Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 149:1
Gebed
Psalm 16:1
Skriflesing:
Daniël 5
Teks:
Daniël 5:25
En dit
is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené,
tekél ufarsín. (Daniël 5:25, AFR53)
Elke gelowige moet sorg dat die duiwel hom nie op plekke of in
situasies kry waar hy nie hoort nie.
Dit gaan in hierdie preek oor wat die Here vir elke mens uitgeweeg het,
en wat nie.
- Dit gaan dus oor wat God vir elke mens vasgestel
het.
- Job het al uitgeroep dat die Here hom op ’n regte
weegskaal moet weeg, sodat God van sy onskuld kan weet.
- Elkeen van ons se geestelike krag en ook ons
verantwoordelikhede word afgemeet.
- Alles is bepaal, sodat ons ons werklik en behoorlik
teen die duiwel kan versit, en God daarin kan dien.
Die duiwel kan nie met enige mens doen wat hy wil nie, daarom sê
die Here Jesus eenkeer dat die duiwel vurig begeer het om die dissipels
te sif (Lukas 22:31).
- Die duiwel kan dus nie enige mens verlei nie.
- Hy kan slegs diegene verlei wat deur God aan hom
bewillig word.
Dit was presies wat met Belsasar gebeur het.
- Hy het by God ’n bepaalde ryk ontvang om oor te
heers.
- Hy het ook sy kennis en sy verantwoordelikheid van
die Here af ontvang.
- Hy moes al hierdie dinge aangewend het tot eer van
die Here.
- Hy moes hom aan God onderwerp het, sê die
Bybel.
- Hy moes hom voor God verneder het.
- Maar hy wou nie.
Let nou op dat die Here in Daniël 5 al hierdie dinge teen Belsasar
hou. Die Here oordeel hom heel eerste omdat hy nie aan God gehoorsaam
was nie.
- Dit was aan hom uitgeweeg dat hy God sou geken het.
- Daarom verwyt die Here hom dat hy nie goed oor sy
ryk geregeer het nie, en nou gaan hy daarvoor gestraf word.
- Daarom sê die laaste woord: brokstukke.
- Met ander woorde jy en jou ryk gaan verbreek word
omdat julle nie julle verantwoordelikheid teenoor God nagekom het nie.
Die koning se naam preek eintlik al sy goddeloosheid, want sy naam
beteken: Bel beskerm die koning.
- Bel het bekendgestaan as die afgod van goud,
silwer, koper, yster, hout en klip.
- Belsasar se naam verklaar sy wese: hy het dus ’n
afgod gedien, en sy aanbidding was dus glad nie op God gerig nie.
Hierdie Belsasar het ’n feesmaal aangerig.
En dit moet u weet, enige normale koning sou nie hierdie feesmaal
aangerig het nie. Daar is twee redes hiervoor.
- Die eerste is dat Babilonië beleër was
toe die koning die aand hierdie dronkparty gehou het.
- Die Perse het reg rondom Babilonië gelê
met hulle leërs.
- Hulle was so ’n oormag dat Belsasar niks teen hulle
kon uitrig nie.
- Sy stad kon enige oomblik val en het inderdaad nog
daardie selfde nag geval.
- ’n Koning wat sy sout werd sou wees, sou hierdie
aand ernstig beraadslaag en gevegsbeplanning gedoen het.
- Hy sou hom ook voor sy god verneder het, en gesmeek
het vir genade en vir beskerming.
- Die tweede rede is dat niemand wat God ken, Hom sal
uitdaag nie.
Daar is nog so ’n geval soos hierdie een in die Bybel en die gevolge
van die gebeure was net so dramaties: Dit was Dawid, die keer toe hy
met Batseba oortree het.
- Gedurende daardie tyd was sy leërs ook in die
veld in die geveg.
- Dawid se plek was toe by sy leërs, maar hy het
in sy paleis agtergebly. En hier het die kwaad hom oorval.
Terug by Belsasar sien ons dat hy daardie aand van sy party heeltemal
roekeloos word.
Hy daag God as ’t ware uit! Die goud en silwer wat in Jerusalem gebuit
is, moet gehaal word, en daar moet daaruit gedrink word, terwyl die
afgode vereer word.
- Die betekenis hiervan is dat Belsasar daarmee wou
demonstreer dat die Here moet buig voor die afgod Bel wat die koning
Belsasar beskerm.
Dit is heiligskennis wat hier plaasvind, en God laat Hom nie bespot nie.
- Die komme en bekers waaruit Belsasar en sy gevolg
drink, is die komme en bekers wat God laat maak het om in sy tempel te
gebruik, en wat tydens die offers gebruik is.
- Vers 2 maak dit duidelik dat die koning die
tempelgereedskap wat uit Jerusalem weggevoer is, gaan haal het.
- Onder die gereedskap was daar ook skale. Hierdie
skale is die simbool daarvan dat God sy verlossing versigtig uitweeg.
- In die skale is wierook gebrand. Die wierook wat
daarin gebrand is, is om te gedenk dat die raad van God onfeilbaar en
volmaak is.
- Hierdie skale en komme het die toekomstige offer
van Christus weerspieël. Christus sou sterf en sy bloed sou vloei
in sy offer vir diegene wat God uitweeg en nie te lig bevind nie.
Kyk net hoe sondig Belsasar teen die Drie-enige God.
- Hy misken God, want hy het beslis die Here geken,
al het hy Hom nie aanbid nie.
- Hy het die Heilige Gees se werking misken, want hy
het geweier dat die raad van God in sy hart ten uitvoer gebring word.
- Hy het Christus se verlossing misken, omdat hy die
spot daarmee gedryf het – in Ou-Testamentiese terme.
Was Belsasar miskien onskuldig dat hy dalk nie van beter geweet het nie?
- Nee, want Daniël begin dadelik om hom te
verwyt.
- Hy herinner Belsasar aan Nebukadnesar:
- Die eer wat hy gehad het, het hy van God af ontvang.
- Hy onthou ook dat Nebukadnesar eers verneder was
voordat hy tot insig gekom het.
- Sonder om te skroom vertel Daniël van die
geweldige vernedering wat die koningshuis moes deurmaak toe die
destydse koning saam met die wilde esels geleef het.
- Hy moes plante eet soos ’n dier totdat hy erken het
dat God die Allerhoogste is.
- Dan kom die direkte beskuldiging ook in vers 22
teen Belsasar:
- Hy is dan hierdie koning se seun, en hy weet mos
van al die dinge.
Waarom
het u nie u hart verneder nie?
Belsasar is dus skuldiger as Nebukadnesar! Dit kom uit in die hand wat
Belsasar teen die muur sien. Die hand het op die muur teenoor die
kandelaar geskryf. Dus die muur reg bokant die koning. Daarom is daar
’n aantal handskrifte wat vertel dat die koning die palm van die hand
gesien het wat daar geskryf het!
- Die simboliek van die saak is dat die Here juis die
straf oor die koning skryf!
- Die woorde bokant hom is soos die woorde bokant
Jesus Christus op die kruis.
- God het hierdie koning Belsasar getel, geweeg, en
nou moet hy aan stukke.
Volgens die gebruike van daardie tyd moes Daniël dadelik
doodgemaak word omdat hy sulke skerp dinge oor die koning kwytraak!
Maar dit gebeur nie.
- Jy kan maar die waarheid praat as dit oor God se
saak gaan; jy sal niks oorkom nie.
- Daniël het geweet wat God daardie nag nog sou
doen.
- Dit is waarom hy dit van die hand wys om derde in
bevel te wees in die koninkryk (vers 16, 17).
- Die koninkryk sou daardie nag val, en dit help niks
om derde in bevel te wees van ’n gevalle ryk nie!
Die strafaankondiging oor Belsasar is onverbiddelik.
- God het die dae van sy koningskap getel en ’n einde
daaraan gemaak.
- Die koning is te lig bevind voor die God met wie Hy
gespot het.
Ons is een maand van Kersfees af. Kom ons praat daaroor in swaar
openbaringstaal: Ons maak al weer reg om die geboorte van die Seun van
God wat as die tweede Adam gebore is, te herdenk.
- Die eerste Adam was die Paradys-Adam. Hy is met die
proefgebod geweeg en te lig bevind.
- Dit het al die ellendes veroorsaak waarin ons
wêreld vandag is.
- Die tweede Adam is toe gebore om ons te verlos –
Jesus Christus.
- Hy is ook geweeg – Hy is versoek, vervloek, verwerp
en gekruisig.
- Hy is nie te lig bevind nie, want Hy kon en het sy
volle gewig getrek as Verlosser.
- Hy het die beker van lyding en versoening vir ons
gedrink totdat Hy sy gees in die hande van sy Vader oorgegee het.
- Die aand voor sy kruisiging het Hy ook ’n beker
geneem soos Belsasar en vir ander aangegee om te drink!
- Maar dit was ’n ander beker! Dit was die beker van
Danksegging waarmee Hy die Nagmaal laat instel het. Dit was ’n beker
waarvan die seën ons ten goede gekom het en nog steeds ten goede
kom!
- Hy het dit ook nie vir spotters aangegee nie – Hy
het dit aangegee vir dié wat die gewig van sy verlossing
verstaan het. Dié wat Hy versoen het met God en vir wie Hy die
dood oorwin het.
Twee weke gelede het ons Nagmaal gevier. Die sakramente kom van
Christus af.
- Net soos Belsasar was Christus se roeping en sy dae
ook afgetel en afgeweeg.
- Hy het die sakrament van die Heilige Nagmaal
ingestel dieselfde nag toe Hy in sy angs tot die Vader gebid het dat
die Beker by Hom moet verbygaan!
- Die Beker het nie by Hom moet verbygaan nie, want
God verander nie sy plan nie.
- Christus verskil egter heeltemal van Belsasar
daarin dat Hy aan sy opdrag voor God voldoen.
- Daarom bevind God Hom nie te lig nie, maar is Hy
die Verlosser van die uitverkorenes.
- Sy hele lewe getuig van gehoorsaamheid teenoor die
Vader.
- Sy lewe getuig ook van nederigheid en van
onderworpenheid.
- Hy skenk aan ons die waarborg in die Woord en in
die sakramente dat ons in sy krag die sonde kan oorwin wanneer ons –
soos Belsasar – daarteen vasloop.
- Sy opstanding en die uitstorting van die Heilige
Gees is die waarborg.
Die Nagmaal het weer die belangrike feit aan u bevestig dat u lankal
deur God geweeg is, en swaar genoeg bevind is.
- Daarom kon u as uitverkorenes aan die tafel kom
aansit.
- Die sakrament het egter ook bevestig dat u aan die
eis verbind is om aan hierdie Christus gehoorsaam te wees, en waardig
aan Hom te leef.
Benut die genade wat God aan u skenk, en oorwin die kwaad op elke
terrein.
- Dink voortdurend aan u roeping en volvoer dit met
die krag en majesteit wat aan ons geskenk is in en deur Jesus Christus.
- Hy het sy sakramente aan ons gegee om ons geloof te
versterk en ons te herinner aan ons verbintenis met Hom.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 91:8
Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor
jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou
verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 30 November 2003
(aanddiens)