Sing vooraf: Psalm 22:2 (99)
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 34:2 (166)
Gebed
Psalm 30:1 (138)
Skriflesing:
Efesiërs 2
Teks:
Efesiërs 2:8, 9; Kategismus Sondag 25
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit
julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat
niemand mag roem nie. (Efesiërs 2:8-9 AFR53)
Van die eerste mense op die aarde se skepping af, het mense probleme
gehad met hulle verhouding tot die Here.
- Adam en Eva se sondeval was juis omdat dit aan hulle
verkoop is dat
hulle soos God sal wees.
- Daar was dus die moontlikheid dat hulle ten minste ten
opsigte van
hulle kennis gelykes van die Here sou word.
Hierdie neiging het regdeur die geskiedenis aangehou – tot
vandag toe.
- Telkens het die mensdom hulle eie voorskrifte vir godsdiens
gemaak.
- Hulle het selfs ander gode gaan skep, wat dan in hulle
oë
beter is en meer aanbidding werd is as God wat alles geskape het.
Telkens het God Hom voelbaar in strawwe aan die mensdom geopenbaar
–
- waarna sommiges tot insig gekom het,
- maar altyddeur het die grootste hoeveelheid in hulle
dwaasheid volhard
en verlore geraak.
Die wat wel by aanbidding van die Here gebly het, het onder hulle
’n groep opgelewer wat die Here in hulle aanbidding aan
hulleself diensbaar gemaak het.
- Uiterlik is hulle vroom en gelowig, maar innerlik is hulle
leuenaars
wat vol bedrog is.
- So het die leer ontstaan dat geloof ’n mens se
eie besluit en
sy eie werk is.
- God se werk en sy genade het meteens die besit en die
werkterrein van
die mens geword.
So het sogenaamde gelowiges begin leer dat hulle ’n vrye wil
het – hulle is hulle eie saligmakers.
- Die Here het meteens van mense afhanklik geword.
- Hy moes wag dat hulle Hom in hulle lewens
“innooi”
of tot hulle besluit dat hulle Hom sal aanneem.
Daarmee saam het die inhoud van die sakramente verander.
- ’n Groep van die aanbidders het meteens die doop
saligmakend
verklaar.
- Die doop het – met ’n wye gebruik van
die Here se
Naam en Woord – meteens die direkte afwasser van die sondes
geword.
- Die Nagmaal het ’n middel geword waarmee die kerk
lidmate se
sondes vergewe het.
Kan die dinge so wees? Is dit wat die Here ons leer van die begin af?
Die Here leer ons in sy Woord iets heeltemal anders as wat die mense
wat tot nou toe genoem is glo. Hy openbaar dat ons deur sy genade gered
word.
1. Hy verwag van ons
om ootmoedig sy werk te erken.
2.
Hy verwag van ons
om gelowig vas te hou aan die beloftes van die Evangelie.
3.
Hy gee
’n blywende fondament vir ons saligheid.
1. Hy verwag van ons
om ootmoedig sy werk te erken.
Geloof is uit God en tot God.
Hy maak dat ons deel het aan al die weldade van die Here Jesus
Christus. Hierdie gawes gee Hy net aan wie Hy wil. Hy doen dit
vrymagtig.
omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie
alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, (Filippense
1:29
AFR53)
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit
julleself nie: dit is die gawe van God; (Efesiërs
2:8 AFR53)
Ons erken hierdie daad van die Here in die middels wat Hy aan ons
skenk, naamlik sy Woord en die sakramente.
- Daar word in die Bybel dinge neergeskryf waarmee die Here
die
reëls van aanbidding – en ook hoe Hy te werk gaan
met mense – openbaar.
- Een so ’n plek is waar die apostel Paulus
Timoteus daarop wys
dat ’n kind van kleins af die Bybel se inhoud moet ken! Want,
sê die Here, dit is waarmee die Heilige Gees jou lei sodat jy
’n geloof kan hê wat jou salig maak in die Here
Jesus Christus.
. . . en dat jy van kleins af die
heilige Skrifte ken wat jou wys kan
maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. (2
Timoteus 3:15
AFR53)
- Nog so ’n verwysing kry ons
in Johannes 20 waar die Here ons juis daarop wys dat Hy al die dinge
laat neerskryf het,
- sodat ons kan glo
- en kennis kan hê
- en uiteindelik die ewige lewe kan hê.
maar hierdie is beskrywe, dat
julle kan glo dat Jesus die Christus is,
die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in
sy Naam. (Johannes 20:31 AFR53)
Die Bybel self maak ons nie salig nie. Die Bybel self laat ons ook nie
glo nie. Die Persoon wat die geloof in ons bewerk is die Heilige Gees.
Hy gebruik die inhoud van die Bybel om ons te laat glo.
En omdat ons dieselfde Gees van die geloof het – soos
geskrywe is: Ek het geglo, daarom het ek gespreek – glo ons
ook, daarom spreek ons ook. (2 Korintiërs 4:13
AFR53)
Wanneer die Heilige Gees in ons werk, gebeur daar natuurlik heelwat
meer dinge in en met ons – almal dinge wat met die geloof
saamhang:
Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid,
vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
(Galasiërs 5:22 AFR53)
Die Heilige Gees lei ons tot geloof. Daar is nie ’n ander
manier waarop ons tot die geloof kan kom nie. Daarom sê die
Woord dat die vrug van die Gees die feit is dat ons glo.
Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God
spreek, Jesus ’n vervloeking noem nie; en niemand kan
sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.
(1 Korintiërs 12:3 AFR53)
. . . aan ’n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan
’n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; (1
Korintiërs 12:9 AFR53)
Die Heilige Gees doen sy werk skerp.
- Hy raai ons nie aan om te glo nie.
- Hy werk die geloof kragtig in ons – op so
’n manier
dat ons dit nie kan weerstaan nie.
Daarom bid ons ook altyd vir
julle dat onse God julle die roeping
waardig mag ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk
van die geloof met krag volkome mag maak, (2
Tessalonisens 1:11 AFR53)
En ’n vrou met die naam van Lídia, ’n
purperverkoopster van die stad Thiatíre, ’n
godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart
geopen om ag
te gee op wat deur Paulus gesê is.
(Handelinge 16:14 AFR53)
Die Here bekeer mense deur sy Woord en Hy laat hulle ook glo wanneer
hulle sy Woord hoor. Hy laat hulle dit verstaan.
Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die Here: My
Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het,
sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en
uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die Here, van
nou af tot in ewigheid nie. (Jesaja 59:21 AFR53)
Daarby het die Here die manier om lank met ons aan te hou werk.
- Hy is die hele tyd gedurende ons lewens by ons teenwoordig.
- Anders gesê:
- Die Here werk nie met ons deur sy Heilige Gees en dan
is alles oor nie.
- Hy werk voortdurend en daagliks met ons.
En dadelik roep die vader van die
kind met trane uit en sê:
Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! (Markus 9:24 AFR53)
Die man is dus al lank besig om in sy geloof te worstel oor die ding
van sy kind. Daarom smeek hy dat die Here hom nou moet help –
maar dan is dit uit die hele situasie tog duidelik dat die Here met die
gevolge van dit wat hy vra verder in sy lewe met hom die pad moet loop!
Dieselfde geld van die apostels. Dink maar aan die volgende gebeurtenis:
Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof. (Lukas
17:5 AFR53)
Prakties beteken dit onder andere dat ons verstand verlig word om te
verstaan en te weet wat die Here met ons doen.
- Ons vertroue in die Here word elke oomblik al hoe sterker
gemaak.
- Ons voel ook al hoe meer die sekerheid van ons verlossing.
Die Gees self getuig saam met ons
gees dat ons kinders van God is; (Romeine 8:16 AFR53)
. . . in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die
evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook
geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
(Efesiërs 1:13 AFR53)
Daarom moet ons nie eiegeregtig en verwaand raak as dit by geloof en
aanbidding kom nie. Die dinge is nie ons werk nie. Dis van begin tot
einde die werk van God die Heilige Gees.
2. Hy verwag van ons
om gelowig vas te hou aan die beloftes van die Evangelie.
Hoe maak die Heilige Gees ons geloof sterker?
Soos ons nou reeds uit die Woord van die Here gesien het, gebruik Hy
twee middele:
- Die verkondiging van die Woord, en
- die bediening en gebruik van die sakramente.
Die Woord en die sakramente is al twee
heilig.
Met ander woorde:
- Al twee is
deur God ingestel.
- Al twee word
gebruik en bedien aan mense wat daarvoor afgesonder is
– ekklêsia =
uitgeroeptes/uitverkorenes.
- Al twee beteken
(bevestig deur middel van die gebruik van tekens)
heilige dinge aan die uitverkorenes.
- Al twee verseël
die verlossingswerk wat deur die Here Jesus
Christus gedoen is.
God alleen het met ons ’n genadeverbond opgerig en Hy alleen
kan dit beseël aan wie Hy wil.
Die tekens waarmee die Here sy verbond aan ons verseël, bewerk
nie enige genade nie.
- Die Here bewerk dit self.
- Hy bewerk en bevestig die inhoud van sy genade aan ons deur
sy Gees.
- Dink daaraan dat die Gees van God al genade in mense bewerk
het nog
lank voordat daar enige vorm van geskrewe woord van die Here of enige
sakrament was!
Dink ook daaraan dat die inhoud van die Woord en die sakramente presies
dieselfde is.
- Al twee is
middele wat die geloof bewerk en versterk.
- Al twee het
as inhoud die offerande van die Here Jesus Christus.
- Al twee leer
hierdie uiters belangrike ding, naamlik dat net die Here
Jesus Christus alleen ons kan verlos – daar is geen ander
manier om verlos te word nie.
Wat ook baie belangrik is om te verstaan, is die volgende:
- Die Woordbediening bewerk geloof – selfs sonder
die bediening
van die sakramente.
- Dink byvoorbeeld aan alle evangelisasiewerk en
katkisasie-onderrig wat
al die eeue deur gedoen word.
- Maar dieselfde kan nie van die sakramente
gesê word nie.
- Al twee die sakramente kan nie bestaan of
funksioneer sonder die Woord
van die Here nie.
Uit die uitspraak in 1 Korintiërs 12:13 lei ons die volgende
af:
- God die Heilige Gees lei ons deur die
Woordverkondiging totdat ons glo.
- Wanneer ons of ons kinders gedoop
word, bevestig die Heilige Gees met die sakrament van die doop die
waarhede wat in die Woordverkondiging aan ons geleer word.
Want ons is almal ook deur een
Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode
of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees
deurdronge. (1 Korintiërs 12:13 AFR53)
Dieselfde is ook van die Nagmaal waar.
3. Hy gee ’n blywende fondament vir ons saligheid.
Daar is net een fondament waarop ons saligheid kan staan –
dit is die versoening wat die Here Jesus Christus bewerk het.
die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit
nie die gemeenskap
met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons
breek, is dit nie die gemeenskap
met die liggaam van Christus nie?
Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal
deel aan die een brood. (1
Korintiërs 10:16, 17 AFR53)
Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die
duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here
en ook aan die tafel van die duiwels nie. (1
Korintiërs 10:21 AFR53)
Ons moet die dood van die Here bly verkondig.
- Ons moet die gevolge van die dood en opstanding van die
Here bly
verkondig.
- Ons moet die sakramente gebruik en bedien omdat dit ons
gemeenskap met
die Here Jesus sigbaar verseël.
Want so dikwels as julle hierdie
brood eet en hierdie beker drink,
verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. (1
Korintiërs 11:26 AFR53)
Vir die buitewêreld is die gebruik van die sakramente dus
’n sigbare verklaring van ons belydenis in die kruisiging van
die Here Jesus Christus.
Kom ons lees saam wat in die Heidelbergse Kategismus oor die verhouding
tussen ons geloof en die Bybel en die sakramente geskryf staan in
Sondag 25:
Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy
weldade kry, waar kom so ’n geloof dan vandaan?
Antwoord:
Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die
verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik
van die sakramente (b).
(a)Ef 2:8; 6:23; Joh
3:5; Filp 1:29. (b) Matt 28:19; 1 Pet 1:22-23.
Vraag 66: Wat is sakramente?
Antwoord:
Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God
ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die
evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie
belofte is dat God vanweë die enige offer van Christus wat aan
die kruis volbring is, vergewing van die sondes en die ewige lewe uit
genade skenk (a).
(a)Gen 17:11; Rom 4:11;
Deut 30:6; Lev 6:25; Heb 9:7-9, 24; Eseg 20:12;
Jes 6:6, 7; 54:9.
Vraag 67: Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons
geloof op die offer van Christus wat aan die kruis as die enigste grond
van ons saligheid te wys?
Antwoord:
Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en
verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige
offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons volbring is (a).
(a)Rom 6:3; Gal 3:27.
Vraag 68: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of
Testament ingestel?
Antwoord:
Twee, naamlik die heilige doop en die heilige nagmaal.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 118:9 (578)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 18 Junie 2006
(aand)