Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 51:6.
Gebed.
Psalm 19:4.
Skriflesing: Esegiël 36
Teks: Kategismus Sondag 33. Esegiël 36: 26, 27
En Ek
sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek
sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van
vlees gee. En Ek sal My Gees in julle binneste gee en sal maak dat
julle in My insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.
Die eer van God word onder andere geopenbaar in sy genade.
- Hy verander mense wat in hulle wese nie bekwaam is om Hom te eer
nie.
- Hy berei hulle harte voor om die ware evangelie te kan verstaan,
en te kan beoefen.
- Hiervoor gebruik die Here sy Heilige Gees: Die Heilige Gees maak
ons harte heilig, sodat ons God weer met ons aanbidding kan heilig.
Dit gaan dus reguit oor bekering. Kom ons kyk eerste na die bekering
van die mens, soos die Bybel dit beskryf:
1. Wat is bekering?
2. Waaragtige bekering is in jou lewe
sigbaar.
1. Wat is bekering?
Die feit is net dat die mens nie meer in die volmaakte toestand is
waarin die Here hom geskape het nie. Die mens het in sy gedagtes en in
sy lewe sleg geword. Daarom moet hy heeltemal verander word om goed te
kan doen, en om God reg te kan aanbid.
Hierdie verandering van die mens staan bekend as bekering. U moet nou
nie skrik as u dit hoor, en dadelik vir uself s dat u saak dan verlore
is, omdat uself nie die krag het om tot ware bekering te kan kom nie.
- Dis juis waar God se genade inpas: Hy openbaar dat Hy ons hart en
gesindheid sal verander.
- Hy werk die ware bekering.
Van so 'n ware bekering lees ons in die geval waar Jona vir die mense
van Nineve gaan preek het. God het dat hulle op Jona se prediking tot
bekering kom.
Later het hulle weer in sonde geval, maar toe Jona vir hulle gepreek
het, was hulle bekering opreg.
- Dit is ongelukkig ook so dat daar iets is soos 'n valse of 'n
skynbekering.
- Dit is die soort van bekering wat voorkom by mense wat skynbaar
tot bekering kom, en dan Godsdiens net gebruik tot hulle eie voordeel.
- Sulke bekerings hou dan gewoonlik ook nie lank nie.
Die ware bekering het twee kante:
- Aan die een kant beteken dit dat jy van jou kant af met die sonde
moet breek.
Paulus skryf van sy eie onmag in hierdie saak as hy s dat hy baie keer
die goeie wil doen, maar dan kry hy in homself die kwaad. In Romeine 7:
17, 18 lees ons daarvan:
Maar
nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my
woon. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my
vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om
goed te doen, dit vind ek nie. (Romeine 7:17-18 AFR1953)
Die Bybel gebruik 'n baie merkwaardige woord as hy praat van die manier
waarop ons van sonde ontslae raak: die Bybel gebruik die woord
"afsterf."
- Dit beteken letterlik dat jy uit die sonde moet uitsterf, soos
wat jy met jou aardse dood jou liggaam afsterf.
- Die bedoeling met hierdie beskrywing is dat jy so uit die sonde
moet uitgroei, dat jy die sonde vir dood agterlaat. Romeine 6: 6 vertel
juis dat die Here Jesus met jy kruisdood die liggaam van die sonde
doodgemaak het:
aangesien
ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van
die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien
nie. (Romeine 6:6 AFR1953)
- Die ander kant word genoem die opstanding van die nuwe mens.
Dit beteken dat jy as mens positief moet lewe, en dat jou lewe weggebou
moet wees van die sonde af.
- Anders gestel, sou ons sê dat dit beteken dat jy onder die
leiding van die Heilige Gees moet lewe.
- Ons kry 'n beskrywing van hoe die "nuwe mens" moet lewe in
Efesiërs 6: 10 – 18:
Eindelik,
my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.
Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly
teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees
en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die
wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose
geeste in die lug. Daarom, neem die volle
wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van
onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan
vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die
geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die
bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die
skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose
sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van
die Gees - dit is die woord van God - terwyl julle met alle
gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe
waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
(Efesiërs 6:10-18 AFR1953)
Die teendeel is ook waar: as jy nie 'n ware bekeerde is nie, sal dit
ook in jou lewe geopenbaar word.
2. Waaragtige bekering is in jou lewe
sigbaar.
Hoe sal ons weet dat iemand 'n ware bekeerde is? Dit sal uit sy
gesindheid duidelik wees, veral die berou wat so 'n mens het oor
die sondes wat in sy verlede lê.
- Dink daaraan dat iemand net tot bekering sal kom wanneer hy
werklike berou het oor sy sondes.
- Dis net die Heilige Gees wat iemand sover sal kan bring dat hy sy
sondes in die lig kan sien waarin God dit sien.
- En dis net die Heilige Gees wat so 'n persoon dan die erns van
die saak, maar ook die droefheid wat dit God aandoen, kan laat
verstaan.
- Dis waarom bekering altyd gepaard gaan met 'n werklike hartseer
oor al die sondes wat die persoon bedryf het.
God bewerk altyd twee dinge gelyktydig in die mens:
- Aan die een kant 'n afgryse in die sonde, en daarmee saam berou
oor sy aandeel in die kwaad.
- En aan die ander kant die vreugde wat hierdie mens beleef noudat
hy die verlossing verstaan, en begryp dat hy deel het aan die ewige
lewe.
- Daarmee saam is daar 'n diep liefde vir God, en 'n opregte lus
om nou net dit te doen wat goed en reg is.
Die dinge is mos ook dinge wat in die mens se lewe gesien kan word:
- Almal kan sien dat hy die vrede van verlos wees ken en ervaar.
- Almal kan ook sien dat so 'n persoon nie meer lus het om in sonde
te lewe nie.
- Almal kan ook sien dat hy probeer om net dit wat goed en reg is
te doen.
Die troos van hierdie preek is dit:
- God het in die Ou Verbond al belowe dat Hyself ons verharde harte
sag sal maak.
- Hy het belowe dat Hy ons deur sy krag sal bekeer.
- Hy het inderdaad sy woord gestand gedoen toe Hy sy Seun vir ons
laat sterf het.
- Jesus Christus het die straf vir elke stukkie van ons
verharding en verset teen God se beeld in ons voor God gedra.
- Die gevolg is dat ons nie net vrygespreek kan word in die
oordeel nie, maar ook dat die Heilige Gees na ons toe gestuur is om ons
te bekeer.
Deur die verlossingswerk van Jesus kan elkeen van u weet dat God self u
regverdig maak, en dat u deel in die volheid van sy genade. En dat u
deel in die volle verlossing van die Here Jesus Christus.
Kom ons lees Katategismus Sondag 33 saam.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 2: 6.
Bevestiging van ouderlinge en Diakens.
Psalm 134:4.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 23 Desember 2001.