Sing vooraf: Psalm 66:2; Psalm 98:2; Psalm 65:3
Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 84:1, 6
Gebed
Psalm 25:2, 9
Skriflesing: Efesiërs 1
Teks:
Efesiërs 1:7; Kategismus Sondag 51
In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, (Efesiërs 1:7 AFR53)
Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God . . . (Efesiërs 1:7 NAV)
. . . Vergewe . . .
Vergeef ons ons skulde soos ons ook die wat teen ons sondig vergewe!
Hierdie gebed is baie moeilik om eerlik te kan bid, omdat hierdie gebed in sy wese teen die grein van elke mens ingaan.
- Ons is baie wraakgerig. Ons wil wraak neem waar iemand ons seergemaak het.
- Die hele saak van
terugbetaal en terugkry is deel van ons bestaan, omdat ons miskien in
ons onderbewussyn dink dat mens net die leer kan uitklim tot bo as jy
bo-oor alle ander mense klim, of omdat ons dink dat ons eie
belangrikheid so groot is dat ons die meeste van God se sonlig oor ons
geskyn wil hê.
Ons kry in die Bybel ook voorbeelde van mense wat mekaar jag ter wille van die bevrediging van sy eie emosie.
- Dit was maar wat Kain gedoen het toe hy Abel doodgeslaan het. Kain was inderdaad kwaad vir God en toe slaan hy Abel dood.
- Dink ook aan die gelykenis
van die man wat soveel aan sy heer geskuld het, en dit toe nie kon
betaal nie, maar alles vrygespreek is, en wat toe daar omgedraai het en
iemand wat hom iets geskuld het, baie gewelddadig gaan behandel het
totdat hy alles gekry het.
Die dissipels was blykbaar self dikwels in konflikte betrokke toe Jesus nog saam met hulle was.
- Dit was waarom een van hulle
gevra het of dit darem genoeg is om jou broer te vergewe as hy sewe
maal op ’n dag teen jou oortree, en jy hom sewe maal vergewe
het. Toe het die Here geantwoord dat mens sewentig maal sewe keer op
een dag behoort te vergewe.
Om die ding wat so in ons ingebore is, reg te verstaan, moet ons eers
gaan soek na die oorsprong van hierdie saak. Waar kom dit vandaan?
- Die antwoord is: van die duiwel af. Dit is een van sy eienskappe wat hy op almal rondom hom oordra, en vir hulle aanleer.
- Een van sy sterkste
oorwegings toe hy Adam en Eva tot sonde verlei het, was haat teen God,
en hy het hierdie haat geopenbaar in die wraak wat hy op God wou neem.
- Hy het wraak probeer neem
deur die mense ongehoorsaam aan God te maak sodat hulle dieselfde as hy
sou kry. Hy het ons dus inderdaad maar net saam met hom gegroepeer.
- Dit is waarom ons vandag nog
altyd met die gesindheid lewe, en dit verklaar ook waarom daar altyd
’n meerdere of mindere mate van haat aan die saak gekoppel is.
Maar God het die satan nie sy sin gegee nie.
- God het ons en die satan heeltemal verskillend gestraf: die satan het die ewige dood gekry as straf.
- En hy kan nooit weer vergewe of verlos word nie.
- Ons het die doodstraf gekry, maar ons kan van die ewige dood verlos word.
- En ons is ook verlos.
- God wat liefde en
vergewensgesindheid as deel van sy wese het, het ons sondes in Jesus
Christus gestraf en ons ons skulde vergewe.
Nou eis God dat ons dieselfde vergewensgesindheid aan die dag moet lê.
- Daarom gaan die woorde van
die gebed ook so dat ons die Here bid dat Hy ons ons sondes teenoor Hom
moet vergewe, soos wat ons mense vergewe wat teenoor ons sondig.
- Die gebed behoort
’n belydenis te wees dat ons doen wat God van ons vra. In
’n sekere sin is hierdie lewenshouding van
vergewensgesindheid ’n toets waarmee jy jou eie
huigelagtigheid kan meet.
Die
voordeel van ons verlossing in Christus is dat wanneer ons ons eie
onopregtheid in hierdie saak ontdek, ons daarvan bekeer kan word.
Opregte berou en ’n daadwerklike verandering teenoor jou
naaste is ’n kortpad om die eis te gehoorsaam dat jy ook
andere moet vergewe – van harte.
Hierdie saak is ’n gebedsaak, want in die gebed kan jy net voor God gaan staan as jy weet wie jyself is.
- Ons staan as verlostes voor die Here, dis waar, maar onthou net dat die woord “verloste” iets sê:
- Ons is eintlik skuldig
teenoor God en ons naaste, en ons is huigelagtig en deels oneerlik
omdat ons baie van ons sondes nie erken nie, en ook omdat ons
skuldvergifnis teenoor ons naaste nie aan God se eise voldoen nie.
- Dit gaan net sover as waarvoor ons kans sien – en presies volgens ons eie voorskrifte.
Teen die agtergrond van die waarheid is hierdie Bybelgedeelte nogal vreemd op ons ore:
- God het al ons misdade vergewe.
- Oorvloediglik. Deur sy bloed – sy dood en baie smarte.
Toepassing
Net soos wat ons aanhoudend voor God struikel, so struikel ons medemense ook voortdurend teenoor ons.
- Ons moet dus in ons
geloofslewe voorsiening maak daarvoor dat ons saam met mense moet lewe
wat vol foute is, en daarom moet ons gesindheid van die begin af daarop
ingestel wees dat ons met hierdie foute sal moet saamleef –
net soos wat hulle weer op hulle beurt met ons foute moet saamleef.
- Dan eers kry ons versoening
in Christus die betekenis dat ons besef watter groot genade ons in die
dood en verlossing van Jesus by God gekry het.
Kom ons lees Kategismus Sondag 51 saam.
Vraag 126: Wat is die vyfde bede?
Antwoord:
Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Dit is:
Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog
aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie (a). Ons
bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons
die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe (b).
(a)Ps 51:3; 143:2; 1 Joh 2:1; Rom 8:1. (b) Matt 6:14
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 32:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 12 Junie 2005 (aand)