Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 31:1, 13
Geloofsbelydenis Apostolicum
Wet
Psalm 25:3
Gebed
Psalm 30:7
Skriflesing:
Deuteronomium 3
Teks:
Deuteronomium 3:25
Laat
my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê,
daardie goeie bergland en die Libanon! (AFR53)
Dit gaan oor die gebed en oor die toekoms. Soms bid ons so opreg en dan
lyk dit vir ons asof daar niks gebeur nie. Die waarheid is dat ons
hemelse Vader weet wat vir ons goed is, en Hy verhoor ons gebede ook so
dat ons die goeie uit sy hand ontvang.
Ons kyk na die volgende sake:
1. Moses bid steeds na sy sonde.
2. Die Here se reaksie op Moses se
gebed.
3. Tog het die Here Moses verhoor.
1. Moses bid steeds na sy sonde.
In die gedeelte wat ons saamgelees het, bid Moses. Hy begin sy gebed
met ’n lofverheffing: Here, HERE.
- Hy bid dus tot die Here as Skepper en Bestierder en
ook as Verbondsgod – dis wat die twee Godsname beteken.
- Daarna prys hy die grootheid van God deur te vra
watter God daar nog in die hemel en op die aarde is wat sulke magtige
dade soos die Here kan doen.
Toe Moses gebid het: U het begin om U kneg U grootheid en U sterkte te
laat sien, het hy ongetwyfeld gedink aan die kere wat hulle van die
dors wou sterf in die woestyn en die Here hulle toe water gegee het.
- Moses moes ongetwyfeld baie helder gedink het aan
die keer toe die Here hom beveel het om met die rots te gaan praat –
daarop sou die Here water laat uitvloei vir die volk en hulle diere om
te drink.
- Maar Moses het na die rots toe gegaan en dit
geslaan, in plaas van om daarmee te praat.
- Hierdie gebeurtenis was juis die aanleiding vir sy
gebed.
- Omdat hy by daardie geleentheid ongehoorsaam was,
en verkeerd opgetree het, het die Here Moses verbied om in Kanaän in te
gaan.
Daarna eers kom Moses by dit wat hy eintlik wil vra.
- Die Here moet tog dat hy Kanaän kan ingaan. Hy wil
so graag die pragtige land intrek, want dis tog waarvoor hy die volk in
Egipte gaan haal het.
- Moses wou bitter graag die goeie land sien omdat hy
daarmee die afronding van sy werk sou sien.
- Ons kan seker ook sê dat Moses daarmee die
afronding van die Here se werk sou sien.
Moses was egter vertroud met sy eie sondes.
- Hy het geweet dat hy nooit die land Kanaän sou
ingaan nie omdat hy aan die Here ongehoorsaam was.
- Daarom bid hy hierdie vurige smeekgebed dat God tog
genade aan hom moet bewys en hom die Jordaan moet laat oortrek.
Kom ons kyk net eers na die gesindheid van Moses se gebed.
- Hy vra niks met bybedoelings nie. Hy bid werklik
opreg.
- Hy vra nie eers om die volk in die land in te lei
nie, want hy het geweet dat dit Josua se werk sal wees.
- Hy wil net die land sien.
2. Die Here se reaksie op Moses se
gebed.
Die Here word kwaad oor hierdie gebed.
- Baie toornig wys die Here die gebed af.
- Dit beteken dat die Here nie die versoek in Moses
se gebed toestaan nie, en nie die guns verleen dat hy in Kanaän mag
ingaan nie.
- Die Here verbied hom selfs om een enkele woord
verder daaroor te praat.
As ons net hier sou vassteek, dan lyk dit asof die Here glad nie Moses
se gebed verhoor nie. Maar dis nie waar nie.
- Die Here bewys die grootste genade aan hom.
- Die Here beveel Moses om op die top van die berg
Pisga te klim.
- Die Here gaan hom die land Kanaän wys!
- Die Here se genade is so groot dat hy Moses se oë
so sterk gemaak het dat hy die hele land Kanaän kon sien.
- Die Here sê vir Moses dat hy na die noorde en ooste
en die weste en die ooste en die suide moet kyk. Hy sal die hele
Palestina sien.
- Dit is waarskynlik ook die bedoeling van die Here
as Hy vir Moses sê: Dis nou genoeg. Dis meer as genoeg dat Moses van
Pisga af alles kan sien. Dit sou dan ook beteken: My genade is vir jou
genoeg.
Hierdie woorde van die Here wys baie mooi dat die barmhartigheid van
die Here nie plek het vir oordeel nie.
- Moses het mos gevra om in die land in te gaan – en
dis nie toegestaan nie.
- Al is Moses se gebed nie verhoor soos wat hy dit
gevra het nie, het die Here genoeg genade aan hom bewys dat hy meer kon
sien as net vae omtrekke van die land.
- Hy kon die hele land sien soos wat dit daar voor
hom gelê het.
- Dit alleen was ’n volle verhoring van sy gebed.
Die Here het ook met hierdie daad bewys gelewer dat Hy Moses sy
ongehoorsaamheid vergewe het.
Maar wat nou van al ons gebede? Ons bid dan ook so baie vir ons nood.
Is dit nie dalk ’n fout in ons geloofsisteem dat ons net (en veral) bid
wanneer ons nood en moeilikheid het nie?
- Dis so ’n erkende wanpraktyk dat ons eintlik ’n
spreekwoord het wat sê: Nood leer
bid!
- Kan mens verwag dat die Vader net altyd moet gee en
vergewe?
- Tog onderstreep hierdie Bybeldeel treffend die
genade van ons hemelse Vader. Al is ons gebede baie keer ondankbare
gebede wat net eis, verhoor die Here ons tog!
Moses se gebed was ook nie reg nie.
- Hy vra die Here nie om hom die betrokke sonde te
vergewe nie.
- Hy vra net om in Kanaän in te gaan.
- Dit lyk somtyds in ons gebede so asof ons verwag
dat die Here maar sy oë oor ons sondes moet toedruk.
Daar is natuurlik gebede wat die Here nie verhoor nie.
- Die Here verhoor nie gebede wat teen die uitvoering
van sy raad ingaan nie, al is ons nood hoe groot.
- Jesus Christus het self eenkeer gebid dat die beker
van die kruis by Hom moet verbygaan.
- Hy was so groot in die nood dat Hy eintlik bloed
gesweet het.
- Dit was ’n opregte gebed, en heeltemal op sy plek
en tyd.
- Maar God het daardie gebed doelbewus nie verhoor
nie omdat Jesus Christus die beker van die kruisdood moes drink sodat
ons nie nodig gehad het om dit te drink nie.
- Jesus se gebed is nie verhoor nie, sodat ons gebede
die reg kon hê op verhoring.
- Deur die kruisdood het ons toegang gekry tot die
genadetroon van die Here – ook deur ons gebede.
Selfs na die hemelvaart het ons steeds die hulp en leiding van God in
ons gebede, want die Heilige Gees word as direkte gevolg van die
kruisdood na ons toe gestuur.
- Langs die gebed gesien, is die werk van die Heilige
Gees om ons wat uitverkore is te leer bid.
- As ons bid, is dit in die eerste plek die Heilige
Gees wat ons die vrymoedigheid gee om in die gebed voor ons hemelse
Vader te gaan kniel.
3. Tog het die Here Moses verhoor.
Moses se gebed is toe tog ten volle verhoor! Van die dag toe Moses
gebid het, tot die dag toe hy gesterf het, het hy Kanaän nie ingegaan
nie. Maar tog kry ons Moses later binne-in Palestina – op die berg van
verheerliking.
Ons lees in Matteus 17 dat Jesus en drie van sy dissipels op ’n hoë
berg geklim het. En dan volg die besondere woorde:
En
kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elia in gesprek met Jesus!
By daardie geleentheid was Moses en Elia gesante wat deur die Vader na
sy Seun Jesus Christus toe gestuur word om Hom voor sy dood te gaan
versterk.
- Met daardie geleentheid is Moses se gebed heeltemal
vervul, want al was dit na sy dood, hy was lewend in die land Kanaän.
- So is daar baie gebede wat ons bid wat eers later
ten volle verhoor word.
- In ons tyd is daar byvoorbeeld so ’n gebed wat op
verhoring wag, naamlik die gebed van die siele onder die altaar (Op.
6:9).
- Dis die mense wat op die aarde doodgemaak is omdat
hulle in die Here Jesus geglo het en aan sy getuienis vasgehou het.
- Hulle bid in die hemel: Hoe lank nog, Here?! Hulle
smeek die Here dat Hy hulle bloed op die aarde moet wreek.
- Die Here antwoord hulle dat hulle nog moet rus,
want daar is nog mense op die aarde wat moet sterf ter wille van sy
Naam.
- Eers wanneer die getal van hierdie mense vol is,
sal Hy die gebed om wraak verhoor.
Vandag het die Here ons verryk met die verkondiging van sy Woord en met
sy seën wat Hy voor en na elke erediens oor ons uitgespreek het.
- Hy het ons weer verseker van die vergifnis van
sondes en van al die weldade van die kruis.
- Hy het ons ook weer daarvan verseker dat ons met
vrymoedigheid mag bid, en mag weet dat ons gebede verhoor word.
Ons het baie dinge om voor te bid.
- Eerste moet ons die Here dank vir sy genade dat ons
weer vandag op ’n besondere manier gemeenskap met Hom kan hê in die
twee eredienste, en deur Hom verseker word van die vergifnis van ons
sondes.
- Daarby behoort ons Hom te dank vir sy versorging
van ons gemeente deur die jare. Ons moet ook bid vir sy seën oor ons in
die toekoms.
- Ons moet ook bid vir die wederkoms.
- Ons moet bid dat die koninkryk van God in sy
volmaaktheid en finale vervulling mag kom – sodat die Here Jesus sy
gelowiges op die aarde kan kom versamel.
- Ons moet ook soos Moses bid dat ons in die beloftes
van die Here mag ingaan – in ons geval dat ons op die nuwe aarde mag
wees, en saam met die heiligheid van God daar mag woon.
U moet onthou dat die Here Jesus se kruisdood oordeel en genade preek.
- Genade soos wat ons dit die afgelope jare ervaar
het, en soos wat ons dit ook weer aan die Nagmaalstafel belewe het.
- En oordeel oor die wat op sy liefde trap, en wat sy
eis om Hom as God te aanbid, weerstaan.
Wees dan gewaarsku, en gaan u lewe in met die genade van die Here Jesus
saam met u.
- Aanbid die Here in waarheid en in opregtheid.
- Lewe so dat u gesigsveld nie net beperk is tot die
hier en die nou van die lewe nie.
- Kom ons rig ons visier op die Here se eer, en op
die hiernamaals wat kom. Kom ons smeek die Here voortdurend om in sy
rus te mag ingaan.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 28B (10-2)
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 7 Maart 2004 (oggend)