- Die hemel en die aarde word geskape met hulle
inwoners.
- Na die bederf deur die sondeval word daar
verlossing en ’n koninkryk beloof wat nie hierdie smet sal dra nie
– ’n koninkryk waarvan Paulus weet dat hy nie weer in die tronk
en in die hof sal wees nie.
En hierdie koninkryk word in Christus geopenbaar. Staan daar dan nie in
die Bybel nie – en so oorgeneem deur ons Nagmaalsformulier – dat die
Here ons alles genadiglik saam met Christus skenk!
- So ’n Koning sal tog nie die verderf van sy
onderdane soek nie. Christus sterf dan juis sodat ons die goeie kan
kry. Net die heel beste wat God het!
- Ons aanspraak om van die bose verlos te word, is
dus nie ’n leë een nie. In God se regering het geen enkele duiwel enige
aanspraak op enigeen van ons sonder God se toestemming nie.
Vir hierdie hele saak van die gebed sterf Christus ook.
- God se raad beplan dat die heerlikheid van God ook
voltrek gaan word in die verlossing van sy uitverkore kinders. Daarom
beplan sy raad dat sy enige en dierbare Seun ’n vloekdood moet sterf.
- God se genade is so groot dat hy eerder sy Seun
laat sterf as die wat aan Hom behoort. Dan vaar sy Seun weg na die
hemel toe met ’n liggaam. Al die dissipels sien Hom.
- Daarmee bewys die genade van God aan ons dat ons
ook liggaamlik in die hemel sal wees.
- Daarom kan Paulus ook met soveel sekerheid weet as
hy bid: die Here sal my na sy koninkryk toe neem!
Ons is juis ook met die Heilige Gees gesalf, sodat dié ons kan verseker
dat Christus ons Koning geen magtelose Koning is nie. Hy is juis ’n
Koning wie se bevel deur niks gekeer kan word nie. Met heerlikheid
volvoer Hy die raadsplan van die Drie-Enige God.
Kom ons bid ook dat God ons van die bose verlos, en ons in sy hemelse
koninkryk laat ingaan. Ons roem ook sy ewige heerlikheid en sê dan Amen.
Want Amen het drie betekenisse.
- Eerstens is dit ’n woord van instemming. Ons stem
in met die raad van God en is dankbaar daarvoor.
- Tweedens is dit ’n woord van sekerheid. Die raad
van God en die vervulling van alles in Christus is vas en seker en ons
sal sekerlik deel wees van die ryk van God. Dis dus ’n belydenis van
die sekerheid van die ewige krag van God.
- Maar dis ook ’n woord van verlange. Werklik, ek
verlang om met hierdie ewige Koning in sy ewige ryk te wees.
Ons smeek God om ons te laat bid en glo en om ons te bekeer.
Vraag 127: Wat is die sesde
bede?
Antwoord: En lei ons nie in
versoeking nie, maar verlos ons van die
Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande
kan bly nie (a). Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel (b), die wêreld
(c) en ons eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U
ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat
ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd
nie beswyk (e) nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal
(f).
(a)Joh 15:5; Ps 103:14. (b) 1 Pet 5:8; Ef 6:12. (c) Joh 15:19. (d) Rom
7:23;
Gal 5:17. (e) Matt 26:41; Mark 13:33. (f) 1 Tess 3:13; 5:23.
Vraag 128: Hoe sluit jy jou
gebed af?
Antwoord: Want aan U behoort
die koninkryk en die krag en die
heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U omdat U as
ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee
(a) sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal
word (b).
(a)Rom 10:12; 2 Pet 2:9. (b) Joh 14:13; Jer 33:8, 9; Ps 115:1.
Vraag 129: Wat beteken die
woord Amen?
Antwoord: Amen wil sê: Dit is
waar en seker. Want my gebed is baie
sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom
begeer (a).
(a)2 Kor 1:20; 2 Tim 2:13.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 19-1:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 20 Junie 2004 (aand)