Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 145:1, 10, 11, 12
Gebed
Psalm 104:1, 2, 19, 20, 21
Skriflesing: Efesiërs 1:
15-23. Lees ook Lukas 20:41-44 en Psalm
110.
Teks:
Kategismus Sondag 19. Efesiërs 1:20
Dit is
dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe
Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand
laat sit het.
Dawid het in Psalm 110 geprofeteer van die verwagte Priester-Koning van
Israel wat in Sion regeer.
- Hy het veral die besondere deel van God se
heerskappy beklemtoon waar die Messias saam met God in sy regering en
eer opgeneem word.
- Profeties het hy gesien hoe die Messias aan God se
regterhand sy plek inneem en deel in die wêreldbestuur.
- Verder sien hy hoe die wêreldgeskiedenis met
die Messias se troonsbestyging ’n finale wending neem. Hy heers oor al
sy vyande.
Intussen is Psalm 110 al vervul. Jesus Christus is gebore en in sy
omwandelinge op die aarde het Hy geleer dat Hy die beloofde Messias is.
Hy sê vir hulle:
Hoe is
dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here
noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my
regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete?
(Matteus 22:43, 44)
Toe
sê Hy vir hulle: Hoe is dit dat hulle sê dat die
Christus die seun van Dawid is? En Dawid self sê in die boek van
die Psalms: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand
totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete. (Lukas
20:41-43
AFR53)
- Hy het ook gesê dat Hy en die Vader een is,
en dat Hy al sy vyande gaan vernietig.
- Paulus getuig in sy brief aan die Efesiërs
daarvan. Hy is dan inderdaad ook een wat kan praat oor die plek wat
Jesus Christus nou na sy hemelvaart beklee, want hy het Jesus gesien
soos Hy nou is. Dit het mos gebeur toe hy op pad was na Damaskus toe.
Ons gaan in hierdie preek aan die volgende aspekte van die hemelvaart
aandag gee:
1. Die hemelvaart van Jesus Christus
2. Sit aan die regterhand van God die
Vader
3. Jesus u God en Koning
1. Die hemelvaart van Jesus Christus
Soos die Here is, voorspel en belowe Hy nie net nie Hy doen
ook. Efesiërs 1:20 beskryf hoe Jesus uit hierdie wêreld uit
wegbeweeg het na die troon van God die Vader. Die dissipels het dit
gesien gebeur. Markus (16:19) beskryf dit so:
Nadat
die Here dan met hulle gespreek het, is Hy
opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.
Want
Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: Die Here het tot
my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het
’n voetbank van u voete. (Markus 12:36 AFR53)
Lukas beskryf ook hierdie geskiedenis en dan verwys hy na wat Dawid
gesê het in Psalm 110. Dit is dus baie duidelik dat die Here met
Psalm 110 die hemelvaart van die Here Jesus voorspel het.
Ons het nog verwysings na Jesus se koningskap in die hiernamaals.
- So ’n voorbeeld is byvoorbeeld wat met Stefanus
gebeur het. Hy was die eerste martelaar in die kerk. Die oomblik toe hy
sterf, kry hy die genade dat hy kan sien wat in die hemele gebeur.
- Daar staan geskryf dat hy die heerlikheid van God
gesien het, en Jesus Christus aan die regterhand van God.
- Jesus het opgevaar na die hemel om daarmee sy
goddelike mag te openbaar, en sodat die gemeentes kan weet dat Hy hulle
met hierdie almagtige krag sal en kan bewaar. Hulle saligheid staan vas
in die hemelvaart van Jesus Christus.
Nou kan u miskien redeneer dat dit nie nodig was (of is) dat hierdie
dinge so spesifiek beskryf en bely word nie, want ons weet mos almal
dat Jesus God self is. Nee, so maklik is dit nie.
- Ons het hierdie profesie en sy vervulling nodig
sodat ons kan glo, want sonder die bewys van die Here se hemelvaart en
sonder die getuienis dat Hy aan die regterhand van God is, kon ons
geloof moontlik sy krag verloor het.
- Dan sou kettery nog makliker tot stand gekom het
deur die mense wat al klaar die Here Jesus se Godheid bestry.
Ons kan dus duidelik sien dat die Here sy raad aan ons openbaar wanneer
al hierdie dinge neergeskryf word, sodat dit ons geloof kan versterk,
en ons kan weet dat ons onder die bewaring en heerskappy van Jesus
Christus is.
2. Sit aan die regterhand van God die
Vader
Die hemelvaart van Jesus en die plek inneem aan die regterhand van God
die Vader is ’n daad waarin Jesus verhoog word. Daarom is dit goed dat
ons met groter noukeurigheid gaan ondersoek instel na die betekenis van
hierdie gebeurtenis.
Dit was van baie vroeg af die hoogste eerbetoon wat ’n hooggeplaaste
persoon iemand anders kon aandoen, as hy die persoon aan sy regterhand
laat sit het.
- ’n Voorbeeld hiervan kry ons in 1 Konings 2:9 waar
Batseba Salomo gaan spreek het oor Adonia.
- Die koning het, nadat hy haar gegroet het, vir haar
’n stoel aan sy regterhand laat neersit.
- Dit was nie die normale gebruik dat enige persoon
wat die koning gaan spreek het, aan sy regterkant gaan sit het nie,
daarom verhaal die Bybel hierdie gebeurtenis as ’n uitsondering.
- In die Nuwe Testament kry ons die geval waar Salome
vir die Here gaan vra het dat haar twee seuns die een aan sy regterkant
en die ander een aan sy linkerkant moet sit.
- Die regterhand is natuurlik ook ’n teken van
liefde. Ons het so ’n voorbeeld in Matteus 25:33 waar die Here Jesus
sê dat Hy met die laaste oordeel die skape aan sy regterhand gaan
bymekaarmaak, en die bokke aan sy linkerkant.
- Die skape aan sy regterhand is die uitverkorenes
wat die ewige lewe ingaan, en die bokke aan sy linkerhand is dié
wat hel toe gaan.
- Versorging en onderhoud word ook deur die beeld van
die regterhand uitgebeeld. Psalm 16:11 stel dit treffend dat ons van
die Here versadiging en vreugde ontvang, en dat dit uit sy regterhand
ons toekom !
- Die regterhand is in die Bybel ook die simbool van
krag omdat die meeste mense regs is, en sy regterhand dus sterker as
die linkerhand.
- Daarom is die beeld van die regterhand in die Bybel
ook beeld van God se mag.
- Dit is ’n troos vir die gelowiges omdat hulle weet
dat daardie sterk hand hulle gaan beskerm, maar terselfdertyd is dit ’n
dreigement vir die ongelowiges omdat daardie selfde regterhand hulle in
die hel gaan gooi.
Jesus Christus het dus al hierdie mag, want Hy sê van die dag van
sy verhoor dat hulle almal van daardie dag af die Seun van God sal sien
sit aan die regterhand van God se krag, en dat hulle Hom ook sal sien
kom met die wolke (Markus 14:62; Lukas 22:69; Handelinge 7:56).
Let net daarop dat die Bybel die saak verskillend stel:
- Soms sê die Bybel dat Christus aan die
regterhand van God is, bv. Romeine 8:34.
- Op ander plekke weer dat Hy aan die regterhand van
God sit.
- Op ander plekke, bv. Handelinge 7:56, dat Jesus aan
die regterhand van God staan.
Elke keer het die saak ’n ander betekenis.
- Wanneer Jesus aan die regterhand van God sit, word
daarmee Jesus die Regter bedoel. Dit is elke keer sy regterlike mag wat
so uitgebeeld word, want wanneer ’n koning op sy troon sit, spreek hy
reg oor ’n saak. Dink aan Spreuke 20:8 wat sê:
'n
Koning wat op die regterstoel sit, wan met sy oë alles uit wat
sleg is.
of Jesaja 16:5:
En
deur goedgunstigheid is ’n troon opgerig, en daarop sit een in
getrouheid... ’n Regter wat die reg soek, en gou is in geregtigheid.
Hier sien ons Jesus in die Ou Testament al as die regter wat in die
finale oordeel oor reg en onreg gaan oordeel.
Die Here bevestig die gesag wat Jesus Christus op hierdie oomblik het
waar Hy oor letterlik alles regeer:
(Jesus sit)
.
. . hoog bo alle bose mag teen enige ander vorm van gesag
waarvan daar sprake mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook
in die bedeling wat kom. Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles
verhef en Hom aangestel as Hoof van die Kerk (Efesiërs
1:21, 22).
3. Jesus u God en Koning
Kyk nou na die betekenis daarvan dat Jesus aan die regterhand van God
is. Daarmee word Hy aan die Vader gelyk, omdat Hy die eer en die gesag
van die Vader deel.
- Die betekenis daarvan dat Jesus aan die regterhand
van God is, beteken dat Hy as deel van die Drie-Eenheid oor die kerk en
die wêreld regeer.
- Die woord “Almagtige” beteken in Grieks “die
natuurlike krag of outoriteit of bekwaamheid om werke te doen en af te
rond”.
Die verhoging van Jesus en sy mag om te kan regeer, word geteken daarin
dat Hy aan die regterhand van God staan.
- Hy staan aan die hoof van alle regering.
- Hy staan sodat Hy bo-oor die kwaad kan troon. “Sy
vyand is ’n voetbank voor sy voete.”
- Hy is dus inderdaad so magtig dat Hy sy kerk kan
bewaar teen die swaarste beproewinge en aanslae van die duiwel.
U kan dus gerus wees, want u het ’n Goddelike Koning wat u versorg, en
u lewe beplan.
- Hierdie Priester-Koning gaan weer op die wolke
verskyn, net soos die dag toe Hy weggevaar het uit hierdie
wêreld.
- Die dag van sy wederkoms gaan Hy die regverdiges
onder die onregverdiges uit verwyder, en ons sal Hom tegemoetgaan in
die lug.
- Dan gaan Hy dat ons die nuwe hemel en die nuwe
aarde betrek, terwyl Hy dan die kwaad vir ewig uit die weg ruim.
’n Groter troos as dit sal mens moeilik vir iemand kan aanbied. U sien
almal hoe lyk die gees van ons wêreld, en die gees van die mense
wat in hierdie wêreld leef.
- Alles staan skeef en siek.
- Maar daar kom ’n dag wanneer al hierdie dinge gaan
end kry.
- Die vloek van die sondeval gaan opgehef word
wanneer die verhoogde Christus op die wolke verskyn.
Daarom bly ons steeds glo dat Jesus opgevaar het na die hemel toe, en
dat Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader. Hierdie deel
van ons belydenis is die krag van ons geloof vir die toekoms: Die krag
van God self, omdat dit sy genade aan ons openbaar. Dit openbaar ook
die liefde wat Hy vir ons gee, totdat Hy ons soos sy kudde aan sy
regterhand vergader tot in ewigheid.
Kom ons lees Kategismus Sondag 19 saam.
Vraag 50: Waarom word daar
bygevoeg: en sit aan regterhand van God?
Antwoord: Christus het na die
hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die
Hoof van sy Christelike kerk (a) kan betoon, deur wie die Vader alles
regeer (b).
(a)Ef 1:20-23; Kol 1:18. (b) Matt 28:18; Joh 5:22.
Vraag 51: Watter nut bring
hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus
vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy
deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in
ons, sy lede, uitstort (a). Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle
vyande beskerm en bewaar (b).
(a)Hand 2:33; Ef 4:8. (b) Ps 2:9; 110:1, 2; Joh 10:28: Ef 4:8.
Vraag 52: Hoe word jy getroos
deur die wederkoms van Christus om die
lewendes en die dooies te oordeel?
Antwoord: Dat ek in alle
droefheid en vervolging dieselfde Persoon met
gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore
in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my
weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige
verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na
Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).
(a)Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16. (b) Matt
25:41; 2 Tess 1:6. (c) Matt 25:34; 2 Tess 1:7.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 84:6
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 1November op Kleinmond en 9
November in Bellville