Sing Vooraf: Psalm 20:1-5.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het. Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here
Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 33:1
Geloofsbelydenis Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid om vergewing van ons
sondes met Skrifberyming 26:11.
Wet
Skrifberyming 9-1:11 (26:11)
Gebed
Psalm 89:1, 6
Skriflesing: Daniël 2
Teks: Daniël 2: 37a
U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die
koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, . . .
'n Heidense koning en sy koningskap profeteer van die grootste Koning
wat daar bestaan in tyd en ewigheid – die Koning van die nuwe
aarde.
- Die Koning van Wie hier geskryf word,
is die Here self.
- Die ware Regeerder – daar is
nie 'n menslike staatsman soos Hy in hierdie lewe wat ons ken
nie…
- Die Koning van wie hier geprofeteer
word, is op ons aarde gebore en het tussen ons gewoon.
- Hy is deur God verklaar as ons hoogste Koning.
- Ons verwag Hom weer – en wanneer Hy kom, word ons deur sy
Koningskap, sy krag en sy sterkte deel van sy ewige koninkryk.
Kom ons vergelyk sy koningskap met dié van Nebukadnesar:
1. Nebukadnesar se
koningskap skaduagtig en onvolmaak
2. Die volmaakte
regering van ons Koning Jesus Christus
1. Nebukadnesar se koningskap skaduagtig en onvolmaak
Nebukadnesar was een van die grootste regeerders wat in die tydperk van
die ou dinastieë regeer het.
- Sy geskiedenis as heerser het al begin
toe sy pa, Nebopolassar, nog koning was.
- Nebopolassar het in Babel aan die
bewind gekom en daar die Galdese dinastie gestig.
Hy het sy seun van vroeg af al opgelei om te kan regeer. Daarom het hy
Nebukadnesar as die aanvoerder van al sy leërs aangestel.
- Hierdie Nebukadnesar was uiters bekwaam. Sy strategiese
vermoëns is bewys deur die feit dat hy die een veldslag na die
ander teen magtige volke gewen het.
- Eers het
hy Noord-Assirië ingeneem.
- Daarna
het hy koning Nego die tweede verslaan.
- Toe het
hy die Egiptenare verslaan by Kargemis en Hamath.
- Onmiddellik daarna het hy Palestina en Sirië verower. Dit het
gebeur op die 16de Maart 597 voor Christus.
Nebukadnesar was as aardse koning werklik magtig. As aardse koning het
hy met lewe en dood oor mense van alle volke, tale en velkleure regeer.
- Sy ryk se grense het vir 'n aardling baie wyd en magtig gelê.
So wyd dat God se volk ook daarbinne ingesluit is.
- Hy het allerhande dinge gedoen om sy mag as aardse koning en as vors
wat regeer, te demonstreer.
- So het hy onder andere die tempelskatte van die Here verwyder en in die
afgodstempel van Marduk gaan sit.
- Dit was om te demonstreer dat Hy God die Here verslaan het en aan sy
afgod Marduk onderwerp het.
Hy het as regeerder sy gewig rondgegooi en baie onredelike eise aan sy
onderdane gestel, soos byvoorbeeld die keer toe hy van die wyse mense
in sy ryk geëis het om sy droom te vertel, en om die
uitlegging daarvan te gee, anders maak hy hulle dood.
Hoe het hierdie koning se regering gelyk? Het hy werklik met mag regeer?
- Nebukadnesar het nie so regeer dat die
kerk van die Here tuis was onder sy regering nie.
- Nebukadnesar het nie die mag as koning
gehad om sy volk uit die geestelike armoede van sonde en afgodediens
uit te ruk nie.
- Hy kon nie as regeerder daarin slaag
om sy volk te omskep in 'n hemelse skare wat ewig bestaan het nie.
- Sy regering was nie blywend of
permanent nie, met ander woorde dit kon geen toekoms bied wat deur die
grense van aardse bestaan gebreek het nie.
Tog moet ons onthou wat die Here self van Nebukadnesar sê!
Die Here sê dat Nebukadnesar werklik 'n groot regeerder is.
- So groot dat die Here Nebukadnesar in
sy Woord koning van die konings noem.
- Maar meer as dit was Nebukadnesar nie,
want met die titel koning van die konings en al het hy en sy ryk
vergaan.
- Hy kon nie aan homself of aan sy
onderdane vrede, herstel of 'n blywende toekoms bied nie.
Dink net daaraan:
- Die staatshoof van wie hier gepraat
word, is iemand wat by die Here self sterkte en eer kry.
- Iemand met 'n leierskap wat by die
Here self hoog aangeprys word.
- In 'n land wat so 'n sterk leier het,
behoort elke onderdaan 'n toekoms te hê, en behoort jy ook
veilig te wees.
- Maar omdat God nie deur die regeerder
aanbid word nie, het hierdie ryk die kruppelhede van vernietiging in
hom gehad.
Die Here openbaar die toekoms van hierdie ryk in 'n droom aan
Nebukadnesar.
- Nebukadnesar se ryk word in sy
voorspoed geteken as die goue kop van 'n geweldige groot beeld.
- Na hom sal die ryk verder bestaan,
maar altyddeur op die afdraande pad. Totdat dit uiteindelik vernietig
word – soos wat alles wat sonder die Here is, vir ewig tot
niet gaan.
- Selfs die grootste konings op die
aarde kom en gaan, en raak saam met hulle regering weg in die niet.
Dink mooi watter beeld van Nebukadnesar se koningskap steek by u vas:
- In ons gedagte is daar die beeld van 'n koning wat in weelde op sy
troon sit.
- Een wat met wreedheid eis en doodmaak.
- Een wat swaar belastings eis van almal wat onder hom is.
Geen mens wat regdenkend is, sal so 'n soort van blyplek soos
Nebukadnesar se koninkryk begeer nie.
- Die ding is net dat die gelowige dit
altyd in sy agterkop het dat die Here dit duidelik stel dat ons aardse
lewe net 'n voorspel is van die hemelse lewe wat kom.
- En die hemelse lewe verskil aan die
fisiese kant nie baie van hierdie een nie, want die natuur en alles is
daar soos wat ons dit ken. Daar is selfs 'n stad.
Maar by al die enersheid is daar geweldige verskille. Daardie
wêreld is volmaak.
- Ons leef nou in 'n wêreld
wat baie pyn oplewer.
- In ons wêreld moet jy presteer, want dit meet jou rang en
jou staanplek in die lewe.
- En nou is dit doodgewoon so dat nie een van ons net kan aanhou
presteer nie.
- In ons wêreld veg elkeen net
vir homself.
- Ons beledig mekaar en trap op mekaar omdat die meeste van ons van
homself dink wat Nebukadnesar van homself gedink het.
- Ons hele lewe as mens is so onvolmaak.
- Ons faal baie keer in ons daaglikse lewe, en in ons geloofslewe.
- Ons het behoefte aan 'n groter mag as
die mag van mense.
- Mense en die dinge wat binne hulle vermoëns is, is ook net
beperk tot hierdie lewe, want mense se vermoë om ander hulle
sondes te vergewe, is maar klein.
- Daarby het geen mens die vermoë dat hy hom uit die totale
gebreektheid van sy menswees kan optel nie.
- Geen mag op hierdie aarde kan my ophef om menswaardig uit 'n graf op
te staan, waar die dood my liggaam totaal ontbind het nie.
Dis ondenkbaar dat daar 'n gelowige mens is wat net dink in terme van
sy bestaan op die aarde, en wat glad nie dink aan wat van hom gaan word
anderkant die graf nie.
2. Die volmaakte regering van ons koning Jesus Christus
Daar is by elke mens wat opreg aan die Here verbind is, die behoefte
aan Iemand wat met groot mag kan ingryp om ons te help as ons foute
maak en om ons te verlos van die gevolge van ons sondes/foute.
Geen gesagdraer op die aarde (waarvan Nebukadnesar 'n voorbeeld is) kan
aan hierdie groot behoefte van die mens voldoen nie.
- Trouens, Nebukadnesar was in hierdie
opsig heeltemal van die soort behoeftes en versorging van sy onderdane
afgesny:
- Melaatses en siekes en arm mense het nie toegang gehad na sy troon
toe nie, want in sy regering het alles om sy eie eer en welvaart
gedraai.
- Hy het geen genade gehad wat uit sy koningsheerlikheid uitgevloei het
oor sy mense nie.
Tog is daar 'n Koning wat al hierdie dinge kan doen, en wat dit
inderdaad ook doen. Nebukadnesar in sy aardse heerlikheid was in 'n
sekere sin 'n aftekening van hierdie Koning – Jesus Christus.
- Die Here Jesus Christus is die ware
Koning van die konings.
- Hy is die almagtige Heerser, maar Hy
is ook Trooster en Hersteller.
- Hy is die Verlosser van
mense - mense wat so ver deur die vloer van die
lewe geval het in hulle sondes dat net God se genade hulle nog kan red.
Dit is presies wat Jesus Christus doen:
- Hy bedien God se rykdom en genade aan
ons, sodat ons nou en in die hiernamaals in die oorvloed van sy
goedheid kan lewe.
- Daarom vertoon Hy van sy geboorte af
heeltemal ander tekens van die koningskap wat Hy dra as byvoorbeeld
Nebukadnesar.
- Hyself vertoon die tekens van armoede,
byvoorbeeld: Hy word in 'n stal gebore en Hy slaap sy eerste oomblikke
in 'n krip.
Kyk hoe anders as Nebukadnesar (byvoorbeeld) tree die Here Jesus
Christus op teenoor die mense oor wie Hy regeer:
- In sy bedieningstyd gaan Hy om met
sondaars en duiwelbesetenes – almal wat gebreek en uitgedryf
is deur die geweld van die sondes.
- Hy gaan soek hulle, want Hy wil dit openbaar maak vir enigiemand wat
kan sien en kan dink: Dit is hoe die hemelse Koning sy
onderdane opneem in sy heerlikheid!
- Hy maak siekes gesond. Hy preek 'n koninkryk wat nie vir dinge soos
ouderdom, liggaamlike slytasie of enige ander swakheid plek het
nie - Hy self neem dit weg.
- Hy veg ook teen die vyand van God – die duiwel.
- Hy rig 'n koninkryk op waar nie met aardse tyd soos dae en jare
gemeet word nie.
- Hy vestig sy ryk se grense baie ver - tot in
ewigheid.
- Hy trek die grense van sy ryk en van sy mag ook rondom die hel!
- Hy oorwin sonde en ongeregtigheid.
- Hy oorwin die dood.
U behoort aan hierdie Koning. Dit is belangrik dat u dit sal onthou,
want:
- Hierdie tyd waarin ons lewe, dra so
half die tekens daarvan dat daar nie 'n Here van verlossing is nie.
- Die begrip wat die huidige wêreld by die mensdom wil
vestig, is dat die Drie-Enige Verlossende en herskeppende God nie
bestaan nie.
- Die Satan wil die idee vestig dat daar by die ware God geen heil is
en geen toekoms nie!
- Ons leef in baie spanning
- Ons sien geweld en toenemende
agteruitgang.
- Dinge vererger in die sin dat ons
almal in 'n mindere of meerdere mate aandeel het in die foute wat
gemaak word en waarvoor ons soms baie duur moet betaal.
Die lewe rondom ons moet u nie laat dink dat die Bybel en al die
pragtige genade wat daarin geleer word, nie waar is nie.
- Ons Here het lankal gesê dat
daar 'n tyd sal kom wanneer dinge presies so gaan lyk soos wat dit nou
lyk!
- Maar dan moet ons weet dat sy
wederkoms baie naby is.
Sien uself onder die regering van hierdie Koning.
- U moet nou u oë optel en u
Koning sien waar Hy gereedmaak om die aardse tyd te beëindig.
- Hy kom as die ewige Regter wat met
absolute waarheid gaan regspreek.
- U Koning het destyds gekom op 'n
manier waarop Hy dit baie duidelik gemaak het dat u altyd na sy troon
toe toegang het.
- Dit maak nie saak wat u oorkom nie; Hy
staan baie naby met genade.
- Hy het gesterf en opgestaan dat u ook
sy koningsbeeld kan dra!
- Hy het gesterf sodat u herstel kan
word van sonde, en dat u ook kan reken op vergifnis – sodat u
nie u lewe lank met u gewete hoef saam te leef nie.
- Hy het klaar die Here se vergewing vir
u verwerf.
Ons wat in hierdie Almagtige God glo en Hom bely, moet altyd dit onthou:
- Al gaan ons in ons sondes nie altyd
met 'n sterk voetstap vorentoe nie, moet ons onthou dat ons alreeds in
die koninkryk van ons Koning Jesus Christus lewe.
- Hy maak van die swakstes van ons
oorwinnaars wanneer ons Hom in waarheid en opregtheid aanbid.
- Eer Hom as die Koning van die konings!
Die Een wat God van die hemel is, wat die krag en die sterkte en die
eer het tot in ewigheid.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 118:13, 11
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 12 Oktober 2003
(oggend)
In opdrag van die
Kerkraad oorgepreek 1 Oktober 2006.