KERSFEES HANDEL OOR JESUS SE
VERNEDERING
Skriflesing; Jesaja 52:12 - 53: 13
Skrifberyming 10:1,2
8:1,2
10:2-6
Broeders en susters, Paulus skryf aangaande Kersfees in Filippense
2:6,7 soos volg oor die hoedanigheid van Jesus se koms na hierdie
wêreld:
“ Hy
wat in die gestalte van God was, het Sy bestaan op Goddelike wyse nie
beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie. Maar Hy het Homself
verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk
te word.”
U weet, as ons nie besef hoe ‘n ontsettende vernedering dit vir Jesus
moes wees om na hierdie wêreld te kom nie, dan kan ons ook nie
opreg Kersfees vier nie. Kersfees is immers ‘n fees wat handel oor die
vernedering van die Seun van God ter wille van ons.
Jesus se koms na hierdie wêreld was van die dag van Sy
menswording af een stuk vernedering en smart en lyding. Daarom
sal ons nooit kan besef wat ware Kersvreugde is as ons nie besef hoe
groot Jesus se vernedering was om aan ons die vreugde te verskaf
om kinders van God te wees nie.
In Jesaja 52 en 53 word aan ons die intensiteit en diepte van Sy
lyding beskryf. Om iets hiervan te verstaan moet ons hierdie gedeelte
vers vir vers ondersoek.
Ons kan hierdie gedeelte in drie dele opdeel t.w.:
1. Jes. 52:13 - 15 : Dit handel oor
Jesus se vernedering wat aanvanklik nie deur mense begryp kon word
nie in teenstelling met Sy verheerliking.
2. Jes. 53: 1-9 : Dit handel weer oor
die betekenis en diepte van Jesus se vernedering, en oor gelowiges wat
eers nadat Hy gely en gesterf het, iets hiervan kan begryp.
3. Jes. 53: 10-12: Die gedeelte wys
ons op God se plan met Jesus se vernedering
1. Ons kyk nou eerstens na die
onbegryplikheid van Jesus se vernedering in teenstelling met Sy
heerlikheid volgens Jesaja 52: 13- 15.:
In hierdie gedeelte laat Jesus se vernedering die mense verbaas en
verstom staan. Hier word die groot teenstelling beskryf tussen
verheerliking, vernedering en weer verheerliking. Hier word ons gelei
na die hoogste hoogtes van Jesus se verheerliking volgens vers
13, om dan af te tuimel na die diepste dieptes van sy vernedering
volgens vers 14, om dan weer op te styg na die duiselingwekkende
hoogtes van Sy verheerliking in vers 15.
Vers 13 beskryf Jesus se verheerliking wat verbasing uitlok by die
mense. Dit begin by die opstanding uit die dood. Maar dit gaan nog
verder. Hy sal hoog in aansien wees. Dit hou verband met Sy hemelvaart.
En nog hoër . Hy sal baie eer ontvang. Hy sit aan die regterhand
van God en ontvang alle mag in die hemel en op aarde.
Maar dan skielik laat die Here ons in vers 14 afkyk in die staat
van Sy vernedering waaruit Hy opgestyg het. Sy vernedering was
só ontsettend dat mense dit nie kon beskryf of begryp nie.
Hy was so misvorm. Waarom? Was dit pyn of siekte of vervolging of
mishandeling wat Hom so misvorm het? In daardie stadium kon die mensdom
dit nog nie begryp nie. Dit was asof ‘n donker kombers van onsekerheid
by die mensdom die intensiteit en oorsaak van Jesus se lyding vir hulle
bedek het. ‘n
Mens kon net die weerkaatsing van verbasing op die gesigte van baie
sien. Hulle was met stomheid geslaan.
Op digtelike wyse beskryf Jesaja in vers 14 die aanvanklike
reaksie van mense oor iemand op wie die verskriklike straf van die Here
gerus het. Wat het Hy dan gedoen om só te moes ly? Waarom het
God Hom op so ‘n afgryslike wyse gestraf?
Vers 15 voer ons weer op na die hoogtes. Sy lyding was nie tevergeefs
nie. Nasies sal opspring van verbasing. Dit beteken eintlik dat
Hy nasies sal besprinkel soos op die groot versoendag om versoening te
doen vir hulle sondes.
Die lydende kneg besprinkel baie met die uitstorting van die Heilige
Gees op Pinkster. Volke kom tot bekering. Só aangrypend is
hierdie reinigingswerk deur die Heilige Gees vanaf Pinkster dat die
magtiges van die wêreld verstom sal staan van verbasing.
Wat Jesaja dus hier sê is dat ons eers die doel en intensiteit
van Jesus se lyding kan begin begryp as Hy met Sy versoeningsbloed deur
die Heilige Gees ons oë hiervoor oopmaak. So is hierdie eerste
drie verse einlik ‘n inleiding tot die res van hierdie gedeelte.
Ons moet eers die gawe om te glo van die Heilige Gees ontvang, want as
ons nie waarlik glo nie, sal ons nooit Christus se vernederende lyding
kan begryp nie.
2. Maar as ons nou verder deur ons
geloof na die beskrywing van Jesus se lyding in Jesaja 50: 1-9 gaan
luister, sal die intensiteit en doel hiervan vir ons duideliker word.
In verse 1 - 3 luister ons na die belydenis van ‘n gelowige hieroor.
Dit is ‘n belydenis vol verbasing en vol berou as die gelowige sê:
“Wie
sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin
kan raaksien?”
Toe Christus op aarde was, het niemand besef hoe geweldig Sy
vernedering en lyding was nie. Selfs Sy dissipels wou nie eens aanvaar
dat Hy moes ly en sterf nie. Petrus het nogal op ‘n keer, nadat Jesus
vir hulle vertel het hoe Hy in Jerusalem gaan ly en doodgemaak word,
gesê: “Here, dit sal U nie
oorkom nie. (Matt. 16:23).
Maar na Sy opstanding en hemelvaart en die uitstorting van die Heilige
Gees het hulle besef: “Waarlik, die
Here was by ons en ons het dit nie besef nie.”
Broeders en susters, eers as ons in die geloof kan terug kyk op Jesus
se lyding, kan ons ‘n vae idee begin kry oor hoe geweldig Sy
vernedering was. En dit word so uitgebeeld:
“Hy was soos ‘n loot wat voor die Here
uitgespruit het, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond.”
Hiermee word na Jesus se geboorte verwys. Hierdie wêreld,
dor en droog as gevolg van sonde, wou Hom nie ontvang nie. Hier was vir
Hom geen plek gegun om gebore te word nie. Hy is geen verblyf op aarde
gegun nie.:
“Die jakkalse het gate, die voëls
het neste, maar die Seun van die mens het nêrens ‘n plek waar Hy
Sy hoof kan neerlê nie.”
En tog: Hierdie aarde behoort immers aan die Here (Psalm 24). Maar die
goddelose mensdom het Hom sy eiendom ontneem. Soos rowers het ons Hom
geen plek gegun op Sy eiendom nie.
Maar ons sien nou ook hoe Hy wat Homself betref, verneder is en gely
het. Hy het as die ideale mens sonder sonde na hierdie wêreld
gekom. Ons het hierdie ideale Mens egter gesien as ‘n mens sonder
voorkoms, sonder heerlikheid en sonder aansien. Hy was nie by mense van
aansien in tel nie. Sy volgelinge was die armes, die
onaansienlikes, die sondaars en tollenaars. Op die ou end het ook hulle
almal Hom verlaat. Almal het Hom toe verag. Mense het van Hom die nar
van hierdie wêreld gemaak. Hulle het ‘n doringkroon
op Sy kop gesit. Hulle het ‘n pers mantel om Hom gehang. Nog nooit was
‘n mens in hierdie wêreld so verag en bespot soos Hy nie.
En so laat God ons inkyk in die veragtelike en vernederende lyding van
Sy Seun.
Maar dan kom die ware gelowige volgens verse 4 - 6 tot die skokkende
ontdekking: Dit is eintlik ek wat die skuldige is. Deur my sondes is Hy
so verneder en verag. Hy ly omdat ek gestraf moet word. Dit in Hom wat
ons met soveel afsku vervul het, is ons sondes, ons boosheid wat Hy op
Hom geneem het.
Ons het gewonder watter kwaad Hy gedoen het dat God Hom sò moes
straf. Nou weet ons. Ter wille van ons oortredinge is Hy deurboor. Sy
dood het veroorsaak dat ons kan lewe. Die vernietiging van Sy lewe het
ons lewens gered en ons gesond gemaak.Sy lyde het vir ons weer ware
vrede gebring.
So kan die gelowige volgens vers 6 homself in ‘n nuwe lig
sien. Hy kan terugkyk op die dor sondige pad van sy eie lewe.. Ons was
soos ‘n uitmekaargejaagde trop skape. Elkeen het sy eie koers vol
selfsug en hoogmoed gevolg. Maar Jesus het Homself verneder sodat ons
weer een met Hom en met mekaar kan word.
In verse 7 - 9 word verder vir ons verkondig met watter gesindheid
Jesus sy lyding gedra het deur al ons ongeregtighede op Hom te neem. Hy
was hierin die gehoorsame dienskneg van Sy Vader.
Hoewel Hy as gevolg van ons sondes onskuldig gemartel is, het Hy
Hom nie hierteen verset nie. Hy het Sy mond nie oopgemaak nie. Die
straf van ons sonde het swaar op Hom gebrand. Maar sonder verbittering
en verwyt en opstand het Hy die smartlike lyding verduur.
Soos ‘n lam en soos ‘n skaap buig Hy gewillig en geduldig onder die
geweldige straf van ons sondes op Hom. In gehoorsaamheid aan Sy Vader,
sonder om voorwaardes aan ons te stel, was Hy bereid om Sy lewe
vir ons behoud af te lê.
Alles wat van Adam af deur die mensdom verwoes is, het Hy kom herstel
deur ‘n slaaf van mense te word.
“Oor die sonde van my volk was Hy
gestraf”, sê Jesaja. ‘n Straf wat uitgeloop het op Sy
lyding en dood aan die kruis.
Wie kan Sy lyding beskryf? Sy liggaamlike pyn moes ondraaglik gewees
het:
Die ontsteking in Sy wonde.
Sy liggaamsgewig wat die spykerwonde nog verder oopgeskeur het.
Sy asemhaling wat al moeiliker geword het.
Die brandende son en die ontsettende dors.
En dan nog die mensemassas, ‘n gepeupel wat skree en spot:” Red jouself as jy die Christus is !”
Maar die ergste: In daardie 3 uur van duisternis het God se toorn oor
ons sonde op Hom gebrand.
Wie kan beskryf hoe erg dit was? Die vloek aan die kruishout en Sy
roukreet hierna?
“ My God, My God, waarom het U My
verlaat!”
En dan die dood.
3. Broeders en susters,
dan vra die gelowige: “Maar
waarom moes dit so erg gewees het? Waarom moes Hy so verskriklik
verneder word en ly en sterf?’
God het ‘n plan hiermee, sê Jesaja in die derde deel, verse 10 -
12.
Deur Hom, deur Sy lyde en sterwe sal die Here Sy doel bereik.
Die offerdood van een was bedoel om baie mense regverdig te verklaar.
Wie anders sal voor God kan bestaan behalwe net die mense wat uit
genade deur Christus se lyding vry gespreek is van al hulle oortredinge?
Wie anders sal ‘kind van God’ genoem kan word as Christus nie vir Hom
gely en gesterf het nie?
Wie anders sal meer as oorwinnaar kan wees as Christus nie die Satan en
die dood oorwin het met Sy opstanding uit die dood nie?
Omdat Hy deur Sy vernedering God en mens weer met mekaar versoen het,
gee God aan Hom die sterkes as ‘n buit. Dit beteken: Hy ontvang alle
mag in die hemel en op aarde. Daarom sal niks ons ooit weer van Hom kan
skei nie: Geen wêreldmag, geen honger of vervolging of pyn nie.
Ja, selfs nie eens die dood nie.
Die kneg van die Here het na hierdie wêreld gekom om die reg na
die nasies te bring - daardie reg om weer kinders van God genoem
te word.
Dit is die boodskap wat ook met ons Kersfeesviering verkondig
moet word. Ware Kersfeesvierings handel oor die vernedering en sterwe
en opstanding van Jesus Christus tot redding van ‘n verlore mensdom.
“Want so lief het God die wêreld
gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat die wat in Hom glo nie
verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
AMEN
Ds. H.P.Prinsloo (emeritus)
Bellville: 02/12/01 (aand)