Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 47:1,4
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 99:4,5
Gebed.
Psalm 93:1
Skriflesing: Daniël 8
Teks: Daniël 8:14B
. . .
dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.
In die verlede het daar al dinge in die geskiedenis gebeur wat die
dinge wat aan die einde van ons tyd gaan gebeur, presies voorspel het,
omdat hulle presies gebeur het soos wat dit aan die einde van die tyd
weer gaan gebeur.
- Kom ons kyk na hierdie gesig wat Daniël gesien
het met die bedoeling dat ons daaruit kan sien wat die Here vir die
gelowiges van die laaste dae vooruit sê.
- Ons kyk na die Here se genade en na die volke se
bewegings.
- Maar ons kyk ook in al hierdie dinge na die foute
van die kerk self.
Ons let op die volgende sake:
1. Die eerste ryk regeer die
wêreld
2. Die totstandkoming van die tweede
ryk
3. Die verskyning van die ware ryk
1. Die eerste ryk regeer die
wêreld
Terwyl Daniël in die vestingstad Susan is, sien hy ’n gesig wat
die geskiedenis van sy tyd af tot met die aanbreek van die koninkryk
van die Here verduidelik het. Onder andere het hy in die gesig gesien
hoe die Grieke die Perse later op presies die plek waar hy was,
verslaan het in ’n bloedige veldslag.
Wat interessant is, is dat Daniël die eerste hoofstukke van sy
boek tot by hoofstuk 7 in Aramees skryf. Dit was die algemene taal van
daardie tyd. (Dit was ook Jesus Christus se huistaal.) Van hoofstuk 8
af skryf hy in Hebreeus.
- Daar is nogal ’n rede voor, want Hebreeus was
destyds vir die Jode ’n heilige taal, daarom skryf hy dit wat die
gelowiges in die besonder raak, in Hebreeus.
- Die eerste deel van sy boek raak die hele
wêreld. Daarom skryf hy dit in die taal van die hele wêreld
– Aramees.
- Maar van hoofstuk 8 af handel die boek Daniël
spesifiek oor die kerk van die Here.
Wat het Daniël gesien wat die kerk/verbondsvolk so besonder raak?
Daniël het lande gesien wat voorgestel word deur diere.
- Die diersimbole was ontleen aan die astrologie van
Babilonië.
- Daarvolgens is elke land deur ’n dier voorgestel,
byvoorbeeld Persië deur ’n skaapram, Griekeland deur ’n bokram en
Sirië deur ’n steenbok.
Daniël het ’n skaapram gesien wat alles platloop.
- Volgens die uitleg wat aan Daniël gegee is,
simboliseer die skaapram Persië (vers 20).
- ’n Ram is bowendien die beeld van mag en leierskap,
want die Perse was op daardie tydstip die wêreldheersers.
- Die skaapram het twee groot horings gehad waarvan
die een langer was as die ander een.
- Die verskillende lengtes van die skaapram se
horings wys op die verskil tussen die magsverhouding van die dele
waaruit hierdie ryk saamgestel was, naamlik die Mediërs en die
Perse.
- Die Persiese ryk het na die Mediese ryk gekom, maar
was die magtigste van die twee ryke.
Toe Daniël die gesig gesien het, was dit nog hoe die toestand was,
maar die Here het aan hom geopenbaar dat dit gaan verander.
2. Die totstandkoming van die tweede
ryk
Daarna het ’n bokram (Griekeland) uit die Weste verskyn. Die
bokram
word ook mitologies geteken.
- Hierdie bokram het net een opvallende horing tussen
sy oë gehad. In daardie tyd was die eenhoring (“unicorn”) ’n
legendariese figuur wat magtig was.
- Hy het met so ’n geweldige spoed op die skaapram
afgestorm dat dit gelyk het asof hy glad nie grond raak nie.
- Die bokram het toe die skaapram oorwin. Maar hy het
nie lank geheers nie, toe is hy dood en het daar vier ander regeerders
in sy plek gekom.
Tot op hierdie punt is die gesig baie maklik om te verstaan, want dit
was ’n openbaring van hoe die geskiedenis van daardie deel van die
wêreld sou verloop. En ons weet nou na die tyd dat dit presies so
gegaan het.
- Dit het natuurlik vooruitgesien op Alexander die
Grote. Hy was ’n oorlogmaker van die grootste formaat wat die
wêreld nog ooit opgelewer het.
- Tot vandag toe gryp sy veldslae en oorwinnings die
mense se verbeeldings aan.
- In die jare 334 tot 323 v.C. was Alexander in die
omgewing van Babilonië bedrywig. Daniël het dit in hierdie
gesig vooruit gesien.
Die Here het Daniël ook laat sien hoe Alexander die Grote die
Persiese ryk verslaan het.
- Die bokram het die skaapram stormgeloop en altwee
sy horings afgebreek. Die botsing wat Daniël gesien het, was
spesifiek die geveg tussen Alexander die Grote en die Pers Darius III
Codomanus.
- In daardie veldslag is die Persiese ryk beslissend
verslaan en Alexander was toe onbetwisbaar die oorwinnaar oor alle
volke.
Alexander die Grote is dood op ’n baie jong ouderdom. Hy was 32 of 33
toe hy dood is, en toe het hy al klaar die hele destydse wêreld
oorwin gehad. Hy het dus nie lank regeer nie – presies soos wat dit aan
Daniël geopenbaar is. Alexander se ryk is toe verdeel tussen sy
vier generaals. Die vier nuwe ryke was Masedonië, Trasië saam
met Klein Asië, Sirië en Egipte.
Maar dan kom die gesig op ’n punt waar dit ons ook raak.
- Uit een van die vier horings het daar nog ’n horing
gekom.
- Hierdie regeerder was baie listig en magtig en
verwaand.
- Hy het baie skade gedoen, want in sy verwaandheid
het hy selfs gewaag om die Here aan te durf.
- Hy het die ware godsdiens vervang met ’n
leuengodsdiens.
Hierdie nuwe en magtige regeerder was die Siriese koning Antiogus IV
Epifanes. Hy het ooswaarts uitgebrei en later Palestina ingesluk. Die
Bybel noem dit hier “die mooi land en
die pragtige stad”.
U sal nou kan vra wat dit met ons te doen het. Ons kry die antwoord in
die slot van vers 9.
- Daar word die verband tussen die Here se
verbondsvolk en die hemelse leërmag gelê. Ons is deel van
die verbondsvolk.
- Daarom is hierdie geskiedenisopenbaring ook van
toepassing op die kerk van die toekoms – dit is ons.
- Hierdie koning se stryd was inderwaarheid ’n oorlog
teen die kerk van die Here en teen die Here self.
Die Bybel vertel dat hierdie koning, Antiogus IV Epifanes, so magtig
geword het dat hy selfs die hemelse leërmag aangedurf het en party
van hulle – die sterre – op die grond gegooi en het (v. 10).
- Antiogus IV Epifanes word hier gesien as die
beliggaming van ’n anti-Goddelike mag wat agter die gebeurtenisse sit.
- Dit was dus aan die een kant die stryd van ’n mens
teen die verbondsvolk, maar die stryd wat daaragter gesit het, was
groter.
- Die diepste dryfveer was die Satan en sy mag wat
met hierdie man se optrede die troon van God probeer aanval het.
Die Here openbaar hoe geweldig verwaand hierdie Epifanes was, en hoe
opstandig hy teen die Here se gesag was.
- Hy het die gelowiges doelbewus vervolg en hy het ’n
aantasting van die diens aan die Here afgedwing op die gelowiges.
- Hy was in sy hele optrede anti-Goddelik.
- Dit is duidelik hoe hierdie man die Hoof van die
hemelse leërmag – God self – aangedurf het.
- Hy het die daaglikse offers verbied. Daarmee wou hy
alle aanbidding en eer wat aan die Here toekom stopsit.
- Hy het sodoende probeer om die band tussen die Here
en sy volk deur te sny.
- Die Here moes dus soort van in die eensaamheid van
ballingskap gaan.
- Verder het hy die tempel afgebreek en in die plek
van die erediens aan die Here het hy ’n sondige diens ingestel.
- Daarmee het Epifanes gedink dat Hy die Here en sy
leërskare vertrap.
Ons sou wou hoop dat sy planne iewers gekeer word, sodat hy nie soveel
skade sou aanrig nie. Maar die Here openbaar presies die
teenoorgestelde: Die voorspoed waarmee hierdie menslike duiwel sy
planne uitgevoer het, word deur die Here bevestig.
Die sorg wat die Here tref om seker te maak dat Daniël hierdie
gesig goed verstaan, kom ook uit. Daar is twee engele wat met mekaar
praat.
- Die een is onbekend, maar hy gee ’n bevel aan ’n
ander een wie se naam Gabriël is om die hele saak vir Daniël
te verduidelik.
- Wat interessant is, is dat dit die heel eerste keer
in die Bybel is wat ’n engel se naam genoem word. Ons lees later in die
Bybel weer van hierdie spesifieke engel – Gabriël.
- In die uitlegging wat deur Gabriël gegee word,
is daar gewone geskiedeniselemente, maar daar is ook eskatologiese
(toekoms) momente.
- Dit behandel dinge wat die gewone perke van sake
oorskry. Die hemel kom as ’t ware in beweging oor die dinge wat op die
aarde gebeur.
Die wêreld word so vyandig teenoor die gelowiges dat hulle nie
meer kan voortbestaan nie.
Dan laat die Here van Hom hoor.
- Die Here wys dat Hy wel in die hemel woon, maar dat
die dinge wat op die aarde gebeur, nie los staan van dit wat in die
hemel gebeur nie.
- Hy is God van hemel en aarde. Geen mag kan buite
die heerskappy van God sy septer oor die aarde swaai nie.
Ons lees in vers 13 dat een van die engele vra: “Hoe lank sal die gesig
duur?” Dit is ’n tipiese vraag wat in die apokaliptiek voorkom.
- Dit gaan ook gewoonlik oor die vervolging en
swaarkry van gelowiges (vgl. Psalm 6:4; 80:5; 90:13; Jesaja 6:11;
Habakuk 2:6.).
- Daarmee gee die Here ’n duidelike aanduiding dat
daardie tyd ’n tyd van diep seer vir die gelowiges gaan wees.
3. Die verskyning van die ware ryk
Die skrikwekkende sonde dat die hele erediens en die offers aan die
Here prysgegee is en dat die heiligdom ontreinig is, sal weer deur die
Here self herstel word. Dit gebeur na 2 300 aande en oggende.
- Niemand weet hoe die getal saamgestel is nie. Die
betekenis is egter duidelik, en dit is wat saak maak:
- Daar is ’n vasgestelde tyd wanneer die Here die
diens aan Hom weer volmaak sal herstel.
- Daar is ook ’n vasgestelde tyd wanneer die Here
self in opstand kom teen die lyding oor die gelowiges (vgl. die Here
wat Israel se gebede in Egipte gehoor het en Farao gestraf het).
Die engel het vir Daniël vertel waarop die toorn van God gaan
uitloop. God is toornig op die sonde – dié van sy vyande en
dié van sy eie volk.
- Wanneer die Here toornig is, gebruik Hy ander
nasies as ’n roede om sy volk te tug, en dit gaan uitloop op die
eindtyd.
- Wat Daniël ervaar het, was so groot dat hy dit
nie kon verduur nie. Die rede waarom die Bybel dit vermeld, is om aan
te toon dat die dinge wat met die laaste groep mense gaan gebeur baie
ontstellend is.
- Daniël kon dit nie hanteer nie. Dit is ook
waarom die Here vir hom gesê het dat hy dit geheim moet hou.
Die Bybel gebruik in hierdie openbaring die merkwaardige verwysing
“eindtyd”.
- Die woord “eindtyd” word gebruik in dieselfde
betekenis as die profetiese uitdrukking “die einde van die dae”.
- Dit wys daarop dat daar ’n ander bedeling gaan
aanbreek wat heeltemal anders gaan wees as die huidige.
- In daardie tyd sal die oordeel oor die Here se
verbondsvolk se vyande voltrek word.
- Terselfdertyd breek die herstel van die
verbondsvolk dan aan, en dan begin die sogenaamde Messiaanse tydvak.
Dit is waar hierdie profesie ons raak. Aan die einde van die tyd sal
alles wat kosbaar is van ons wat gelowig is, weggeneem word.
- Al ons lyding sal draai rondom ons geloof.
- Die betekenis van Antiogus IV Epifanes is juis dat
die Here daarmee aantoon dat die regeerders van die eindtyd net soos hy
sal wees. Hulle sal die Here se tempels verander in plekke van
afgodsdiens – terwyl hulle ons sal verplig om daar vir verkeerde dinge
te gaan offer.
Ons sal moet sterk staan, want dit is baie moontlik dat al hierdie
marteling en verset teen God in ons tyd al kan gebeur.
- Maar dan is dit belangrik dat ons in die
geskiedenis moet terugkyk en sien dat soos wat hierdie profesie in die
verlede al gedeeltelik vervul is, die Here se bewarende hand die hele
tyd oor die ware gelowiges was. So sal dit met ons ook wees.
- Wat veral belangrik is om raak te sien is dat
hierdie skaapram en bokram wat Daniël gesien het nie sonder rede
oor die verbondsvolk geloop het nie.
- Hulle sondes het veroorsaak dat die Here hierdie
heidennasies beskik het om hulle te straf.
- Dit sal in die laaste jare niks anders wees nie.
Daar sal so min ware gelowiges wees dat die Here ter wille van hulle
die laaste dae sal korter maak.
Hierdie regerings wat die Christene so sal verdruk gaan vir die res van
die wêreld goeie regerings wees. Hulle gaan dit net teen die
gelowiges hê omdat hulle die Here dien, want die Here openbaar
hier dat daardie magte selfs die sterre van die leër van die hemel
aanval en hulle vertrap in hulle poging om die Vors van die leër,
naamlik God self by te kom.
- Dit is waarom dit so belangrik is om te onthou dat
hierdie magte niks besonders is nie.
- Hulle kan ons vertrap, maar God gaan self sy
heiligdom herstel – ongeag of hierdie mense dit wil doen of nie.
- Inderdaad het Hy al die eerste stappe geneem.
- Dit het gebeur in die geboorte en dood van Jesus
Christus. Lees maar in Openbaring 12 hoe die magte van die hel
hulleself ontplooi en gemonster het om Jesus by sy geboorte dood te
maak.
- Johannes sien dat die draak die vrou met haar kind
tot niet wil maak. Maar hy kan doodgewoon nie, want God ruk die vrou en
haar kind weg – sonder dat die Satan ’n ding kan terugdoen.
- By hoeveel geleenthede het die duiwels Jesus
gesoebat om hulle nie voor hulle tyd te pynig nie.
- Hulle weet dus ook dat daar ’n dag kom wanneer die
Here sy heiligdom gaan herstel – soos dit aan Daniël geopenbaar
is.
- En daardie dag is hierdie duiwels in baie groot
moeilikheid, want hulle word sonder die toedoen van mense deur God se
krag verdelg.
Die oordeelsdsag gaan baie maklik deur God hanteer word, want Jesus het
aan die kruis geopenbaar dat Hy in sy eie besluit in die dood kon
ingaan sonder dat die duiwel hom daarin forseer het – soos wat hy met
die mense doen. Jesus het self oor die oomblik van sy dood besluit.
- Met die opstanding het Jesus presies dieselfde
gedoen. Hy het uit die dood teruggekom sonder dat die duiwel iets
daaraan kon doen.
- Daarmee het die Here die duiwel verpletter. Met die
hemelvaart het die duiwel en sy engele weer ’n poging aangewend, maar
Michael en sy engele het die duiwel verdryf.
Wanneer Jesus weer op die wolke verskyn, word die heiligdom van God
herstel (Daniël se woorde). Dit is eintlik saggies gestel, want
dan kom die koninkryk van God.
- Daardie oomblik is dit met die Satan en sy hele
magspel verby. Hyself word deur God in die hel verseël, terwyl ons
in die heerlikheid van God ingaan.
In die eindverdrukking is baie genade, want daarin openbaar die Here
iets van hoe die binnekant van die hel lyk, sodat ons kan begeer om nie
daar te wees nie. Terselfdertyd is dit om die kontras wat ons gaan
belewe wanneer ons in die heerlikheid van God ingaan, soveel skerper te
stel.
Daarom moet ons moed skep en blymoedig lewe, al is dit so dat die
wêreld nou allerhande trekke begin toon wat vir ons baie verkeerd
en onaanvaarbaar is. Hou moed, want die geskiedenis het gewys dat die
Here sy hand sterk maak tot beskerming van die gelowiges, en dat Hy op
sy vasgestelde tyd al hierdie wêreldse ellendes tot niet gaan
maak, en ons in sy verheerlikte heiligdom sal laat ingaan.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 136:2
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig
wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 14 Desember 2003 (oggend)