Sing vooraf: Psalm
68:12
Ons hulp is in die Naam van die Here wat
die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en
vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die
kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
36:2
Gebed
Psalm 34:6
Skriflesing:
Efesiërs 5
Teks:
Efesiërs 5:25-27; Kategismus Sondag 21
Manne, julle moet jul eie vroue
liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself
daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met
die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel,
verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit
heilig en sonder gebrek sou wees. (Efesiërs
5:25-27 AFR53)
Ons praat deesdae so
maklik van ’n kerk en wat dit is. Ons lees in tydskrifte en
ons hoor oor die media van mense wat sommer aan die Bybel verander en
nuwe kerke stig. Is dit so maklik?
- Die
kerk is ’n baie innige gemeenskap tussen Jesus Christus en sy
uitverkorenes.
- Dis ’n liefdesverhouding
tussen God en ons.
- Dis ook ’n heilige
verhouding tussen God en ons.
- Dit is ook
’n verhouding waar die kerk (uitverkorenes) in die beskerming
van God staan.
Daarom vergelyk die Here in die
gedeelte die verhouding tussen die man en sy vrou met Jesus en die kerk.
Ons
gee aandag aan die volgende sake:
1. Die wese van die kerk van die
Here
2. Die taak van die kerk
1. Die wese van die kerk van die
Here
Kom
ons kyk eerste na die wese van die kerk. Wat is die kerk?
- Die
heel eerste ding wat mens sal moet weet is dat die kerk die eiendom van
die Here is.
- Ons woord kerk
beteken: dit
wat aan die Here behoort,
- en ons woord
gemeente
beteken: die uitverkiesdes.
Dink
aan die uitspraak wat die Here Jesus maak in Matteus 16:19. Die Here
was daar in gesprek met Petrus nadat Petrus bely het dat Jesus die seun
van die lewende God is.
- Toe het Jesus
gesê dat
Hy sy gemeente op hierdie rots sal bou.
- Hieruit is dit duidelik dat
Jesus Christus die Hoof van die kerk is.
- Ons
lees daarby in Handelinge 2:47 dat die Here daagliks die mense wat
gered is, by die gemeente gevoeg het.
- Ons vat die
twee sake saam: Jesus bou self sy kerk, en Hy voeg daagliks mense by.
Dink
net waarom die Here die kerk sy eiendom noem.
- Die
eerste rede is sekerlik dat dit is omdat Hy ons Skepper is.
- Die
verdere rede is dat die Here ons weer gaan terughaal het na Hom toe
nadat ons onsself van Hom vervreem het.
- Dit
is gedoen deur die verlossing en versoening deur die Here Jesus
Christus.
- Christus het gesterf en die dood oorwin,
en versoening tussen die kerk en God bewerk.
- Ons is
dus inderdaad dubbeld eiendom van God.
Aan die hand van die genoemde
Skrifgedeeltes kan ons al klaar sien dat die kerk ’n
instelling is wat deur God gemaak is, en dat God die getalle van die
kerk ook beheer. Hy voeg elke dag die wat gered is by die kerk.
Wat verder
duidelik is van die kerk, uit veral Handelinge 2, is dat die kerk
’n groep mense is wat nie net aan God behoort nie,
- maar
wat ook lewende gemeenskap met mekaar beoefen.
- Hulle
het elke dag in die tempel en in mekaar se huise saamgekom om te bid en
die Nagmaal te gebruik.
Hulle sou nie so baie kerk
gehou het, en alles saamgedoen het, as hulle dit nie so verstaan het
dat die Here wil hê dat hulle dit moet doen nie. Daarom laat
die Here dit opteken!
- Die Here
onderstreep daarmee die belangrikheid van kerkbesoek.
- Die
beginsel van gelowiges wat op alle vlakke saam ’n eenheid
vorm, kry ons dus hier.
- Daar kom nog iets by: Om
aan die kerk te behoort, beteken dat jy op ’n onsienbare
manier (verborge manier) met God Drie-enig gemeenskap het. Ons lees dit
in Kolossense 3:2, 3.
Bedink die dinge wat daarbo is,
nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is
saam met Christus verborge in God. (Kolossense 3:2-3 AFR53)
Dit
staan ook in 1 Korintiërs 1:9 dat God ons geroep het tot
gemeenskap met sy Seun.
- Ons het dus deel
aan Jesus Christus se verlossing, en aan die genade wat Hy aan ons gee
– dus ook aan die leiding en troos van die Heilige Gees, want
die Heilige Gees word juis kragtens Jesus Christus se versoeningswerk
oor ons uitgestort.
2. Die taak van die kerk
Kom
ons kyk wat die kerk, wat roem in die versoeningswerk en verlossing van
die Here Jesus Christus, alles moet doen.
- Ons
moet geloofsvrugte dra. Dit beteken dat ons fisiese geloofsbeoefening
duidelik na vore moet kom in letterlik alles wat ons doen.
- Die
vergewing van sondes is een van die vrugte wat ons ontvang deur die
verlossing van die Here Jesus Christus: Die Here sterf sodat die hele
kerk met God versoen kan word, en sodat daar dan nie een lidmaat van sy
heilige algemene Christelike kerk verlore sal gaan nie.
- Maar
dan moet ons lewe soos versoendes met God!
- Ons lewe
moet nie toon dat ons so besig geraak het met onsself dat ons onsself kerk
noem, maar inderwaarheid in diens van onsself staan nie.
Daarom
moet die kerk voortdurend:
- bid vir
vergewing van hulle oortredinge teenoor die Here en teenoor mekaar;
- besin
oor wat reg en verkeerd is. Hierin moet die Bybel die maatstaf wees!
Die kerk moet
openlik die eienskap dra dat God in hom tuis is.
- Die
geskiedenis het geleer dat die kerk in die verlede al dikwels
’n pad ingeslaan het wat verkeerd is, en dat daar dan eers
’n reformasie moes kom om die kerk weer op die regte pad te
bring.
Dit bring ons vanself by die merktekens van
die ware kerk. Wat moet
’n kerk doen wat wil bly by dit wat hom werklik die liggaam
van die Here maak, en wat moet bewys lewer daarvan dat sy lede
uitverkorenes is wat deur God geroep en by die kerk gevoeg is?
- Die
eerste is dat die ware leer van die saligheid in daardie kerk verkondig
moet word.
- ’n Kerk met
’n valse leer kan nie daarop aanspraak maak dat hy die
liggaam van die Enigste ware God is, en dat hy in die hiernamaals by
hierdie God sal wees nie.
- Om die leer suiwer te kan
verkondig moet hierdie kerk ook toesien dat sy lede suiwer lewe.
- Dit
beteken dat die tug gehandhaaf moet word om diegene wat vals glo en
vals lewe tot bekering te beweeg, en as hulle nie tot bekering wil kom
nie, uit die kerk uit te ban.
- Die
verdere eienskap van die ware kerk is dat hy ook die sakramente suiwer
moet bedien, want die sakramente is niks anders as prediking nie.
- Wanneer
is sakramente suiwer? Alleen wanneer dit bedien word soos wat die Here
dit ingestel het.
- Alle menslike byvoegings en
uitvindings of verbuigings beteken vervalsing van die sakramente.
- Maar
sakramentsbediening is in sy wese baie nou verbind aan die tug, want
die kerk moet toesien dat niemand wat vals glo en verkeerd lewe, die
sakramente van verlossing geniet nie.
- Daarom
is die derde eienskap die handhawing van die tug.
- Die
oomblik wanneer hierdie eienskap van die kerk losgelaat word, val die
ander twee ook inmekaar, want as ’n dwaalleraar nie uit
’n gemeente uitgeban word nie, beïnvloed hy baie gou
die gemeente. Dit is nie lank nie dan vestig hy ’n
dissipelkorps – en dan gaan dit met daardie gemeente afdraand.
Dit
help niks om al hierdie mooi dinge te weet en te bely dat die kerk aan
die Here behoort, en ons lewe weerspieël dit nie.
- Ons
weet wat is die kerk, maar waar staan ons? Is ons die liggaam van die
Here? Kan ons bo alle redelike twyfel aan enigiemand wys dat ons die
liggaam is wat deur ons Hoof – die Here Jesus –
bedryf word?
Ons moet te alle tye lewende lede van
God se kerk wees – dus: ons verlos wees moet uit ons hele
lewe en saamwees met God en mekaar uitvloei.
- Anders
is ek/jy maar net hier, maar ek/jy en my/jou geloof is albei dood.
- In
daardie geval is ons lidmaatskap van die kerk geen bewys van ons
gemeenskap met God en van ons verlossing deur Hom nie.
Kom
ons lees Kategismus Sondag 21 saam.
Vraag 54: Wat glo jy van die
heilige, algemene, Christelike kerk?
Antwoord: Dat die
Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom ’n
gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en
Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die
wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou
(g) en dat ek daarvan ’n lewende lid is (h) en ewig sal bly
(i).
(a) Ef
5:26; Joh 10:11; Hand 20:28; Ef 4:11-13. (b) Gen 26:4; Op 5:9. (c) Rom
8:29; Ef 1:10-13.
(d) Jes 59:21; Rom 1:16;
10:14-l7; Ef 5:26. (e) Hand 2:42, Ef4:3-5. (f) Ps 71:17, 18; Jes 59:21;
1 Kor 11:26. (g) Matt 16:18; Joh 10:28-30; Ps 129:1-5. (h) 1 Joh 3:I4,
19-21; 2 Kor 13:5; Rom 8:l0. (i) Ps 23:6; 1 Kor 1:8, 9; Joh 10:28; 1 Joh
2:19; 1 Pet 1:5.
Vraag 55: Wat verstaan jy onder
die gemeenskap van die heiliges?
Antwoord: Ten eerste
dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die
Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a). Ten tweede dat
elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en
saligheid van die ander lede aan te wend (b).
(a )1 Joh 1:3; Rom 8:32; 1 Kor
12:12, I3; 1 Kor 6:17. (b) 1 Kor 12:21; 13:1, 5; Fil 2:4-8.
Vraag 56: Wat glo jy van die
vergewing van die sondes?
Antwoord:. Dat God,
op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my
sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer (a) wil dink
nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk (b)
sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie (c).
(a )1 Joh 2:2; 1:7; 2 Kor 5:19.
(b) Rom 7:23-25; Jer 31:34; Miga 7:19; Ps 103:3, 10, 12.
(c) Joh 3:18; 5:24.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm
22:2, 9
Die genade van die Here Jesus Christus
en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u
almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 23 Oktober 2005 9aand)