Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 9:1, 10
Gebed.
Psalm 16:3.
Skriflesing: Esegiël 7
Teks: Esegiël 7:4a
…en my
oog sal jou nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie, maar ek sal jou
wandel op jou laat neerkom.
Ek sal jou nie verskoon nie, jou nie
jammer kry nie. Ek gaan die straf vir wat jy gedoen het, oor jou laat
kom; jou afskuwelike dade sal jou tref. Dan sal jy besef dat Ek die
Here is." (Esegiël 7:4 AF83)
Ons gaan 'n nuwe tydperk in God se raadsplan in: Die jaar 2004.
- 'n Tydperk nader na die wederkoms van die Here toe.
- 'n Oomblik nader aan die laaste en verskriklikste oordeel.
Daarom pas dit ons om nou na Kersfees en met die begin van 'n nuwe
tydsdeel te kyk na alles wat Esegiël hier voorspel het van
Christus en ook van die begin van die einde van die tyd.
In die geskiedenis was daar 'n kernoomblik wat die hele
wêreldgeskiedenis verander het.
- Dit was die kruisdood van Jesus Christus, want daardie oomblik
het die eindtyd ook begin.
- Met Christus se dood het Hy die mag van Satan finaal verbreek, en
sy opstanding het juis dit gepreek.
- Dit was die einde van enige reg wat die Satan homself sou kon
toeken, of van enigiets waarop hy sou kon aanspraak maak dat hy dit met
sy mag teenoor die van God sou bereik het.
- Daarmee het die heerlikheid van die hiernamaals dan ook in
beginsel al begin.
Die tyd, waarin ons nog steeds lewe, dra die kenmerk van dinge wat
reeds daar is, maar tog ook nog nie werklik vervul is nie - soos wat
Esegiël se profesie dit ook duidelik aantoon.
- Aangrypend kondig hy die einde aan - maar hy kondig
die einde op so 'n manier aan dat die einde al reeds verby is, terwyl
dit inderwaarheid nog aan die kom was!
Vir almal wat na sy preek gestaan en luister het, is alles so
onverstaanbaar, want daar was vrede in hulle land. Die profeet preek in
'n tyd waarin hy niks kon bewys van wat hy gesê het nie.
- Alles was nog in die teken van vrede. Alles dui daarop dat
die lewe aangaan, en dat die einde nog ver is.
- Die optrede van Sedekia het op daardie stadium nog nie bewys dat
hy daarna gaan strewe om hom van die mag van Babel te ontworstel
nie.
- Dit was eers heelwat later dat hy in samewerking met Egipte
probeer het om met wapengeweld teen Nebukadnesar op te staan.
Op die oog af was daar geen rede om te praat van die einde, en veral
nie om dit so skerp aan te kondig nie.
- Maar dit is hoe die Here die krag van die Satan tot 'n einde gaan
bring.
- Dit sal nog die een oomblik lyk asof die lewe vir altyd kan
aangaan, en die volgende oomblik dan sal alles verby wees.
- So gaan die Satan en sy volgelinge tot niet gemaak word aan die
einde.
Hierin is hierdie teksgedeelte 'n vooruitskouïng op die wederkoms.
Let op hoe Esegiël die saak aankondig:
- Einde! roep hy uit. Daar word nie gesê dat die einde
kom nie.
- Nee, skielik is die einde reeds verby.
- Dit is hoe dit gestel word. Meteens is die einde 'n feit: die
einde het gekom oor die vier hoeke van die land.
Na Esegiël het Daniël ook oor die einde gepreek. Ons
moet na albei se prediking kyk om goed te kan verstaan watter betekenis
die saak destyds gehad het vir die mense wat na hierdie dinge gestaan
en luister het.
Ons lees in Daniël 8: 17 dat Daniël ook 'n gesig gesien het
waarin hy die eindes van die tye aanskou het. En weer in vers 19
Kyk,
Ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur,
want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.
Hieruit is dit duidelik dat die einde en God se finale oordeel
saamval.
- Dit is nie dieselfde saak nie, maar die twee sake gebeur
saam.
- Daarom staan dit in hierdie gedeeltes so geskryf dat God die
Ywerige is, wat alles weerstaan wat teen sy heiligheid ingaan.
Vers 3 beskryf die daad wat van God af uitgaan.
Nou is die einde oor
jou, en Ek sal My toorn teen jou uitstuur en jou oordeel volgens jou
weë en al jou gruwels op jou laat neerkom.
In vers 3 en in vers 4 word die toorn van God as 'n persoon
voorgestel.
- Die engel van die verderf kom dadelik in mens se gedagtes op as
jy die beskrywing lees.
- Onverbiddelik klink die stem van God: Ek sal nie spaar nie!
- Ons hoor in sy oordeel geen genade nie. Die straf sal bly
druk totdat daar volkome voldoening gedoen is.
Die volk staan skuldig.
- Hulle kan hulle sondes nie ontken nie: dit staan vas.
- Die Here noem die gewelddade aan hulle, en hulle vreemde gode, en
dat die volk gode aanbid wat "nie-gode" is - Kort
gesê: Godsverlating.
- Daarby gaan die gepaardgaande owerspel en seksuele misdrywe wat
eie is aan ongeloof en afgodsdiens - Israel het hulle
oorgegee om te doen wat hulle uitdruklik nie mag doen nie.
Nou is die einde daar. Die kenmerk is rampe.
- Ongeluk is volop: smarte en verdriet van die oorlog.
Verskrikking is aan die orde.
- Die gramskap van die Here word letterlik soos in 'n stroom oor
hulle uitgegiet.
- Uit vers 13 lei ons weer af dat daar op geen stadium gehoop kan
word op genade nie.
Dit was 'n baie donker prentjie waarvoor die volk gestaan het.
- Oor die oorsaak van hierdie verskriklike oordeel laat God die
volk ook nie in die duister nie.
- Net soos dit voorspel is, het dit toe oor Jerusalem gebeur.
- In Jerusalem is daar begin met verset teen Babel.
- En die afloop daarvan was net smarte en verdriet.
Die gedeelte het nie net betrekking op Jerusalem nie. Dit is 'n
aanspraak op die kerk.
- Die Israeliete was maar net in die tyd van Esegiël se
profesie die gestalte van die kerk.
- Maar hulle moes ook na die aanspraak luister namens die Nuwe
Testamentiese kerk: ONS! -- Die gedeelte dra dus die
karakter dat dit 'n dubbelde dimensie dek.
Ons lewe in die eindtyd. Daarom moet ons ag gee op hierdie
beskrywing van die eindtyd, en dan veral aandag gee aan die
appél wat dit tot ons rig.
- Die eerste is dat ons gelowiges almal skuldig staan oor die
sondes van ons verlede.
- Daar is geen enkele uitsondering nie, want hierdie voorspelling
word bepaaldelik aan die adres van die kerk gerig, en nie tot die
heidene nie.
- Elkeen, die uitverkorenes en ook die wat nie uitverkore is nie,
verdien straf en verdelging, want ons almal se geskiedenis getuig dat
ons nie ons verantwoordelikhede teenoor God kan nakom nie.
- Dit gaan dus oor al ons sondes: agterlosigheid, troueloosheid
en liefdeloosheid, en alles.
- Ons lewe maar elke dag voort asof die einde nooit daar sal wees
nie. Kyk maar na ons lewensbeplanning. Alles is gerig op
sukses en oorlewing in hierdie tyd.
- Vir ongelowige mense beteken die lewe dat hulle nou sukses en
rykdom moet hê, want hulle hele bestaan draai om hulle geluk
solank as wat hulle lewe.
- Hulle prestasie (status, geld, woonplek, ens.) staan in der
waarheid vir hulle in die plek van Christus.
- Baie van ons wat beweer dat ons glo, het self so leeg geword
dat ons lustig saamdoen.
Kyk nou na die betekenis van nuwe jaar gesien teen die agtergrond van
ons teksvers:
- Verwag ons die eindoordeel wat ons bely?
- Is ons lewens en toekomsbeplanning gerig op bekering en
heiligwording?
- Beplan ons om die Here tegemoet te leef, of gaan ons maar net
aan?
- Is ons bly omdat die jaar 'n tydsdeel is wat ons nader aan die
finale gerig bring - of is ons allergies vir die Wederkoms
van die Here en vermy dit/leef dit dood?
Daar behoort 'n duidelike spanning by ons te wees dat ons wag vir die
eindoordeel. Ons wag dat daar geoordeel moet word, sodat ons in
die heerlikheid van God kan ingaan!
Kyk na die Christusprediking van hierdie teks. Ons kan alleen in
die verwagte heerlikheid ingaan deur Jesus.
- Daarom moet Hy vir elkeen van ons die eindoordeel dra, anders kan
ons dit nie verduur nie.
- Daarom sy hele vernedering van sy geboorte tot sy dood. Hy
leef alleen en verwerp deur die mense vir wie Hy gekom het.
- Die Saligmaker was reeds op ons aarde - en ons blydskap is dat
God al hierdie verskriklike oordele wat my moes oorkom, aan Hom bestel
het.
- So gebeur dit dat ons nie in die geweld en verskrikking van die
eindoordeel kom nie.
- Die wraak oor ons word aan Jesus bestel, sodat ons nie net nie
vernietig word nie, maar ongeskonde en verheerlik anderkant uitkom.
- Hy is nie deur God se oordeel verskoon nie.
- Nie gespaar nie.
- En ons wandel het op Hom neergekom.
- Die gruwels van haat en veragting, en van spot en uiteindelik
moord, was op Hom.
Maar dan staan Christus op.
- Hy breek die dood weg oor die uitverkorenes.
- En daarmee begin die heerlikheid van die hiernamaals vir ons.
Máár almal is nie uitverkorenes nie.
- Die wat voortjaag in hulle roekeloosheid, is nie uitverkorenes
nie.
- Jy kan jou nie op die uitverkiesing roem, en God verwerp nie.
- Vir die wat nie na die stem van God luister nie, kom die einde
soos wat Esegiël dit voorspel: Verskriklik, wreed en ongenaakbaar.
Die afsluiting van die jaar en die begin van ‘n nuwe jaar mag ons ook
daaraan herinner:
- Hoe leeg ons soms die koms en werk van hierdie Saligmaker inwag.
- Ons mag nie so oppervlakkig lewe dat die einde van die jaar vir
ons leeg eindig en oorgaan in die volgende jaar sonder 'n boodskap nie.
- Want dit is omdat ons dalk nie verstaan nie.
Luister daarom, volk van die Here!
- Vir Christus is daar in my plek gesê: My oog verskoon jou
nie. Ek spaar jou nie!
- Sodat daar vir ons gesê kan word: My oog verskoon jou jou
dwaashede. Ek spaar jou, want Ek het klaar gestraf.
Die wat die boodskap hoor en verstaan, verander dadelik. Hulle
kom tot berou.
- Daar is natuurlik ‘n verskil tussen berou en spyt.
- Spyt beteken dat jy sleg voel oor dit wat jy gedoen het, maar jy
gaan dit weer doen.
- So ‘n persoon volhard dus in sy sondes.
Berou is iets anders: Berou en bekering loop altyd hand aan hand.
- Iemand wat dit ondergaan, bely sy sondes met hartseer voor die
Here en breek dan met sy sondes.
- Hy/sy doen dan net gewoon nie meer daardie sonde nie.
Die Heilige Gees voorsê dit ook in die profesie van Esegiël
vir die volk:
Dan
sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie
goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul
ongeregtighede en oor jul gruwels. Ek doen dit nie om julle
ontwil nie, spreek die Here HERE; laat dit julle bekend wees! Skaam
julle en bloos oor jul weë, o huis van Israel.
(Esegiël 36:31-32 AFR53)
Daarom gaan ons hierdie nuwe jaar in as vrygemaakte mense.
- Ons verstaan ons roeping en ons sorg dat ons die Here
tegemoetlewe.
- Ons maak ‘n saak van aanbidding en bekering.
- Ons maak ons getuienis vir God Almagtig ons grootste prioriteit.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 31:1, 5.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig
wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Oujaarsaand 31 Desember 2003.