Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 47:4.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 99:1, 4.
Gebed.
Psalm 93:1
Skriflesing: Daniël 7
Teks:
Daniël 7: 7
...
daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit
het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die
oorskot met sy pote vertrap...
22
Ek het
gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin,
totdat die Oue van Dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg
verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk
in besit geneem het.
Die gesig van Daniël het betrekking op die opeenvolging van
verskillende aardse ryke wat die wederkoms voorafgaan. Die koms van die
koninkryk van God maak 'n einde aan alle aardse heerskappy.
- Die laaste tye voordat die einde van die aardse geskiedenis
aanbreek, gaan baie moeilike tye wees. Dit is tye wat ons in ons lewens
al kan deurmaak.
- Maar dis nie die laaste woord wat daaroor gesê kan word
nie. Die laaste woord is dat die Here Almagtig dit gaan beïndig en
dit omkeer sodat ons as konings saam met Christus regeer tot in
ewigheid.
Ons ondersoek vandag in hierdie preek veral die volgende sake:
1. Die vierde dier: wie is hy?
2. Die vierde dier: sy bedrywighede.
3. Die verskyning van die Here.
4. Die koningskap word aan die
gelowiges gegee.
1. Die vierde dier: wie is hy?
In 'n droom sien Daniël sien die vier winde uit die vier
windstreke losbars oor die see.
- Die see is nie 'n spesifieke see nie, dit is bloot 'n groot wye
watervlakte. 'n Geweldige storm laat die see kook.
- Die see wat deur die vier winde van die aarde in beroering
gebring word, is simbolies van die woelinge en voortdurende beweging
wat in die volkerewêreld gebeur.
'n Deel in die Bybel wat die saak duidelik stel, is Jesaja 17: 12, 13
waar daar die volgende geskryf staan:
Wee
die gebruis van baie volke - soos die gebruis van van die see, so bruis
hulle ! En die gedruis van nasies - soos die gedruis van geweldige
waters, so maak hulle gedruis. Nasies maak gedruis soos die gedruis van
baie waters, ...(vgl ook Jeremia 46: 7)
Die beeld van baie waters wat die volke van die aarde uitbeeld, kom ook
in die Nuwe Testament voor, byvoorbeeld in Openbaring 17: 15, waar daar
die volgende woorde staan:
En Hy
sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is
volke en menigtes en nasies en tale.
Daniël sien hoe daar verskillende diere uit hierdie kokende see
opstyg.
- Die feit dat die diere uit die see opkom, is om aan te toon dat
hulle 'n verganklike oorsprong het. Hulle is nie gode of almagtig nie.
- Die vier diere wat Daniël sien opstaan het, is vier
koninkryke of koninklike magte - magte wat uit die gaos van die volkere
se geskiedenis opstaan.
Ons kyk vandag veral na die vierde dier. Die vierde dier is 'n baie
wonderlike gedrog.
- Hy kry ook nie 'n naam of 'n tipiese beskrywing soos die eerste
drie diere nie.
- Al wat van hierdie dier vertel word, is dat hy verskriklik gelyk
het en dat hy geweldige krag besit het.
- Hy het ystertande waarmee hy alles verslind wat voorkom, en
geweldige pote waarmee hy alles wat hy nie kan opeet nie, vertrap.
Die Here het die apostel Johannes ook toegelaat om hierdie dier te
sien. Luister wat het hy gesien:
En ek
het op die sand van die see gaan staan. En ek het 'n dier uit die see
sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone
en op sy koppe 'n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien
het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos die van 'n beer, en sy bek
soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy
troon en groot mag (Openbaring 12: 18 - 13: 2).
Die vierde dier is die ryk wat aan die regeer is wanneer die Here Jesus
op die wolke verskyn.
- Die Bybel teken daardie ryk as 'n ryk wat totaal oor die hele
aarde regeer.
- Sy uitbreiding word deur 'n veroweringsug gedryf om letterlik oor
almal op die aarde te heers.
- Alle mense word dan uiteindelik deur geweld ingelyf in die ryk
van hierdie dier.
Die dier wat Daniël en Johannes sien, was anders as die ander drie
diere omdat hy ook nog tien horings gehad het. Sy horings is bloot
dekor waarmee hy die volheid van God naboots.
- Hy het al sy mag en heerskappy uitsluitlik by die duiwel gekry.
- Die feit dat hy 'n dier genoem word, is om simbolies te sê
dat hierdie regeerder die eienskappe van 'n dier het - so sleg en laag
het hy gedaal.
Die ryk van die vierde dier het aanvanklik nie 'n enkelvoudige
regeerder nie.
- Die tien horings wat op die vierde dier se kop is, is tien
magsfigure wat saam oor hierdie ryk sal regeer.
- Hierdie ryk sal sy oorsprong hê uit politieke verhoudings.
Die feit dat die getal van die magsfigure tien is, is simbolies daarvan
dat hulle daarmee wil maak asof hulle net soveel mag as die Here het.
'n Volmaakte regering sal dit nie wees nie. Die vers beskryf die feit
dat die leiers ook interne spanning sal belewe. Daar staan 'n totaal
nuwe leier op wat drie ander verdring. Daarmee kom daar 'n totaal nuwe
toestand in die volkerewêreld. Dit is die ryk waarvan die boek
Openbaring ook vertel dat dit nog aan die regeer sal wees wanneer die
Here Jesus Christus kom (Openbaring 13: 5, 6, 7, 17; 2 Tessalonisense
2: 4, 8; Openbaring 19: 20).
2. Die vierde dier: sy bedrywighede.
Terwyl Daniël vir die dier gekyk het, het daar tussen die
tien horings 'n klein horinkie opgekom. Drie van die ander horings is
eintlik uitgeruk om vir hierdie nuwe klein horinkie plek te maak.
- Hierdie klein horinkie trek al die dromer se aandag, want dit was
nie 'n gewone horing nie. Hy het oë soos 'n mens en 'n mond soos
'n mens.
- Uit hierdie woorde kom ons duidelik agter dat hierdie dier 'n
mens is wat verskriklike dinge teen die Here en die gelowiges kwytraak.
Toe Daniël die engel gaan uitvra het, het engel vir Daniël
meer vertel van die vierde dier - veral van die horing met die
menseoë en die groot mond wat so kwaai laster - as wat in vers 8
geskryf staan.
- Hy sê byvoorbeeld nou dat die dier se pote van koper was.
- Hy vertel ook nou eers dat die klein horinkie wat uitgegroei het
uiteindelik groter geword het as al die ander horings.
Dit verklaar waarom daar drie ander horings ontwortel moes word om plek
te maak vir hierdie een.
- Hierdie nuwe horing wat klein begin en wat oë en 'n mond
het, is die antichris.
- In die anti-goddelike ryk wat ontstaan in die eindtyd, neem die
antichris die leiding. Daarom sê die Bybel dat hy ook verskil van
die ander regeerders.
- Die grootste verskil tussen hom en die ander is dat hy by uitstek
laster teen die Allerhoogste God.
- Hy maak dit sy saak om hom op elke gebied teen die Here te
verset en die Here aan te val ( v. 8, 11, 20, 25).
- Hy wil in die hemel in die tempel van God sit en hy wil maak
asof hyself God is.
Dit kom ook nou eers aan die lig dat hierdie horing oorlog maak teen
die heiliges en hulle oorwin.
- Dit sal nie 'n maklike tyd wees nie, want ander gedeeltes in die
Bybel openbaar dat die verdrukking van die laaste dae lank en fel gaan
wees oor die gelowiges.
- Die heiliges wat so verdruk is, is dieselfde mense as die
heiliges van die Allerhoogste wat na die oordeel saam met die Seun van
die Mens regeer.
- Die Here self sal in die oordeel wat kom, hulle saak besleg en
hulle in Jesus Christus laat triomfeer.
- Die vervolging sal wees soos wat daar nie was van die begin af
nie (vgl. Markus 13).
- Daar word ook nog van die antichris gesê dat hy gaan
probeer om tye en wette te verander.
- Die gebruik van die woord "tye" dui daarop dat die antichris
die hele verloop van die wêreldgeskiedenis in sy hand gaan
probeer kry.
- Hy wil homself in die plek van God stel (2 Tessalonisense 2: 4)
en die bestuur van die wêreldgeskiedenis uit God se hand ruk en
en dit self bestuur.…die
teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp
van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en
voorgee dat hy God is. (2 Tessalonisens 2:4 AFR1953)
- Die woord "wet" beteken hier letterlik alle vorme van wette:
geloofswette (Wet van Moses) as ook alle landsewette.
- Die antichris verander dus alle bestaande reëls t.o.v.
kultuur, geloof en grondbeginsels van die samelewing waarin die
Christelike geloof deurwerk. Hy maak dit na sy wil eenvormig oor alle
mense.
Die Here openbaar dat die gelowiges vir 'n tydlank aan die mag van die
antichris oorgegee word.
- Daar word egter 'n vaste tydsduur deur die Here vasgestel: Tyd,
tye en 'n halwe tyd.
- Dit beteken vir ons gelowiges twee dinge.
- In die eerste plek is daar die troos dat die Here die antichris
absoluut beperk, en dat hy net mooi niks kan doen as die Here hom nie
toelaat om dit te doen nie.
- Maar die tweede betekenis is nie baie troosvol nie.
- Dit beteken dat die antichris vir 'n tydlank met geweldige
wreedheid oor die Christene gaan losbars.
- Daarna kom daar 'n nuwe periode van verdrukking wat langer en
bitterder sal wees as die eerste een. Dit sal 'n tyd wees waarin alle
vorme van hartseer en pyn gaan verdubbel. Dit laat mens verstaan waarom
die Here Jesus gesê het dat die laaste dae so verskriklik gaan
wees dat die Here die dae gaan korter maak ter wille van die gelowiges.
- Dan bly daar nog 'n derde periode oor. Die Bybel noem dit 'n
halwe tyd.
- Dit is ook 'n tyd van verdrukking en vervolging, maar dit is
ook 'n tyd wanneer die wending kom.
- Die Here maak 'n einde aan die vyand se woede. Die antichris
kry dus nie tyd om sy slegte werk wat hy beplan het, klaar te maak nie.
- Sy tyd word in die middel deurgesny.
3. Die verskyning van die Here.
Terwyl Daniël staan en kyk, verander die hele toneel voor hom.
- Hy sien in sy droom hoe daar in die hemel voorbereidings getref
word vir 'n geweldige groot hofsitting.
- In 'n troonsaal word 'n aantal trone reggesit vir die hofsitting
om te begin.
- In die middel neem daar toe Iemand plaas wat ewig lewe.
- Daar word geen aanduiding gegee van wie op die res van die trone
sit nie.
Die Here verskyn as die Ewiglewende. Die Ou Vertaling het dit nog
letterlik vertaal met "'n Oue van Dae."
- Die beeld van die ouderdom is om eerbied uit te beeld asook die
rustigheid van God se majesteit.
- Dit beskryf ook dat die Here vir altyd lewe: Hy gaan nie dood nie.
- Die majesteit van die Here word nog verder onderstreep deur die
teenwoordigheid van die engele wat daar voor die troon van die
Ewiglewende staan:
Duisend maal duisende het Hom gedien en tienduisend maal tienduisende
het voor Hom gestaan.
In Daniël se gesig bestaan die Ewiglewende se troon uit vuurvlamme
en die troon staan op wiele van vlamme. Uit die troon het 'n stroom van
vuur vorentoe gevloei. Dit is regtig belangrik dat ons duidelikheid kry
oor waarom die troon van die Here in hierdie gesig juis van vuur is,
want daar is ander plekke in die Bybel waar die troon van die Here
openbaar word dat dit van chrisoliet is, en een plek beskryf dat daar
selfs 'n reënboog oor die troon van die Here is.
Die antwoord is:
- Die ander beskrywings die vredesheerlikheid van die regering van
die Here in die hiernamaals openbaar.
- Hierdie een die oordeelsregering van die Here. Die vuur is die
simbool van reg en van oordeel en van vernietiging (vergelyk
Esegiël 1: 15 - 28.)
Dadelik begin die hofverrigtinge. Die gereg gaan sit. Die boeke word
oopgemaak. Die Here het baie verskillende boeke. Die hele Bybel is vol
van die boeke van die Here.
- Ons lees al die eerste keer van die boek van die lewe in Exodus
32: 32, 33. Ons lees van boeke met name in en van boeke waarin die
werke van mense opgeskryf is.
Nou
dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar
uit u boek wat U geskryf het! Toe het die HERE Moses geantwoord: Wie
teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit my boek. (Eksodus
32:32-33 AFR1953)
· Veral die boek Openbaringe maak melding van baie boeke wat die
Here het. Daniël se droom verwys waarskynlik na die boek van die
lewe (vgl. Psalm 69: 29; Jesaja 4: 3; Daniël 12: 1; Lukas 10: 20;
Openbaring 20: 12).
· Die bedoeling is dat nagegaan word wie se name daarin staan,
sodat die mense wie se name ontbreek, dadelik deur die Ewiglewende
geoordeel en gevonnis word (Vgl. Jesaja 65: 6; Maleagi 3: 16; Psalm 56:
9).
Die heel eerste persoon oor wie die Here sy oordeel voltrek, is die
vierde dier: meer presies die klein horinkie wat al die lasterlike en
verwaande dinge teen die Ewiglewende en sy heiliges kwytgeraak het.
- Die Here openbaar nou presies hoe dit sal gebeur dat die
antichris se draad geknip word voordat hy sy boosheid kon klaarmaak.
- Die wêreld se laaste oordeel sny in die tyd in, want in die
tydperk van die halwe tyd vind die eindoordeel plaas.
- Hier word nie openbaar hoe dit gebeur het nie.
- Al wat die Here baie skerp openbaar is dat die eindgerig hom
toespits op die klein horinkie wat nog steeds vloekend en skellend teen
die Here te velde trek.
- Blykbaar het die dier die Here bly laster totdat die Here hom
doodgemaak en sy liggaam verbrand het.
- Voordat die Here iets anders doen, vernietig Hy hierdie klein
horinkie totaal. Die vernietiging is nie net vir 'n rukkie nie. Dit is
vir ewig en altyd: totaal. Hy word veroordeel en verbrand. Daar bly van
die antichris nie eers 'n spoor oor tot in alle ewigheid nie.
Daniël het verstom bly kyk hoe die Here se verdelging oor die dier
voltrek word oor die lelike dinge wat die klein horinkie teen die Here
en teen sy heiliges sê. Hierin kom die verskriklike van die
eindoordeel uit: Die vonnis word onmiddelik uitgespreek, en onmiddelik
voltrek.
4. Die koningskap word aan die
gelowiges gegee.
Terwyl Daniël nog so gekyk het, word sy oog getref deur die
verskyning van Iemand anders wat op die wolke van die hemel kom.
- Die Wese het soos 'n mens gelyk en Hy het na die Almagtige Regter
wat op die vlammende troon sit toe gegaan.
- Daniël sien hoe "hulle" Hom na die Ewiglewende toe neem. Hy
sê nie wie die "hulle" is nie.
Daar is nie twyfel oor Wie die Een is wat op die wolke kom en die
koningskap ontvang nie.
- Jesus Christus het presies hierdie woorde aangehaal en vir die
dissipels gesê dat dit Hy is.
- Dit is duidelik dat Seun van die mens in Daniël 7: 13 en die
Seun van die mens in die Nuwe Testament dieselfde persoon is (Matteus
26: 64; Markus 14: 62; Handelinge 7: 56; Openbaring 1: 13; Openbaring
14: 14).
Dit is baie opvallend dat die Here se optrede meteens liefdevol is.
- Hy gee aan die Een wat lyk soos 'n Menseseun Heerskappy en eer en
koningskap oor alle volke en nasies en tale.
- Hierdie koningskap is onverganklik en kom net nooit tot 'n einde
nie. Alle volke nasies en tale dien Hom deur Hom te vereer en te aanbid.
- Daarmee saam kom daar vir ons genade, want daarmee word die tyd
van verdrukking en vervolging wat vir ons voorlê afgesluit.
- Inderdaad meer as net afgesluit, want met Jesus se ewige
koningskap betree ons ook ons nuwe blyplek: die Koninkryk van God.
Waar die oopmaak van die Here se boeke vir die antichris en sy magte
baie groot moeilikheid beteken het, beteken dit vir ons wat waarlik
glo, die wonderlikste genade:
- Ons word van die Here se oordeel verskoon deur die verdienste van
die Seun van die mens.
- Die stryd wat Hy op die aarde deurgemaak het, veral aan die
kruis, kry dan sy volle beslag oor ons: ons lewe vir ewig saam met Hom.
Nadat die Here die antichris verdelg het, keer Hy dadelik die rolle om.
Die heiliges van die Allerhoogste regeer nou. Daniël het by die
engel gehoor wat die Here met die gelowiges doen. So pas was hulle nog
vervolg, toe word hulle heersers in 'n veel groter ryk as wat die
antichris onder sy regering gehad het. Hulle kry mag oor alle ryke wat
onder die hemel (m.a.w. op die aarde) is.
Die koningskap word tot in alle ewigheid aan die heiliges van God
gegee. Dit verwys terug na vers 14. Daar is egter 'n verskil.
- In die eerste deel van die droom het Daniël gesien dat die
koningskap aan die Seun van die mens gegee word.
- Toe die engel die gebeure verklaar, toe sê hy dat die
koningskap aan die heiliges van die Allerhoogste gegee word.
Daar is nie werklik spanning tussen die twee sake nie, want die Nuwe
Testament verduidelik die saak:
- Die oomblik wanneer die koninkryk aan Jesus Christus gegee word,
deel al sy heiliges tot in ewigheid saam met Hom in die regering
daarvan.
- Die heiliges van die Allerhoogste is die uitverkorenes wat tot in
alle ewigheid saam met Christus sal regeer (2 Timoteus 2: 12 en
Openbaring 22: 5).
- Saam met Christus regeer ons dan (v. 13, 14, 18, 26) oor die
totale koninkryk van God.
- Daar sal geen enkele mag meer wees wat hom teen hulle sal verset
nie.
- Daar sal baie liefde en vrede wees, want hele koninkryk sal
vrywillig en voluit aan hierdie regering onderworpe wees.
Wat maak ons met al hierdie dinge uit Daniël se naggesig? Ons moet
daarmee die wêreldgeskiedenis lees en die geeste van ons tyd
toets. Die eerste drie diere se tyd is al verby. Ons leef waarskynlik
reeds in die tyd van die vierde dier, Want die apostel Johannes het hom
ook gesien (Openbaring 12: 18 - 13: 2).
- Die geslyptheid van die antichris kan ons maklik verlei om deel
te neem aan sy wêreldryk - wat natuurlik in hierdie
oordeelsoomblik vir ons ontsaglike ellendes gaan veroorsaak as ons
daarvoor val.
- Daarom is hierdie openbaringe wat Daniël ontvang het nie net
om ons kennis uit te brei sodat ons kan weet wat aan die einde van die
tyd gaan gebeur nie. Dit is ook om ons te waarsku sodat ons nie iewers
saam met die magte van die dier moet inskakel nie.
Daar is in ons tyd beslis standpunte wat ons as gelowiges by sulke
antichristelike magte wil betrek. Dink maar aan die kwessie van die
gelykskakeling van godsdienste.
- Dit is nie iets wat ver van ons af is nie. Ons is al deur
wetgewing deel daarvan. Dit het in ons land sy beslag gekry. Hoe is dit
hoegemaand moontlik vir 'n Bybelse gelowige om die standpunt te kan
inneem dat alle godsdienste gelyk is?
- Die gelykskakeling van godsdienste kan net een van die volgende
dinge beteken:
- Of alle afgode word verhef om so hoog te wees soos die Here.
- Of die Here word verlaag om so nietig te wees soos die afgode.
- God en afgod word dus deur die mens identies gemaak.
Daar is 'n baie sterk valse geloofsrigting wat in ons tyd veld wen. Dit
is die rigting wat beweer dat die mens deel is van die Godheid -
trouens dat God bestaan uit die somtotaal van alles wat ons ken
(holisme). Dit is 'n rigting wat mens en God gelykskakel met mekaar.
- Let net op hoe die hele wêreld in ons tyd ingestel word op
gelykskakeling van kultuur en tradisies.
- Alles wat tot nou toe op hierdie terreine geken is en bestaan
het, moet vernietig word om plek te maak vir die nuwe wêreldorde.
- Dit is baie duidelik dat dit die soort van standpunte is wat van
die vierde dier af kom.
- Ons roeping is om in 'n ware eerlike geloof te volhard. Ons moet
nougeset bly in ons aanbidding teenoor die Drie-Enige God.
Hierdie hoofstuk in die Bybel wys die pad vorentoe baie duidelik vir
ons gemeente aan.
- Daar gaan verskriklike vervolging oor ons gelowiges kom. Ons kan
baie maklik deel uitmaak daarvan, want ons lewe in die tydperk van die
vierde dier se regering. Ons moet so voorbereid wees op hierdie
verdrukking dat ons nie ons geloof verloor as pyn en marteling die dag
op ons toeslaan nie.
- Ons moet vanuit die oorwinning lewe, want die Here openbaar baie
duidelik dat ons toekoms nie in pyn en ondergang lê nie.
- Ons toekoms lê in die ewige heerskappy in die koninkryk
van God.
- Hierdie koninkryk kom nadat die Here die verdrukking deur die
antichris beëindig het.
- Ons het 'n baie groot troos: Anderkant die aardse lewe met al
sy stukkendheid soos haat en bloed en moorde, is daar die volmaakte
veelkleurige koninkryk van die Ewiglewende. Daar is ons nie weer knegte
van ons eie sondes, en van ander se sondes - soos bv. die van die
antichris - nie.
- Daar is ons heersers wat so volmaak is dat geen kwaad of
ellende ooit weer sy hand op ons sal kan lê nie.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 43: 4, 5, 6.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum:17 Februarie 2002
Enkele aantekeninge:
1. Die feit dat die Here in Daniël se droom in die liggaam van 'n
mens op sy troon verskyn, is nie so vreemd nie. Daar is meer sulke
Godsverskynings waar die Here geteken word dat Hy in 'n menslike
voorkoms verskyn. Een baie bekende voorbeeld is die keer toe die Here
saam met twee ander manne aan Abraham verskyn het net voordat die Here
Sodom en Gomorra vernietig het (Genesis 18: 2vv. Vgl ook: Esegiël
1: 26 - 28; Esegiël 10: 1; 1 Konings 22: 19; Jesaja 6: 1;
Openbaring 4: 2).