Sing vooraf: Psalm 46:3, 4, 6
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 48:4
Geloofsbelydenis Nicea
Na die wet bely ons voor God ons
sondeskuld en bid om vergewing van ons sondes/nuwe lewe/versoening met
Psalm 84:4.
Wet
Psalm 84:4
Gebed
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
Dank:
-
Smeking vir die
nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige
wêreld, asook die beroep op die beloftes van God:
-
Algemene
bede:
-
Verligting van die
Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 94:1
Skriflesing: Amos
4
Teks:
Amos 4:12
Daarom sal Ek só met jou handel, o
Israel; omdat Ek só met jou sal handel – maak jou klaar om jou God te
ontmoet, o Israel! (Amos 4:12 AFR1953)
Daarom sal Ek dit alles weer aan jou
doen, Israel ! En omdat Ek jou dit sal aandoen, Israel, maak jou klaar om
voor jou God te kom verskyn ! (Amos 4:12 AFR1983)
Aanhoudende sondes roep ons op om voor God se troon te verskyn
!
Die bedoeling van hierdie preek is glad nie om u as gemeente te probeer
verskrik en om u te laat glo dat u sondes so geweldig is dat die Here wag
om u te vernietig nie. Die bedoeling is bloot besinnend.
- Kom ons kyk wat het tussen Israel en die Here verkeerd geloop net
voordat die Here Samaria laat val het en Israel in ballingskap weggevoer
het.
- Niemand kan ’n toekoms bou as hy nie die foute van die verlede
uitskakel nie.
In hierdie Bybelgedeelte is daar ’n duidelike tweedeling waarna ons
moet kyk in die verklaring daarvan:
1. Sosiale en godsdienstige
sondes
2. Die Here se straf oor sy
volk
1. Sosiale en godsdienstige
sondes
Verskillende groeperinge in die volk Israel word deur die Here aangespreek
oor hulle sondes. Uiteindelik is daar niemand wat nie in die
oordeelsaankondiging betrek word nie.
- Die eerste vers is gerig teen die aansienlike vrouens van Samaria.
Met taamlik min respek word hulle “koeie
van Basan” genoem.
- Basan was die noordelike deel van die gebied van Israel wat
oorkant die Jordaan gelê het.
- Die gebied was bekend as ’n gebied met baie vrugbare weiveld.
- Daarom is hierdie gebied uitgedeel aan die stamme wat die meeste
vee gehad het (Numeri 32:1vv.; Deuteronomium 32:14; Esegiël 39:18;
Psalm 22:13).
Koeie van Basan beteken dus
vetgevoerde koeie.
- Die betekenis van hierdie uitdrukking is dat hierdie vrouens in
weelde en oorvloed lewe – en veral dat hulle hulle oorgee aan genotsug en
ooretery.
- Die profeet vertel (met ’n sekere mate van afsku) van die sondes van
hierdie vrouens.
- Hulle verdruk arm mense en hulle is in hulle optrede kras teenoor
mense wat nie hulle status het nie.
- Die Bybel sê ook hoe hulle dit doen: Hulle sê hulle mans aan om
te sorg dat daar rykmansetes gehou word.
- Die mans kan nie bybly nie omdat die kostes te hoog loop.
Die Bybel beskryf die sondes van die ryk mans wat nie hulle vrouens se
eise kan hanteer nie.
- Hulle gaan dan op hulle beurt en wurg die middele wat hulle nodig het
uit die armes.
Hieroor moet die oordeel van die Here kom.
- Daarom neem die Here ’n eed. God sweer by Homself – by sy heiligheid.
- Die heiligheid van die Here is in die Ou Testament soveel as sy
Goddelikheid self.
- Dit is baie, baie ernstig wanneer die Here ’n eed sweer (Hebreërs
6:13).
In die heiligheid van die Here kom verskillende dinge na vore:
- Die Here se majesteit tree op die voorgrond.
- So ook sy afkeer van die sonde.
- Daarmee saam ook reeds die beginsel van straf.
Die straf kom oor almal, maar die Bybel beskryf veral hoe hierdie
rykmansvrouens dit gaan belewe. Hulle is verteenwoordigend van die hele
volk.
- Hulle sal met hake uitgetrek word.
- Dit is ’n vissersbeeld wat sê dat soos wat ’n vis met ’n hoek uit die
water uitgeruk word, net so sal hierdie vrouens deur geweld uit hulle
oorvloed en swelgpartytjies uitgeruk word.
- Vers 3 beskryf dan hoe hulle weggelei word in ballingskap.
- Hulle gaan deur gate in die mure van Samaria aangejaag word.
- Die woorde reg voor haar
uit teken die troosteloosheid en verslaentheid waarmee hierdie
vrouens aangedryf word in die rigting van die Hermonberge. Dit is
natuurlik in ’n noordelike rigting – na Assirië toe.
Daarna verander die profeet sy aanslag van die aansienlikes af na die
volk toe in die algemeen.
- Die Bybel openbaar hier dat ons nie met die armes en die
onaansienlikes verkeerde simpatie moet hê nie: Al is hulle deur die ryk
vrouens verdruk, was hulle eie lewens ook onregverdig voor die Here.
- Die volk het sondes gedoen omdat hulle sondige kultusse by Betlehem
en Gilgal gepleeg het.
. . . dat Ek in die dag as Ek die
oortredinge van Israel aan hom besoek, ook besoeking sal doen oor die
altare van Bet-el, sodat die horings van die altaar afgekap sal word en
op die grond val. (Amos 3:14 AFR1953)
As jy hoereer, o Israel, laat Juda hom
tog nie skuldig maak nie! Kom dan nie na Gilgal nie, en gaan nie op na
Bet-Awen nie, en sweer nie: So waar as die Here leef! (Hosea 4:15
AFR1953)
Die profeet Amos het beslis die kultus in Betel en Gilgal veroordeel.
Maar soek Bet-el nie, en kom nie na
Gilgal nie en trek nie deur na Berséba nie. Want Gilgal sal gewis in
ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niks word nie.” (Amos 5:5
AFR1953) (Vergelyk ook Hosea 4:15; 9:5)
Vir Amos is die tempel die plek waar die Here woon (Amos 1:2).
- Daarom het hy niks teen die offers self nie.
- Hy het dit teen die mense wat die offers verrig, want hulle het
tydens hierdie offerfeeste baie onsedelike en ongeestelike en heidense
dinge gedoen.
Die uitvoerigheid waarmee Amos na hierdie fees verwys, is ’n
aanduiding dat die volk dalk juis op daardie stadium besig was om vir so ’n
groot offerfees voor te berei.
- Die profeet moedig die volk op ’n ironiese wyse aan om voort te gaan
met die fees en nog meer sonde te doen.
- Die uitroep en die oproep tot hierdie vrywillige offerfees wys klaar
op die onwettigheid daarvan.
Die oproep moes juis uitgaan omdat daar van die normale feeste en
offers soos wat die Here dit voorgeskryf het, afgewyk word.
- Vers 5 beklemtoon die onwettigheid van die offerdienste wat verrig
is. Kyk byvoorbeeld na wat hulle met die lofoffer gedoen het.
- Volgens Levitikus 7:11 en 12 moes die volk vir die lofoffer ’n
dier geslag het.
- Hierdie mense het dit verander, want hulle het dit in ’n
graanoffer verander (gesuurde/ongesuurde offer).
- Dit is waar dat daar ’n bybestanddeel van ’n spysoffer moes wees,
maar dit het nooit op die altaar gekom soos wat hulle gedoen het nie.
Die groot fout was dat hierdie feeste ter ere van die kalwerbeelde was
wat deur Jerobeam daar opgerig was.
- Jerobeam het hierdie afgodsdiens ingestel om seker te maak dat die
volk nie na Jerusalem toe gaan om te offer nie.
- Dit was nie offerfeeste tot eer van die Here nie, al was baie van die
dinge wat daar gedoen is dieselfde as wat gewoonlik vir die Here gedoen
is, soos byvoorbeeld die tiendes en die môreoffers.
- Dit is ’n tipiese styl van die Satan om aanbidding aan die Here te
koggel met allerhande dinge wat nogal ooreenstem met dit wat die Here
laat doen, om gelowiges wat hierdie koggeldiens doen, in sonde te laat
beland.
Die volk was nie beswaard oor hierdie vrywilllige feeste nie.
- Hulle het dit baie geniet en hulle met groot ywer daarop toegelê.
- Die boodskap wat Amos nou uitdra, is: Gaan maar rustig aan en maak
julle sondes meer.
2. Die Here se straf oor sy
volk
Daarna word ’n klomp volksrampe beskryf.
- Dit is opvallend dat die Here al die plae in die verlede tyd beskryf.
- Dit is nie omdat dit voor Amos se tyd reeds al gebeur het nie.
- Dit is omdat die Here die volk profeties by sy oordeel verbyvat en
hulle laat terugkyk na die stukkie geskiedenis wat hulle van Amos se
profesie af tot met die val van Samaria sou deurmaak.
Die rampe is profeties, want in die tyd toe Amos gepreek het, het
Israel voorspoed beleef (vergelyk Jesaja 9:7 – 10:4).
- In Amos 4:6-11 word voorspel dat die Here ’n hele reeks plae oor
Israel sal bring met die doel om hulle tot bekering te bring. Sonder
sukses.
- Elke keer word daar met hartseer bygevoeg dat die volk nie deur die
gebeurtenis tot bekering beweeg kon word nie.
- Die gevoel wat die herhaling van hierdie refrein by ons opwek, is dat
die Here sy strawwe sou gestaak het as die volk bereid was om tot
bekering te kom (v. 6, 8-11).
Die strawwe lyk op die oog af na doodgewone natuurrampe.
- Die dinge wat gebeur het was hongersnood, droogte, misoeste gepaard
met ’n sprinkaanplaag, pes gepaard met ’n bloedige nederlaag in die
oorlog, en uiteindelik algehele verwoesting van die land.
- Die Here het egter van hulle verwag om as gelowiges by die oppervlak
te kon verbykyk – omdat hulle deur die profete gewaarsku is – en die hand
van die Here te sien in die tekens van die tyd.
Omdat die Here weet dat die volk hardnekkig van geaardheid is, en
omdat hulle gaan aanhou om al hulle sondes te doen, word hulle finaal
gewaarsku:
Daarom sal Ek dit alles weer aan jou
doen, Israel! En omdat Ek jou dít sal aandoen, Israel, maak jou klaar om
voor jou God te kom verskyn! (Amos 4:12 AFR53)
Hierdie woorde is nie meer ’n oproep tot bekering nie.
- Dit is ’n finale profesie dat daar as gevolg van hulle sondes nou nie
meer ’n kans is dat hulle van die oordeel van die Here af kan wegkom nie.
- Die Here kom met sy oordeel en die volk moet reg wees om Hom te
ontmoet.
Is ons minder hardnekkig as hierdie volk? Ons weet almal dat die
antwoord ’n duidelike en eerlike “nee” is.
- Ons lees die tekens van die tye ook net so swak soos daardie mense.
- Ons kan, net soos hulle, ook nie die hand van die Here in alles
verstaan wat met ons gebeur nie.
- Presies net soos hulle gaan ons God ook ontmoet.
Daar is geen mens en geen volk wat daardie ontmoeting kan misloop nie.
Die van ons wat die Here gaan ontmoet terwyl ons in ons ongeloof volhard,
gaan dit baie bitter hê, want sulke mense gaan hulle te pletter loop teen
die oordeel van die Here.
Wat gaan van ons word as ons God ontmoet?
- Die genade is dat dit met die gelowiges heeltemal anders gaan wees as
met die ongelowiges.
- Iemand Anders het God namens die gelowiges ontmoet.
- Hy het namens almal van hulle met al hulle sondes voor God gaan
staan.
- Dit was nie ’n vriendelike ontmoeting nie, want Jesus het in God
se volle oordeel gestaan.
- Hy is toe ook deur God gestraf.
Hierdie straf was geweldig.
- Dit was nie so ’n maklike straf soos wat Israel oorgekom het dat die
vrouens verslae oor die puin van die stadsmure geklim het maar tog gelewe
het nie.
- Jesus was deur God verlaat, en Hy moes sy lewe gee as prys sodat ons
kan lewe.
- As ons God gaan ontmoet, gaan ons ook
daar staan met die volle smet van al ons sondes, maar ons gaan nie
vernietig word nie omdat die Here Jesus Christus klaar die straf daarvoor
gedra het.
Juis dit maak dat ons met soveel meer verantwoordelikheid moet kyk na
hoe ons lewe.
- Ons moenie soos die vroue van Samaria in aardsheid verval en die eer
van die Here tot in ons manier van eet en drink verloor nie.
- Ons moet ook daarop let dat in ons verhoudings met alle mense die
koningsbeeld van God gehandhaaf word.
- Ons moenie soos die ryk manne van Samaria ons gefrustreerdheid
gaan uithaal op die wat meer weerloos is as ons nie.
Veral op die terrein van ware aanbidding moet ons baie aandag gee dat
ons aanbidding altyd van harte is, en dat dit met die nodige lewensvreugde
gepaard gaan.
- Ons moet altyd baie seker maak dat hierdie godsdiens van ons dit is
wat die Here vra.
- Israel se eie uitvindings (wat gedeeltelik nogal met die Bybel
ooreengekom het) was vir die Here so aanstootlik dat Hy die volk met
allerhande rampe begin straf het om hulle tot bekering te bring.
Ons moet een ding altyd helder onthou:
- Die toekoms is nie môre of die volgende vyf of tien jaar nie.
- Die toekoms is van môre af tot in die verste ewigheid – nadat alle
tyd en geskiedenis en die aarde al verbygegaan het.
Die grootste gedeelte van die toekoms gaan ons op die nuwe aarde bly
waar die teenwoordigheid van die Here by ons sal wees.
- Kom ons stel ons visier op daardie dag en ons wag op die ontmoeting
met God.
- Dit is ’n baie belangrike oomblik, want dit is die oomblik wanneer
die Here Jesus aan ons toegang tot sy ewige koninkryk verleen.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 119:1
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 29 Oktober 2006 (oggend)