Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 84:1, 2.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 40:4.
Gebed.
Psalm 119:63.
Skriflesing: Amos 4.
Teks: Amos 4: 12
Daarom
sal Ek dit alles weer aan jou doen, Israel! En omdat Ek jou dit sal
aandoen, Israel, maak jou klaar om voor jou God te kom verskyn!
Dis goed om aan die einde van die jaar - en met die begin
van ‘n nuwe jaar - te besin oor ons geloof en die gebreke wat
daarin mag voorkom.
- Die bedoeling van hierdie preek is glad nie om ons as gemeente te
probeer verskrik en om u te laat glo dat ons sondes so geweldig is dat
die Here wag om ons te vernietig nie.
- Die bedoeling is bloot besinnend. Kom ons kyk wat het tussen
Israel en die Here verkeerd geloop net voordat die Here Samaria laat
val het en Israel in Ballingskap weggevoer het.
- Ona gaan dit op onsself toepas, want niemand kan 'n toekoms bou
as hy nie die foute van die verlede uitskakel nie. Aanhoudende sondes
roep ons mos op om voor God se troon te verskyn!
In hierdie Bybelgedeelte is daar 'n duidelike tweedeling waarna ons
moet kyk in die verklaring daarvan:
1. Sosiale en godsdienstige sondes
2. Die Here se straf oor sy volk
1. Sosiale en godsdiensgtige sondes
Verskillende groeperinge in die volk Israel word deur die Here
aangespreek oor hulle sondes. Uiteindelik is daar niemand wat nie in
die oordeelsaankondiging betrek word nie.
- Die eerste vers is gerig teen die aansienlike vrouens van
Samaria.
- Met taamlik min respek word hulle "koeie van Basan" genoem.
- Basan was die Noordelike deel van die gebied van Israel wat
oorkant die Jordaan gelê het.
- Die gebied was bekend as 'n gebied met baie vrugbare weiveld.
- Daarom is hierdie gebied uitgedeel aan die stamme wat die
meeste vee gehad het (Num. 32: 1vv.; Deut. 32: 14; Esegiël 39: 18;
Psalm 22: 13).
- Koeie van Basan beteken dus vetgevoerde koeie.
- Die betekenis van hierdie uitdrukking is dat hierdie vrouens in
weelde lewe en oorvloed lewe - en veral dat hulle hulle oorgee aan
genotsug en ooretery.
- Die profeet vertel (met 'n sekere mate van afsku) van die
sondes van hierdie vrouens.
- Hulle verdruk arm mense en hulle is in hulle optrede kras
teenoor mense wat nie hulle status het nie.
- Die Bybel sê ook hoe hulle dit doen. Hulle sê hulle
mans aan om te sorg dat daar rykmansetes gehou word.
- Die betekenis daarvan is dat hulle mans nie kan bybly nie
omdat die kostes te hoog loop.
- Die Bybel beskryf die sondes van die ryk mans wat nie hulle
vrouens se eise kan hanteer nie.
- Hulle gaan dan op hulle beurt en wurg die middele wat hulle
nodig het uit die armes.
- Hieroor moet die oordeel van die Here kom. Daarom neem die Here
'n eed. God sweer by Homself - by sy heiligheid. Die heiligheid van die
Here is in die Ou Testament soveel as sy Goddelikheid self. Dit is
baie, baie ernstig wanneer die Here 'n eed sweer (Hebreërs 6: 13).
In die heiligheid van die Here kom sy majesteit op die voorgrond, asook
sy afkeer van die sonde, en daarmee reeds die beginsel van straf.
- Die straf kom oor almal, maar die Bybel beskryf veral hoe hierdie
rykmansvrouens dit gaan belewe. Hulle is verteenwoordigend van die hele
volk.
- Hulle sal met hake uitgetrek word. Dit is 'n vissersbeeld wat
sê dat soos wat 'n vis met 'n hoek uit die water uitgeruk word,
net so sal hierdie vrouens deur die geweld uit hulle oorvloed en
swelgpartytjies uitgeruk word.
- Vers 3 beskryf dan hoe hulle weggelei word in Ballingskap. Hulle
gaan deur gate in die mure van Samaria aangejaag word. Die woorde "... reg voor haar uit.." teken die
troosteloosheid en verslaendheid waarmee hierdie vrouens aangedryf word
in die rigting van die Hermonberge. Dit is natuurlik in 'n Noordelike
rigting - na Assirië toe.
Daarna verander die profeet sy aanslag van die aansienlikes af na die
volk toe in die algemeen.
- Die Bybel openbaar hier dat ons nie met die armes en die
onaansienlikes verkeerde simpatie moet hê nie: Al is hulle deur
die ryk vrouens verdruk, was hulle eie lewens ook onregverdig voor die
Here.
- Die volk het sondes gedoen omdat hulle sondige kultusse by
Betlehem en Gilgal gepleeg het (Amos 3: 14; Hosea 4: 15).
- Die uitvoerigheid waarmee Amos na hierdie fees verwys, is 'n
aanduiding dat die volk dalk juis op daardie stadium besig was om vir
so 'n groot offerfees voor te berei. Die profeet moedig die volk op 'n
ironiese wyse aan om voort te gaan met die fees en nog meer sonde te
doen.
Amos het beslis die kultus te Betel en Gilgal veroordeel. (Amos 5: 5;
Hosea 4: 15; 9: 5.) Vir Amos is die tempel die plek waar die Here woon
(Amos 1: 2). Daarom het hy niks teen die offers self nie, maar teen die
mense wat die offers verrig, want hulle het tydens hierdie offerfeeste
baie onsedelike en ongeestelike en heidense dinge gedoen.
Die uitroep en die oproep tot hierdie vrywillige offerfees wys klaar op
die onwettigheid daarvan.
- Die oproep moes juis uitgaan omdat daar van die normale feeste en
offers soos wat die Here dit voorgeskryf het, afgewyk word.
- Vers 5 beklemtoon die onwettigheid van die offerdienste wat
verrig is.
- Kyk byvoorbeeld na wat hulle met die Lofoffer gedoen het.
Volgens Levitikus 7: 11, 12 moes die volk vir die lofoffer 'n dier
geslag het.
- Hierdie mense het dit verander, want hulle het dit in 'n
graanoffer (gesuurde/ongesuurde offer).
- Dit is waar dat daar 'n bybestandeel van 'n spysoffer moes
wees, maar dit het nooit op die altaar gekom, soos wat hulle gedoen het
nie.
Die groot fout was dat hierdie feeste ter ere van die kalwerbeelde was
wat deur Jerobeam daar opgerig was. (Hy het hierdie afgodsdiens
ingestel om seker te maak dat die volk nie na Jerusalem toe gaan om te
offer nie).
- Dit was nie offerfeeste tot ere van die Here nie, al was baie van
die dinge wat daar gedoen is dieselfde as wat gewoonlik vir die Here
gedoen is, soos byvoorbeeld die tiendes en die môreoffers.
- Dit is 'n tipiese styl van die Satan om aanbidding aan die Here
te koggel met allerhande dinge wat nogal ooreenstem met dit wat die
Here laat doen, om gelowiges wat hierdie koggeldiens doen, in sonde te
laat beland.
Die volk was nie beswaard oor hierdie vrywilllige feeste nie. Hulle het
dit baie geniet en hulle met groot ywer daarop toegelê. Die
boodskap wat Amos nou uitdra, is: Gaan maar rustig aan en maak julle
sondes meer.
2. Die Here se straf oor sy volk
Daarna word 'n klomp volksrampe beskryf. Dit is profeties, want
in die tyd toe Amos gepreek het, het Israel voorspoed beleef (vgl.
Jesaja 9: 7 - 10: 4).
- In verse 6 - 11 word voorspel dat die Here 'n hele reeks plae oor
Israel sal bring met die doel om hulle tot bekering te bring. Sonder
sukses.
- Elke keer word daar met hartseer bygevoeg dat die volk nie deur
die gebeurtenis tot bekering beweeg kon word nie.
- Die gevoel wat die herhaling van hierdie refrein by ons opwek, is
dat die Here sy strawwe sou gestaak het as die volk bereid was om tot
bekering te kom (v. 6, 8, 9, 10, 11).
Dit is opvallend dat die Here al die plae in die verlede tyd beskryf.
- Dis nie omdat dit gebeur gehad het in Amos se tyd nie.
- Dit is omdat die Here die volk profeties by sy oordeel verbyvat
en hulle laat terugkyk na die stukkie geskiedenis wat hulle van Amos se
profesie af tot met die val van Samaria sou deurmaak.
Die strawwe lyk op die oog af na doodgewone natuurrampe.
- Die dinge wat gebeur het was hongersnood, droogte, misoeste
gepaard met 'n sprinkaanplaag,
- pes gepaard met 'n bloedige nederlaag in die oorlog,
- en uiteindelik algehele verwoesting van die land.
Die Here het egter van hulle verwag om as gelowiges by die oppervlakte
te kon verbykyk - omdat hulle deur die profete gewaarsku
is - en die hand van die Here te sien in die tekens van die
tyd.
Omdat die Here weet dat die volk hardnekkig van geaardheid is, en omdat
hulle gaan aanhou om al hulle sondes te doen, word hulle finaal
gewaarsku:
En
omdat Ek jou dit sal aandoen, Israel, maak jou klaar om voor jou God te
kom verskyn!
Hierdie woorde is nie meer 'n oproep tot bekering nie. Dit is 'n finale
profesie dat daar as gevolg van hulle sondes nou nie meer 'n kans is
dat hulle van die oordeel van die Here af kan wegkom nie. Die Here kom
met sy oordeel en die volk moet reg wees om Hom te ontmoet.
Kom ons kyk ‘n bietjie diep in onsself in: Is ons minder hardnekkig as
hierdie volk?
- Ons weet almal dat die antwoord 'n duidelike en eerlike "nee"
is.
- Ons lees die tekens van die tye ook net so swak soos daardie
mense.
- Ons kan, net soos hulle, ook nie die hand van die Here in alles
verstaan wat met ons gebeur nie.
En presies net soos hulle gaan ons God ook ontmoet. Daar is geen mens
en geen volk wat daardie ontmoeting kan misloop nie. Die van ons wat
die Here gaan ontmoet terwyl ons in ons ongeloof volhard, gaan dit baie
bitter hê, want sulke mense gaan hulle te pletter loop teen die
oordeel van die Here.
Wat gaan van ons word as ons God ontmoet?
- Die genade is dat dit met die gelowiges heeltemal anders gaan
wees as met die ongelowiges.
- Iemand Anders het God namens die gelowiges ontmoet.
- Hy het namens almal van hulle met al hulle sondes voor God gaan
staan.
- Dit was nie 'n vriendelike ontmoeting nie, want Jesus het in God
se volle oordeel gestaan. Hy is toe ook deur God gestraf.
- Hierdie straf was geweldig. Dit was nie so 'n maklike straf soos
wat Israel oorgekom het dat die vrouens verslae oor die puin van die
stadsmure geklim het, maar tog gelewe het nie.
- Jesus was deur God verlaat, en Hy moes sy lewe gee as prys sodat
ons kan lewe.
As ons God gaan ontmoet, gaan ons ook daar staan met die volle smet van
al ons sondes, maar ons gaan nie vernietig word nie, omdat Jesus
Christus klaar die straf daarvoor gedra het.
Maar juis dit maak dat ons met soveel meer verantwoordelikheid moet kyk
na hoe ons lewe.
- Ons moet nie soos die vroue van Samaria in aardsheid verval en
die eer van die Here tot in ons manier van eet en drink verloor nie.
- Ons moet ook daarop let dat in die huweliksverhoudings van alle
getroudes die koningsbeeld van God gehandhaaf word.
- Ons moet nie soos die rykmanne van Samaria ons frustreerdheid
gaan uithaal op die wat meer weerloos is as ons nie.
Positief moet ons veral op die terrein van ware aanbidding baie aandag
gee dat ons aanbidding altyd van harte is, en dat dit met die nodige
lewensvreugde gepaard gaan.
- Maar ons moet altyd baie seker maak dat hierdie godsdiens van ons
dit is wat die Here vra.
- Israel se eie uitvindings (wat gedeeltelik nogal met die Bybel
ooreengekom het) was vir die Here so aanstootlik dat Hy die volk met
allerhande rampe begin straf het om hulle tot bekering te bring.
Ons moet een ding altyd helder onthou: Die toekoms is nie môre of
die volgende vyf of tien jaar nie.
- Die toekoms is van môre af tot in die verste ewigheid
- nadat alle tyd en geskiedenis en die aarde al verbygegaan het.
- Die grootste gedeelte daarvan gaan ons op die nuwe aarde bly waar
die teenwoordigheid van die Here by ons sal wees.
- Kom ons stel ons fisier op daardie dag en ons wag op die
ontmoeting met God. Dit is 'n baie belangrike oomblik, want dit is die
oomblik wanneer die Here Jesus aan ons toegang tot sy ewige koninkryk
verleen.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 10:1, 2, 5, 6.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig
wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 30 Desember 2001.