Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus
deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 147:1
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 40:4
Gebed.
Psalm 84:1
Skriflesing: Efesiërs 4
Teks: Efesiërs 4:22 - 24; Kategismus Sondag 33
Ons moet almal bekeer word.
Dit klink seker vir u snaaks, want u is dan reeds bekeer.
Dis waar, maar ons word in Romeine 6:1 – 6 geleer dat bekering ‘n voortgaande
proses is. Dis iets wat nie net gebeur en klaarkry nie.
- Die Heilige Gees beskryf dit met die beeld van iemand wat sy vuil klere uittrek en skoon klere aantrek:
want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. (Galasiërs 3:27 AFR1953)
en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. (Efesiërs 4:24 AFR1953)
Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes,
met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
(Kolossense 3:12 AFR1953)
En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. (Kolossense 3:14 AFR1953)
- Romeine 6 leer dat ware bekering bestaan uit die afsterwing van die
oue mens en die opstanding van die nuwe mens. En dis nie iets wat in
een dag kan gebeur nie.
Kom ons kyk vanmôre weer na hierdie dinge wat ons so goed ken:
1. Het ons werklik bekering nodig?
2. Hoe gebeur die pad terug na God toe?
1. Het ons werklik bekering nodig?
Ons leef nou in die tyd waarin God die middele en tyd aan ons gee om ons
voortdurend te bekeer. Ons het al die geleenthede van die wêreld.
- Ons hoor die Evangelie elke dag.
- Ons word nie vervolg nie.
- Ons kan ons geloof beoefen en ons bekeer sonder dat daar lewensgevaar aan verbonde is.
- God bewys ook sy onbeperkte liefde daagliks aan ons, want almal van
ons is dikwels in kontak met godsdiens, en ons hoor hoe God ons roep en vermaan,
en ook sy liefde leer.
Daarom geliefdes, moet u altyd aanhou stry en volhard in u bekering, al voel
u ook soms so kragteloos. Ons gesindhede moet, hoe langer hoe meer, verander
word. Dit beteken dat daar 'n nuwe gesindheid in ons binnekant moet kom op
elke gebied.
Ons besin oor enkeles:
- Wie van ons se houding teenoor God is op standaard?
- Is dit nie eintlik so dat sommiges van ons in selfaanbidding verval het nie?
- Ons sal natuurlik stry, maar kom ons dink saam daaroor: Die onder
ons wat hulleself so kan loop en bejammer moet besin daaroor of daar ‘n verskil
is tussen selfbejammering en selfaanbidding.
- Ons self bejammering gaan altyd oor die eie ek en oor ons eie ellendes en oor ons verontregting.
- 'n Werklike gelowige ken nie hierdie soort van ding nie, want hy is altyd blymoedig in God.
- Kom ons toets bietjie saam ons paraatheid teen die sonde:
- Hoekom is ons hande so slap teen die sonde? Ons het so modern geword
in sondedoen dat ons vinnig ‘n motivering kan kry waarom bepaalde beginsels
wat die Here stel, nie meer vir ons geld nie.
- Ons behoort eintlik veglustig te wees teen die kwaad.
- Op hierdie stadium het ons baie keer die styl om ‘n kompromie met
alles wat verkeerd is, aan te gaan - onder die dekmantel daarvan
dat niemand aanspraak kan maak op die waarheid nie.
- Terwyl dit anders behoort te wees: Ons behoort dat ons die kwaad nie met vrede te laat nie.
- Ons geloof moes teen die tyd al so sterk gewees het dat ons die kwaad moes gaan soek het om dit uit te roei.
... dat julle in die gees van julle gemoed vernuwe word en
julle met die nuwe mens moet bekleë wat na God geskape is in ware geregtigheid
en heiligheid. (24, 25)
- Miskien moet ons ook kyk na menseverhoudinge:
- Ons moet werklik probeer om ons naaste se deugde raak te sien.
- Ons moet 'n opregte waardering opbou vir daardie broeder of suster wat ons eintlik voel ons nie kan vat nie.
- Dis nie goed genoeg om skynheilig vriendelik te wees teenoor 'n medegelowige net omdat ons Christene is nie.
- Die gesindheid in Christus is juis dat ek vir myself sê dat
daar nie eers 'n vatkans vir 'n verkeerde of slegte gedagte in my gemoed
teenoor my naaste mag wees nie.
- Ek moet van die begin af positief teenoor hom dink.
Dan sal daar ware liefde in my groei.
Dis die betekenis van Efesiërs 4 waar die Here van ons eis om vol ontferming
en vriendelikheid teenoor ons naaste te wees. As ons dit nou wil stel soos
dit in die teksvers (die Kategismus) staan: Dis die afsterwe van die
oue mens.
Wat is die saak waaroor dit gaan?
- Dit: Ons kan alleen lewe tot eer van God as ons werklik bekeer is.
- Ons moet dus 'n lewe leef wat regdeur ons groot dankbaarheid teenoor
God uitjubel omdat Hy ons nie in ons sondes verstoot het nie, maar ons verlos
het deur Jesus Christus!
Dis die genade.
Dan die oordeel: Waak teen 'n skynbekering.
- Daar is mense wat skynbaar bekeerd is, maar in der waarheid ongelowig is!
- Bekering is nie dieselfde as wedergeboorte nie - maar bekering
gaan ook nie sonder wedergeboorte nie. Dit hou baie nou daarmee verband,
en gaan daarmee saam.
- Bekering is ook nie dieselfde as geloof nie, maar dit staan ook daarmee saam in verband.
Die Bybel het twee woorde vir bekering. In Handelinge 3:19 staan altwee langs mekaar:
Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word
en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom. Kom dan tot
inkeer en bekeer julle.
Om tot inkeer te kom, beteken om van sienswyse te verander.
- Om tot inkeer te kom, beteken dan om jou sienswyse so te verander dat jy teen sondige denke in opstand kom.
- Dat jy nie meer verkeerd of vals wil dink van God of van jou naaste nie!
Om jou te bekeer, beteken weer om van lewenswyse te verander.
- Om jou te bekeer, beteken weer om teen die sondige wil in opstand te kom.
- Jy wil ook nie meer so nalatig wees in jou geloofslewe en jou verhouding met God nie.
- Om definitief jou lewe so in te rig dat jy net nie meer kans sien om swak dade te pleeg nie.
- Jy wil nie meer jou naaste belieg en beskinder nie.
- Dis bekering.
Bekering kan ons dan só stel: Dis om jou hart so te verander dat jou lewenstyl ook verander en verbeter.
Hierdie twee sake gaan altyd hand aan hand in die lewe van een wat hom bekeer.
Bekering vind plaas in twee vlakke.
- Die eerste bekering vind plaas die oomblik wanneer jy tot die geloof in Christus kom.
- Dis die oomblik wanneer jy soos Paulus voor God staan, en besef dat God jou tot die geloof roep,
- en jy ook besef dat dit die enigste moontlike verlossing is.
- Maar bekering gaan ook daagliks voort.
- Ons noem dit ook mos daaglikse bekering.
- Bekering in die sin van omkeer. Want bekeer beteken "omkeer".
- Bekering is om ons elke dag van die Satan af weg te draai na God toe.
2. Hoe gebeur die pad terug na God toe?
Ons het mos met die sondeval van God weggedraai na die Satan toe. Nou moet ons weer terugdraai na waar ons vandaan kom.
U moet ook goed verstaan wat dit beteken het om in sonde te val.
- Dit beteken nie dat ons van God af weggedraai het, en nou op 'n afstand van God af staan nie.
- Om in sonde te lewe, beteken om van God af weg te draai, en elke dag verder van Hom af weg te loop!
- Die afstand word groter! Want jy loop na die hel toe! Dus: al hoe verder van die hemel af weg.
Bekering het twee bene:
- Die genade is dat bekering nie net 'n daad is wat van die mens af uitgaan nie.
- Maar dis 'n daad wat deur God behartig word, maar Hy betrek my in my verantwoordelikheid daarby.
- God roep.
- Maar jy moet luister.
- Die Here verlig ons hart en verstand. Hy neig ons oor om sy stem te hoor.
- Dan laat ons ons bekeer omdat ons luister.
Wat beteken dit?
- Dit beteken dat ons wat onder die geklank van die Evangelie is, reeds deur God bekeer is.
- Maar dit beteken ook dat ons nou in die daaglikse bekering moet volhard.
- Doen dan ons goeie werke omdat ons reeds aan God behoort!
- Jy het nie meer twyfel oor jou saligheid nie!
- Wys net jou dankbaarheid!
Die karakter, of geaardheid van bekering is geestelik.
- Bekering gebeur daar waar ons nie kan sien nie, maar dit slaan tog ook op die oppervlakte uit.
- Almal kan aan dit wat jy sê hoor dat jy bekeer is.
- Aan jou lewensvreugde en die manier waarop jy jou dagtaak met vreugde
en blydskap doen, en aan die lieflike manier waarop jy met ander mense omgaan,
en oor hulle besorgd is, wys dit!
Bekering is innerlik.
- As jy goeie werke doen, maar daar in jou hart en jou gedagtes gaan dit nie goed nie, is jy nog nie werklik bekeerd nie.
- Jy moet binnekant en buitekant skoon wees.
- Bekering is voortdurend.
- Nie een van ons is volmaak nie. Ons doen nog almal baie sondes.
- Maar bekering is nou om te verbeter. Om dieselfde sonde volgende keer nie weer te doen nie.
Bekering is om jou denke te verander en om jou wil te verander. Dus: om 'n
mooi en regverdige lewe te lei, wat vol is met mooi optrede.
- Dis wat dit beteken om die ou mens af te sterf.
- Om van die lus in jou om kwaad te doen of te praat, ontslae te raak.
- Om jouself voortdurend te betrap as daar 'n sondige gedagte in jou verstand opkom, en om dit dan daadwerklik te verwyder.
Die woord "afsterwe" van die ou mens pas dan pragtig.
Gee die sondes vir die dood!
Daar waar ons heengaan is daar lewe.
- Bekering is ook hartseer en droefheid.
- Dis berou omdat ons soms nog sondig, en die Here dan soveel leed aandoen.
- Dis berou omdat ons God se heerlikheid in ons skend, en sy beeld in ons verwring.
Die Here kon ons gehaat en doodgemaak het oor al die sondes wat ons doen, maar Hy het nie.
- Hy het ons uit die mag van die sonde gaan haal, en die Heilige Gees
oor sy gelowiges uitgestort sodat ons kan hoor hoe daar lewe aan ons gepreek
word.
- Onthou u nog wat die benoude skare daardie dag vir Petrus gevra het:
Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en
die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus
sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in
die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe
van die Heilige Gees ontvang. (Handelinge 2:37-38 AFR1953)
Let op hoe Jesus se lewe was:
- Christus se lewe was volmaak. Soos wat ons s'n behoort te wees. Geen oomblik kon die sonde 'n vat op Hom kry nie.
- Sy dood was een van opoffering.
- Hy sterf vir dit wat ons nie kan doen nie, naamlik om die ewige lewe te verwerf.
- Dit gee Hy, en juis daarom is die eis wat Hy stel so dwingend: Bekeer julle!
Sy liefde is nie begrensbaar nie.
- Hy sterf sodat die Heilige Gees ons waarlik kan bekeer, en ook elke dag lei op die pad van bekering en wedergeboorte.
Laat ons ons bekeer, want God die Almagtige Roep ons!
Kom ons lees Kategismus Sondag 33 saam.
Amen.
Slotgebed.
Ons Vader wat in die hemele is,
Laat U Naam geheilig word.
Laat U koninkryk kom;
Laat U wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde;
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose.
Want aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.
Slotpsalm 33:1, 11.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 20 Oktober (oggend)