Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werk van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 89:1
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 43:3.
Gebed.
Psalm 4:4
Skriflesing: Esegiël 37
Teks: Esegiël 37: 13
En julle sal weet dat Ek die Here is as Ek julle grafte oopmaak en julle uit julle grafte laat opkom, o my volk!
Die Here herstel pyn, ellendes en dood waar geen mens dink dat dit moontlik is nie.
- Hy herstel liggaam en siel in hierdie lewe, en die effek daarvan vloei deur tot in die ewigheid.
- En Hy bevestig dit vanoggend weer aan u met die sakramnet van die Heilige Nagmaal.
Die profeet Esegiël is in hierdie gedeelte 'n boodskapper wat die boodskap van verlossing bring.
- Hy preek aan die Ballinge dat die Here sy volk gaan herskep.
- Ons lees hier van dooie mense wat weer lewendig word, en wat opgewek
word, en in die verte sien ons in hierdie gedeelte die wederopstanding deur
die werking van die Here Jesus en die wederkoms van die Here Jesus.
Die Here het die profeet na die laagte toe geneem.
- Die laagte was vir hom 'n bekende plek.
- Dit is dieselfde laagte waarheen die Here Esegiël beveel het om
te gaan, sodat Hy sy heerlikheid daar aan Esegiël kon openbaar (Esegiël
3:22, 23).
Hierdie keer neem die Here hom na die laagte toe, om daar na sy eie mense
die Ballinge te gaan kyk.
- Die Here openbaar aan hom die geloofstoestand van sy volksgenote.
- As u dit onthou, sal u oplet hoe die skok oor Esegiël heensgepoel het toe hy besef het wat dit was wat hy gesien het.
Dit wat Esegiël daar gesien het, het hom baie diep beïndruk.
Veral twee van die dinge wat hy sien, staan baie skerp uit.
- Hy beskryf met klem dat hy 'n groot menigte daar sien.
- Die doodsbeendere is dus mense!
- Sy volksgenote is dus in groot getalle vervalle!
- Verder sien hy dat die doodsbene baie droog en dor is.
- Dit wil sê dat hierdie mense al lankal dood is, en dat hulle bene al wit en leweloos is.
- Hulle is al 'n groot afstand weg van lewe af.
Die Here het vir hom gevra of hy dink dat dit moontlik is dat daardie hoop droë wit bene weer lewendig kan word.
- Esegiël wou nie sommer net "ja" sê nie, want hy het sy mense geken.
- Hy sien mos hierdie bene beeld uit dat sy volk geloofsdood is, hoe kan hy nou sommer net "ja" sê?
Maar aan die ander kant het hy die Here ook geken, en hy het baie goed geweet
dat die Here enige ding kan doen, want die Here is almagtig.
- Dit het hom weer gekeer om "nee" te antwoord.
- Toe antwoord hy so in die middel in: "Here HERE, U weet dit."
- Die Here is nie 'n God wat geen genade en vergifnis ken nie, daarom openbaar Hy sy genade aan Esegiël.
- Die Here gee aan hom opdrag dat hy met hierdie bene moet praat.
- Hy moet aan hulle die opdrag gee om die woord van die Here te hoor!
Let net op dat die Here aanvanklik nie van dor of dooie bene praat nie.
- Die Here sê net dat hy vir die bene moet profeteer. Hy sê toe: "Dor bene, hoor die woord van die Here."
- Hierdie aanspreekvorm laat die wonder wat die Here daar bewerk, soveel helderder uitstaan.
Voor Esegiël se oë speel daar 'n grootse daad af.
- Eers beweeg elke been na sy plek toe waar elkeen van hulle aan 'n bepaalde liggaam hoort.
- Vleis, senings en vel vorm weer oor die bene.
- Uiteindelik lê daar talle liggame voor Esegiël.
- Uiterlik het hulle dus die beeld van mense.
- Maar innerlik is daar groot fout. Hulle lewe nie.
Baie beeldend beskryf Esegiël in hierdie gedeelte van die gesig hoe mense op die prediking reageer.
- Daar vind 'n lewenswonder plaas. Die dooie bene gehoorsaam God se bevel.
- Die stilte van die dood word verbreek deur die geraas van skelette wat God se bevel gehoorsaam en weer heel word.
- En so verander die dooie en dorre bene na mense toe.
Die Here openbaar daarmee sy liefde in sy herskeppende mag. Hy laat gees
in die leërmag van dooie liggame ingaan. Wat doen die Gees? Hy verwek
weer lewe in hierdie nuut herskepte liggame.
- Die profeet moet profeteer dat die gees uit die vier windstreke moet
aankom op God se bevel en hierdie mense lewendig maak.
- Die beeld wat die profeet hier gebruik, versmelt gedeeltelik met die werklikheid.
- Hy praat nie direk van die Heilige Gees nie, al is die Heilige Gees sy eintlike mikpunt.
- Die profeet praat oor lewe op verskillende vlakke, soos dit dan ook deur die Heilige Gees bewerk word.
U moet egter baie fyn oplet, Broeders en Susters, die einddoel van die Here
is nie die herskepping van die mens nie. Die einddoel is die openbaring van
die almag en heerlikheid van God se genade.
- Vers 6 stel dit baie duidelik dat hierdie hele herskeppingsproses die
doel moet dien dat die dooie bene sal weet dat God die Here is.
- Vers 13 herhaal dit weer 'n keer: "En julle sal weet dat Ek die Here is."
- Vers 14 bevestig dit nog 'n slag: "...en julle sal weet dat Ek, die Here dit gespreek en gedoen het, spreek die Here."
Nou gaan ons aan die Nagmaaltafel aansit. Inderdaad gaan ons die gebeurtenis
herdenk waar die Here nie net vir Juda nie, maar ook ons die terugpad oopgemaak
het, want in hierdie hele gesig is Juda simbool van ons ook.
Vandag herinner die Here ons weer aan die daad waarmee Hy ons herstel het.
- Sy Seun moes gekruisig word. Hy moes 'n vloekdood sterf sodat God se
toorn oor ons doodsheid in geloof en aanbidding aan Hom gestraf word. Dit
is toe ook aan Hom gestraf.
- Deur die kruisdood het mense wat dood is in sonde en ongeregtigheid weer lewendig geword dit is ons.
- Deur die Here Jesus se soendood is die Heilige Gees uitgestort om in
ons te woon, en om ons te leer en te lei in 'n lewende geloof.
Nou gebeur daar met ons presies wat met Esegiël se leërmag dooies gebeur het.
- Ons lewe nie net liggaamlik nie, ons lewe ook in 'n verbintenis met
die ewige God wat in sy grootheid mense herskep uit die dood.
- Dit is waarom Hy ons as 'n deel van sy leërmag na sy Nagmaal toe ontbied.
- Sy Gees leer en lei ons ook met hierdie sakrament, sodat ons ons toekoms in die Here Jesus kan sien en verstaan.
- Deur sy verdienste sal ons die aardse lewe verwissel met ewige bestaan in sy ewige koninkryk in die hiernamaals.
Die Here openbaar in hierdie daad sy genade en sy heerlikheid, sodat die
volk wat hier gered word die dooie bene die Here
van hierdie groot genade en heerlikheid in hierdie verlossing kan aanbid.
- In hierdie herskeppingsdaad word elke stukkie selfverheffing van die
mens afgesny, want die mens was self net tot die dood in staat.
- Maar God laat hom weer lewe.
- Die nuwe mense kan net wedergebore word en lewe van genade.
Dis presies ook wat die Here Jesus met die Sakrament van die Nagmaal aan
u bevestig. Kom gebruik die Nagmaal, want daarmee verseker die Here u weer
van die volkome verlossing deur Jesus Christus, en voortvloeiend daaruit,
die ewige lewe.
Amen.
Gebed.
Skrifberyming 14:2
Formulier.
Aan Tafel: Psalm 23:2, 3.
LOFPSALMS TYDENS NAGMAAL (145; 146; 147; 148; 149; 150).
Psalm 116 terwyl die gemeente terugbeweeg banke toe.
Slotpsalm 18:1.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 1 September 2002.