Sing vooraf: Psalm
118:7.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat
die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
42:1, 5.
Gebed.
Psalm
34:6.
Geloofsbelydenis Nicea
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid om vergewing van ons sondes met Ps. 32:3
Wet
Psalm 32:3
Skriflesing:
Esegiël 33.
Teks: Esegiël 33 :
11
So waar as Ek leef, spreek die Here HERE,
gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin
dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe.
Om
af te breek en te oordeel, is nie die Here se einddoel nie.
- Die Here sal jou wel afbreek totdat jy bekeer is van al jou sondes,
- maar na jou bekering gaan die Here jou nie vernietig nie.
In
die gedeelte wat ons gelees het, gaan dit oor die Jode in die ou tyd.
- Hulle was mos weggevoer na Babel toe omdat hulle hulle godsdiens
verwaarloos het, en die Here nie meer goed en behoorlik aanbid het nie.
- Terwyl hulle aan hulle liggame die straf van die Here ondervind het,
het hulle tog met hulle sondes voortgegaan - hulle was onder andere
hoogmoedig.
Die
Here roep ‘n ampsdraer. Hy stel hom aan as ‘n wag.
Dit is opvallend dat die Here net een wag aanstel.
- Bedags moet hierdie wag in die toring op die muur klim, en die hele
dag uittuur oor die vlaktes.
- Wanneer hy gevaar sien, dan moet hy op die basuin blaas, sodat die
volk gewaarsku kan wees teen die naderende onheil.
- Maar hierdie een wag is ook die nagwag.
- Hy alleen moet dag en nag waak oor die volk wat God aan hom
toevertrou het.
- Hy het ook
net een opdrag van God af:
- Hy moet die basuin blaas wanneer die gevaar kom.
Die
volk se optrede is hulle eie verantwoordelikheid.
- Maar as hierdie wag nie op sy basuin geblaas het toe daar gevaar
gekom het nie, en die volk doen iets verkeerds, dan eis die Here hulle
lewens van hom.
- Broeders
ouderlinge en diakens, hier praat die Here van my werk en van julle
s’n.
Gemeente
van die Here, hoe staan u teenoor ons?
- Hoeveel van julle bid vir al die ampsdraers van ons gemeente? Bid jy
vir jou wyksouderling en vir die diaken? En vir die hele kerkraad?
- Bid julle regtig dat die Heilige Gees ons so moet lei dat ons altyd
reg en goed moet lewe, en meer as dit: dat ons altyd betyds die sonde
kan sien kom om julle daarteen te waarsku?
Die
Israeliete het selfs nadat hulle in ballingskap weggevoer was, nog nie
geglo dat Jerusalem tot ‘n val sou kom nie.
- Hulle het vasgesit in die gedagte dat die Here Jerusalem sal bewaar,
al is hulle sondes hoe groot ookal!
- Hulle het geglo dat hulle so goed was dat die Here hulle ten alle
koste sou bewaar!
Daarom
het hulle tot op daardie stadium na geen waarskuwings van die profete
geluister nie.
- Hulle was te vasgevang in hulle valse gerustheid!
- En nou het Jerusalem geval.
- Meteens is die hele volk in ‘n dowwe verbystering vasgevang.
- Dadelik besef hule die las en druk van hulle sondes, maar hulle besef
dit verkeerd!
- Hulle het gevoel dat hulle nou aan die dood uitgelewer is.
- Hulle het gevoel dat die Here se getrouheid oor hulle heeltemal
verdamp het!
Wat kan mens nou ook
anders verwag? Sien dit nou teen die agtergrond van die opdrag wat die
Here aan die leiers gee.
- Waarsku die volk, sê die Here, en as hulle nie luister nie,
dan gaan hulle bloed op hulle eie hoofde wees.
- As hulle nie gewaarsku is nie, gaan die Here hulle nog steeds verdelg
oor hulle ongeregtigheid.
- Met ander woorde, hulle gaan verdelg word oor die dinge wat hulle
verkeerd gedoen het.
- Wat ons verkeerd doen, bly verkeerd.
- Die wag word in hierdie geval saam met hulle vernietig.
- Dis sy straf omdat hy sy mond gehou het toe hy moes praat.
- Die volk word egter ook nie verskoon nie, want die swakheid van hulle
leier maak nie hulle eie foute reg nie!
Wat
moet ons dan glo wanneer ons so in die krag van ons ellendes opgeknoop
sit? Wanhoop? Nee!
- Jerusalem se val het nie die ondergang van die volk beteken nie!
- Die Here het nog steeds dié gered wat hulle bekeer het van
hulle sondes, al het Jerusalem geval, en al was hulle in ballingskap
weggevoer.
Deur
die toorn van God kom daar juis genade.
- Dit klink ongelooflik, maar dis waar.
- Deur sy toorn oor al die sondes kom die straf.
- En wanneer die straf voltrek is, dan herskep God sy volk.
God
straf ook nie in die eerste plek om te vernietig nie. Hy straf tot
bekering.
- Daarom moet die gemeente wagters hê.
- Hulle moet sê wat verkeerd is, en dat God dit gaan straf.
- Dan word die gelowiges bekeer, maar die ongelowiges steur hulle nie
aan die waarskuwing nie, en hulle gaan dan onder.
Wat
hier gestel word, is dit:
- Ongelowiges gaan nie verlore omdat God hulle straf nie.
- Hulle gaan verlore as gevolg van hulle eie ongeregtigheid.
- God is nie so sleg dat Hy net wil straf nie.
Net
so word die een wat hom bekeer van die sonde, nie gered deur die krag
van sy bekering nie.
- Hy word gered deur God se genade, want God neem doodeenvoudig sy
oortredinge weg.
- God is
‘n God van lewe. Hy skape nie mense om hulle te straf en in
die hel te werp nie.
- Hy
skape ons, sodat ons Hom moet aanbid.
Met
die sondeval het ons die verkeerde pad ingeslaan.
- Nog steeds wil Hy ons meer seën as wat ons verdien.
- Hy straf ons sodat ons ons moet bekeer.
- Hy help ons daarmee om tot die besef te kom van dit wat ons besig is
om te doen.
- Straf is die
eerste beginsels van God se toorn - die hel gaan eendag baie erger lyk
as dit.
Dis
waarom die Here ook nie moeg word om ons aan te hou opwek en aanspoor
tot bekering nie.
Sê vir hulle: So
waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die
dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer
van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde
weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel? (Esegiël 33:11 AFR53)
Dit
maak vir ons die deure van die hemel oop. Want al is God hoe afwysend
en afkerig teenoor die sonde, sy genade oor iemand wat berou het oor sy
sondes is nog groter.
- Al wat God vra is berou oor ons sondes.
- Hy vra nie trane nie, maar werklike berou - ‘n
baie diepe geestelike ontsteltenis oor alles wat ons verkeerd doen.
- Die Here eis dat ons teenoor die Hom moet bely dat ons verkeerd was
en dat ons sy heiligheid geskend het.
- Hy vra daarmee saam die verantwoordelikheid dat ons ophou om voort te
gaan met die sonde.
Bekering
is om op die plek om te draai, en terug te beweeg na die heerlikheid
van God toe, met ‘n siel wat baie behoedsaam is dat die sonde
jou nie weer bekruip nie.
- Dit maak nie saak wat ons alles verkeerd gedoen het nie, die Here
vergewe ons alles, as jy net dadelik daarmee ophou, en nou regverdig
lewe.
- Die goddelose moet
hom net bekeer. Wat verby is, vergewe God totaal, maar dan geld die eis
tot verantwoordelikheid: jou bekering moet eg wees.
Die
gebed van Christus aan die kruis kom meteens helder in ons gedagtes op:
Vader,
vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!
Wat
het hulle (= ons!) gedoen?
- Die mense het God se toorn op Jesus Christus laat losbreek.
- Hy is gestraf omdat Hy die Wagter was wat gewaarsku het teen die
kwaad, en die volk wou nie hoor nie.
- Heeltemal in lyn met die gedeelte wat ons gelees het, staan die mense
voor die Here en skreeu dit uit: laat sy bloed op ons en ons kinders
wees!
- Die kruisdood teken
die ongeduld wat die kerkvolk het teenoor prediking wat in hulle siele
insny. Dis juis daaroor wat Jesus gekruisig word.
Die
verlossing wat uit die dood van die Here Jesus gebore word, is so
volmaak dat die een bendeleier langs Jesus vergifnis van sy sondes
ontvang, terwyl hy nog besig was om daarvoor te boet.
En
Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy
saam met My in die Paradys wees. (Lukas 23:43 AFR53)
Die
man se berou en skuldbelydenis word deur God aanvaar, en uit genade
word hy gered.
Jesus
is egter meer as net mens.
- Daarom sterf Hy juis sodat sondaars bekeer kan word. Dis mos waarin
God ‘n behae het!
- Daarom stuur God sy Gees terug in ons in.
- Nou word ons voorgesê wanneer ons op doodspaaie loop.
- Ons weet almal baie goed wanneer ons nou so lewe dat die hel en sy
inwoners hulle verheug in ons doen en late.
Saamgevat:
Ons moet biddend lewe.
- Bid vir mekaar.
- Bid dat
ons almal die moed sal hê om te sê wat God wil.
Die
Here se genade is juis dat ons altyd tot bekering sal kom van alles wat
ons verkeerd mag doen! Die Here se genade is vir ons sodat ons vir ewig
kan lewe.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm
138:3, 4.
Die
Here sal jou seën en jou behoed;
Die
Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die
Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 18 Desember 2005 (aand).