Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 89:1, 11
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 40:4
Gebed
Psalm 2:1
Skriflesing:
Daniël 7.
Teks:
Daniël 7:10
. . .
die gereg het gaan sit en die boeke is geopen.
Die gesig van Daniël het betrekking op:
Wanneer God sy koninkryk op die aarde vestig, maak Hy ’n einde aan alle
aardse heerskappye.
In hierdie preek kyk ons na die kwessie van mag en regering wat
Daniël in sy droom gesien het en daarmee saam hoe alles gebeur tot
met die eindoordeel.
1. Vier magtige regeerders kom na vore
2. God oordeel hierdie magte
3. Die Here gee alle heerskappy aan
die Koning van die kerk
1. Vier magtige regeerders kom na vore
Die feit dat die wesens wat gesien word, diere genoem word, toon
aan
dat dit heidense volke/magte is, want daar is meer voorbeelde waar die
Bybel heidenvolke met diere vergelyk.
- In Esegiël 29:3 word Farao ’n draak genoem wat
in die Nylrivier lê.
- In Jesaja 27:1 word die magte van die wêreld
’n leviatan en ’n vinnig kronkelende slang genoem. (Vgl ook Jesaja 51:9
– die seemonster wat doodgemaak is.)
Die eerste dier wat Daniël sien, lyk soos ’n leeu wat arendsvlerke
aan het.
- Maar terwyl hy nog kyk, ondergaan die dier ’n
merkwaardige verandering: Iets of iemand ruk sy vlerke uit sy liggaam
uit.
- Daarna tel die persoon die leeu op sy agterpote dat
hy regop staan soos ’n mens.
- Die tweebeendier kry dan van iewers af ’n
mensehart.
- Dit is beeldspraak wat bloot sê dat die dier
verstand kry soos ’n mens.
- Die dier het dus op die een of ander manier begrip
en insig soos ’n mens in die hande gekry (vgl. Daniël 4:16).
Wie die vier koninkryke is wat uit die aarde opkom, sê die Bybel
nie. Al wat met sekerheid afgelei kan word, is dat daar gedurende die
eerste regering se tyd (leeu) ’n mate van versagting kom.
- Dan kom die tweede dier uit die stormagtige waters
opgebeur in die winde in.
- Die tweede regering (beer) wat opstaan, is uiters
agressief.
- Hy lyk soos ’n beer wat op sy een kant lê en
blykbaar besig was om te vreet aan iets, want tussen sy tande sit nog
drie ribbes vas wat hy van sy prooi afgeskeur het.
- Dit simboliseer die vraatsugtigheid en wreedheid
van hierdie dier. Veral ook nog omdat iemand hom beveel om op te staan
en baie vleis te eet.
- Die derde dier lyk soos ’n luiperd.
- Maar daar is 'n merkbare verskil tussen hierdie
dier en ’n gewonde luiperd, want hierdie dier het vier koppe en vier
vlerke.
- Hy kry mag om te heers. Die derde ryk (vierkoppige
luiperd) rig hom in sy heerskappy oor die hele wêreld. Dit is die
eerste regeerder wat oor die hele wêreld sal heers.
- Dit is juis die betekenis van die vier koppe –
elkeen kyk waarskynlik in ’n ander windrigting.
Hierdie dier het vlerke. Vlerke sien altyd op spoed. Die vier vlerke
wat hierdie dier het, dui op allesoortreffende spoed waarmee hierdie
ryk optree. Dadelik word dit duidelik dat die diere wat Daniël
sien, nie regte diere is nie. Hulle is bloot simbolies. Hulle is
inderdaad mense.
- Die vierde dier is ’n baie wonderlike gedrog.
- Hy kry ook nie ’n naam of ’n tipiese beskrywing
soos die eerste drie diere nie. Al wat van hierdie dier vertel word, is
dat hy verskriklik gelyk het en dat hy geweldige krag besit het.
- Hy het ystertande waarmee hy alles verslind wat
voorkom, en geweldige pote waarmee hy alles wat hy nie kan opeet nie,
vertrap.
Die Here het die apostel Johannes ook toegelaat om hierdie dier te
sien. Luister wat het hy gesien:
En ek
het op die sand van die see gaan staan. En ek het ’n dier uit die
see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien
krone en op sy koppe ’n naam van godslastering. En die dier wat ek
gesien het, was soos ’n luiperd, en sy pote soos die van ’n beer, en sy
bek soos die bek van ’n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy
troon en groot mag (Op. 12:18-13:2).
Die vierde dier is die ryk wat aan die regeer is wanneer die Here Jesus
op die wolke verskyn.
- Die Bybel teken daardie ryk as ’n ryk wat totaal
oor die hele aarde regeer.
- Sy uitbreiding word deur ’n veroweringsug gedryf om
letterlik oor almal op die aarde te heers.
- Alle mense word dan uiteindelik deur geweld ingelyf
in die ryk van hierdie dier.
Die dier wat Daniël en Johannes sien, was anders as die ander drie
diere omdat hy ook nog tien horings gehad het. Sy horings is bloot
dekor waarmee hy die volheid van God naboots.
- Hy het al sy mag en heerskappy uitsluitlik by die
duiwel gekry.
- Die feit dat hy ’n dier genoem word, is om
simbolies te sê dat hierdie regeerder die eienskappe van ’n dier
het – so sleg en laag het hy gedaal.
Die ryk van die vierde dier het aanvanklik nie ’n enkelvoudige
regeerder nie.
- Die tien horings wat op die vierde dier se kop is,
is tien magsfigure wat saam oor hierdie ryk sal regeer.
- Hierdie ryk sal sy oorsprong hê uit politieke
verhoudings. Die feit dat die getal van die magsfigure tien is, is
simbolies daarvan dat hulle daarmee wil maak asof hulle net soveel mag
as die Here het.
Terwyl Daniël vir die dier gekyk het, het daar tussen die tien
horings ’n klein horinkie opgekom. Drie van die ander horings is
eintlik uitgeruk om vir hierdie nuwe klein horinkie plek te maak.
- Hierdie klein horinkie trek al Daniël se
aandag, want dit was nie ’n gewone horing nie.
- Hy het oë soos ’n mens en ’n mond soos ’n
mens.
- Uit hierdie woorde kom ons duidelik agter dat
hierdie dier ’n mens is wat verskriklike dinge teen die Here en die
gelowiges kwytraak.
2. God oordeel hierdie magte
Terwyl Daniël staan en kyk, verander die hele toneel voor hom.
- Hy sien in sy droom hoe daar in die hemel
voorbereidings getref word vir ’n geweldige groot hofsitting.
- In ’n troonsaal word ’n aantal trone reggesit vir
die hofsitting om te begin.
- In die middel neem daar toe Iemand plaas wat ewig
lewe.
- Daar word geen aanduiding gegee van wie op die res
van die trone sit nie.
Die Here verskyn as die Ewiglewende. Die Ou Vertaling het dit nog
letterlik vertaal met “’n Oue van Dae”.
- Die beeld van die ouderdom is om eerbied uit te
beeld asook die rustigheid van God se majesteit.
- Dit beskryf ook dat die Here vir altyd lewe: Hy
gaan nie dood nie.
- Die majesteit van die Here word nog verder
onderstreep deur die teenwoordigheid van die engele wat daar voor die
troon van die Ewiglewende staan: Duisend maal duisende het Hom gedien
en tienduisend maal tienduisende
het voor Hom gestaan.
In Daniël se gesig bestaan die Ewiglewende se troon uit vuurvlamme
en die troon staan op wiele van vlamme. Uit die troon het ’n stroom van
vuur vorentoe gevloei.
- Dit is regtig belangrik dat ons duidelikheid kry
oor waarom die troon van die Here in hierdie gesig juis van vuur is,
want daar is ander plekke in die Bybel waar die troon van die Here
geopenbaar word dat dit van chrisoliet (topaas, saffier) is, en een
plek beskryf dat daar selfs ’n reënboog oor die troon van die Here
is.
Die antwoord is:
- Die ander beskrywings openbaar die
vredesheerlikheid van die regering van die Here in die hiernamaals.
- Hierdie een openbaar die oordeelsregering van die
Here. Die vuur is die simbool van reg en van oordeel en van
vernietiging (vergelyk Esegiël 1:15-28).
Dadelik begin die hofverrigtinge. Die gereg gaan sit. Die boeke word
oopgemaak.
- Die bedoeling is dat nagegaan word wie se name
daarin staan, sodat die mense wie se name ontbreek, dadelik deur die
Ewiglewende geoordeel en gevonnis word (Vgl. Jesaja 65:6; Maleagi 3:16;
Psalm 56:9).
Die heel eerste persoon oor wie die Here sy oordeel voltrek, is die
vierde dier. Meer presies – die klein horinkie wat al die lasterlike en
verwaande dinge teen die Ewiglewende en sy heiliges kwytgeraak het.
- Die laaste oordeel wat oor die wêreld kom,
sny in die tyd in, want in die tydperk van die halwe tyd vind die
eindoordeel plaas. Daarmee openbaar die Here hoe dit sal gebeur dat die
antichris se dade beëindig word voordat hy sy boosheid kan
klaarmaak.
- Hier word nie geopenbaar hoe dit gebeur het nie.
- Al wat die Here baie skerp openbaar, is dat die
eindgerig hom toespits op die klein horinkie wat nog steeds vloekend en
skellend teen die Here te velde trek.
- Die vernietiging is nie net vir ’n rukkie nie. Dit
is vir ewig en altyd – totaal. Hy word veroordeel en verbrand. Daar bly
van die antichris nie eers ’n spoor oor tot in alle ewigheid nie.
4. Die Here gee die koningskap aan die
Koning van die kerk
Terwyl Daniël nog so gekyk het, word sy oog getref deur die
verskyning van Iemand anders wat op die wolke van die hemel kom.
- Die Wese het soos ’n mens gelyk en Hy het na die
Almagtige Regter wat op die vlammende troon sit, gegaan.
- Daniël sien hoe “hulle” Hom na die Ewiglewende
toe neem. Hy sê nie wie die “hulle” is nie.
Daar is nie twyfel oor Wie die Een is wat op die wolke kom en die
koningskap ontvang nie.
- Jesus Christus het presies hierdie woorde aangehaal
en vir die dissipels gesê dat dit Hy is. (Matteus 26:64; Markus
14:62; Handelinge 7:56; Openbaring 1:13; Openbaring 14:14).
Dit is baie opvallend dat die Here se optrede meteens liefdevol is.
- Hy gee aan die Een wat lyk soos ’n Menseseun
heerskappy en eer en koningskap oor alle volke en nasies en tale.
- Hierdie koningskap is onverganklik en kom net nooit
tot ’n einde nie. Alle volke, nasies en tale dien Hom deur Hom te
vereer en te aanbid.
- Daarmee saam kom daar vir ons genade, want daarmee
word die tyd van verdrukking en vervolging wat vir ons voorlê,
afgesluit.
- Inderdaad meer as net afgesluit, want met Jesus se
ewige koningskap betree ons ook ons nuwe blyplek – die Koninkryk van
God.
Waar die oopmaak van die Here se boeke vir die antichris en sy magte
baie groot moeilikheid beteken het, beteken dit vir ons wat waarlik
glo, die wonderlikste genade.
- Ons word van die Here se oordeel verskoon deur die
verdienste van die Seun van die mens.
- Die stryd wat Hy op die aarde deurgemaak het, veral
aan die kruis, kry dan sy volle beslag oor ons – ons lewe vir ewig saam
met Hom.
Nadat die Here die antichris verdelg het, keer die Here dadelik die
rolle om. Die heiliges van die Allerhoogste regeer nou.
- Daniël het by die engel gehoor wat die Here
met die gelowiges doen.
- Sopas was hulle nog vervolg, toe word hulle
heersers in ’n veel groter ryk as wat die antichris onder sy regering
gehad het.
- Hulle kry mag oor alle ryke wat onder die hemel
(met ander woorde op die aarde) is.
Die koningskap word tot in alle ewigheid aan die heiliges van God
gegee. Dit verwys terug na vers 14. Daar is egter ’n verskil.
- In die eerste deel van die droom het Daniël
gesien dat die koningskap aan die Seun van die mens gegee word.
- Toe die engel die gebeure verklaar, toe sê hy
dat die koningskap aan die heiliges van die Allerhoogste gegee word.
Daar is nie werklik spanning tussen die twee sake nie, want die Nuwe
Testament verduidelik die saak.
- Die oomblik wanneer die koninkryk aan Jesus
Christus gegee word, deel al sy heiliges tot in ewigheid saam met Hom
in die regering daarvan.
- Die heiliges van die Allerhoogste is die
uitverkorenes wat tot in alle ewigheid saam met Christus sal regeer (2
Timoteus 2:12 en Openbaring 22:5).
- Saam met Christus regeer ons dan (v. 13, 14, 18,
26) oor die totale koninkryk van God.
- Daar sal geen enkele mag meer wees wat hom teen
hulle sal verset nie.
- Daar sal baie liefde en vrede wees, want die hele
koninkryk sal vrywillig en voluit aan hierdie regering onderworpe wees.
Wat maak ons met al hierdie dinge uit Daniël se naggesig? Ons moet
daarmee die wêreldgeskiedenis lees en die geeste van ons tyd
toets. Die eerste drie diere se tyd is al verby. Ons leef waarskynlik
reeds in die tyd van die vierde dier, want die apostel Johannes het hom
ook gesien (Openbaring 12:18-13:2).
- Die geslyptheid van die antichris kan ons maklik
verlei om deel te neem aan sy wêreldryk – wat natuurlik in
hierdie oordeelsoomblik vir ons ontsaglike ellendes gaan veroorsaak as
ons daarvoor val.
- Daarom is hierdie openbaringe wat Daniël
ontvang het nie net om ons kennis uit te brei sodat ons kan weet wat
aan die einde van die tyd gaan gebeur nie. Dit is ook om ons te waarsku
sodat ons nie iewers saam met die magte van die dier moet inskakel nie.
Daar is in ons tyd beslis standpunte wat ons as gelowiges by sulke
antichristelike magte wil betrek. Dink maar aan die kwessie van die
gelykskakeling van godsdienste.
- Dit is nie iets wat ver van ons af is nie. Ons is
al deur wetgewing deel daarvan.
- Die gelykskakeling van godsdienste kan net een van
die volgende dinge beteken:
- Óf alle afgode word verhef om so hoog te
wees soos die Here.
- Óf die Here word verlaag om so nietig te
wees soos die afgode.
- God en afgod word dus deur die mens identies
gemaak.
Daar is ’n baie sterk valse geloofsrigting wat in ons tyd veld wen. Dit
is die rigting wat beweer dat die mens deel is van die Godheid –
trouens dat God bestaan uit die somtotaal van alles wat ons ken
(holisme). Dit is ’n rigting wat mens en God gelykskakel met mekaar.
- Ons roeping is om in ’n ware eerlike geloof te
volhard. Ons moet nougeset bly in ons aanbidding teenoor die Drie-enige
God.
Hierdie hoofstuk in die Bybel wys die pad vorentoe baie duidelik vir
ons gemeente aan.
- Daar lê ’n swaar pad voor vir iemand wat in
die Here Jesus wil bly glo.
- Ons kan baie maklik deel uitmaak van dit wat in die
gesig geopenbaar word, want ons lewe in die tydperk van die vierde dier
se regering.
- Ons moet so voorbereid wees op hierdie verdrukking
dat ons nie ons geloof verloor as pyn en marteling die dag op ons
toeslaan nie.
- Ons moet vanuit die oorwinning lewe, want die Here
openbaar baie duidelik dat ons toekoms nie in pyn en ondergang lê
nie.
- Ons toekoms lê in die ewige heerskappy in die
koninkryk van God.
- Hierdie koninkryk kom nadat die Here die
verdrukking deur die antichris beëindig het.
Ons het ’n baie groot troos: Ons word van die Here se oordeel verskoon
deur die verdienste van die Seun van die mens. Die stryd wat Hy op die
aarde deurgemaak het, veral aan die kruis, kry dan sy volle beslag oor
ons – ons lewe vir ewig saam met Hom.
- Anderkant die aardse lewe met al sy stukkendheid
soos haat en bloed en moorde, is daar die volmaakte veelkleurige
koninkryk van die Ewiglewende.
- Daar is ons nie weer knegte van ons eie sondes, en
van ander se sondes - soos bv. die van die antichris - nie.
- Daar is ons heersers wat so volmaak is dat geen
kwaad of ellende ooit weer sy hand op ons sal kan lê nie.
Wanneer die Gereg sit, en die boeke oopgemaak word, gaan ons tot in
ewigheid in die volle heerlikheid van God se koninkryk in.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 68:1, 15
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 7 Desember 2003 (oggend)